Middernag. Sidney Gilroy. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Sidney Gilroy
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798180559
Скачать книгу
homself. Dokter Palesa Makanyane, hoof van die patologie-afdeling. Mooi Palesa. Kwaai Palesa.

      Die forensiese spesialis wys haar naamkaart wat aan ’n toutjie om haar nek hang vir die beampte, wat haar inlaat.

      “Is dit sy?” vra Jantjies.

      Ja, knik Sollie.

      “Jô!” Jantjies lig sy ken in die rigting van die forensiese tegnici wat skielik toerusting agter uit die paneelwa begin lig. “Sterkte vir dáái twee.”

      Sollie wag aan die rand van die toneel vir sy kollega. Twee keer vra die fotograaf dat hy uit die beeld moet tree. Hy staan terug en beskou weer die fokuspunt. Daar is niks verdags omtrent die roomyskarretjie nie. Skoon. Lyk asof dit onlangs gewas is. Behalwe vir ’n paar skaafmerke op die kante en die wiele wat afgeloop is, met traantjies teer hier en daar op die speke, is dit in ’n goeie toestand.

      Hy ken die soort roomys – Frutti Tutti Pops is volop in Bloemfontein. Nyandi vrek daaroor, en Agnass hou hope in haar vrieskas aan. Sy gee dit oor die heining vir die buurt se seuns as sy hulle daarmee omkoop om huisraad (en skinderstories) vir haar rond te dra.

      Sollie bekyk weer die toneel rondom die karretjie. ’n Stil buurt. Geen bushalte. ’n Doodloopstraat. ’n Ry eenvoudige huise, die inwoners wat gevange gehou word totdat die toneel geprosesseer is. Wie kon ’n lyk tot hier gebring het? Dit kon enige iemand gewees het.

      Op die sypaadjie haal die beampte met die metaalverklikker die gehoorstukke uit sy ore, buk af en plaas ’n merker neer. Bingo! dink Sollie. Tweede leidraad.

      “Jantjies!” roep hy die konstabel terug. “Stap tussen die linte deur en kyk of enige van hierdie huise dalk CCTV-kameras het wat op die straat uitkyk.”

      Sollie staar weer na die koelhouer wat oor die fiets se voorwiel hang. Vlieë swerm lui bokant die deksel. Sy oë soek vir een of ander vorm van identifikasie. Geen naamplaatjie aan die fiets nie, niks wat die eienaar se identiteit verklap nie. Koop ’n mens dan net ’n roomyswaentjie en laai hom vol Frutti Tutti Pops, of hoe werk dit? wonder hy toe hy afbuk.

      Dan sien hy dit: onderaan die saal se breë agterkant is ’n nommer in wit viltpen geskryf. Dit kan ’n reeksnommer wees. Of dalk ’n opsporingsnommer vir die smous wat die fiets besit. Leidraad drie.

      Toe hy homself regop stu, kyk hy in haar borste vas. Dit voel of sy tong oombliklik knoop.

      “D-d-dumelang, ngaka,” stamel hy. “Ek het nog net jou Fiesta van agter af gesien v-v-vandag.”

      Hy strek sy hand uit om haar tas met gereedskap te neem. Sy het ’n emmer en nog ’n tassie in haar ander hand. Die twee forensiese manne van Bethlehem stap vinnig nader met ’n pak plastieksakke. Hulle lyk bloedjonk. Nuwe rekrute.

      “Hei, Sollie, hoe gaan dit?” groet Palesa, onweer op haar fyn gesig.

      “Moeilike naweek?” vra hy.

      “Ek het drie weke laas ’n af naweek gehad,” brom sy terwyl sy haar tas oopvou en met gehandskoende hande deur die instrumente soek. “En wragtag, sal hy my eerste skakel. Asof ek áltyd op standby is. Driehonderd-en-twintig kilometer op ’n Dinsdagoggend!”

      “Brummels?”

      “Wie anders?” Sy gluur die twee tegnici aan terwyl hulle latekshandskoene oor hul vingers trek.

      Sollie weet goed die patoloog is nie gewoond daaraan om self bewyse op misdaadtonele te moet versamel nie. Nie in Bloemfontein nie en nog minder in dorpies soos Harrismith. Dit beteken net een ding: Brummels het hierdie saak prioriteit gemaak.

      Hy help Palesa om haar toerusting nader aan die fiets te bring. Met die son wat loodreg uit die lug bak, raak die reuk uit die koelhouer verstikkend.

      “Kom nader,” beduie sy vir die kameraman wat huiwerig agter hulle staan.

      Jantjies is terug op sy pos as toneelbestuurder, sy pen gereed bo die SAPS 13-vorm. Dié register, wat op bladsy ses van elke dossier verskyn, is die knooppunt vir alle fisieke leidrade en forensiese bewyse. Jantjies se pen wil iets tot sy observasie van vroeër byvoeg, besef Sollie. Wat die konstabel gesien het, is nie nét ’n lyk nie.

      Toe Palesa die deksel van die koelhouer oopskuif, is dit asof die voëls in die bome ophou sing. Sy en die kameraman snak gelyk na hul asem. Iets tussen nat, warm modder en die stank van vrot tande vul die lug.

      Palesa trek die gesigmasker van haar voorkop af oor haar neus en mond. Dan druk sy haar hande by die koelhouer in. ’n Brommer ontsnap en land vir ’n oomblik op haar voorarm.

      Sy vroetel met iets wat soos plastiek klink. Dan kyk sy na Jantjies, wat met groot oë vir haar knik. Sy kneukels is spierwit soos hy sy pen vasknyp.

      “O, nee, vrek,” hyg Palesa en trek haar hande terug.

      Die kameraman se lens sak en hy staan hoesend langs die fiets.

      “Is d-d-dit erg?” vra Sollie.

      “Dit is.” Palesa beduie hy moet kyk en hou latekshandskoene na hom uit.

      In die koelhouer lê ’n swartsak wat effens uitbult. Toe Sollie daaraan druk, is dit sag. Vlees. Dit het die tekstuur van ontvriesde hoenderborsies, sê sy brein instinktief vir hom.

      “Kan ek oopmaak?” vra hy vir die toneelbestuurder.

      Jantjies knik. Palesa hou sy hande dop.

      Hy trek aan die punte van die sak. ’n Nat suiggeluid. Die sak is glibberig. Hy dwing die twee lae plastiek weg van mekaar sodat die sak oopgaap. Onmiddellik is hy spyt dat hy nie ook vir ’n gesigmasker gevra het nie.

      Hy het ’n lyk verwag. Hy was selfs voorbereid op ’n enkele liggaamsdeel. Maar nie dít nie.

      Die beelde op die dokter se rekenaarskerm tydens sy en Nyandi se laaste besoek aan die ginekoloog snel soos ’n trein deur sy verstand: sy ongebore kind op haar sy. Naledi Mthembu in die fynste detail. Haar voete. Haar neusie. Haar ore. Haar hande wat sy in klein vuisies voor haar hou. Perfek geskape.

      Voor hom is ’n kind. Sy lê ook op haar sy. Hierdie is nie my kind nie, moet hy aanhoudend vir homself sê. Hierdie kind wag nie om die wêreld binne te kom nie, sy het die wêreld verlaat. Op die gruwelikste manier moontlik.

      En daar is meer, iets wat sy brein nie oombliklik kon verwerk nie. Die kind in die swartsak is nie meer heel nie. Sy het nie arms of bene nie. Dit is verwyder. Weg. Gevat.

      “Sollie …”

      Wag net, beduie hy vir Palesa met sy hand. Sy gedagtes is skielik ’n spieël wat breek. Hy het só iets al voorheen gesien. Hy kan net nie onthou waar of wanneer nie.

      Hy knyp sy oë toe en dan forseer hy hulle oop om weer in die sak te kyk. Sy lyk soos een van die poppe op Checkers se rak. Haar oë is oop, en dis gevul met absolute vrees. Hy wil hom verbeel dat hy haar kan hoor huil of skree. Maar haar mond verklap ’n ander emosie. ’n Glimlag is oor haar wange geteken. Dik, wit hale.

      “Is jy oukei, Sollie?”

      “Ek is. Dis n-n-net …”

      “Ek weet.” Palesa plaas haar hand vlugtig op sy skouer.

      Dis nou in sy verstand vasgebrand. Sy was dalk nie sy kind nie. Sy is nou.

      Hy probeer sy gedagtes orden. Hy was al hier. Hy het dit al gesien. Hy moet net onthou. Dammit, Sollie, onthou!

      “W-w-wie sal só iets d-d-doen?”

      Palesa skud net haar kop en lig ’n bottel vloeistof uit haar tassie. Sy hou ’n gesigmasker na hom toe uit en wink die tegnici nader. Sy is hier om te werk.

      Hy ook.

      Hy blaas sy asem rukkerig uit voor hy na die swartsak terugdraai. Terwyl Palesa voortgaan met haar prosedures, verwoord hy sy afleidings puntsgewys in sy notaboek.

      Die lyfie is in die swartsak gestop asof sy ’n nagedagte was. Die kind was duidelik nie die enigste ding daarvoor bedoel nie, sy is weggegooi soos huisvullis. Om haar lê verskeie