Die man se geaardheid oorrompel en verwar my. Ná byna twee dekades se ervaring van vreemdelinge vir onderhoude trompop loop, kan ek die mense wat nie verwond is nie op my een hand tel.
Eintlik is hy my eerste een. Iemand wat nie vra dat ek my woorde versigtig kies, of my aksent aanpas nie. Of die talle fyn dingetjies doen wat ’n mens aanleer om vertroue in te boesem. My witgeit val van my af omdat ’n heel mens nie kleur het nie en noudat ek in die teenwoordigheid van een is, het sy kleurloosheid myne oorbodig laat voel.
’n Skaapwagter.
Nadat ons die troppie in die kraal toegemaak het, beduie hy ons moet hier naby sit.
“Willemien het ’n vraag?” In die sterk skemer kan ek sy gesig nie uitmaak nie, maar sy sagte stem en aura stel my gerus.
Ek het. Nie my onderhoudvrae nie, en ook nie vrae vir ’n veewagter in die Richtersveld nie. Dié lê soos veedrolletjies opgedroog in die sand om my.
“My vraag is eintlik ’n vraag aan die Here.”
Die skape blêr en ’n gatswaaiende hond kom by die veewagter se voete lê.
“Is daar nog?” vra ek asof ek die sub-A’tjie is wat vir die juffrou nog koeldrankdoppie-tellers vra om op die klaskamer se speelmat uit te pak.
“Nóg?” kan ek hom amper hoor ’n glimlaggie trek.
Ek voel nie soos gewoonlik skaam, belaglik of ontbloot nie. Ook nie vet en drillerig, of soos ’n aanstootlike aanbieding van gebrekkige vroulikheid nie. Woordeloos laat hy my voel of ek mág vra.
“Ek wil graag weet of daar nog heel mans op die planeet is?”
Hy vryf met sy een tekkie se toon oor die wolpensie van die hond, wat nou pote omhoog lê. “Ja, liewe Willemien. Daar ís.”
Wat soek ek? Vergifnis en om te vergewe. Vrede. Dat ek en Pa weer oukei met mekaar sal wees. Dat my suster begrip sal hê hoekom ek my lyf so afgeskeep en my greep op myself heeltemal verloor het. Dit moet reg wees sodat ek uiteindelik na my eie lyf en lewe kan terugkeer.
Want sien, hier op Aarde het jou gees ’n lyf nodig om jou grenslose potensiaal vir liefde te kan leer uitleef.
Liefde is nie vir lafaards nie. Jy moet vrywillig kies om oor die krans van vrees te neuk.
Arms oop, gillend.
Eers dan is jy reg vir dié ontmoeting. Ware herkenning blyk op ’n frekwensie te wees waar min mense vreesloos genoeg is om na te mik. Raar, dog nie onmoontlik nie.
Wat sou Ma sê as sy hoor waaraan ek nou dink?
“Liefde is iets wat ’n ma vir haar kinders voel. Of wat tussen jou en jou diere is. Die res is ’n versinsel. Jy mors jou tyd om dit na te jaag.”
Desondanks het ek lankal geleer om my instinkte te vertrou: die woordelose wete wat jou na jou bestemming lei. Sommige mense glo in soul mates, maar die hemelsegte is fyner geweef as passie op menslike vlak wat onder ons dikwels as liefde paradeer.
“Ja, Willemien,” het die veewagter met die wit tekkies gesê, “daar is.”
Van toe af glo ek soos ’n kind wat die prentjies van haar toekomstige lewe solank in doppies uitpak.
My reis is ’n afskeidsrit. Nie net van Pa nie, maar van my ou lewe. Eintlik is dit lankal verby, maar ék het nog nie die sprong gemaak nie. Ek huiwer nog asemsnakkend op die platform, asof ek gaan bungee jump. Pisbang om te spring, dog weet ek dit is nou of nooit.
Pa se begrafnis was chaoties. Wie sou die oranje snor kon voorspel het? Of die sang-item? Daar was nie tyd vir tot siens sê nie.
My gedagtes ry skoppelmaai. Tussen toe en nou. Tye wat ek onthou, nie soseer oor wat gebeur het nie, maar oor hoeveel ek toe geweeg het.
Kolonel Wendelle Stevens het my en Pa destyds na Area 51 gebring. Ek en Pa was dik van die lag. Pa kon mens selfs in die slegste tye laat lag. Sy positiwiteit het soos ’n kragbaan van hom uitgestraal. Niks kon dit afskakel nie. Dié krag kon ’n hele huis of kantoor vol mense, asof gehipnotiseerd, gemotiveerd laat bly – al was daar nie eens geld om melk vir koffie te koop nie.
Tog het dit my soms tot in die murg uitgeput.
Deur die jare kon net sekere mense dit langer as ’n rukkie naby Pa verduur voor sy vulkaniese energie hulle uitgebrand het. Voor Fabulous Fabula in sy lewe ingeheupswaai het, het niemand die moeite gedoen om die sekretaressies se name te memoriseer tensy hulle al ’n paar weke uitgehou het nie. Die meeste het binne dae al hul handsakke gegryp en gevlug.
Sy vreemde energie en die oortuiging dat wat hy op daardie spesifieke dag geglo het, die reine waarheid is, het mense oorrompel. Só kon Pa die polisie of verkeersbeamptes oorreed om ons soms ’n dorp in te begelei. En voordat tegnologie dit onmoontlik gemaak het, kon hy met die koppe van besprekingsagente smokkel. Dit het dikwels gelei tot opgradering na eersteklassitplekke, al was ons vliegtuigkaartjies gekoop met ’n kredietkaart waarop daar geen sent was nie. Gereeld moes ons net keer dat Pa nie die hele restaurant oorneem, maak nie saak in watter land of taal nie. Hy sou die kelners, die bestuurder, die sjef en die eienaar rondkommandeer, en boonop interaksie met elke tafel hê. As Pa lus was vir sing, hét hy gesing.
“’n Kombinasie van die onversadigbare behoefte na erkenning en lewenslus wat oral net kontakte wou opbou en partytjie hou,” het ek vir my suster verduidelik hóé die pa was by wie ek grootgeword het. “Soms kon dit die plek in een geselligheid omskep, maar hoe ouer ek geword het, hoe meer dikwels was dit net so over the top dat ek die tafeldoek oor my kop wou trek.”
Meestal het ek nie die stamina vir Pa gehad nie.
Min mense het. En tog was daar diegene wat om hom rondgehang het asof hulle juis sý energie nodig gehad het om weer in die kryt te klim. In retrospek was dit dikwels Pa se hart vir diere wat my sag gemaak het, al was ek soms hoe die joos in vir hom. Een keer by ’n braai het ’n skerpioen op die vuurhout probeer uitklouter en al wou almal hê die ding moes doodbrand, het Pa geweier. Hy kon die fisieke lyding van diere of gestremde mense nie verdra nie.
Pa het ook ’n aanvoeling vir perde gehad. Nie een keer nie, maar talle male was ons iewers waar die perde hom nie geken het nie, maar hulle sou hom vir aandag uitsonder. Al sit hy in ’n kar, sou die perde regoor hom teen die draad bly kap-kap met die pote, ore gespits.
In my middeldertigs het Pa egter sy mees snyende oordeel oor my gefel, wat nietemin so waar was dat ek amper verlig was. Asof ek lank reeds voor ’n vuurpeloton staan en wag het terwyl Pa aanlê.
“Kyk hoe lyk jy. Jou dele pas glad nie bymekaar nie. Jy is nie veronderstel om só te lyk nie! Hoe jy klink en hoe jy dink en die lewe wat vir jou ooplê, pas nie by jou lyf nie.”
Pa was reg.
Vóór daai konfrontasie was ek miskien gewond, maar daarna was die koeël deur die hart. Én die galblaas.
Dis steeds moeilik om daaraan terug te dink. Net twee dae tevore het ek by Pa se plek in Bloubergrant opgedaag nadat ek hoe lank nie eens geweet het waar hy hom bevind nie.
“Ek’s bly om te sien jy het jou stryd teen anoreksie gewen.” Pa se oë het my met ongekende sarkasme gemeet.
Die goudgrawer, self lankal verby haar beste jare, op wie se heup Pa se hand vir ’n oomblik gerus het, het ’n onsekere laggie gegee. Hy het die vrou in die rigting van die kroeg op die breë stoep gedruk. “Loop wag daar vir my.”
Ver onder ons het die samelewing verdeel in diegene wat iets doen, en die ander wat in hul karre sit en wegneemetes verorber terwyl hulle die eerste groep dophou. Hulle kom om te kyk en te eet, maar klim lankal nie meer uit hul voertuie nie. Die karsitters word die toeskouers van die kite surfers wat soos marionette hoog bo die water uittol, terwyl die drawwers en stappers met honde verbykom.
Selfs die kinders van eersgenoemde groep het in die karre bly sit, elkeen met ’n roomys wat hulle by McDonald’s se deurryplek in Table View gekoop