Bruistablette vir die lewe. Susan Coetzer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Susan Coetzer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796320506
Скачать книгу

      

      Susan Coetzer

      Lux Verbi

      Vir my half-dogtertjie, Ena.

      Inleiding

      Hoekom Bruistablette vir die lewe?

      Ons leef in ’n spanningsvolle en gejaagde tyd wat ons energie – en soms selfs ons geloof – tap en laat kwyn. Ons vinnige, moderne, cut-throat, geldaangedrewe samelewing bied soveel meer uitdagings as dié van jare gelede. Baie mense, ook gelowiges, sukkel om die pas vol te hou, om by te bly, om elke dag vol energie, blymoedig en bruisend te wees. Die druk van die klein en groot jakkalse is net te veel.

      Ek glo dit is die rede hoekom daar gereeld nuwe poeiers, pille en bruisdrankies ontwikkel en in die media geadverteer word. Dit moet vir ons meer liggaamlike, emosionele en verstandelike krag gee om met al die stres in ons lewe te cope.

      Ek onthou hoe ek jare gelede altyd ’n Berocca-bruistablet afgesluk het voordat ek as aktrise op die verhoog gegaan het. Net om my ’n bietjie te boost vir die taak.

      Op my reis deur die lewe het ek egter ontdek ’n Berocca in ’n glasie water opgelos, is nie genoeg om al my uitdagings mee te trotseer nie, veral nie my uitdagings as gelowige nie. Ek het gevind ek het elke dag ’n doelgerigte en veel sterker innerlike bruistablet benodig om my gemoed te lig en my positief en staande te hou te midde van die werklikhede van elke dag.

      Dit is waar die idee vir Bruistablette vir die lewe begin het. Ek was op soek na bruistablette met vitamiene wat my nie net ’n paar uur lank woema sou gee nie, maar my elke dag sterker en standvastiger sou kon maak, juis wanneer uitdagings, teleurstellings en ontnugterings oor my pad kom.

      In hierdie praktiese en hands-on dagboek is daar vir jou ’n nuwe vitamiengevulde bruistablet vir elke dag. Lees dit wanneer jy eenkant alleen gaan sit, drink dit in, absorbeer dit en gaan leef dit uit. Dit sal jou as mens innerlik versterk.

      Met hierdie boek nooi ek jou om elke dag saam met my te reis na groter egtheid en diepte in ons lewe as kinders van die Here, om nuwe krag te kry, om beter bed-side manners en uiterlike gedrag te vestig – sodat ons meer kan bruis en minder kan brul terwyl ons die lewe met al sy uitdagings aanpak.

      Daar is ook elke dag ’n bruisgebed om te bid, om deur die dag heen oor na te dink en jou eie te maak in die praktyk vol uitdagings en uiteenlopende situasies en mense.

      Mag hierdie bruistablette jou diep aanraak en bemagtig om as Christen kragtiger en bruisender te leef en te groei in jou verhoudings, jou geloof, jou leefstyl en jou optrede na buite as Jesus se ligdraer hier op aarde.

      Mag jy lekker bruis!

      Susan Coetzer

      Vitamien W

      Woorde

      So is die tong ook maar ’n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. ’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek.

      – Jakobus 3:5

      Woorde is gratis bruistablette met groot krag. Woorde het die potensiaal om mense te inspireer en op te bou. Woorde kan hoop bring aan dié wat op die rand van die lewe beland het. Dit kan ’n trooskombersie word vir dié wat ’n ysige winter beleef. Dit kan lig bring op ’n maanlose nag.

      Woorde kan soos ’n knetterende vuurtjie warmte in iemand se troebel dag uitstraal. Dit kan ’n glimlag op ’n hartseer gesig sit. Dit kan salf wees vir ’n stukkende hart. Dit kan die eensames omhels en aan die verdwaaldes rigting gee. Dit kan die uitgeworpenes geliefd en aanvaar laat voel.

      My en jou woorde het die krag om ander te seën – om lewe in die woestyn te bring.

      Maar, ons woorde het ook die krag om te kwes, te verwond, te kritiseer, leuens te versprei, te vervloek, te beskinder en karaktermoord te pleeg. Ons woorde het die potensiaal om ’n vernietigende brand te stig en lewens in puin te lê. Ons woorde kan ander se selfbeeld afbreek, hulle menswaardigheid aftakel, hulle aan hulleself laat twyfel. Ons woorde kan mense mislei, verhoudings ondermyn en harte breek. Ons woorde het die mag om haat, spanning, donkerte, wanhoop en onmin te saai.

      Kies daarom om jou woorde eers in jou kies rond te rol en voor die Here neer te lê vir sy goedkeuring voordat jy dit oor jou lippe laat vloei.

      Bruisgebed vir babbelbekke: Here, help my om goed te dink oor die impak van my woorde voordat ek hulle sê.

      Vitamien S

      Stilte

      “Wees stil en weet Ek is God!”

      – Psalm 46:11

      Die lewe is besiger as ooit. Die trapmeul waarop ons elke dag as verantwoordelike landsburgers klim, beweeg al vinniger. Dit vra al meer van ons om by te hou – om al die spreekwoordelike balle in die lug te hou. Ons moet afsprake nakom, sperdatums haal, rekeninge betaal en met familie en vriende connect. Ons moet oorleef.

      Daar is elke dag al meer roepstemme wat om jou aandag meeding – stemme in jou brein, hart en gedagtes wat jy nie afgeskakel kry nie. Dan is daar ook nog tegnologie – Facebook, e-posse, WhatsApp-boodskappe wat soos bondels wasgoed net nooit einde kry nie.

      Mense staan in rye by apteke op soek na tonikums of bruistablette om hulle energie te boost. Mense gaan al meer dokter toe met siektes wat met uitbranding verband hou. Meer mense besoek sielkundiges, terapeute of spa’s in die hoop dat hulle hulle lewenslus sal kan herwin.

      Ek het egter ’n gratis bruistablet ontdek wat my energie aanvul vir al die uitdagings op my lewensbord: stilte. As deel van my lewensberoep reis ek die land vol en tree gereeld as spreker op. Dit tap my energie. Ek het gevind as ek nie genoeg tyd in stilte deurbring nie, ek geïrriteerd en sonder sprankel raak.

      In stilte by die Here herlaai ek my mensbattery en kry ek ware en diep rus vir my liggaam, gees, denke en emosies. Dit is ook in hierdie stilte dat die Here my snoei en onderrig, waar ek leiding en insig kry, waar ek antwoorde op my probleme ontdek, waar ek vernuwe word en waar ek my gawes en talente kan ontgin.

      Bruisgebed vir energie: Dankie, Here, dat ek in u stilte kan herlaai en my energietenk kan vol maak.

      Vitamien D

      Dankbaarheid

      Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

      – 1 Tessalonisense 5:18

      Elke nou en dan tref die blues my soos ’n onverwagte klap deur die gesig. Ek voel angstig, oorweldig, terneergedruk of moedeloos – of sommer al vier. Die beste bruistablet as teenvoeter vir hierdie onaangename gaste in my lewe is dankbaarheid. Wanneer ek dankbaarheid innooi, verdryf dit die blues – nes Jik die vlekke uit my afdroogdoeke haal.

      Ek begin fokus op alles waarvoor ek dankbaar kan wees. Ek tel letterlik my seëninge – van klein tot groot. Ek maak vir my ’n heerlike koppie sterk filterkoffie, gooi suiker en melk by en dink met al groter bewustheid aan al my voorregte.

      Ek is bevoorreg om my koffie in die sonnetjie te kan geniet. Ek is bevoorreg om soveel dinge te hê wat ek dikwels as vanselfsprekend aanvaar. Ek kyk met nuwe, dankbare oë na my tuin en verlustig my in die kleurvolle kreatiewe meesterskildery. Ek luister met nuwe ore na die CD met die klank van voëltjies en die briesie wat deur die bome waai.

      Ek maak ’n mental note van alles waarvoor ek dankie kan sê: al my sintuie wat werk, my gesondheid, my huis, my motor, my kaste vol kos en klere. Ek raak bewus van die Here se daaglikse voorsiening in my lewe op soveel ontelbare maniere. Ek dink aan my familie en hartsvriende en my worshond se liefde, ondersteuning en vriendskap. Ek dink aan die talente en genadegawes wat ek ontvang het en wat Hy seën.

      En wanneer ek weer sien, bruis my innerlike mens van dankbaarheid.

      Bruisgebed vir die blues: Here, help my om my fokus te verskuif na alles wat ek het om voor dankbaar te wees.