Middernag. Sidney Gilroy. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Sidney Gilroy
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798180559
Скачать книгу
’n kraan uit?”

      Hy dink vinnig. “Nee. Ek koop gebottelde water.”

      “O, oukei. Ja, maar dit het ook ’n effek op jou vel,” gaan sy voort. “Genoegsame water spoel toksiese stowwe uit jou gestel uit via die limfklierstelsel.”

      Hy onderdruk ’n glimlag. “Ek verstaan, Nyandi. Ek sal baie water drink, ek belowe.”

      “Dit help ook met gewigsverlies, nè?”

      Hy loer gou af om te kyk of hy die pedale van die Corolla verby sy boepie kan sien. Hy kan. Dit gee hom moed.

      “Is dit een van die dinge wat jy gaan doen as Naledi gebore is?”

      “Wat?”

      “Baie water drink.”

      “Hoekom?” Hy kan hoor hoe haar stem styg.

      “Ek meen maar net, jy’t ’n hele paar kilogram opgetel met Entle en toe weer …”

      Hy kry nie kans om sy sin te voltooi nie.

      “Sê jy ek is vet, Sollie Mthembu?”

      Hy dink vlugtig aan haar boude soos gerysde brode en haar borste wat volrond verby die kante van haar bra druk. Sy was nog nooit vir hom so mooi nie.

      “Glad nie, mosali oa kae motle. Ek meen maar net, as ek dan nou op ’n dieet moet gaan soos jy skimp, kan ons dit mos saam aanpak sodra Naledi hier is. Dan ondersteun ons mekaar?”

      Hy weet dat Nyandi nou met haar kop skuins gedraai dink hoe om die wending van die gesprek te bepaal. Hy wil-wil lag. Eerder baklei oor vet as ’n vet rekening vir ’n waterfiltreerstelsel.

      “Ons sal sien.”

      Sy lui af voor hy nog soentjies vir Entle kan stuur.

      Wilgepark lyk soos ’n tipiese wit woonbuurt wat in die vroeë 1980’s uitgelê is. Die strate kronkel, anders as Harrismith se strate wat ’n wafelpatroon van blokke en lyne vorm. Die huise is beskeie en herinner aan buurte in Welkom of Virginia.

      Daar hang ’n slegte reuk in die lug toe Sollie uitklim. Dit ruik soos ’n abattoir of leerlooiery, maar hy sien nie ’n nywerheidsgebou verby die huise se dakke nie, net ’n sandsteenkop in die verte en die N3 wat in ’n grys streep agter Platberg verdwyn.

      Hy staan met sy arms bak sodat die flouerige wind oor die natgeswete materiaal onder sy oksels kan waai. Dit koel hom effe af. Die Woltemades se tuin weerspieël die dorre landskap wat tot in die verte strek: bleek en moedeloos. Oggendpos se lokplakkate op die lamppale dra almal dieselfde boodskap. Die droogte is nou al só erg dat honderde mense bankrotskap in die gesig staar. En Anneri Woltemade is vermis.

      Sollie bekyk die woning voor hom. ’n Eenvoudige konstruksie. As hy moet skat: sitkamer, eetkamer, kombuis en drie slaapkamers. Onder die afdak langs die huis staan ’n ou Honda Ballade.

      Hy herroep die foto’s van die binnekant van die huis in Anneri se dossier. Daar is niks buitengewoon aan die beelde nie. Die mure is behang met gesinsfoto’s, die meubels is nie uitspattig nie, die kamers deurmekaar en vol speelgoed, ’n ry bababottels en spoeglappe op die spieëlkas in die hoofslaapkamer langs die bababedjie. In die kombuis staan wegneemkoshouers, leë koeldrankbottels en vuil koffiebekers. Die agterdeur waardeur Anneri vermoedelik verdwyn het, was reeds deur die Woltemades toegemaak voordat hulle hulle met klein David polisiestasie toe gehaas het om hul dogter as vermis aan te gee.

      Hy blaai deur die dossier, tot waar die SAPS 91-vorms moet wees. Geen vingerafdrukke nie. Hulle wag nog op die chemiese analise van Anneri se beddegoed en die klere wat sy die dag van haar verdwyning gedra het. Niks is daarop gevind nie, aldus Ivor. Die ondersoekdagboek wys dat hy die Woltemades ná die aanmelding tot hier by hul huis gevolg het. ’n Forensiese tegnikus van Bethlehem het ure later opgedaag.

      Sollie lees vlugtig deur die verklarings in Deel A. Gegewe die buurt en die eenvoudige woning voor hom, is daar geen ooglopende rede waarom iemand Anneri sou wou ontvoer nie. Hierdie is nie ryk mense nie, en hulle kom ook nie uit ryk families wat vir ’n losprys afgepers kan word nie. Op die oog af is Mariëtte en Davey gelukkig getroud, met hul jongste wat maar ’n paar maande oud is. Nêrens skuil ’n drang tot vergelding of ’n verhouding wat só erg versuur het dat ’n kind in die kruisvuur beland het nie.

      Hy maak die dossier toe, stap na die voordeur en klop aan. Voel dadelik empatie met die vrou wat oopmaak. Mariëtte Woltemade se oë lyk glaserig. Dalk het sy iets vir die skok gedrink.

      Sy beduie hom na die sitkamer nadat hy homself voorgestel het.

      Davey sit met sy arms op die leunings van ’n gemakstoel. Hy het dieselfde kleur hare en oë as die dogtertjie op die foto in die dossier. Sy bene wip aanhoudend op en af, asof hy eintlik iewers anders wil wees. Frustrasie knoop sy wenkbroue terwyl Sollie sy verklaring uit die dossier voorlees.

      Mariëtte beaam elke woord van haar verklaring amper manies. As Sollie stop om notas te maak, kyk sy hom angstig aan. Asof hy skielik op ’n leidraad afgekom het of ’n gevolgtrekking gemaak het wat sy en Davey en Ivor en Harrismith SAPD tot dusver oorgesien het.

      Sollie kyk op van sy notaboek. “Hoe lank is Anneri al by Die Besige Bytjie Kleuterskool?”

      “Sedert sy agt maande oud was,” antwoord Davey.

      “My werk is in Bethlehem,” sê Mariëtte, “en Davey is heeldag op die pad. Die kleintjie … David is van laas week af ook in Besige Bytjie.”

      “Hoe oud is julle baba nou?”

      “Agt weke.”

      “So jy het onlangs na jou werk by die casino teruggekeer?”

      “Ja.”

      “Wie laai die kinders by die skool af?”

      “Ons maak beurte. Soms as my ouers hier is, sal hulle dit doen.”

      “Was jou ouers dan onlangs hier?”

      Mariëtte knik. “David is te vroeg gebore, ek was die eerste maand in die Busamed-hospitaal met hom. My ouers het vir Davey met Anneri kom help.”

      “Ek sien. Het iemand anders in daardie tyd toegang tot Anneri gehad? U sê dit was net die huiswerker en die onderwysers by die kleuterskool?”

      Davey sug oorwonne. “Ons weet in watter tye ons lewe, sersant, en hoe hoog die misdaadsyfer is. Ek kan jou verseker ons het Anneri soos goud opgepas.”

      “Was daar laas week enige iets wat afgewyk het van die normale gang van sake by die kleuterskool? Besoekers, ’n insident, iets vreemds wat gebeur het? Iemand wat Anneri dalk van gepraat of uitgesonder het?”

      Nee, skud Mariëtte haar kop. “Dit was maar ’n doodgewone week.”

      “Anneri babbel baie.” Davey glimlag wrang. “Ek onthou dat sy baie na Donderdag uitgesien het.”

      “Waarom spesifiek Donderdag?”

      “Daar was ’n poppekasvertoning. Dit gebeur een keer ’n maand. Anneri vrek oor die karakters.”

      “O ja, Pokkels,” sê Mariëtte. “Dieselfde poppe as wat op televisie is. ’n Bruin een, ’n wit een en ’n swart een.”

      Sollie dink vlugtig aan die swartgeverfde kind in die koelhouer.

      “Bied die skool self die vertoning aan?”

      “Ek is nie seker nie,” antwoord Davey. “Ons weet maar net van die poppekas omdat Anneri nie uitgepraat kan raak daaroor nie.”

      Sollie vou die dossier toe. “Kan ek haar kamer sien?”

      Mariëtte kyk na Davey, wat uitdrukkingloos opstaan en na die gang beduie.

      Anneri se bed is onopgemaak. Op die kanttafeltjie lê twee Barbie-poppe langs ’n halwe glas koeldrank, ’n lappop daarnaas. Die bedlampie brand steeds.

      “Het julle dit aangeskakel?” vra Sollie.

      Davey