Middernag. Sidney Gilroy. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Sidney Gilroy
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798180559
Скачать книгу

      “Waar is die man wat hierdie shit show run?” vra Brummels en druk die kaartjie vererg terug in sy hempsak.

      Die vrou se wenkbroue lig voordat sy oor haar skouer roep: “Konstabel Jantjies!” Dan skryf sy hul name in die register neer, met langsaan die tyd, 11:32.

      By die oorkantste geel lint wat die straat afsper, staan ’n paneelwa. Forensiese dienste, Bethlehem. Twee uniforms leun teen die voertuig, met ’n paar ander wat rondstaan asof hulle op iemand wag.

      Vir hóm, besef Sollie. Die speurder wat die saak moet oplos.

      Sy keel wil dadelik toetrek. Dan herinner hy homself aan sy getuienis in die hof tydens die Onverwacht-moorde se verhoor. Hoe hy sy dossier uitgelê en verdedig het teen die verdediging se regspan. Die uiteindelike skuldigbevinding. Die glimlaggende staatsaanklaer. Die flitsende kameras buite die hofgebou.

      Hy moet weer daardie vertroue in homself vind. Nie net sy eie reputasie is op die spel nie, die kolonel het ook hoë verwagtinge van kaptein Brummels.

      Hy draai na die junior beampte. “Wanneer het julle bewus geword van die toneel?”

      “Konstabel Jantjies en sy partner was laas nag op patrollie.” Sy beduie na die uniform wat oor die straat aangestap kom. “Hulle was vanoggend eerste op die scene. Daar’s weer issues met die council in Tshiame, so ons is short op mense. Die kolonel is nou op pad soontoe. Hy’t gesê Jantjies moet hier bly – fatigue shift. Rang?”

      “Speurder-sersant,” sê Sollie.

      Sy krabbel op die register langs sy naam.

      Kort op Jantjies se hakke is ’n kameraman. Hy dra ’n driepoot onder sy arm, ’n videokamera oor sy skouer en ’n langlenskamera om sy nek. Hy knik sy kop vlugtig vir die besoekers.

      “Goeiemôre,” groet Jantjies effe uitasem. “Is julle die ouens van Bloem af?”

      Hy lyk moeër as die verlepte blomme in die tuine hier, dink Sollie toe hy die groet beantwoord. “Stap saam met my, konstabel.”

      Brummels volg swyend, sigaret tussen die vingers.

      In die stasiebevelvoerder se kantoor is die saak kortliks aan Sollie verduidelik: ’n vermiste kind en ’n lyk. “Moontlik iets vreemds,” maar die kolonel wou niks verder uitlap nie. Nou sien Sollie, aan die somber atmosfeer en die kyke wat hy van die uniforms kry, dis iets veel erger.

      Hy kyk om hom rond. Sy eerste indruk van die toneel: doodgewoon ’n stuk straat op die platteland. ’n Verlate roomyskarretjie met ’n koelhouer voorop. Vanaf stoepe en agter heinings loer die inwoners van Wardenstraat nuuskierig na alles wat aangaan. Brummels huiwer op die rand van die toneel, asof hy ’n skaakspel dophou.

      Sollie kyk terug tot onder in die straat. Sy aanvanklike vermoede was tref-en-trap, maar hy sien geen voete wat onder ’n foeliekombers langs die fiets uitsteek nie. Geen beskadigde kar met ’n geskokte bestuurder naby nie.

      “Hoe ver strek die toneel?” vra hy vir Jantjies, wat skielik oorbodig met ’n notaboek begin vroetel.

      “Ek het maar afgesper van die onderpunt van die straat tot waar Warden en King kruis.” ’n Fyn lagie sweet span oor Jantjies se bolip. “Kan ek maar vir die kameraman toestemming gee om op te stel?”

      “Ja,” knik Sollie.

      Jantjies wink die kameraman nader en beduie ook vir ’n knaap met ’n metaalverklikker dat hy die toneel kan betree. Dan kyk hy terug na Sollie, asof hy op instruksie wag.

      “Bly hier. Ek wil eers self deur die toneel stap.”

      Die beampte met die metaalverklikker volg in Sollie se spore. Dan mik hy vir die koeltebome op die sypaadjie. Die Vrystaat gaan weer bak vandag. Die ronde kop van die metaalverklikker swaai heen en weer oor die dor gras.

      “Waar is die slagoffer?” vra Sollie toe hy terugkom by Jantjies.

      “Dis daar, vorentoe,” beduie die konstabel na waar die kameraman pas sy driepoot opgeslaan het.

      “By die fiets?”

      Jantjies knik. “Ek het die ondersoeklêer by my in die kar. Niks meer as die CAS-nommer sover nie. My en konstabel Fourie se verklarings is alreeds in Deel A. Ek sal die ondersoekdagboek in C vir jou oorteken.”

      “Dankie.” Sollie trek sy notaboek uit sy hempsak, druk aan sy neuspunt toe ’n skielike stank deur die reuk van stof en warmgebakte teer dring.

      “Bethlehem was nie baie geneë daarmee dat hulle vir julle forensiese spesialis moes wag nie,” sê Jantjies. “Waar is hy?”

      “Sy,” korrigeer Sollie.

      Jantjies frons. “Is sy op pad?”

      “Sy is reeds hier in die dorp iewers. Wys my solank die slagoffer.”

      Hulle loop versigtig op die geel streep langs die randsteen tot by die fiets. Die fotograaf beweeg sistematies om die toneel. Verder weg krrr die videokamera op sy eie.

      Sollie kyk verby die fiets. Hy ruik verrotting. “Ek sien nie die slagoffer nie?”

      “In die koelhouer,” hoes Jantjies en sit sy hand oor sy mond.

      Dis nie ’n gewone toneel nie, weet Sollie onmiddellik. ’n Lyk pas nie in ’n koelhouer in nie.

      “Die fiets?”

      “Ons het dit net hier gekry,” bevestig Jantjies. “En ek het seker gemaak dat niemand oor die teerpad beweeg tot forensies klaar is nie.”

      “Ja,” sê Sollie peinsend. “Die straat vorm die enigste logiese roete vir ’n ryding. Die pad eindig daar onder. Ek het twee voetspore opgemerk.” Hy wys na die geel kegel wat hy bykans twintig meter weg op die sypaadjie geplaas het.

      “Ek sal dit aanteken,” sê Jantjies verleë.

      “In watter toestand is die slagoffer?”

      Jantjies vermy Sollie se blik. “Dis beter as jy self kyk, sersant.”

      Sollie verdring die gedagte aan wat hy gaan sien. Hy was by toe die lyk stuksgewys uit die waterput in Renate Wagenaar se tuin op Onverwacht gehaal is. Al is die saak afgehandel en die dossier gesluit, droom hy soms daarvan.

      “Enige getuies?”

      “Net hulle.” Jantjies wys na waar drie mans in verslete blou oorpakke op die randsteen sit, anderkant die geel lint wat die toneel afbaken. ’n Beampte met ’n skryfblok hang oor hulle, besig om verklarings af te neem. By die verskrikte mans se voete lê tuisgemaakte kartonborde: verwer, messelaar, elektrisiën.

      “Was hulle hier toe julle hier aankom?”

      “Nee, ons was besig om die toneel te secure toe hulle in die straat afgestap kom. Hulle het kortpad deur die donga gevat wat onderdeur die snelweg loop. Daar is niks verdags omtrent hul storie nie. Werksoekers.”

      Sollie sug. “Soos tientalle ander. Het die mans identifikasie?”

      “Twee van hulle. Een is ’n Malawiër. Ek twyfel of hulle betrokke is, sersant.”

      “Maar hulle kon dalk iets gesien het?”

      Jantjies trek sy skouers op. “Die straat was verder verlate. Die buurt ook. Ek en konstabel Fourie was heelnag op patrollie, hier en in die drie aangrensende woonbuurte: Bergsig, King’s Hill en Westerson.”

      “Hoeveel buurte het Harrismith?”

      “Daar is nog Wilgepark en die township, 42nd Hill.”

      “Jy sê hulle het kortpad gevat?”

      “Ja, sersant. Daar is paadjies wat al die buurte met mekaar verbind.” Jantjies beduie na die oop veld anderkant die huise, wat hoër teen die berg op in woud verander.

      Die geloei van ’n sirene laat Sollie opkyk. ’n Gemerkte Fiesta kom om die hoek gejaag. Die kar se neus duik vorentoe toe dit skielik teen die geel lint stop.