Wanneer my pa vroegoggend opstaan, is sy al weg. Dan moet hy die lorrie wat die week se besending steenkool en antrasiet en hout kom aflaai, deur die hek laat. Ek ruik die swael wanneer hy die vuurhoutjie trek om die kers aan te steek. Slaperig kyk ek na sy skaduwee teen die dakplate van asbes. En as hy sywaarts draai, die harde, lang lyn onder sy buik met die ronde punt waarin dit eindig.
Ek onthou tot vandag die hopies steenkoolstof rondom die pale wat die dak omhoog gehou het. Hoe dit in die hoeke van die kamer versamel het. Die bokant van die deur, die bodems van potte en glase. Dieselfde voete en karre en trokkies en kruiwaens wat die steenkool kom koop het sodat ons kon eet, het ’n alewige wolk oor ons blyplek gelaat, die fyn stof wat deur alles dring. Swart strepe op my klere, my gesig, in my skoene, tussen die blaaie van my skoolboeke, selfs tussen my tande.
Vir my pa was daar ’n sekere trots daarin om aan die einde van ’n lang dag die min tande wat hy oorgehad het van onder sy swart voorkop, bolip en wange vir die wêreld te wys. Asof hy so wóú bly.
Maar as dit donker word, het hy tog die kraan van die enkele waterpyp oopgedraai om iemand anders te word. Iemand wat sý wou gehad het. Om homself met haar swartheid te merk.
Wat sien hy in haar? het ek altyd gewonder.
Ek kon nooit ál die roet van my afgewas kry nie. Geen hoeveelheid Sunlight kon dit vir haar wegsteek nie. Ek het baie keer gebid hulle moes iets soos wit steenkool ontdek sodat die fyn stof wat my wese deurloop het onsigbaar sou word vir haar kwetsende oë en spottende tong.
Sodat sy nie meer kon maak asof ons dieselfde is nie.
Of ek het gewens dat haar swart vel vir eens wit gevlek kon word, soos myne deur die steenkoolroet swart gevlek is. Wit kolle en strepe op haar donker gelaat. Sodat ék die een kon wees wat die vuilheid en die swaarkry en die skaamkry uitwys.
Laggend. Ek sou dit laggend doen. Soos dit aan my gedoen is ná my pa se dood.
Soos ek dit nou aan hulle doen.
My pa kon hom skoon was en iemand anders word. Nie ek nie. En daarmee het ek vrede gemaak.
Hoofstuk 7
Teen eenuur die middag is Maartin Brummels tevrede dat Palesa en Sollie hulle in die saak verdiep het. Sy speurder ploeg in die bloedige son van voordeur tot voordeur. Die patoloog versamel sakkies vol bewyse. Hy verskoon hom om verblyf vir die aand te gaan reël. En om van sy pynpille te drink.
Hy het nie vanoggend gestort nie, net die nodigste in sy rugsak gegooi en gery. Nou kan hy vir die eerste keer asemhaal.
Mountainview Inn is rye hotelkamers onder dennebome tussen ’n Ocean Basket, ’n Nando’s, petrolpompe en ’n Spur aan die buitewyke van die dorp. Dié rusplek vorm ’n knooppunt vir reisigers op die besige N3-snelweg. Van die ingang af kan Brummels Harrismith se stadsaal se vierkantige toring sien, boomtoppe op die voorgrond en silo’s in die verte.
Die kamer met en suite-badkamer is ruim. Verby die wynrooi gordyne en die N3 lê die berg en die gholfbaan. Platberg se kranse gooi lang skaduwees teen die hange af. Hier in die kamer is dit ’n bakoond en Brummels skakel die lugversorger aan.
Hy het pas uit die stort geklim of hy voel iesegrimmig. Die waterdruppels oor sy vel verdamp dadelik en die pynpille vat ook veels te lank om in te skop. Hy frommel sy neus. Die reuk wat uit die stort se afvoerpyp syfer, is dié van brak water. Die droogte het die Vrystaat in ’n wurggreep. Dis ’n versengende hitte wat grasperke dor laat en droë rivierlope laat kraak. Dit laat die inwoners van die vlaktes, dorpe en plase smagtend na die blou horison kyk, soekend om te sien of die volgende stapeltjie wolke dalk verligting sal bring.
Landswyd word die dalende watervlakke van damme en reservoirs bekommerd bespreek. Gegewe die kalkerige reuk is Harrismith se waterbron ook naby aan opdroog, en die reuk vanuit die toilet en die wasbak se dreineringsklep is een van verrotting. Gasserig styg dit tot in die slaapkamer.
Brummels trek die badkamerdeur toe, loer weer na Platberg. ’n Bruin blok teen ’n ligblou gordyn. Geen teken van reën nie. Alles verswelg onder ’n son wat die wit bliksem uit enige gesonde ding skroei.
Gou het hy ’n ander rede om te kla. Die dowwe, dooie pyn in sy lae rug verander van rat. Dit klop in sy kiewe. Hoeveel van die pynpille moet hy nóg drink? Die donnerse ding groei by die minuut. Sy lewe draai uit op een groot, moerse fokop.
Hy gaan lê op die bed, dryf genadiglik weg. En skrik minute later wakker toe die lugversorger se vinne met ’n harde kliek toevou. Die stroom koue lug kom skielik tot ’n einde. Harrismith het so pas die elektrisiteit-lotto gewen. Beurtkrag.
Geïrriteerd staan hy op en trek aan, ry polisiestasie toe. Dalk as hy met sy ou vriend gaan gesels, kan hy deur hierdie oorweldigende pessimisme breek wat sedert die dokter se oproep oor hom hang.
Harrismith SAPD se ontvangs laat besef hom opnuut die wysheid van die Natte se voorliefde vir donker hout, donker vloere en donker gange. Die plek se temperatuur is naby aan ’n koelkamer. En dis besig.
’n Man vol tatoes en met ’n lang swart baard moet sy stem verhef om bo die geruis van ’n massiewe waaier uit PW se tyd gehoor te word. Die kêrel in ’n stywe, modieuse denim verwoord luidkeels sy misnoeë met die enkele beampte agter die toonbank, die polisie en die algemene toestand van die land. Agter hom sit mense in verslete klere geduldig die stoele vol.
’n Meter weg staan ’n mooi jong vrou agter ’n duur donkerbril. Haar een hand vou om ’n loopstok en die ander om ’n Gucci-handsakkie. Emosieloos staar sy voor haar uit terwyl die man met sy plat hand op die toonbank klap. Hy het genoeg gehad!
Brummels staan nader om die man aan te spreek. Met min sukses. Meneer Pierewaaier is Kian Louw en hy dring aan op diens. Nóú. Blykbaar is dit ’n hopelose skaarste op ’n Dinsdagmiddag in die buitewyke van die Vrystaat.
Net toe Brummels die hipster-aan-die-verkeerde-kant-van-vyftig aan sy strot wil beetkry, verskyn kolonel Bester in die deur. Maartin en sy ou vriend se oë ontmoet. Kalmeer, wys Boere vir hom. En toe doen die stasiebevelvoerder dieselfde as wat Brummels hom gereeld as korporaal in die weermag sien doen het: sy diep stem ontlont die situasie van mans wat mekaar soos gekweste buffels aangluur.
Maar die oomblik toe Kian Louw sy klag in ’n kalm vertoon aan die kolonel oordra, word Brummels se dag nog veel, veel slegter.
Hoofstuk 8
Die tweedelaaste voordeur in Wardenstraat waar die speurder met die letsel oor sy gesig aandoen, is dié van Meisie Swart. Maar sy bly salig onbewus van die vinger op die deurklokkie langs die loodglaspaneel voordat hy omdraai en wegstap.
Meisie het weer tot vroegoggend rondgedwaal en nou lê sy snorkend voor die elektriese waaier wat alle klanke uit die buitewêreld demp. In haar droom vee sy sweet van haar voorkop af. Dis nie net ’n droom nie: haar kopkussing en die lakens om haar is natgesweet. Die waaie van haar boarms kleef klam teen haar borste. Harrismith versmag hierdie tyd van die middag in ’n drukkende 34 ºC.
Meisie draai lusteloos om toe die tuinhekkie met ’n skril geluid toeswaai. Dan slaap sy verder. Eers teen skemer sal sy die kollega van die speurder wat vrugteloos die voordeurklokkie met sy pap battery gelui het, inlaat. Nou slaap sy.
Meisie se droom is ontstellend. Sy is naby aan trane, want Middernag is weg – die rondloperkat wat sy só gedoop het. Vandat sy die eerste keer die klein, skugter diertjie agter ’n hoop blare in die agtererf sien wegkruip het, gee sy vir hom kos. Ten minste, wanneer sy haarself so ver kan kry om verder as haar slaapkamer te beweeg.
Middernag het voor haar oë grootgeword. En saam met die ander katte wat mettertyd by hom aangesluit het, is hy haar rede om te lewe. Hy keer telkens terug: die kat wat so donker soos haar gemoed is. ’n Wrang refleksie van die stand van haar bestaan.
Sy rol in die laken totdat dit om haar kuite verstrengel raak. In haar slaap klem haar vuiste saam. Sy is nog kwaad vir hom. Vir Anton. Hoe kón hy doodgaan en haar so op haar eie los?
En nou