Bruistablette vir die lewe. Susan Coetzer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Susan Coetzer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796320506
Скачать книгу
deel sodat jy hulle – en jouself – kan verryk? Daar is soveel gratis D-bruistablette. Maak dit ’n nuwe uitdaging in jou lewe.

      Bruisgebed vir mededeelsaamheid: Vader, U is so mededeelsaam. U seën my met soveel voorregte. Baie dankie. Help my om ander te seën met dieselfde mededeelsame hart. Tot eer van u Naam.

      Vitamien G

      Gee

      “Want toe Ek honger was, het julle vir My kos gegee; toe Ek dors was, het julle vir My iets gegee om te drink; toe Ek ’n hawelose vreemdeling was, het julle My in julle huise ontvang.”

      – Matteus 25:35

      Die Woord vra dat ons sal gee, veral aan dié wat honger en dors en onveilig is.

      Om te gee het ’n ander betekenis as om te deel of te leen.

      Wanneer jy ’n sjokolade deel, trek jy ook voordeel daaruit. Jy self kry ’n paar lekker blokkies tjoklit uit die deal. Wanneer jy ’n boek vir iemand leen, kry jy dit (hopelik) terug.

      Wanneer jy egter iets weggee – van ’n glas water tot ’n motor – neem jy afskeid daarvan. Jy deel nie meer daarin nie. Dit behoort nie meer aan jou nie. En jy kry geen vergoeding daarvoor nie.

      Mense gee nie graag nie. Met soveel korrupsie en uitbuiting rondom ons en met die swak ekonomie is mense langtand om hulle hande en harte vir ander oop te maak. Ek self is al ’n paar keer lelik ingedoen nadat ek rojaal gegee het aan mense met sad stories.

      Tog is ek nie spyt ek het vir hulle gegee nie. Ons Vader kyk immers na die hart en die gesindheid van die gewer. Hy sal op sy tyd dié wat met opregte harte en blymoedig gegee het met ewigheidskatte beloon. Hy het sy lewe gegee sodat ons kan leef.

      Wat het jy om weg te gee sodat ander (gemakliker) kan leef? ’n Glas water, ’n bordjie kos of ’n helpende hand is uiteindelik ’n dankoffer aan die Here. Want wat jy vir ’n ander mens gee, gee jy vir Hom.

      Bruisgebed vir vrygewigheid: Vader, ek bid dat U my snoep hart sal verander in ’n hart wat vrygewig is. Gee dat ek vir ander mense sal gee met ’n oop hand en hart en altyd sal onthou dat ek alles vir U as dankoffer gee.

      Vitamien T

      Talente

      “Aan hulle wat dit wat aan hulle toevertrou is goed gebruik, sal nog meer gegee word. Ja, hulle sal oorvloed hê. Maar van hulle wat niks kan wys nie, sal selfs die bietjie wat hulle het, ook weggeneem word.”

      – Matteus 25:29

      Min mense kan glo dat ek op skool en universiteit baie skaam was. Ek was ’n meisie wat gestotter en gebloos het en dit eerder nie gewaag het om haar mening voor ander te lug nie.

      Hoekom? Vrees vir mislukking. Ek het geglo my talente en idees is minderwaardig. Ek was geïntimideer deur ander mense se sukses en selfvertroue. Ek was bang om ’n fool van myself te maak.

      Vandag is ek ’n veelsydige en proaktiewe mens wat dit geniet om my gawes al meer te ontwikkel. Gary Player het gesê: “The more I practise, the luckier I get.” Ek sê graag: “Hoe meer ek my talente van Bo ontwikkel, hoe meer sal ek ontvang.”

      Wanneer ek vir my seun iets koop en hy gebruik dit, gee ek graag vir hom nog meer geskenke. Wanneer hy dit in ’n donker hoekie laat lê en roes, demp dit my geesdrif om verdere beleggings te maak. Ek glo ons hemelse Vader werk ook so. Wanneer Hy sien sy kinders maak sy heilige geskenkpakkie vol talente oop en woeker en speel daarmee, seën Hy ons graag met nog meer.

      Lê jou vrese en verskonings neer. Benut elke talent van Bo en ontwikkel dit tot eer van die Here en tot verryking van ander mense. Jou sang, skryfkuns, kookvernuf of naaldwerk kan wonderlike bruistablette vir ander mense wees. Maak sommer vandag nog ’n lys van al die potensiaal in jou talentbottel wat jy kan ontgin.

      Bruisgebed vir talente: Vader, help my om elke gawe en talent wat U aan my toevertrou het te ontwikkel – tot eer van ander en u Naam.

      Vitamien G

      Geloof

      Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Daarmee kan julle al die brandpyle blus wat die Bose afskiet.

      – Efesiërs 6:16

      Geloof is nie ’n plek nie; dit is ’n pad wat jy stap. ’n Pad waarop jy baie getoets sal word. Die vyand sal pyle op jou afskiet, pyle wat jou geloof wil vernietig.

      Ek dink dis baie maklik om te glo wanneer jy jou in ’n seisoen van lente of somer bevind. Jy is bewus van die Here se seën en guns in jou lewe. Jy vlieg hoog!

      Totdat die vyand sy brandpyle op jou afvuur.

      Baie mense verloor in hierdie bootcamp-seisoene hoop en begin twyfel aan God se goedheid omdat hulle so swaarkry. Hulle bevraagteken sy liefde en twyfel soms selfs aan sy bestaan.

      Dit is egter juis in hierdie seisoene van finansiële krisisse, siekte, verlies en veral ontnugtering dat ons ons skild van geloof moet optel om staande te bly. Die brandpyle van kilheid, leuens, verwerping en korrupsie het my ook al getref. In so ’n mate dat ek net in my dop wou kruip en alleen wou wees om alles te deurdink. Totdat die stof in my gees gaan lê.

      In hierdie geestelike winterseisoene was daar net ek, die worshond en die Here. Ek het swak gevoel. Ek het my verdwasing, my vertwyfeling, my ontnugtering woordeloos voor Hom neergelê.

      En dan sy stem in die stilte gehoor: Wees stil en weet Ek is die Here. Moenie jou geloof in mense verwar met jou geloof in God nie. Tel jou skild van geloof in My op. Ek is goed en Ek is getrou. Ek is die ware bruistablet.

      Bruisgebed vir geloof: Vader, ek bid dat U my geloof sal versterk wanneer dit dreig om weg te kwyn. Help my om elke dag my skild van geloof in u goedheid op te tel en só staande te bly – ook in die winter. Tot eer van u Naam.

      Vitamien G

      Gawes

      Daar is ’n hele verskeidenheid geestelike gawes, en tog kom hulle van dieselfde Gees.

      – 1 Korintiërs 12:4

      Is jy bewus van jou geestelike gawes? Of dink jy net party mense, die witbroodjies van die Here, ontvang gawes?

      Ek was lank volkome onbewus van die geestelike gawes wat ek ontvang het. Ek was net bewus van my natuurlike talente soos toneelspeel, kuns, skryf, kook en sakebestuur.

      Namate my verhouding met die Here al meer real en intiem geraak het – en veral nadat ek in 2009 gedoop is – het Hy my geestelike gawes geleidelik aan my begin openbaar. Ek is landwyd uitgestuur as bemoediger, trooster en spreker. Dinge wat ek nooit gedink het ek sou kon doen nie.

      Lees die gedeelte oor gawes in 1 Korintiërs 12 met toewyding. Vra die Here om jou geestelike gawes aan jou te openbaar en begin dit in gehoorsaamheid uitleef. Ons is almal verskillend en uniek. Moenie ander se geestelike gawes begeer of probeer nadoen nie. Luister fyn na sy opdrag vir jou.

      Dalk is jy ’n goeie luisteraar eerder as ’n prater. Dalk is jy ’n wyse berader vir die gebrokenes van hart. Dalk is jy ’n hulpvaardige en ondersteunende medewerker wat ander mense prakties kan bedien deur kos te maak, tee of koffie te bedien of skottelgoed te was. Miskien kan jy goed organiseer of funksies reël. Miskien het jy ’n gees van onderskeiding ontvang of die gawe van professie. Dalk kan jy in geestelike tale praat of vreemde tale uitlê.

      Om jou geestelike gawes te ontdek is werklik soos om ’n houer met wonderwerkende bruistablette oop te maak. Dit laat jou binneste bruis, maar versterk ook die mense wat jy met jou gawes bedien.

      Bruisgebed vir gawes: Hemelse Vader, ek vra dat U my geestelike gawes vir my sal uitwys en my sal leer hoe om dit uit te leef sodat ek ander mense se lewe kan verryk. Tot eer van u Naam.

      Vitamien B

      Bedienings

      En daar is ’n hele verskeidenheid bedienings, maar ons dien dieselfde Here.