Saad. Wie s’n het ek? Dit is waaroor ék wonder. As ek my DNS sou kon oopvou soos ’n kaart, wat sou ek leer?
Ons is die nasate van mense wat enorme vrese moes oorkom en met oop oë geliefdes gegroet het, wetend dat hulle mekaar waarskynlik nooit weer sou sien nie. Nie almal was met hul vertrek uit Europa avontuurlustige kanniedoders nie, maar baie van hulle het dit wel geword. Uit hierdie besluit is ’n nuwe bloedlyn hier geplant.
In registers is van ons oumagrootjies dikwels naamloos. Jy sal haar graf in ’n Boerebegraafplaas ontdek, langs dié van haar wit man en kinders. Of binne die kringmure waar die eerste vrou uit Europa oorspronklik begrawe is. Dié het dikwels gesterf by die geboorte van hul eerste of tweede kind, as sy nie al op die lang tog hierheen beswyk het nie. Soms wys die register net die woord “slavin” met veerpen geskryf, al was van ons oumagrootjies nie slawe nie. Baie van hulle was boorlinge van die mengelmoes wat in die kolonie in die omarming van Tafelberg, Leeukop en Duiwenkoppen gewoon het. En ás daar ’n naam of tweede huwelik was, is dit meestal sonder van.
Net “Siena”. Sy wat gesien het.
Ek het al onder die slaweklok in Kaapstad se Kompanjiestuin gaan sit en my gees laat ween. Oor die mensdom in slawerny. Oor die knegskap in my eie kop en lyf waar ek, opgevou in ’n laai in myself, in hongerte na bevryding smag.
My stille honger. ’n Leegte waarvan ek die dieptes nie kan peil nie.
Hoe kon my voorsate om ’n nuwe lewe en identiteit én taal baklei het, terwyl ek op die beste van dae nie die moed het om Fruit & Veg aan te durf nie? Dikwels sal ek eerder honger ly as om myself aanmekaar te sit sodat ek in my kar kan klim om ’n kosinstansie te besoek. Ek het ’n heilige weerstand en vrees vir inkopies, waar jy met rye en rye keuses getreiter word en by elke item van voor af moet verklaar wie jy is en waarin jy glo. Hoekom verklap my lyf al my geheime ongeloof in die lewe en die waarde van my eie bestaan asof dit ’n opdrag is om te stol? My wroeginge laat die lewe van die Hollanders wat koolkoppe en tamaties daar onder Tafelberg kom plant het, eenvoudig klink.
Binne-in my lyf het ek aan die slaap geraak. So het ek diep en lank genoeg weggesink in ’n vrees waarin ek my stelselmatig gepantser het. En dit is die belaglike ironie van obesiteit. Hoe sigbaarder jou logge lyf word, hoe onsigbaarder is jy as mens. Waar die skaal nou staan, is nog net my tande en my mooi ore deel van my oorspronklike self.
Obesiteit beteken om gestremd te wees.
Het ek my onbewustelik só met my pa vereenselwig dat ek in die pyn en beperkinge van sý lyf wou deel? Pa, wat nie sy eie toonnaels kon knip nie en net met moeite sy skoene kon aanstoei? Oor berge selftwyfel, valleie van diëte, oefenplanne, vergrype, selfverloëning en trane. Al die flentersgeskopte skale, geskeurde foto’s en leë beloftes.
Ek, die eerlike straight shooter.
Ek lieg lang stukke vir myself.
Ander kan op my integriteit staatmaak, maar teenoor my eie lyf het ek geen lojaliteit nie. Partykeer is ontkenning al wat jou toelaat om soggens voet uit jou bed – die veiligste plek in die wêreld – te sit. Ontkenning is meesterlike oorlewing. Veral as jy die persoon in die spieël onherkenbaar vind.
Soms voel dit daar was meer spyskaarte as padkaarte in my vorige lewe. Ja, ek blameer Jan van Riebeeck ook. Dis sy skuld dat die snoepie nou in ons gene is.
Ek sou my eie Groot Trek aanpak. Van normaal na abnormaal na absurd.
My rug raak seer van so oor die kar leun, wel wetende my sitvlak is nou op al die monitors van die Amerikaanse veiligheidsdiens. As ek lank genoeg talm, kan hier dalk ’n voertuig vol gekamoefleerdes met sonbrille opdaag. Wat sou ek sê as hulle my met my hande op die kardak laat staan en vra wat ek hier maak? “I miss my father. Ek is hier om julle oor my pa te vertel. He was seldom armed, but he always behaved like he was fully loaded.” Maar as hulle my in ’n eengloeilampiesel aanhou en my met Mexikaanse burrito’s omkoop, sal ek dán dalk die storie vertel soos ék dit onthou?
Mense dink hulle sal nooit hul geboortereg vir lensiesop verkoop nie, maar hulle misgis hulle. Ons doen dit almal. Hoeveel slimme vroue eet of drink om te keer dat die woorde in hul kop nie dalk by hul mond soos teikenvaste torpedo’s uitskiet nie? Van wat jy regtig vir jou paphandjiesman wil sê – terwyl jy ’n groeiende spesmaas het dat jý die hoofoorsaak is dat hy in ’n Jelly Tot verander het – en jul spruite eiegeregtige bloedsuiers is. Met ’n hap-hap van wat ook al probeer jy dit summier afdruk. Wegsluk.
Almal stop hulle nie noodwendig vol kos nie, maar almal stop hulself wel vol met iéts – al is dit ’n verslawing aan sosiale media, YouTube of Netflix. Enigiets net om besig te bly sodat jy nie kan onthou hoekom jy régtig hier is nie. En wie jy is nie.
Ek wil nie meer popspeel nie.
Ek wil nie soos Pa net altyd op vlug wees nie.
Ek wil eerlik met myself wees en die hele verhaal net een keer hardop uit my eie mond hoor, sonder dat ek dit met kos blokkeer. Soos ’n finale mondeling wat mens in matriek aflê.
Dit is waaraan ek dink wanneer ek in die hemelruim opkyk of probeer besluit of ek vandag gaan ophou koffie drink en brood en suiwel los, of nie. Dalk sal ek weer vegetaries of vegan word? Wie weet, môre hou ek dalk net op met eet.
Waar kom ek aan hierdie hoop tot ’n eie opstanding? Dat ek soos ’n Lasarus uit my spelonk te voorskyn sal sweef en dat daar ’n hemelse kaart is wat duidelik wys: Hier! Hier gaan ek woon en hier is dit vir my gemerk: Uitgerafelde gelukkigheid met ’n saligheid in my oë wat deinings gewelfblou waarheid na ander toe uitstoot. Bedags speur ek na die horison. Snags worstel ek met die gevare van gluten en kaas.
Ek strek my rug.
Die windjie raak nou koel en die vel op my bene voel droog. Wat het my besiel om tot hier te ry? Pleks dat ek ’n fles koffie saamgebring het.
Ek kan mos maar weer môre hier kom parkeer en verder skryf? Orde skep. Ek wil al die belaglike, vreesgedrewe en liederlik verkeerde besluite, ompaaie en vernederinge saamstring en met een naald aanmekaarstik. Ek wil die Hoër Waarheid soos ’n templaat bo-oor alles afdruk sodat my storie tot iets wat betekenis het, verhef kan word.
Rachel is sowat 56 kilometer vanaf Area 51 en die naaste oorslaap- en toiletplek. Dit is kleiner as Maltahöhe waar ek glo eendag gaan erf en ’n grondbaron word. Terug by die Little Alien Inn Motel snuif ek die reuk van petrol en stof in. Wit, kalkagtige Amerikaanse stof wat in jou hande verpoeier, moontlik as gevolg van die geheime kernwapens wat die owerhede roekeloos in hierdie geweste getoets het.
Pa se geld wat destyds deur die Amerikaanse owerhede gevries is, sal ons seker nooit sien nie. My suster het ’n ou koerantuitknipsel van die LA Times opgespoor. Ons praat van iets soos $110 miljoen, waarvan etlike miljoene nooit opgespoor is nie. Sjoe, in die tagtigs was dit meer as ’n redelike fortuin. En Pa was maar in sy dertigs gewees. Nogal baie om te vermag vir ’n Afrikanerklong wat in spoorweghuisies grootgeword het en op driejarige ouderdom vir hoeveel jare daarna tot net onder sy skouers verlam was.
Ek vat die lêer met Pa se dokumente op die bakkie se sitplek saam om in my kamer te bestudeer. Wie het Pa regtig geken? Nie sy kinders nie. Sy vroue oorweeg ek nie eens nie. Nie een van hulle was binne-in Pa se Louis L’Amour-wêreld nie. Pa se donkie en sy perde wel. Dalk Mister Thompson. Moontlik sy enigste ware vriend.
Die rolprentspan van Independence day het ook glo in hierdie motel tuisgegaan. Ek haal my eie laken uit my reissak, want ek wil nie mikroskopies meemaak wat als op hierdie beddens ná ’n lang dag op stel gebeur het nie.
In die hoek van my outydse laken met sy piepklein geborduurde roosknoppies is Ouma-hulle se voorletters met inkpen aangebring, en die woord “Pastorie”. Die laken is wit, en as ek diep inasem, onthou ek dat ek eens ’n kind met ’n rein hart was.
Maar op sewe het ek al geweet my maag is