Wouter. En Wouter se gawe pens.
Toe ek sy aksent hoor, het ek geweet dié man kan net van die Noord-Kaap af kom. Wie sou nou ’n Wouter in ’n kliniek vir eetsteurnisse en ander afwykendes in Spanje verwag?
Na sy hangmaag, snoesig onder ’n tuisgebreide trui, het hy as “Magdel” verwys.
Ek, Wouter en Magdel was dadelik vriende. Wouter en Magdel het dit die vrolikste rehab nog gemaak. Al het ons oppassers en terapeute gevra dat ons ter wille van die ander nie in Afrikaans kommunikeer nie, kon een kyk die omvang van die belaglikheid oordra.
Wouter was ’n maagd; dit was sy eerste keer in rehab.
Aspris het ek nie vir hom gesê hier gaan altyd iemand saam met jou toilet toe nie, en as jy klaar is, kom inspekteer hulle die bak. Hier word jou opelyf intens aan etenstafel bespreek, asof dit ’n invloed op aardverwarming het.
Wouter se gesig ná sy eerste draai het my histeries laat lag.
“Het hierdie mense geen skaamte nie? En jy waarsku my nie?” Wouter het rooi en ontstig van die toilet af teruggekom, sy stem ’n hoë trilling en sy een hand wapperend asof ’n floute naby was. Vir die res van Wouter en Magdel se verblyf het hy aan erge konstipasie gely en parmantige gevegte opgesit wanneer die besorgde Spanjaarde hom iets daarvoor wou ingee.
Ek onthou my terapeut het gemeen ek steek my ongemak oor sekere emosies weg deur vir byna als te lag. Nodeloos om te probeer verduidelik ek kom van ’n land waar mense nog spontaan lag, al leef ons in ’n korrupte bestel waar landsreëls moontlik met spin-the-bottle oor ’n boks Nando’s uitgedink word. In ’n winkel in Duitsland waar ek en Pa eendag hardop gelag het, het die verwarde verbruikers tot stilstand gekom. Die een gesig norser as die volgende oor dié onwelvoeglike opgeruimdheid.
Gelukkig is Mister Thompson verskeie tale magtig en kon hy hulle gerus stel. “Die mense lag nie vír julle nie! Moet asseblief nie aanstoot neem nie. Hulle kom van ’n land waar mense vanself lag.”
My terapeut was ’n aantreklike vrou met ’n gryswit vlegsel en die permanente uitdrukking van voorskriftelike deernis wat jy van ’n mamoerse duur behandelingsentrum verwag. “Are you comfortable with me touching you this way?”
Fok, nee! Ek is nie.
“For some – laughter is the safest way to cry.”
Dit was heerlik bevrydend om iewers in ’n vreemde land in rehab te wees waar ek kon ophou voorgee om nice te wees. Ek kon so kinderagtig, onbeskof of kreatief wees soos ek wou. Selfs waag om liefdevol en gaaf te wees. Maar meestal was ek weer die kind wat saam met haar pa oor als gelag het.
In individuele of groepsessies waar terapeute my tot volwassenheid wou dwing, het ek gehuil: “Julle is vals! Julle gee niks om vir my nie. Julle word betaal. Julle het geen idee wie ek regtig is nie. Dink julle om in my stront te krap gaan julle iets van my ware self leer?”
Dit was nie regtig op húlle wat ek gegil het nie. Dit was op myself en die gedrog wat ek toegelaat het om my lyf in te neem. Iewers sou ek wel altyd weer om verskoning gaan vra. Afrikaners is eenvoudig net te goed gemanierd.
Wouter se koms het als lig gemaak en my gedrag aansienlik laat verbeter. Nou het ek iemand gehad saam met wie ek kon lag. Wouter was ’n reddingsboei, iemand eg.
Party dae het ons net groen sap, ’n massering en ’n sif gekry. Laasgenoemde was om die sukses van jou toiletsake te bestudeer. Ek en Wouter het by die swembad gaan wegkruip met ons sproetgesigte in ’n permanente rilling getrek. Ons was verwilderd, en daarom byna altyd histeries aan die giggel.
’n Grap was dit beslis nie. Sommige pasiënte het lintwurms opgelewer wat byna groot genoeg was om vir aanneming op te gee.
Wouter se gunstelingbehandeling was wanneer ons deur ’n Spanjaard met ’n kaal bolyf gemasseer is totdat jou oë in hul kasse begin terugrol. Ons het na hom verwys as Ernesto Half ’n Half. Die onderste helfte van sy kop was geskeer en die boonste gedeelte in ’n poniestert.
“Ek vermoed onse Ernesto bewerk na-uurs daai Amerikaanse Raponsie van jou,” het Wouter my met duidelike afkeuring meegedeel. “Sy’t so ’n gloed as sy daar by sy ateljee uitkom.”
As Ernesto se kokosneuthande met jou klaar was, kon jy nie regop loop nie. Jy het geslinger, Pappie, en aan die gangmure vasgehou. Blink en glad soos ’n paling gevryf. Buite Ernesto se spreekkamer het die mure strepe vertoon, asof reusagtige, beskonke slakke daar geseil het.
“Ek dink nie my hart gaan dit hou nie,” het Wouter hygend van sy eerste sessie gekom. “Ek gee hom enige dag een van my niere.”
Onder by die swembad, elk met ’n poltus van vulkaniese as om ons mae ge-Gladwrap, vertel Wouter vir my plattelandse stories.
Al sou ek dit nooit aan my ma erken nie, het ek met erge skuldgevoelens huis toe verlang. Ek is direk van Amerika na die verskillende rehabs gepos en was lanklaas in Namibië of Suid-Afrika.
Een van Wouter se stories gaan oor ’n stel spore op hul plaas in die Roggeveld. Toe hy nog ’n klein seuntjie was, het hy en sy ma vroegoggend iets aardigs buite gewaar. “Vlak voor ons stoep het ’n stel yslike spore gelê.” Wouter hou sy hande oor sy poltus om te keer dat sy doek afval.
“Hoe groot? Soos watter spore?” Krakend kom ek op my elmboog orent, die ene ore.
“Nee, gits, ons het nie geweet nie, maar almal het kom kyk. My pa is geroep, my oom Jurrie van oorkant, die bure van byna veertig kilometer ver, en al die bruin mense van die kontrei. Niemand het al sulke groot spore gesien nie. En wat so onverklaarbaar was, is daai spore het net voor die huis gelê, maar nêrens heen gegaan nie!”
“Nee, man, Wouter. Hoe bedoel jy nou? Het julle die spore gevolg?”
Wouter het al so pienk in die Spaanse son gebrand dat ek vir hom my breërandsonhoed aangee.
“Die spore het gelyk soos dié van ’n groot kat, maar al die ongediertes is mos lankal uitgeskiet, en die spore was in elk geval hopeloos te groot vir ’n bergluiperd of so iets. Dit was kompleet of daai spore kom van iets wat op die stoep gelê en toe opgestaan en ’n entjie geloop het. En net daar het die spore opgehou. My pa-hulle het selfs vir Skeel Jasper, die jakkalsvanger, met sy honde laat haal, maar nêrens kon hulle ’n plek kry waar daai spoor weer grond gevat het nie.”
Sweet vorm strome onder die plastiek om my lyf. Bitter kielierig en ongemaklik. Om te keer dat die poltus voor die tyd afskeur, probeer ek op Wouter se vertelling konsentreer.
“Pleks lat die honde spoorvat, staan almal net oopbek of gaan lê sommer op die spore! Nie eens Skeel Jasper se gevloek kon die honde op dreef kry nie. Mens sou sweer hulle het die gedierte geken soos hulle stert geswaai het.”
“Was daar nie ’n boom naby nie?”
“Daar is twee baie ou bome op die erf, maar nie daar waar die spore gelê het nie, en Jasper se honde sou dit buitendien mos opgetel het.”
Wouter vertel hoe senuagtig almal was en hoe die storie deur die distrik versprei het. Hier en daar sou die werkers soggens kom rapporteer hulle sweer by die Liewe Heiland, hulle hét ’n tier hoog teen die rantjies sien staan toe die son net-net sy voorkop begin wys het.
“Niemand het geweet wat om te glo nie en, nou ja, later het dit ook vervaag, maar ek het so geskrik dat ek nooit weer my ma se rokspante gelos het nie tot ek moes skool toe gaan,” lag Wouter dat ’n blink Magdel onder die Gladwrap wys.
Lank nadat ek met trane van Wouter en Magdel moes afskeid neem, het ek bly wonder oor die spore wat net so die niet in verdwyn het. Een nag, nadat Ernesto my daardie middag tot net duskant die Hardap-besproeiingskema gemasseer het, droom ek ’n wonderlike gesig: Ek en Woutertjie is albei klein en ons speel op hulle stoep. Ons het van daardie outydse, sterk plastiektrekkers wat mens gekry het, hy ’n gele en ek