Waar haar bene en arms was, is net gapende wonde waaruit vet en spierweefsel peul. By die hegpunte van spier en sening steek geelkleurige, blink beendere uit. Met verskeie snymerke soos iets daardeur gekloof het, dalk selfs gekap het.
Geen bloed poel om die wonde nie; haar bloed is al jellie. Sy is dus lankal dood. En sy het op ’n ander plek gesterf.
Haar vel is nie blou of die gebruiklike donkerpers en swart nie. Sy ontbind, dit is duidelik, maar sy lyk nie reg nie. Selfs met haar ledemate weg, is daar geen livor mortis te sien op die kant van haar wang of maag wat teen die bodem van die koelhouer druk nie. Niks van haar vel is sigbaar nie. Behalwe vir die twee wit strepe oor haar wange is sy ’n onnatuurlike, homogene swart kleur wat net hier en daar afskilfer. Haar hare lê taai na agter asof iemand dit vir oulaas tot agter haar ore gekam het.
“Iemand het haar geverf,” sê hy versigtig.
“Ja, dit lyk so,” antwoord Palesa. “Ons sal met sekerheid kan sê ná die toetse gedoen is.”
“Het jy al so iets teëgekom?” Hy wys na die wit strepe op die kind se gesig wat dit laat lyk asof sy vir haar moordenaar wou glimlag. Of dat sy op een of ander makabere manier haar dood geniet het.
Palesa sug. “Nee. Jy?”
“Ek is nie s-s-seker nie. Iets omtrent hierdie toneel is bekend aan my.”
“Sollie, soms begin ons goed sien net omdat ons al te veel goed gesien het.”
Hy skud sy kop. “Iets is bekend, ek sê jou nou, ngaka.”
“Ek gaan ’n gazebo of ’n donker tent benodig.” Sy wys na die koelhouer. “Ek gaan die hele ding en die onmiddellike oppervlakte om die fiets met Luminal spuit.”
Hy hoes en probeer die ontsettende hartseer wat skielik oor hom spoel, wegdink. “Ja, hier is heeltemal te min bloed op die toneel.”
Palesa knik vir ’n tegnikus, wat op sy beurt na die paneelwa draai.
“Ek gaan meeste van die dag hier wees. Waar bly ons vanaand?” vra sy.
“Die kaptein sal reël.”
En toe sy niks verder sê nie: “Ek gaan solank by die huise aanklop.”
Terwyl hy in die voorkamer van die derde geskokte inwoner van Wardenstraat sit om verklarings en alibi’s neer te pen, tref dit Sollie.
Die kind in die koelhouer se swartgeverfde gesig met die twee dik wit hale wat van haar mondhoeke af opwaarts krul – dit ís bekend. Hy sien weer in sy gedagtes die klomp joelende kinders wat met geverfde gesigte verby hom en Nyandi in die Mimosa Mall se Spur snol. Belaglike, breë glimlagte wat deur die restaurant se kinderoppasser in rooi en swart en wit verf oor hul gesigte aangebring is terwyl die ouers eet en kuier. Klein narre.
Die kind in die koelhouer lag nie, ten spyte van die wit hale oor haar wange.
En hy onthou nou ook waar hy voorheen ’n kind met vrees in haar oë maar ’n glimlag op haar gesig gesien het. Ongeveer tien, elf jaar terug toe hy ’n jong konstabel was, op footbeat in Bloemfontein. Hulle is ingeroep as versterkings na ’n toneel in Happy Valley naby die middestad. ’n Park met bloekombome en grasperke digby die Oranje Meisieskool, munisipale werkers wat traag rommel optel terwyl hulle heeltyd loer hoe hy en sy kollegas die geel lint span. Sy kraakvars en blinkgestrykte blou uniform wat (toe nog) losserig aan hom gesit het. Sy doel op die toneel was niks meer as om die publiek weg te hou en toe te kyk hoe die ratte van Parkweg Speurdiens begin draai nie.
Natuurlik was hy nuuskierig. Met die eerste geleentheid het hy gaan kyk waarmee die speurders besig was. Wat hy gesien het, het vir lank daarna by hom gespook: ’n kleuter tussen sweterige bloekomblare, droë grashalms en grond, versteek agter ’n rots. Naak. Dood. En om haar mond twee wit lyne, sodat dit lyk asof sy van agter haar doodsmasker vir die forensiese ondersoeker grynslag.
Aanvanklik het hulle die moordenaar Smiley gedoop. Want daar was ’n maand later nóg ’n lyk. Weer ’n swart kind. Weer ’n wit glimlag oor haar wange geteken.
’n Jaar later word ’n derde slagoffer een ysige wintersoggend op die universiteit se verlate joolgronde gevind, en skaars ’n maand daarna, nog een op die sportgronde. En die moordenaar word na die Universitas Slagter herdoop. Want die meisies se liggame was net té verniel.
Vir byna twee jaar het die Slagter Parkweg getreiter. Die hele Vrystaat was in ’n greep van histerie vasgevang. Die land ook. Nie ’n dag het verbygegaan wat die Slagter nie in ’n koerant of op televisie genoem is nie.
En toe die speurspan al die parke rondom Happy Valley deurlopend begin dophou, verander die modus operandi. Nou word die slagoffers elders gevind. Steeds in parke, maar ver van Universitas af. Almal steeds laggend. ’n Tergende raaisel vir Maartin Brummels se span wat nie betyds die leidrade kon verbind om nommer 4 tot 7 se dood te verhoed nie.
En toe hou dit op.
Eers gaan ’n maand verby sonder dat ’n lyk gevind is. Toe ses maande. Toe ’n jaar. En toe jare. Die Universitas Slagter verdwyn in die vloedgolf geweld en misdaad en onopgeloste dossiere wat Parkweg voortdurend teister.
Hoofstuk 6
Desember 2008
Ek is kieskeurig.
Ek hou hulle eers dop. Vir lank. Ek moet seker maak dat hulle waardig is. Nie almal kan ’n pop word nie. Waar hulle vandaan kom, is nie van belang nie. Ja, ek gee toe dat ek soms jaloers word as ek hulle huise dophou, want ek het nie in ’n huis grootgeword nie. My kinderjare was in ’n buitekamer. Op ’n baie klein dorpie. Eers later het ek besef dat ons nie ’n huis gehad het nie, maar dat ons gewoon het waar my pa gewerk het. Tussen hope steenkool en antrasiet en vuurmaakhout wat die dorpenaars by hom kom koop het.
Die straat voor die ry kamers wat voorheen moontlik ’n stal was, was niks meer as klippe en stof nie. Rondom ’n pap heining van bloudraad waarvan die diamantvorms gegaap het, sodat rotte en rondloperhonde daardeur kon kruip en ons kos kom vreet. Veral die rotte was alewig ’n probleem. Ek het hulle gevang waar hulle teen die draad opklim en hulle pootjies een vir een afgeruk terwyl my pa die heining stop.
Ek onthou hom op sy hurke met ’n draadtang in sy hand. Sy kortbroek wat oor sy bobene opkruip. Die swart, klewerige hare in die kloof van sy boude duidelik sigbaar. Tot ver bo sy stuitjie rank dit. Hy het nooit ’n onderbroek gedra nie en as hy fronsend regop kom om sy vuil hande aan sy broek af te vee, kon ek die kop van sy penis teen die geskifte swart materiaal sien beur.
“Gaan bêre,” sê hy en hou die tang en rol draad na my toe uit.
Ek hang dit sorgvuldig teen die muur van die donker vertrek langs ons kamer wat ook as stoor en kantoor dien. Dit ruik altyd na olie en sweet.
Vanuit die skemer vertrek hou ek my pa se kort, verbete figuur dop. Die hare op sy kop krul in alle rigtings. Weerbarstig probeer dit die rooigebrande bles toerank. Op sy voorarms glinster dieselfde swart hare as wat oor sy maag en rondom sy geslag groei.
Hy tel die reste van die rot op wat ek beetgehad het en smyt dit in die asblik. Gaan aan met sy werk sonder om eers sy hande te was.
In die aande kyk ek as hy die sementwasbak langs die kamers vol water tap. Met sy een been op die rand van die bak hang sy penis. Die swart klos en die slierte hare teen sy bobeen af verdwyn tussen die Sunlight se groengrys skuim. Hy moet strek om orals by te kom. Die swart steenkoolroet het met sy sweet gemeng en bedek sy ligte vel soos ’n laag verf.
Ek verbeel my altyd dat sy geslag langer word soos die seepbelle vermeerder. En dikker, meer prominent. Asof dit uit eie wil reageer as my pa sy hande terloops daaroor vee.
Teen die tyd wat hy skoon en droog die sinkdeur agter hom toetrek, ruik die lug in ons kamer na seep. En wanneer hy die vlam uitblaas, na kerswas. Lank lê ek in die donker en staar oor die lae muurtjie wat ons skei.
Ek slaap nie totdat sý kom nie – die vrou wat my pa vir die res van die dorp wegsteek. Eers laat in die aand hoor