In ’n leeftyd van oorlog met my lyf het ek maar weinig verby die eerste beskermende laag tot by die kernhartseer gekom. My binneste lyk soos ’n Russiese houtpoppie waarin al my jonger selwers versteek word. As jy die eerste paar lae afgeskil het, bly net ’n bang kind oor.
Hartseer is die tering van die siel, elke asemteug brandend rou.
Vir sommige is kou nes gebedskraletjies. Om en om bid jy dat die gekheid van jou selfvernietiging sal ophou. Soos Elia wat bly uitkyk het vir reën, soek ek na die ondeurgrondelike dinge wat nader aan ons is as wat ons ooit sou glo. Ek wil nie onverhoeds betrap word nie. Hoop moet my nie verbygaan nie. Maar as die deur oopgaan, kán en sal alles verander. Daar ís ’n deur en ek moet Hom net eenvoudig vind. My lewe hang daarvan af.
Dink, dink, dink.
As die Little Alien Inn Motel nie die laaste stop was waar mens petrol of ’n toilet kan kry nie, sou niemand dit seker besoek het nie. Buite staan ’n trok wat ’n model van ’n vlieënde piering aan ’n opgehysde haak hou. Die somtotaal van die aksie van die dag is wanneer die ketting in die wind kraak.
Net langsaan staan Earthlings welcome op ’n tipiese Amerikaanse motelnaambord, en hoewel daar altyd voertuie in die parkeerterrein is, weet ek nie waar hul eienaars is nie. Wat hulle in die motelkamertjies doen, is seker maar wat die meeste mense in sulke kamertjies op verlate vlaktes doen: Hulle almal bekom wegneemkos en sit-lê en televisie kyk. Minus die vrou wat verwytend sug en die kinders wat langs mekaar op die rusbanke rondlê en whatsapp.
Later die middag stap ek na die motel se kroeg vir nog koffie. Op die tafeltjies is blompotjies. Leeg. Dit maak nie saak nie. Ek dra my eie vrolikheid rond.
“Is daar niemand interessant hier rond aan wie jy my kan voorstel nie? Sommer net om mee te gesels?” vra ek die kougomkouende jong kroegman en kelner aan diens toe Belle nie daar is nie.
Bokant die toonbank is note waarop mense hul name en land van herkoms geskryf en aan die dak vasgeplak het. Rachel se vlieë loop daarop rond. Die eerste aand het ek vir Belle ’n oranje R200-noot uitgehaal omdat ek van die luiperd hou. Groot katte is adel. Vir ’n hele ruk het ek gesit en wonder wat ek daarop moet skryf.
Wat sal mý ten volle versadig?
Later het ek die “my” verander na “ons” omrede ek geestelik en allesomvattend wou probeer dink. Ek meen ek kan nie net altyd op myself fokus nie – wat van my volk?
“Nah,” antwoord die jong man my. “Soms kom hier bussies met UFO-navorsers en hul groupies wat ’n dag of twee bly. Gewoonlik wanneer iemand weer ’n nuwe boek bekendstel.” Hy kyk terug na sy foon, wat duidelik sy enigste vorm van vermaak is.
Ek slurp aan die koppie koffie wat so vol is dat ek vooroor leun. In daardie opsig is wat hier gebeur het, ’n goudmyn. “En die ou in die camper van?
“Ted?”
“Ja, die een met die kep wat sê ‘Truthseeker’.”
“Ted sal vir jou ’n paar stories kan vertel. Maar hy praat met niemand.”
“Wat maak hy hier? Ek sien hom net altyd deur sy gordyntjies loer.”
Die kelner skuif sameswerend nader aan sy kant van die toonbank: “Hy kruip weg.”
My belangstelling is nie juis geprikkel nie, met ’n pa soos myne. “Regtig? Vir wie?” fluister ek, maar toe ek sien hy’s geaffronteer.
“Hy was deel van daai groep in Sedona …” Aspris laat hy sy sin onvoltooid in die lug hang. Ek kan die kougom op sy tongringetjie sien vassit.
Die foon wat hy so pas op die toonbank neergesit het, vibreer.
Kalm geïrriteerd staan ek op. House-cleaning kan die beker maar in my kamer kom haal. Die kroegman druk dit teen sy bors: “Noudat ek daaraan dink, Ted was dalk in ’n kultus.”
Die nonne spook dae lank om die jong man se koors te breek. Dank God daar is twee rytjies droë bloed op sy hand, anders sou hulle nie betyds geweet het ’n slang het hom gepik nie.
In sy benewelde toestand bly hy in ’n vreemde taal prewel.
Die ou Germaanse non, wat al ’n leeftyd in Suid-Amerika met toewyding mense bedien wat nooit sou snap wat sy moes prysgee nie, luister met haar oor by die ylende vreemdeling se mond.
2
Die ware Jakob
Op my foon is nog al Pa se nommers. Jare al. As ek iewers heen ry, bel ek hom om te sê waar ek trek. Hy sou my elke halfuur bel toe ek vir my werk in die nag moes bestuur. Nie regtig om my te probeer wakker hou nie, maar omdat hy in sy kop wou saamreis.
Die owerhede kon dalk sy lyf opgesluit het, maar Pa se gees kon hulle nooit op hok hou nie.
Verstommend, maar hy het meer dikwels as nié die paaie geken en hy kon my goeie advies gee, maak nie saak waar ek my bevind het nie. Pa se kop was ’n wêreldkaart en sy geheue uitsonderlik. Soms het ek gewonder of hy nie maar net eensaam was nie, dié dat hy my ’n hele nag lank kon bel. Uit die tronk uit, partykeer net in aanhouding of onder huisarres, of alleen iewers by ’n onbekende adres.
As kind het ek nie bevraagteken hoekom ek Pa nooit in ’n bed sien slaap het nie. Hy het wel op die bed gesit terwyl ek of my ma hom gehelp het om sy skoene aan te trek. Tog kan ek nie onthou dat ek Pa ooit met toe oë onder beddegoed gesien het nie, maak nie saak wanneer ek in my ouers se slaapkamer gekom het nie. Pa se kop sou stadig vooroor val – sommer aan tafel, óf in sy leunstoel, óf agter sy lessenaar – en nie lank nie, of hy snork homself wakker.
Dis hoe Pa geslaap het, meestal met ’n telefoon nog in sy hand vasgeklem. “As ek die dag my telefoonrekening ten volle betaal, stabiliseer Amerika en Suid-Afrika se ekonomieë oornag,” het hy graag geskerts.
’n Goeie ding Pa het verkas voor selfone regtig oorgeneem het. Hy sou mense hulself in ’n gestig laat toesluit het om van sy oproepe te ontsnap. Geduld is nie ’n begrip wat Pa ooit bemeester het nie. Hy kon nie begryp hoekom mense byvoorbeeld langer as twee minute in ’n badkamer deurbring nie. Een van die grappe in Palm Springs was dat Pa fone langs elke toilet laat installeer het. I kid you not. En jy het nog skaars sitplek ingeneem of Pa bel jou.
“Waar is jy?”
“Wat bedoel Pa wáár is ek? Pa het die toiletfoon in die voorportaal gebel!”
“Nou vir wat vat jy so lank?”
Nêrens was mens veilig nie. Hy het ook oral luidsprekers laat aanbring sodat wanneer hy uit aanhouding sou bel, die oproep op speaker phone gesit kon word en dan luister hy letterlik in op wat in elke vertrek aangaan.
Sulke tye moes sy huidige vrou, en al die ander, leer om te beskryf waarmee hulle besig was. Van sy onderskeie huwelike het Pa altyd gepraat as bedelings.
“Ons is besig om die Hanukah-bos te versier,” sou ek verduidelik, aangesien ons kwansuis nie ’n Kersboom mag gehad het in ’n huishouding in ’n bedeling wat oorwegend Joods was nie. Tydens daardie bedeling was Pa se Amerikaanse vrou se naam Batya Chana. ’n Spesialis-prokureur wat Pa op aanbeveling van Long Johnny Dwarsklap in die tjoekie ontmoet het. Amper te fyn om haar magtige aktetas op wieletjies tot by die ontmoetingslokaal van die gevangenis te sleep, het sy Pa onkant gevang. Hy was so beïndruk, sou hy vertel, dat hy gestotter het. “Ek het op die spot vergeet hoe om Engels te praat,” het hy gelag. “Haar wetskennis was amper so goed soos myne!”
Chana se huis-opsit met Pa was iets om te aanskou. Dit was ons almal se eerste blootstelling aan goeie smaak. Voor haar was ons idee van kuns vetkryte vir kleuters en ou Jan die kaaskop se standbeeld onder in Adderleystraat.
“Moenie die boom weer so top-heavy maak soos laas keer nie,” sou Pa sê. “Het julle nuwe versierings