Middernag.
Terug in die huis staar sy kort-kort na die venster.
Sy sug verlig toe sy hom eindelik sien aankom. Soos altyd verskyn Middernag uit die niet: ’n donker visioen wat moeiteloos tussen die verskroeide klimoppe, roosbome en aalwyne deur glip en op die agterdeur afpyl.
Die swart hond kan vir eers die aftog blaas. Middernag is nie weg nie, hier staan hy voor haar. Selfs nadat sy hom die afgelope tyd verwaarloos het. En haarself.
Die vyfde piering katkos het begin stol en die vurk rus louwarm op haar tong.
Hoofstuk 9
Sollie se foon lui kort ná drieuur. Kaptein Brummels ontbied hom na die Kloktyd Restaurant oorkant die NG Kerk.
Die Corolla se sitplek brand Sollie se rug toe hy wegry en hy laat sak die ruit. Op die sitplek langs hom wapper die ondersoek se papierwerk in die skielike lugversteuring. Die A-gedeelte van die dossier begin vorm kry. Daarin is Jantjies en sy patrolliemaat se verklarings, asook dié van die dosyn inwoners van Wardenstraat oor wat hulle nie gesien het nie. Slegs by een huis was daar nie antwoord nie.
Volgens die verklarings ken almal die Frutti Tutti-smouse. Niemand ken ’n naam nie; die gesigte verander daagliks. Bladsy 2 van die dossier, die beskrywing van die oorledene, spook by Sollie. Binnekort sal Palesa se forensiese verslae die dossier dikker laat. Hy het ook ’n SAPS 299 ingevul: die aangee van ’n gesteelde item. Hy neem aan die eienaar van die fiets soek tans daarna. Of is self met die toneel verbind.
Speurwerk 101: Kry ’n verdagte.
Maar Sollie weet dis nie so maklik nie.
Daar is ook vier SAPS 76’s – bewysvorms vir die vingerafdrukke op die fiets, koelhouer en ’n kitaarplektrum van staal wat op die sypaadjie gevind is. Afgesien daarvan het hy bitter min leidrade. En die C-gedeelte, die ondersoekdagboek, is sy indaba.
Hy vroetel ingedagte met die velle papier om dit weer op ’n hopie te kry terwyl hy die Universitas Slagter se slagoffers van destyds probeer herroep. Maar dis moeilik. Dit was meer as ’n dekade gelede en hy was skaars uit die doeke by Parkweg. Die Slagter was een van die redes waarom hy speurder wou word. Jong swart meisies. Kinders soos sy halfbroers en -susters in Matatiele wat hy uit sy vroegste jare onthou.
Die meisie in die koelhouer was ook swart. Wel geverf, maar steeds. En die glimlag, die dik vingermerke op haar wange, was amper identies aan dié wat hy van die Slagter se tonele onthou.
Is dit moontlik? Kon die Universitas Slagter ná al die jare Bloemfontein vir Harrismith verruil het? Die laaste wat hy van dié saak gehoor het, was ’n uitsending oor OFM dat die ouers vergoeding van die staat eis. En toe ’n brokkie in Oggendpos oor ’n kriminoloog wat aan ’n tesis oor die Universitas Slagter werk. Hy sal die vrou in die hande moet kry.
Palesa en die forensiese beamptes is weg met die oorblyfsels van die slagoffer sowel as die fiets met sy koelhouer. Die swartsak se inhoud is sorgvuldig verpak om later soos ’n legkaart op ’n tafel in die nabygeleë privaat hospitaal uitgepak te word. Daarna sal dit verseël en na Pretoria gekoerier word. Dit kan maande neem vir die uitslae.
Palesa het aangedring op ’n plaaslike lykshuis vir die outopsie en ’n mini-laboratorium waar basiese molekulêre toetse uitgevoer kan word en waar sy haar siftingswerk kan voortsit. Haar bevindings sal natuurlik deur Bloemfontein en Pretoria se forensiese dienste geverifieer moet word, maar dit sal Sollie darem ’n wegspringpunt gee. Die kolonel het die Busamed Privaat Hospitaal voorgestel, en Bethlehem se tegnici sal Palesa bystaan met wat sy ook al benodig.
In die straat rondom die fiets is verder weinig gevind. Geen belofte van CCTV-beeldmateriaal nie. ’n Enkele afdruk van ’n skoensool etlike meters weg in die modder van ’n afvoerpyp, en ’n entjie verder nog een. Twee verskillende skoengroottes, hy skat ’n nommer ses en ’n nege. Wat ’n jong persoon kan beteken. Klein persoon. Kort persoon. Tiener? Vrou?
Die Fender-kitaarplektrum is op die sypaadjie deur die metaalverklikker opgespoor, tussen verdwaalde boute en skroewe. Die driehoekige bruin plaatjie dra ’n afbeelding van ’n kopbeen. Iemand moes dit laat val het, dalk op vlug van die toneel af? In nie een van die huise in Wardenstraat woon tieners of jongmense nie. Die moontlikhede is legio.
Die res van die SAPS 13-vorm, wat as bewysregister dien, toon kredietkaartstrokies en repies papier uit ’n kladboek met ’n spul gekrabbelde woorde. Dis in die vullissak saam met die lyk gevind.
Sollie sit sy flikkerlig aan om by die kruising te draai waar Wardenstraat om die kerk met sy hoë toring vloei. Hy gaan Oggendpos kontak. Iemand daar sal in hul argief moet kyk; hy moet die kriminoloog opspoor. As sy vermoede korrek is, sal hy moet uitvind wat intussen van die Slagter se dossier geword het.
Sy kop is ’n maalkolk toe hy voor die restaurant stilhou. Die beeld van die verminkte meisie spook in sy gedagtes. Die snytjie tussen haar lieste was so te sê toegeverf, maar die geslag onmiddellik herkenbaar. Wat hy probeer vergeet, is hoe opgehewe die labia gelyk het. Palesa sal teen môremiddag al die eerste toetsuitslae hê, dan sal hy vir seker weet. Maar hy vermoed dit alreeds.
Hierdie is ’n spel van wag, sê hy vir homself. Om vas te stel hoe presies ’n gruwelik verminkte kind in Wardenstraat beland het. Toksikologie. Geskatte tyd van dood. DNA. Die inhoud van haar maag. Hoe lank sy al dood is, en waaraan.
Verskeie van die toetse kan maande vat. Een geluk is blykbaar dat die kaptein reeds toutjies agter die skerms trek – hoe anders verklaar ’n mens Busamed se bereidwilligheid om ’n teater aan Palesa af te staan?
Hy sit ’n oomblik met toe oë, sy hand op die Corolla se deurknip.
Sedert die Onverwacht-dossier het hy geleer om sy intuïsie te vertrou. Die kind is verkrag. Feit. Hy het nie ’n patoloog se verslag nodig om dit vir hom te bevestig nie.
Waarmee hy sukkel, is dat hy dit nié so wil hê nie. Hy het die skade aan haar geslagsdele met sy eie oë gesien, maar dis asof sy verstand nie wíl glo dat hy deel is van ’n samelewing waar klein meisies teen mans te staan kom nie. In die vieslikste moontlike bokskryt.
Hy is ’n man wat ’n man moet vang. ’n Slegte man. Waarom?
Onwillig dink hy aan die mense naaste aan hom. Nyandi. Entle. Naledi op die sonarskerm. Agnass. Palesa. Almal vrouens. Nadjwa. Sy ma. Ai, sy ma. Waarom dóén mans dit?
Ephraim Mthembu was ’n skralerige man, maar met ’n vasberade blik. Dis wat Sollie van sy pa onthou: die oë wat selde geknip het en streng, woordeloos sy seun dophou. Die trotse houding van sy pa se skouers. Wat Ephraim Mthembu sê, was wet in die klein kraal op die rand van die kloof aan die buitewyke van Matatiele.
Hy was ’n kwaai man; ’n harde woord of besliste opdrag en almal in die kraal was terug op hul plek.
Nie ryk nie, maar ’n versorger van formaat – dis al hoe Sollie op vierjarige ouderdom die vier vrouens en tros kinders kon verduidelik. Ses susters. Drie broers. Hyself. Ooms en verlangse familie wat kom en gaan. En almal eet en was en lewe. Almal het ’n lêplek.
Alles het gedraai om die as wat Ephraim Mthembu was.
Onbuigbare yster.
Ja, daar was nie ’n kar nie. Ook geen wa met trekgoed om die wildepampoen, hope mielies en groen piesangs mark toe te karwei nie. Daarvoor was hulle van die buurman afhanklik. Nog minder het hy of sy sibbe iets geken soos elektrisiteit, speelgoed oor Kerstyd of klere wat nié aangegee is na die volgende een nie.
Tog het hulle ’n sorgvrye kindertyd gehad. Ure omgespeel. ’n Geroeste sinkplaat met klippies daarop gepak word ’n restaurant; ’n ry bakstene word ’n resiesbaan. Die radio, met ’n voosgedraaide spul koperdraad aan ’n battery gekoppel, sorg vir storietyd. Daar word op die grond gesit, nie stoele nie. Saam-saam eet hulle uit blikborde vol geskep uit swart potte.
Ryk was die Mthembu’s beslis nie, maar arm ook nie. En in die hut waarin Sollie en Nadjwa alleen gebly het, staan emmers stampmielies en houers sonneblomolie. Teen die muur hang rolle