Bruistablette vir die lewe. Susan Coetzer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Susan Coetzer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796320506
Скачать книгу
kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors.

      – Jesaja 40:11

      Die Bybelvers hierbo is vir my, wat graag skilder en in prentjies dink, visueel geweldig treffend. In my geestesoog sien ek vir Jesus met sy sagte gesigsuitdrukking. Ek ervaar hoe Hy arms vol skape liefdevol teen sy bors vasdruk en vertroetel.

      Ons, wat sy kinders is, is die skape wat die Herder so bymekaarmaak en versorg – ook wanneer ons van Hom af wegdwaal. Elke keer kom soek Hy ons en druk ons opnuut styf teen sy hart vas.

      Jesus vra dat ons sy voorbeeld prakties hier op aarde sal uitleef. Hy vra dat ons ons arms en harte sal oopmaak en ons naaste met warmte en versorging sal hanteer. Hy vra dat ons leer om mekaar te hug, soos Hy sy skape hug – met liefde en omgee. Dit is nogal ’n tall order om só te leef – veral as jy, soos ek, nie ’n gebore hugger is nie.

      Die goeie Herder kan egter sy stram skape radikaal verander in sagte lammetjies, mits ons bereid is om na sy stem te luister. Hy het immers hierdie stram skaap se sementarms (en sementhart) in beweging gebring om ander mense te omhels.

      Vandag is ek ’n meelewende hugger wat dit geniet om Jesus se lamb’s hugs uit te deel net waar ek gaan. En die lekkerste van ’n hug is dat dit gratis en one size fits all is. Jy kry natuurlik ook al die hugs wat jy uitdeel drievoudig terug.

      Reik uit met daai twee arms van jou! Hugs bou vredesbrûe. Hugs maak ons land gesond.

      Bruisgebed vir huiwerige huggers: Vader, maak my stram hart en sementarms oop sodat ek mense wat swaarkry met u omgeeliefde kan vertroos en help genees. Tot eer van u Naam.

      Vitamien B

      Beweging

      Laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop.

      – Hebreërs 12:1

      Wanneer ek gehore vra wie gim toe gaan of gereeld oefening doen soos draf of stap, is daar maar baie min wat hulle hande opsteek. Ek glo gereelde oefening is nie net goed vir ons liggaamlike gesondheid nie, maar ook vir ons geestelike gesondheid. ’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees.

      Ek self is gereeld skuldig aan passiwiteit. Wanneer ek begin skryf, sit ek ure lank op my boude voor die rekenaar. Al wat oefening kry, is my vingers. Die gevolg is dat ek dikwels innerlik “geblok” en swaarmoedig begin voel – ’n oop deur vir sonde om in te kom.

      ’n Stilstaande rivier produseer nie vars water nie. Die water van hierdie rivier is ondrinkbaar, vuil en vol giftige neerslae. Dieselfde geld vir stilstaande mense, mense wat nie genoeg beweeg nie. Ons laste voel meer. Negatiewe depro-denke kry makliker ’n vatplek.

      Die teenvoeter vir ’n troebel rivier, én vir die troebel gedagtes van ’n passiewe mens, is beweging. En ek praat nou nie van die ketel aanskakel of die yskasdeur oopmaak of ’n stukkie koek gaan haal nie.

      Wanneer ek sluggish voel, gaan stap ek ’n lang ent met my worshond. Ek voel onmiddellik beter wanneer daar meer suurstofdraende bloed na my organe begin vloei. Ek voel hoe die innerlike laste begin wegval.

      Ons liggaam is die tempel wat ons innerlike mens huisves. Maak seker jy gee genoeg aandag aan die onderhoud van jou tempel. Gebruik beweging as ’n bruistablet sodat jy jou geestelike wedloop met volharding kan voltooi.

      Bruisgebed vir gesonde oefening: Vader, ek besef my liggaam is die tempel wat my gees huisves en dat ek my liggaam moet versorg. Help my om gereeld te oefen sodat my liggaam en gees gesond sal bly. Tot eer van u Naam.

      Vitamien S

      Saad

      Toe het Jesus gesê: “Hoe lyk die koningsheerskappy van God. Hoe kan ek dit illustreer? Dit is soos ’n klein mosterdsaadjie wat in ’n tuin geplant is; dit groei en word ’n boom, en die voëls kom en vind skuiling in sy takke.”

      – Lukas 13:18-19

      Dit is elke keer vir my wonderlik om te lees van die klein mosterdsaadjie wat die potensiaal het om ’n reuseboom te word met takke wat skuiling aan ’n verskeidenheid voëls bied.

      Ons almal saai saadjies in ander mense se lewe. Watter potensiaal dink jy lê opgesluit in die saad wat jy as volgeling van Jesus saai? Het jou woorde, dade en gesindheid die potensiaal om ’n skaduryke boom met sielslafenis vir uiteenlopende mense te word? Of sal jou saad eerder kwes en die Here se koninkryk met brandnetels vervuil?

      Ongelukkig saai baie Christene graag kwetsende en kritiese saad in ander mense se lewe in plaas van die saad van liefde, deernis, genade en barmhartigheid, soos Jesus gedoen het. Sulke giftige saad kan groot skade aanrig aan die groei van die koninkryk en kerke.

      Kom ons kyk na die voorbeeld wat Gandhi vir ons gestel het. Hy was ’n vredevolle en geleerde man wat baie aangetrokke was tot die Christelike leer. Hy het met geesdrif probeer om ’n Christelike kerk te besoek – maar hy is weggewys. Hy het nooit weer probeer om enige Christelike kerk te besoek nie. Die saad van verwerping het ’n ewige letsel in sy gemoed gelaat.

      Maak seker die saad wat jy saai, is nie giftig nie, maar opbouende en liefdevolle bruistablette vir God se koninkryk.

      Bruisgebed vir saaiers: Here Jesus, help my as saaier om saad te saai wat ’n skaduryke boom met sielslafenis vir baie uiteenlopende mense kan word. Tot eer van u Naam.

      Vitamien S

      Suurdeeg

      Hy het ook gevra: “Soos wat is die koningsheerskappy van God nog? Dit is soos suurdeeg wat ’n vrou gebruik om brood te bak. Alhoewel sy ’n groot klomp meel gebruik, het die suurdeeg elke deel van die deeg deurtrek.”

      – Lukas 13:20-21

      Hier is nog ’n voorbeeld van jou potensiële invloed om die koninkryk van God op aarde uit te brei. Sien jouself as die suurdeeg wat jy gebruik wanneer jy brood bak. Sien in jou gedagtes die meel as die menigte uiteenlopende mense op die aarde wat jy wil bereik met Jesus se Goeie Nuus.

      Ek het al heerlike brode gebak vir my vriende en familie – maar ook flops wat platgeval of verbrand het en wat ek eerder wil vergeet. Om ’n suksesvolle brood te bak vra die regte hoeveelheid suurdeeg, ’n goeie kniesessie, genoeg tyd wat verloop en die regte oondtemperatuur wanneer jy die broodjie in die oond druk.

      Dieselfde geld vir geestelike broodbak. Soms wil ons die proses van geestelike transformasie fast forward en onmiddellik resultate sien wanneer ons ons “bekeringspraatjie” afgesteek het. Tog is die groei van die saad tot ’n skaduryke boom en die rys van die deeg tot ’n brood met ’n goddelike geur nie ons werk nie. Dit is die Here s’n.

      Ons is slegs saaiers en knieërs. Wees geduldig. Wees getrou. Wees sensitief vir die uiteenlopende mense en hulle uiteenlopende situasies. Moet nooit die saad probeer ryp druk tot ’n boom of ’n oormaat suurdeeg byvoeg om die rysproses aan te jaag nie. Ons talle “kitsresepte” kan soms meer skade as goed doen. Saai en knie eerder altyd die Woord met sensitiwiteit volgens die Here se voorskrifte en onder sy leiding.

      Bruisgebed vir bakkers: Vader, help my om onder u leiding u suurdeeg in die wêreld in te knie, maar die rys- en groeiproses aan U oor te laat. Tot eer van u Naam.

      Vitamien M

      Mooi

      ’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.

      – Psalm 16:6

      Wat is vir jou mooi in jou lewe? Is mooi vir jou sinoniem met woorde soos perfek, volmaak, onbesmet? Is mooi vir jou iemand sonder littekens of wonde? As dit die geval is, gaan jy dalk sukkel om die mooi deel raak te sien wat God, te midde van minder mooi omstandighede, steeds vir my en jou afmeet.

      Die lewe bestaan nie uit volmaakte situasies en volmaakte mense nie, het ek geleer. Inteendeel. Elke mens het krakies onder die icing. Party meer as ander. Maar hierdie onvolmaakthede in jou lewe kan jy juis gebruik