Bruistablette vir die lewe. Susan Coetzer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Susan Coetzer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796320506
Скачать книгу
word egter nie met selfbeheersing gebore nie. Ons almal het ego’s, impulse, oerdrange en ’n selfsugtige, sondige natuur wat baie van ons reaksies en optredes bepaal.

      Selfbeheersing is ’n vrug van die Gees wat in ons regeer. Ons kan egter selfbeheersing aanleer namate ons al nader aan geestelike volwassenheid groei en ons lewe al meer aan die Here oorgee. Party van ons bly egter geestelike babas, en babas word aan die neus gelei deur hulle kortsigtige en ekkerige kniereaksies.

      In watter situasies sukkel jy die meeste om jouself en jou kookpot emosies te beheer? Dalk wanneer jy agter ’n taxi ry wat sonder waarskuwing reg voor jou rem trap? Dalk vra dit baie selfbeheersing om nie die f-woord te gebruik en jou middelvinger te wys nie.

      Dalk sukkel jy in jou verhoudings met mense om jou woorde te tel en nie gedurig in ’n magstryd betrokke te raak nie. Miskien is dit jou grootste uitdaging om nee te sê vir daardie stuk lemon meringue-tert wat voor jou ingeskuif word.

      Vra die Here om die onbeheerste emosionele stormwinde wat deur jou gemoed waai onder sy beheer te bring en só die skade wat dit kan aanrig te beperk. Vra Hom om die bruistablet van selfbeheersing in jou te kweek.

      Bruisgebed vir selfbeheersing: Vader, ek lê my ekkerige self neer en vra dat u Gees my onstuimige kniereaksies sal keer. Ek bid dat U selfbeheersing in my sal vestig as vrug van u Gees se werk in my. Tot eer van u Naam.

      Vitamien P

      Pleister

      Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde.

      – Psalm 147:3

      Ek onthou dat ek as kind altyd beter gevoel het wanneer iemand ’n pleister op my bloeiende wond geplak het. Wanneer my juffrou my met sagte trooswoorde nadergetrek, die noodhulpkissie oopgemaak, die bloed met Dettol afgevee en ’n pleister op my seerplek geplak het, het my trane vinnig opgedroog.

      ’n Pleister is vandag steeds vir my die simbool van iemand se sagte touch. Iemand wat omgee vir ’n ander se pyn. Iemand wat gaan staan en iets doen om te help.

      Nou, jare later, het ek steeds altyd Dettol en pleisters in my badkamerkassie. ’n Mens weet nooit wanneer iemand dalk ’n pleister gaan nodig hê nie. Veral ’n innerlike pleister.

      Daar is soveel emosionele verwonding onder ons. Soveel gebrokenes van hart. As die Here se medewerkers kan ons nie ’n groot genoeg verskeidenheid pleisters op standby hou nie.

      Soms is dit daardie koppie tee wat jy rustig drink saam met iemand wat swaarkry. Ander kere is dit jou oor wat met begrip luister. Of ’n skouer om op te huil, ’n stywe beer-hug of ’n boks tissues. Of dalk ’n telefoonoproep met ’n invite om by jou etenstafel te kom aansit.

      Is jy ’n pleistermens? Of is jou hart toegepleister met gips? Is jy onbetrokke by ander se lyding – of bring jy genesing vir hulle pyn?

      Jesus het vir ons ’n voorbeeld van opregte deernis en omgeeliefde gestel. Hy was ’n pleister vir baie gebrokenes en Hy verwag van ons om vandag pleisters vir mekaar te wees. Dalk is dit tyd dat ons ons besige to do-lysies ’n oomblik opsy skuif en help wonde verbind.

      Bruisgebed vir deernis: Here Jesus, raak my hart aan sodat ek betrokke sal raak by ander se swaarkry en u pleisters op hulle wonde sal plak. Tot eer van u Naam.

      Vitamien A

      Aanvaar

      Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.

      – Romeine 15:7

      Watter mense is vir jou aanvaarbaar? Wat is die maatstaf wat jy gebruik om iemand hartlik te groet, ’n geselsie aan te knoop of saam met iemand te kuier?

      Moet hulle adres reg wees? Moet hulle bankrekening stewig wees? Moet hulle goed versorg wees? Moet hulle aantreklik, slim en suksesvol wees? Is iemand met ’n graad vir jou meer aanvaarbaar as iemand met net graad 8?

      Hoe voel jy oor mense met ’n ander kleur, kultuur, kerk, taal, seksuele oriëntasie as jy? Is slegs jou dam se eende vir jou aanvaarbaar? Hoe tree jy as Christen op teenoor mense wat anders as jy is – dié wat volgens jou weird aantrek, dié wat buite die norm optree, dié met die neusringe en tattoos, die rokers, drinkers en geskeides? Stap jy liefs neus in die lug ’n wye draai om hierdie vreemde makoue op jou pad?

      Wanneer ons na Jesus se voorbeeld kyk, sien ons dat baie weird mense, volgens ons maatstawwe, vir Hom aanvaarbaar was – die tollenaar, die vrou by die put, die melaatse, die outsiders. Hy het by hulle gaan staan, met hulle geselsies aangeknoop, by hulle gaan eet, saam met hulle tyd deurgebring om hulle stories te hoor. Hy het almal met dieselfde sagte menslikheid en aanvaarding benader.

      Aanvaarding is ’n bruistablet vir die gemoed. Aanvaarding sê: Jy is goed genoeg om mee te gesels. Verwerping kneus die gees van die mens.

      Aanvaar dan dié wat anders as jy is met groter genade, soos Jesus jou ook elke dag met jou snaakse vratjies en al aanvaar.

      Bruisgebed vir aanvaarding: Here Jesus, leer my om, soos U, deur die oë van genade en deernis na die weirdos en buiteperde te kyk, eerder as met ’n onverbiddelike en veroordelende gesindheid.

      Vitamien S

      Sout

      “Julle is die sout wat die aarde ’n beter plek moet maak.”

      – Matteus 5:13

      Kos sonder sout is vir my maar baie smaakloos. Ek kan netsowel ’n stuk karton eet. Dink aan daai tjoppie op die vuur sonder enige sout daarop. Of aan roereier op ’n broodjie sonder ’n knippie sout om dit daai woema te gee. Sout gee geur; sout gee smaak; sout laat kos beter proe.

      As Christene het ons die opdrag gekry om sout te wees wat die aarde ’n beter plek maak – nie net vir ons nie, maar ook vir ander mense. Hoe verstaan jy hierdie opdrag? Hoe dink jy kan jy op ’n praktiese manier sout vir ander mense wees en hulle lewe lekkerder maak?

      Baie van ons dink om sout te wees is (net) om ’n preek af te steek, of om iemand op die spot met ’n Bybelvers te probeer bekeer. Ander dink dis om meer geestelik te raak – om ’n selgroep te begin of bidure en godsdienstige lesings by te woon.

      Vir my beteken om sout te wees om Jesus se liefde uit te leef in elke situasie waarin ek my bevind en met elke uitdaging wat ek moet trotseer. Liefde gee altyd ’n beter smaak aan die atmosfeer – of dit nou is wanneer jy saam met vriende kuier, by die tandarts is, by SARS in die lang ry staan of in spitsverkeer sit.

      Elke dag kan ’n wonderlike avontuur wees vir ons as geheime “sout”-agente in ons land wat omgeeliefde versprei. Raak sensitief vir die Here se leiding hierin. Vra Hom vir praktiese wenke oor hoe jy sy helende sout in ’n smaaklose situasie kan inbring.

      Bruisgebed vir soutagente: Here Jesus, help my om u sout van omgeeliefde tydens elke uitdaging op my pad uit te strooi om só die situasie goed te hanteer en die lewe vir almal aangenamer te maak. Tot eer van u Naam.

      Vitamien Z

      Zero

      “As Ek dan, wat julle Here en Leermeester is, julle voete gewas het, moet julle ook mekaar se voete was.”

      – Johannes 13:14

      Die meeste van ons wil die hero en nie die zero in die verhaal wees nie. Ons hou van aandag en erkenning. Ons wil beroemd wees. Ons wil belangrik wees. Ons wil openbare erkenning kry. Ons smag daarna.

      Hierdie strewe na prestige en roem kan ons totaal van koers af dwing op ons geloofspad. Al die aandag en die opheffing en die hero worshipping van mense kan na ons kop toe gaan. Letterlik.

      Ons kan begin glo ons is belangriker as die gewone mens op straat. Dit kan die sluimerende narsissus in ons wakker maak. Al die openlike aandag en verering kan ons laat glo ons is klein godjies wat voorgetrek moet word. Ons moet eerste eet, voor in die ry staan en eerste bedien word. Ons mag ook tantrums gooi.

      Juis daarom is dit so