Bruistablette vir die lewe. Susan Coetzer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Susan Coetzer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796320506
Скачать книгу
gedagtes inspireer my. Dit is bruistablette vir my gees. Dink gerus mooi hieroor.

      Bruisgebed vir inspirasie: Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, help my om die gif-pellets in my gedagtewêreld bewustelik om te ruil vir u lieflike edelstene. Tot eer van u Naam.

      Vitamien N

      Naam

      Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

      – Jesaja 43:1

      Hoe voel jy oor jou naam?

      Ek was jare lank glad nie in my noppies met my naam nie. Susan. Dit is vir my net ’n bietjie te doodgewoon en te algemeen. Daar is derduisende ander mense met hierdie naam.

      Intussen het ek egter ontdek die naam Susan beteken wit lelie van die veld – en daarvan hou ek baie.

      Ek het in die Kaap grootgeword en die wit veldlelies (varkore) is steeds van my heel gunsteling-veldblomme. Hierdie sierlike blomme versier die veld jaar ná jaar met hulle beskeie skoonheid. Hulle stres ook nie met hangkoppies nie, nee, die lelies vertrou op die Here vir sy voorsiening.

      Die Here het jou en my op ons naam geroep. Ons is nie sommer net nommers vir Hom nie. Hy ken ons elkeen persoonlik by ons naam.

      Soms hoor ek dit in my gees: Susan Coetzer, wit lelie van die veld, jy is MYNE. Wanneer ek dit uit sy mond ervaar, is my naam vir my werklik lieflike musiek in my ore. Allesbehalwe doodgewoon!

      Hoe voel jy oor jou naam? Ken jy die betekenis van jou naam? Is jy tevrede daarmee? Of sou jy graag, soos ek toe ek jonger was, ’n fancier of grander naam wou hê?

      Fluister jou naam ’n paar keer vir jouself. Gaan sit stil en hoor in jou gees hoe die Here jou as sy kind op jou naam naderroep. Geniet die voorreg om Hom as jou Vader te hê. Maak seker jou naam, wat aan Syne verbind is, laat ’n warm gevoel van sy omgeeliefde in mense se harte agter wanneer hulle oor jou dink of praat.

      Bruisgebed vir ’n goeie naam: Here Jesus, ek leef met ’n diep bewustheid dat U my op my naam geroep het, dat U my naam ken. Ek behoort aan U. Help my om só te leef dat my naam en mense se gedagtes aan my en my naam altyd tot eer van u Naam sal wees.

      Vitamien H

      Herder

      Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.

      – Psalm 23:1

      Die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie. As kind moes ek Psalm 23 uit my kop leer ken en hardop opsê – dikwels sonder enige begrip van die betekenis van die woorde.

      Hierdie bekende en vertroostende psalm beteken nie dat ons as Christene geen uitdagings en swaarkry in hierdie lewe sal ervaar nie. Dit beteken eerder dat die goeie Herder altyd by ons sal wees met sy nabyheid en sy getroue ondersteuning – ook wanneer ons omring word deur wolwe wat dreig om ons te verskeur. Hy is by ons as ons goeie Herder, wanneer ons op ’n verdwaalpad gelei word en wanneer ons deur slegte skaapwagters onderdruk word.

      Saam met geloof kom altyd verantwoordelikheid – ook om ’n goeie herder te probeer wees vir ander op ons pad deur die lewe. Ons elkeen is in die een of ander stadium verantwoordelik vir ’n sekere kuddetjie wat in ons sorg geplaas word. Dalk het jy kinders in jou sorg. Dalk het jy personeel wat vir jou werk. Miskien het jy ’n tuinier of ’n huishulp. Of miskien ’n bejaarde ma of pa. Dalk ken jy vriende wat finansieel swaarkry.

      Watter soort herder is jy vir jou kudde? Volg jy die voorbeeld van die goeie Herder wat met toewyding omsien na die belange van elke skapie – van die jong lammers tot by die dragtige ooie, die bakleierige ramme, die beseerdes en die koppige swartskape? Of is jy ’n narsissistiese en selfsugtige herder wat net op haar eie welstand fokus? Of miskien ’n onbelangstellende en afwesige herder?

      Die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie. Laat die Here jou lei om, soos Hy, ’n goeie herder te wees in jou invloedsfeer.

      Bruisgebed vir herders: Vader, dankie vir u voorbeeld as my goeie Herder. Help my om u voorbeeld van toewyding en omgeeliefde prakties uit te leef teenoor die kuddetjie wat in my sorg geplaas is. Tot eer van u Naam.

      Vitamien W

      Weivelde

      Hy laat my neerlê in groen weivelde …

      – Psalm 23:2

      Hy laat my neerlê in groen weivelde … Klink dit nie heerlik in ons stresvolle en gejaagde treadmill-lewe nie? Iemand wat tyd opsy sit en jou moeë lyf en gees saggies neerlê in groen weivelde … Iemand wat jou as ’n geliefde raaksien, jou vertroetel en jou met ’n sensitiewe ingesteldheid hanteer …

      Wanneer ek deur die land reis, slaap ek by verskillende gastehuise oor. Wanneer ek ná die langpad daar aankom, is ek gewoonlik stokflou en doodhonger. Ek het al heelwat mense ontmoet wat my dan in die spreekwoordelike groen weivelde neergelê het. Dit was onmiddellik ’n bruistablet vir my moeë lyf en gees.

      Dan was daar ook die kere toe ek in trane wou uitbars oor die growwe manier waarop ek hanteer is. Die mense kon my netsowel op ’n bed spykers neergegooi het.

      Jesus het die mense raakgesien en vertroetel. Soos die vrou wat sy voete met duur lekkerruikolie voor sy kruisdood gesalf het – as ’n lappie groen weiveld vir Hom.

      Wanneer mense by my kom oorslaap by my huis op die oewer, probeer ek hulle in groen weivelde neerlê. Daar is kos wanneer hulle by my aankom en ’n verkwikkende drankie. Daar is blomme in hulle kamer, ’n tjoklit op die bed en ’n ekstra kombers.

      Meer nog, ek probeer om my gaste met ’n sagte innemendheid te behandel. Soos ons goeie Herder, wil ek vir hulle groen weiding aanbied om hulle innerlike te voed en te verkwik.

      Bruisgebed vir gasvry wees: Vader, help my om die mense op my pad saggies neer te lê in die groen weivelde van liefde, deernis en gasvryheid, net soos U, ons goeie Herder, dit vir ons doen. Tot eer van u Naam.

      Vitamien R

      Rus

      Na waters waar rus is, lei Hy my heen …

      – Psalm 23:2

      Ek het jare lank geskop teen rus. Dalk omdat ons as kinders gedwing is om op ’n Sondagmiddag ná ete te gaan rus. Dit was soos ’n strafkamp – ek wou veel eerder buite gaan speel saam met die ander kinders.

      Om te rus was vir my ’n totale vermorsing van tyd. Dit was vir my dooie tyd – wanneer niks gebeur nie. Ek het gevoel ek mis big time uit op al die pret en plesier van die lewe.

      As volwassene was ek dus steeds langtand om te rus en te slaap. Ek is ’n hoëenergiedoener, nie ’n natuurlike sitter of laatslaper nie. Mettertyd het ek egter geleer dat rus een van die heel belangrikste bruistablette is om jou liggaam en gees te herlaai.

      Hierdie rus beteken nie om ’n week of twee met vakansie te gaan en net te slaap nie. Dit beteken die Here wil jou besige innerlike mens elke dag na rustigheid lei en met ’n kalm uitsig tot bedaring bring.

      Sonder hierdie daaglikse dieper rus by Hom brand ons so maklik uit. Sonder hierdie goddelike rus stomp ons af, raak ons lont kort, neem ons verkeerde besluite, maak ons meer foute en raak ons geestelik arm.

      Rus is deesdae vir my die hoogtepunt ná ’n dag se harde werk voor die rekenaar. Ek skakel alle gedagtes aan môre doelbewus af en rus in die Here se stilte buite op my stoep in die aandlug. Ek haal net rustig asem by Hom.

      Die Here wil sy besige kinders elke dag bring na kalm waters waar daar diep sielsrus is. Hou op protesteer. En neem jou vitamien R.

      Bruisgebed vir rustelose mense: Vader, ek nader tot U en vra dat U my hart en gedagtes elke dag na ’n rustige innerlike landskap sal lei sodat ek U en ander beter kan dien. Tot eer van u Naam.

      Vitamien V

      Verkwik

      Hy verkwik my siel.

      –