Bruistablette vir die lewe. Susan Coetzer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Susan Coetzer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796320506
Скачать книгу
Elke vrou is anders gevorm en versprei ’n ander geur, maar elkeen wat blom, dra iets mooi en kleurvol by tot God se koninkryk op aarde.

      Bruisgebed vir vroue: Here, help my om ’n lieflike en kleurvolle blom met ’n soet geur in u tuin te wees, eerder as ’n suurknol of ’n gifappel. Tot eer van u Naam.

      Vitamien T

      Tjoklits

      Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is, Ek maak die moedeloses weer vol moed.

      – Jeremia 31:25

      Die meeste mense hou van tjoklit. Party eet dit as ’n snack om hulle ’n lift te gee. Ander eet dit as ’n bederfie aan die einde van ’n dag se harde werk. Of op Sondae na daai middagslapie wanneer ’n mens die Sondag-blues kry.

      Een van die romans wat ek geskryf het se titel is Tjoklits vir die siel. Juis vir die siel omdat ons innerlike mens ook soetigheid nodig het. Hierdie roman gaan oor die krag wat daar in die Here se vriendskap is. En oor die krag wat daar in ware “tjoklit vir die siel”-mense is.

      Ons almal het soms deernisvolle ondersteuning nodig. Ek ook. Ek woon alleen, werk alleen, eet alleen, slaap alleen, reis alleen. Soms tref die behoefte na opregte samesyn my soos beker koue water in my gesig. Dan klop ek by die Vader aan om my innerlike mens te versterk. Sy opregte en onvoorwaardelike vriendskap is soos tjoklits vir my siel. Dit gee my die krag en moed vir die uitdagings op my pad.

      Net soos my paar getroue “tjoklikts vir die siel”-vriendinne. Hierdie vriendskappe is nie oppervlakkige mooiweersvriendskappe nie, maar word met getrouheid onderhou en gekoester. Ons deel in mekaar se seisoene van swaarkry, kragteloosheid en moedeloosheid. Ons check gereeld in op mekaar se welstand. Ons is konsekwent betrokke in mekaar se lewe – by die lag én die lyding.

      Is jy ’n “tjoklit vir die siel”-vriendin? Of ’n fly-by-night? Onthou, wat jy ook al vir ander doen, doen jy eintlik vir Hom.

      Bruisgebed vir tjoklit-vriendskap: Vader, help my om ’n “tjoklit vir die siel”-vriendin te wees en my vriendskappe met genoegsame sorg en opregte belangstelling te vertroetel. Tot eer van u Naam.

      Vitamien D

      Deursigtigheid

      ’n Stad kry ’n goeie naam wanneer opregte mense dit prys, maar dit word afgebreek deur wat goddelose mense daarvan sê.

      – Spreuke 11:11

      Deursigtigheid is vir die Here baie belangrik. Tog is daar ’n stygende tendens by mense om ongerymdhede toe te laat, ter wille van selfbehoud en vooruitgang. Hulle verweer is dat álmal dit doen.

      Suid-Afrika is gedurig in die nuus oor korrupsie en omkopery tot op regeringsvlak. Dit laat ’n onaangename stigma aan ons land kleef. Het jy dalk onbewustelik aangesteek by hierdie onaanvaarbare manier van doen en dink?

      In my groeiende verhouding met die Here raak ek al hoe meer oortuig dat deursigtigheid ’n leefstyl eerder as ’n stel reëls en regulasies is. Dit kan nét vloei vanuit ’n diep verbintenis met die Gees van waarheid. Gereelde check-ups by die Here oor wie en wat jy regtig is, is nodig. Want deursigtigheid is soveel meer as om nie (geld) te steel of (te erg) te lieg nie.

      Sou jy sê jy is ’n oop boek – wat jy sien is wat jy kry? Is deursigtigheid ingeweef in jou hele karakter en daaglikse optrede? Is dit ingegraveer op jou gewete, in jou huwelik en jou verhouding met geld?

      ’n Deursigtige mens konkel nie agter ander se rug nie, leef nie volgens dubbele standaarde nie, aanvaar nie omkoopgeld nie, het nie verskuilde motiewe nie, dra nie skaapklere om die wolf te vermom nie en belowe nie vandag iets en vergeet môre al weer daarvan nie.

      Dubbele standaarde en ongerymdhede wat toegesmeer word, is dodelike gifpille wat ’n hele volk tot ’n val kan bring. Vra die Here om jou gees te suiwer en jou deursigtig te maak sodat jy ’n bruistablet vir ons land se genesing kan wees.

      Bruisgebed vir deursigtigheid: Here, help my om ’n oop boek te wees voor U en voor alle mense. Tot eer van u Naam.

      Vitamien V

      Vrede

      Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

      – Filippense 4:7

      Vrede is ’n nag se deurslaap, sonder dat jou man jou kort-kort wakker snork of jou baba jou uit jou soete rus opjaag. Vroeër was vrede vir my wanneer my seun, Frankie, ongeskonde by die voorhek ingery het nadat hy so pas 18 geword en sy bestuurslisensie gekry het.

      Vrede is vir baie van ons ’n ideale prentjie. Iets soos ’n vakansie op ’n sonskyneiland met ’n cocktail met ’n sambreeltjie in die een hand en Mister Right aan die ander hand. Vrede is daardie perfekte lyfie en ’n fake tan wat nie aan die lakens afsmeer nie. Of Botox wat jou tien jaar jonger laat lyk.

      Maar daar is ook ’n ander vrede. ’n Groter en blywender vrede as wat jou ideale droom jou kan bied. Dit is die bewustheid van die Almagtige se heilige teenwoordigheid in jou, die Een wat jou nooit sal verlaat nie, nie eens in die ongunstigste omstandighede of in jou barensnood in die nanagure nie.

      Hierdie vrede was nie af soos ’n fake tan nie. Dit is nie wispelturig soos ’n modegier nie. Sy vrede in jou is blywend – ook wanneer jy deur die doodskaduwees moet stap. Wanneer die geweld van ’n tsunami, die skok van siekte, die vrees van armoede of die trauma van verlies jou tref.

      Ware vrede is ’n veilige en kalm innerlike plek te midde van die storm. Hierdie vrede-bruistablet kan jy slegs kry wanneer die Here sy groot vrede in jou deponeer.

      Bruisgebed vir vrede: Vader, anker my innerlike menswees in u vrede wat groter is as my verstand, emosies en omstandighede. Tot eer van u Naam.

      Vitamien M

      Maniere

      Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om.

      – Efesiërs 4:32

      My ma is in Mei 2011 oorlede. Ek is haar ewig dankbaar dat sy soveel energie daarin belê het om goeie maniere by my en my suster vas te lê. Afgerondheid en goeie maniere is ’n kosbare belegging in enige kind.

      Ek hoor steeds baie dae my ma se stem in my kop: “Sê altyd asseblief as iemand vir jou iets aanbied. Sê altyd dankie wanneer iemand jou iets gee of ’n guns bewys. Stuur ’n dankiekaartjie. Maak ’n oproep. Neem ’n geskenkie van waardering saam na mense wat jou met gasvryheid behandel. Moenie net vat nie – leer ook om te gee.”

      Ons is geleer om vriendelik te wees – nie net teenoor ons maats nie, maar ook teenoor hulle ouers. Ek onthou steeds die sin waarmee ek die Engelse ouers moes groet voordat ek kon huis toe gaan: “Thanks for having me over.”

      Goeie maniere is ’n aanwins. Dit bou verhoudings. Dié dat ek goeie bed-side manners by my seun, Frankie, probeer indril het. Vandag is ek (en hy) dankbaar wanneer mense in die bedryf met groot lof van sy goeie maniere en kommunikasie-skills praat.

      Ons land het ’n tekort aan afgeronde, goedgemanierde en vriendelike mense om verhoudings te bou. Ons as Christene word tot groter verantwoordelikheid geroep. Is jou bed-side manners bruistablette vir jou medemens? Of laat jou gebrek aan goeie maniere ’n smaak van bitter aalwyn agter? Dan is dit dalk tyd om by die Leermeester se Finishing School aan te klop.

      Bruisgebed vir goeie maniere: Here Jesus, leer my om u goeie voorbeeld in my menseverhoudings te volg. Leer my om te gee en nie net te vat nie; leer my om ander te dien en nie net bedien te wil word nie. Tot eer van u Naam.

      Vitamien S

      Selfbeheersing

      ’n Stad sonder ’n muur om hom te beskerm, so weerloos is ’n mens as hy [of sy] nie selfbeheersing het nie.

      – Spreuke 25:28

      As meer van ons maar net selfbeheersing kon leer gebruik in emosioneel