En hier is niks om te vreet nie, net eergister se vuil, leë piering. Gewoonlik los sy die kos by die agterdeur. Hy ruik aan die ander drie pierings waarin krummelrige hopies verdorde katkos oorgebly het. Lek daaraan, maar dis smaakloos en sonder voeding.
Vies spring hy op die vensterbank. Hy luister en kyk, sy neusvleuels gesper. Deur die vliese in sy verhemelte proe hy die naglug. Die lug is stowwerig.
Hy is honger, hy moet eet.
’n Vlermuis swiep verby, eers hoog en dan in ’n lae boog oor die agtererf. Die kat raak ongeduldig. Soos ’n lap wat die wind afwaai, land hy op die plaveisel. Hy gee twee vinnige treetjies en gaan staan, skouers gelig, sy stert in ’n S gedraai vir balans. Die vlermuis fladder tussen hemel en aarde. Hy sluip gebukkend agterna, sy oë twee kopligte in die lig van die maan.
Te laat. Sy vlieënde aandete verdwyn oor die takke van ’n bloekomboom.
Hy meet die betonheining van die erf langsaan. Met ’n vloeiende sprong is hy bo-oor. Toe hy sy balans vind, hurk hy instinktief. Sy bek gaap oop. Hy ruik wyfiekat. Mens. Rot. Padda. En iets wat onder die kleierige grond gevrek het.
Hy skuur sy snorbaarde teen ’n varing se verlepte blare. Krul hom op in die holte waar die grond meegee om die wortels te ontbloot. Hy sluimer in.
’n Vreemde klank in die straat. Eers is die tjie-tjie-tjie skaars hoorbaar, maar dit word geleidelik harder. Hy hou die sypaadjie dop. Die neulende klank word die buitelyne van ’n figuur en ’n fiets. Die voorwiel raas met elke omwenteling.
Hy lig hom uit sy wegkruipplek. Die reuk op die bries spoor hom aan. Bloed. En vleis. Wat ook al op die fiets gestoot word, is kos.
Die kat trap versigtig oor droë akkerblare en ingekrimpte seringbessies. Hy volg die figuur met die fiets in die straat op. Toe die fiets plotseling tot stilstand gebring word, vries hy op die plek, sy lyf laag teen die grond.
Die figuur los die fiets se handvatsels en draai stadig om. Staan oënskynlik doelloos en verdwaald. Onrustig. Begin straataf beweeg, in die kat se rigting.
Dié trek sy lyf plat teen die teer; die eerste dreigende beweging sal hom laat wegspring. Die figuur buk af, steek ’n hand uit, fluister: “Kietsie, kietsie.”
Die kat se hare rys van sy stert tot sy snoet toe hy aan die vingers ruik. Die oë wat hom aanstaar, is koud en leeg.
Toe die hand nog nader kom, vlug hy.
Konstabel Godfrey Jantjies se kop ruk op. Die luierende pas waarteen sy ou kollega die polisiewa deur Harrismith se strate stuur, moes hom aan die slaap gesus het.
Godfrey het van die see gedroom. Die kort vakansie in Margate saam met die kinders. Die soel blougroen waters van KwaZulu Natal, skaaptjops op die rooster en koue oostewinde wat mistige reën teen die karavaan se ruite waai. Rotspoele. Die soet reuk van frangipani. Seesand.
Hy vee spoeg van sy ken af en vryf sy oë oop. Staar na die verbleikte strepe voor hom in die pad. Hy is nie by die see nie. Dis diep in Januarie. Die kinders is terug by die skool en sy voorkop is papnat, sy hemp klam en hy ruik sweet aan konstabel Fourie wat langs hom sit.
Hy is by die werk. Dis 02:17 en hulle is besig met patrollie. Die Nissan Hardbody se wiele knars oor die laaste stukkie van Springbokstraat op die rand van Bergsig, Harrismith se rykmansbuurt. ’n Katspoegie weg begin die vallei styg om in die pieke van Platberg te eindig.
Die Nissan kruie voort totdat Bergsig agter hulle lê. Regs by die gholfbaan. Westerson, ’n kleinerige buurt versteek tussen die padbrug en die klubhuis. Die huise en erwe is amper onsigbaar. Kragonderbreking. Net die gevangenis se soekligte hang soos sterre bo die sederbome se toppe.
Die blou lig op die Nissan se dak gooi ’n onaardse skynsel oor die sypaadjies. Stasiebevelvoerder Boere Bester se idee. “Mense moet Harrismith SAPD in die strate sién patrolleer. Sigbaarheid, manne, sigbaarheid!”
Godfrey loer vlugtig na sy selfoonskerm. Geen nuwe whatsapp van sy vrou af nie.
Hy haat nagskof. Patrollie nog meer. Dis ’n gesukkel om wakker te bly. Vroeër die aand het hulle darem opwinding gehad: ’n aanranding in 42nd Hill, ’n poging tot inbraak in die onderdorp. Sedert middernag is die strate verlate; Harrismith slaap.
Toe Fourie tevrede is dat Westerson en omgewing geen bedreiging inhou nie, neem hy die brug wat oor die N3-snelweg span, verby die begraafplaas, op met Murraystraat tot waar dit die hoofstraat kruis. Links op in Warden, al die pad terug Bergsig toe. ’n Vervelige sirkel.
Godfrey sug hard genoeg sodat sy kollega dit moet hoor, sê dan: “Die krag is terug.”
“In hierdie deel van die dorp, ja.” Fourie kyk op sy polshorlosie. “Teen drieuur kan ons iets by die Wimpy gaan kry.”
Godfrey laat hang sy arm by die bakkie se venster uit, vee met sy hand deur die warm lug. Selfs met die ruite oop sypel slegs ’n drukkende hitte die kajuit binne. Die trae wind laat wieg skaars die latte van die wilgerbome agter die laerskool se sandsteenklaskamers.
“Kom ons gaan kry koffie,” sê Fourie toe hulle nog ’n rondte voltooi het.
“Jy’s seker laf! Ek soek koeldrank. Met baie ys.” Godfrey vee oor sy voorkop en lek sy droë lippe. “Jissie, hoe lank gaan hierdie droogte nog hou?”
Fourie antwoord nie, skud net sy kop terwyl die Nissan spoed optel. Hy laat flikker die kopligte om ’n rondloperkat skrik te maak. Die kat skiet weg om in iemand se tuin te verdwyn.
By die Wimpy koop Godfrey ’n botteltjie Coke. Hy sluk ’n kwart weg voordat hy vir ys vra wat hy by die botteltjie se nek inforseer. Hy en sy spanmaat kyk hoe die vroegoggend-padgebruikers Bergview Rusplek binnekom, hul brandstoftenks opvul en dan weer vertrek.
Terug in die patrolliewa rol Godfrey die botteltjie tot onder sy bobeen sodat hy dit in die waai van sy knie vasknyp. Stadigaan word die materiaal nat en vorm ’n koel kol teen sy vel.
“Hoekom het hierdie blerrie bakkies nie aircon nie?” sug hy toe Fourie met ’n stomende papierkoppie vol koffie langs hom inskuif.
Hulle ry stilswyend voort. Fourie mik weer vir die hoofstraat.
Godfrey wens heimlik die radio wil begin kraak, dat Harrismith SAPD se radio-operateur hulle iewers heen sal ontbied. Maar dis net die ander patrollievoertuie wat weggeroep word, meestal na die township of ’n ligging langs die snelweg.
“Ek gaan vir patrollie op die highway vra,” sê hy naderhand moedeloos. Hy dink vlugtig aan die rye bome langs die N3. Niemand sal hom sien as hy daaronder wegkruip nie.
“Gmpf,” snuif Fourie snot tot agter in sy keel voordat hy dit hoorbaar afsluk en die Nissan na derde rat toe oorskakel.
Godfrey staar moeg deur die voorruit. Die huise, breë strate en bome bly ’n donker waas van rustigheid. Wat goed is. Oor ’n paar uur is sy skof verby en kan hy gaan slaap.
Doelloos kruip die Nissan deur die dorp. Wardenstraat. Verby die NG Kerk Moedergemeente, die biblioteek en tandarts. Links op in Hamiltonstraat. Verby die Spar. Reguit op met Bergweg. Deur die duikweg tot in die rykmansbuurt. Teen die steilte op tot waar die teerpad doodloop. Links by die grondpad wat na die botaniese tuin lei. Dan weer af in Springbokstraat, al die pad verby die gholfbaan se klubhuis.
Godfrey vee verveeld deur die foto’s op sy foon.
Aan die onderpunt van Wardenstraat praat Fourie eers weer. “Wat staan daar voor in die pad?”
Godfrey bekyk die dowwe wit vorm. “Dit lyk soos ’n fiets.”
“Met ’n waentjie vooraan?”
“Lyk so.”
“Wat soek dit in die middel van die pad?” Fourie kyk op sy horlosie. “Halfvyf in die oggend?”
Toe hulle naby