Bruistablette vir die lewe. Susan Coetzer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Susan Coetzer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796320506
Скачать книгу
weer nie.

      Wat my bring by jou geestelike hart. Hoe lyk hierdie hart van jou as jy ’n foto daarvan sou kon neem? Is dit ’n sagte, vlesige, gesonde hart? Of is jou geestelike hart se are en kleppe geblokkeer en kliphard? Watter soort emosies vloei die maklikste en gereeldste deur jou hart se are? Liefde, blydskap, vrede, nederigheid, vriendelikheid, geduld, goedhartigheid, getrouheid, selfbeheersing?

      Of voel jy oorwegend haat, woede, afsydigheid, jaloesie, afguns, bitterheid, nyd, negatiwiteit, norsheid en kritiek deur jou hart pomp? As jy ’n emosionele verharding in jou hart opmerk, gaan gerus vir ’n hartsondersoek by die groot Geneesheer.

      Die Here wil vir jou ’n nuwe, sagte hart gee – vir jou emosionele, liggaamlike en geestelike welstand. Hy wil die harde emosies en skeidsmure in jou hart afbreek deur die werk van sy Gees sodat jy ’n nuwe en intiemer hartsverhouding met Hom – en ander mense – kan hê.

      Bruisgebed vir ’n gesonde hart: Vader, ek vra U, die Geneesheer, om die klipharde stukke in my geestelike hart te verwyder en dit met u hart se genesende eienskappe te vervang.

      Vitamien V

      Vriende

      Maats kan jou breek, maar daar kan ook ’n vriend wees wat nader is as ’n broer.

      – Spreuke 18:24

      Kennisse is volop, soos McDonald’s se wegneemkos. Hulle kom en gaan en het min voedingswaarde en blywende voordele. Dieselfde geld vir mooiweersvriende. Hulle kuier graag saam met jou in die somerseisoene, maar wanneer die uitdagings van die winter kom, sprei hulle hulle vlerke en vertrek vinnig na waar die klimaat gunstiger is.

      Dit is hoekom opregte vriendskappe so belangrik is. Vriende wat die toets van die tyd kan deurstaan en wat deur veranderlikes heen by ons bly staan. Sulke hartsvriende is skaars. Hulle is ’n kosbare belegging en raar soos antiques. Jy kan hulle nie met geld koop of omkoop nie. Jy moet hulle uitsnuffel.

      Ek het ’n paar sulke vriende gevind. Ons voed mekaar en ons voed mekaar op. Ons versterk mekaar. Ons is betroubaar, lojaal, deernisvol, eerlik en nie afgunstig nie. Ons deel in mekaar se pyn en vreugde.

      By ware vriende hoef jy nie ’n “gesiggie” op te sit om aanvaar te word nie. Jy kan maar net jou ware (en soms nare) self wees. Opregte vriende leen nie hulle ore uit aan die vyande nie. Ook nie hulle tonge nie.

      My klein Gideonsbende is vir my onvervangbaar kosbaar, soos my geliefde flennie-nighty met die paar motgaatjies wat aan my oorlede ouma behoort het. Ware vriende aanvaar die paar gaatjies in ons stoffasie. Hulle groter fokus val op die kosbare lap van vriendskap.

      Wil jy groei in opregte vriendskap? Kyk dan na die Man van genade se voorbeeld. Hy kyk met liefde, deernis en verdraagsaamheid verby al die motgaatjies. Sy vriendskap is gister, vandag en môre standvastig soos rots.

      Bruisgebed vir goeie vriendskappe: Here Jesus, help my om by U te leer hoe om ’n deernisvolle, lojale en opregte vriend te wees, deur dik en dun. Tot eer van u Naam.

      Vitamien O

      Ouers

      “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.”

      – Eksodus 20:12

      Ons almal het ouers. Ons kom nie in hierdie wêreld in sonder ’n biologiese ma en ’n biologiese pa se aandeel in ons lewensverhaal nie. Dit is aan hulle samesmelting te danke dat jy as ’n nuwe mens met nuwe potensiaal op hierdie aarde gebore is.

      Dalk is jy bevoorreg om liefdevolle ouers te hê wat nog albei leef. Of dalk is jou ouers oorlede, maar jou hart se stoorkamer is vol wonderlike herinneringe aan hulle. Dan is die woorde “eer jou vader en jou moeder” vir jou maklik om uit te leef.

      Ons almal word egter nie in veilige ouerhuise met koesterende ouers groot nie. Party volwassenes dra jare lank swaar aan die letsels van ’n afbrekende huis van herkoms. Vir sulke mense is hierdie gebod baie moeilik om uit te leef.

      Ouers het ’n diep inspraak in ’n jong kind se groei en ontwikkeling. Hulle opvoeding is soos goeie bemesting … of soos vernietigende gif. ’n Kind wat in ’n stabiele en liefdevolle ouerhuis grootword met die nodige ondersteuning, aanmoediging en dissipline het ’n voorsprong bo dié kind wat sonder hierdie geestelike en emosionele voeding ’n pad deur die lewe moet vind.

      Ons elkeen het egter wel die volmaakte hemelse Ouer wat 24/7 tot ons beskikking is. ’n Vader met ’n groot en liefdevolle ouerhart, maar ook ’n Vader wat sy kinders dissiplineer en snoei tot volwassenheid.

      As jou ouers nie goeie rolmodelle is of was nie, probeer asseblief om self ’n goeie rolmodel vir ander op jou lewenspad te wees. Wanneer ek en jy met die Here se hart van genade na ander mense kyk, is dit makliker om selfs aan onideale ouers ’n bietjie eer te bring.

      Bruisgebed vir kinders: Vader, help my om my ouers te eer vir al hulle goeie dade, en om genade aan hulle te betoon vir hulle onideale optrede – tot eer van u Naam.

      Vitamien V

      Vergewe

      “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.”

      – Matteus 6:14

      Hoe voel jy wanneer jy die TV aanskakel? Na die nuus kyk? Watter gevoel kry jy in jou hart wanneer jy kyk na slagoffers wat deur gewetenlose psigopate vermoor is? Hoe voel jy oor korrupsie op regeringsvlak, oor kapings, plaasmoorde, bedrog en die verwaarlosing van bejaardes?

      Hoe voel jy oor onskuldige kinders wat gemolesteer word? Oor jou man se affair? Oor mense wat hulle voordoen as goeie Christene, maar dan jou goedheid misbruik?

      My eerste instink is om wraak te neem. Om te sorg dat die kwaaddoener in hegtenis geneem word en boet vir sy of haar dade. Dit voel net reg en regverdig.

      Tog vra die Here dat ons dié wat teen ons oortree, sal vergewe. Hoekom? Omdat Hy ons oortredings elke dag vergewe. Die Here is lief vir sy kinders. Hy wil nie hê jou hart moet verhard weens afbrekende wraakgedagtes nie. Dit bou ’n skeidsmuur tussen Hom en jou.

      Onvergewensgesindheid is nie ’n bruistablet nie – dis gif vir jou gees. Dis so goed jy gooi Daisy de Melker se arseen in jou tee en sluk dit af. Jy gaan maagpyn kry en siek word.

      Vergifnis beteken nie (noodwendig) daar sal versoening tussen jou en die oortreder kom nie. Dit beteken wel dat jy nie al jou lewensenergie aan die donker insident in jou verlede afstaan nie.

      Vra die Here se hulp met vergifnis sodat jy vry sal wees en kan aangaan met jou lewe. Gee jou giftige gedagtes en die donker oortredings wat jou gevange hou in sy hande oor. Hy is getrou en regverdig. Vertrou Hom om reg te laat geskied.

      Bruisgebed vir vergifnis: Hemelse Vader, ek bid vir bevryding van die woede en pyn in my hart. Ek vertrou op U om reg en geregtigheid te laat geskied.

      Vitamien T

      Toets

      Toets my Here, keur my, ondersoek my deur en deur.

      – Psalm 26:2

      Wanneer ek die woord toets hoor, draai my maag sommer. Ek onthou spesifiek die wiskundetoetse van jare gelede op skool. Ek kry nou nog gereeld nagmerries daaroor. Jare later spook die toepassing van die meetkundestellings steeds by my.

      My bestuurstoets was ook vir my ’n angswekkende ervaring. Ek was jonk en onervare, en het so pas van die Kaap af Johannesburg toe getrek. Ek was baie senuweeagtig en kon glad nie fokus nie. Eers die derde keer het ek die padtoets en parkeringtoets geslaag. Dis beslis nie iets wat ek ooit weer wil herhaal nie.

      As teateraktrise was openingsaande vir my die heel ergste toets. Die pers was in die gehoor en elke nuanse is met kritiese oë bekyk en geëvalueer. Later kon ek die resensie in die koerant lees en uitvind of ek geslaag het of nie … Hulle sê ’n akteur skei met ’n openingsaand net soveel adrenalien af as iemand wat deur die trauma van ’n ernstige motorongeluk