“Sit,” sê die onderwyseres nou en glimlag nog steeds vriendelik.
Die leerders sit. Hulle doen dit ook op ’n buitengewone stil manier. Gewoonlik is daar ’n harde geklap van banke as hulle gaan sit.
“Mmm,” sê juffrou Nortjé tevrede. “Dit lyk mos of hier vanmôre stilte en vrede in die klas is. Dis mooi so – dis hoe dit hoort.”
Niemand antwoord hierop of glimlag eens nie. Hulle sit en kyk haar net met doodernstige gesigte aan.
“Soos julle weet,” begin die onderwyseres met die les, “het ons verlede week die kompas bespreek. Die meeste van julle was nog onseker van die rigtings – die verskil tussen noord, suid, wes en oos – en ek het dit toe verduidelik.”
Juffrou Nortjé kyk na die klas. Daar is ’n effense frons op haar voorkop. Dit is vreemd dat hulle so stil en sedig sit. Gewoonlik is daar so ’n lawaai in die klas dat sy feitlik nie haar eie stem kan hoor nie. Verder sou die leerders teen hierdie tyd feitlik almal opgespring en vir haar gesê het hulle verstaan nie mooi nie en dat sy weer moet verduidelik. Hulle haal mos altyd streke uit sodat hulle nie hoef te werk nie.
Vandag is hulle egter doodstil. Ou Duifie wonder wat aan die gang is. Kon die feit dat sy hulle gister eers doodstil laat sit het voor sy hulle na die volgende klas laat gaan het, sowaar so ’n goeie uitwerking op hulle gehad het? Dit moet seker so wees. Juffrou Nortjé glimlag ingenome. Miskien is sy nie so ’n swak onderwyseres as wat sy gedink het nie.
“Ek dink ek het die vier windrigtings sorgvuldig genoeg verduidelik,” sê sy, “so julle behoort dit te verstaan. Ek gaan nou vir julle vrae daaroor vra.”
Die kinders kyk vlugtig na mekaar. Hulle glimlag nie. Hul oë glinster net ondeund – meer ondeund as gewoonlik. Nou gaan die pret begin.
3
Ou Duifie sê les op
“Sê nou maar,” begin die onderwyseres nou met ’n vraag, “jy sit in ’n vliegtuig wat van Kaapstad af Johannesburg toe vlieg.” Sy glimlag vriendelik. Sy het mos verlede jaar op kollege geleer hoe om ’n les interessant aan te bied.
“Die vliegtuig se kragtige motore is soos musiek in jou ore,” gaan die juffrou begeesterd verder en dit voel vir haar of sy die klas se volle aandag het. “Jy vlieg vry soos ’n voël honderde meter hoog deur die blou hemelruim en daar ver onder sien jy die Hexrivierberge en dan die Karoo se kaal uitgestrekte vlaktes.” Ou Duifie glimlag weer vriendelik. “Dis darem heerlik om so te vlieg, nè?”
Die sedige uitdrukkings op die leerders se gesigte maak dit vir haar moeilik om te besluit of hulle dit geniet, of nie. Sy wonder wat hulle makeer. Gewoonlik sou hulle na so ’n beskrywing van hoe heerlik dit is om in ’n vliegtuig te vlieg almal opgespring het en haar tegelyk van hul ondervindings wou vertel. Selfs dié wat nog nooit in ’n vliegtuig was nie, sou iets te sê gehad het.
Maar nee, vandag is die klas doodstil. Niemand sê ’n woord nie. Niemand lewer kommentaar oor of dit heerlik sal wees om te vlieg, of nie. Hulle sit net tjoepstil en lyk bot. Nie een glimlag eens nie.
Juffrou Nortjé begin half ongemaklik voel.
“Ek sê,” en haar stem klink hees, “dit sal heerlik wees om so te vlieg, nè?”
Niemand antwoord nie. Hulle het niks te sê nie. Hulle sit net stil.
Ou Duifie besef dat dit miskien verkeerd is om so ’n vraag sommer so in die algemeen vir die hele klas te vra. Sy moet dit liewer net vir een leerder vra.
“Dit sal darem regtig heerlik wees om so te vlieg, nè?” sê sy nou vir die derde keer en kyk rond tot haar oë op Saartjie rus. “Dink jy nie so nie, Saartjie?”
Saartjie se hart bons. Dit is ironies dat sy, die een wat nie heeltemal gelukkig was oor die les wat hulle Ou Duifie gaan leer nie, sowaar nou die eerste vraag moet kry.
Saartjie staan op. Dan sê sy, sonder ’n sweempie van enige emosie of ’n glimlag op haar gesig: “Ek weet nie, Juffrou.”
Die onderwyseres kyk peinsend na Saartjie. Sy wonder of die meisie miskien probeer om snaaks te wees. Saartjie kyk met ’n onskuldige gesig na die juffrou. Sy lyk asof botter nie in haar mond sal smelt nie.
“Ek weet nie hoe ’n mens nie kan weet nie,” sê juffrou Nortjé nou kil. “Dit is mos heerlik om te vlieg. Almal hou daarvan.”
Sy wag nog ’n paar oomblikke om te hoor wat Saartjie nou te sê het. Maar blykbaar het Saartjie niks op die hart nie. Sy staan en kyk nog steeds net stip voor haar uit.
“Sit,” sê die onderwyseres vies. Saartjie gehoorsaam met ’n sug van verligting.
Die juffrou kyk nou fronsend na die leerders. Dit is so stil dat jy ’n speld kan hoor val – en dit is al klaar buitengewoon vir hierdie klas. Sy wonder wat hulle makeer en of hulle miskien probeer om snaaks te wees.
“Nou wel,” sê sy en klink sarkasties, “ék dink dis heerlik om so hoog bokant die aarde te vlieg.”
Ou Duifie besluit om nou te vergeet van die interessante aanslag waarvan sy op kollege geleer het en direk vrae oor die werk te vra. Niks moeite wat ’n mens doen, maak tog in elk geval enige verskil aan hierdie hardnekkige klas nie.
“As ’n mens van Kaapstad af Johannesburg toe vlieg,” sê die jong juffrou nou saaklik, “in watter rigting beweeg jy dan?”
Die klas is stil. Al is dit so ’n maklike vraag vlieg daar nie ’n klomp hande in die lug op of skree ’n klomp sommer die antwoord uit nie.
Die onderwyseres wonder of hulle die vraag nie mooi verstaan nie en verduidelik verder: “Wat ek wil weet, is of ’n mens wes, suid, oos of noord sal beweeg as jy van die Kaap af Johannesburg toe vlieg.”
Dit lyk asof die klas nog steeds nie weet wat die antwoord op haar vraag is nie, want niemand sê ’n woord nie.
Juffrou Nortjé besluit om ’n leerder direk te vra en sy besluit op Galpil.
“Lodewyk,” sê sy, “staan op!” Sy is omtrent die enigste mens in die skool wat Galpil op sy doopnaam noem. Hy kom rats op die been en kyk die juffrou met ’n sedige uitdrukking op sy gesig aan.
“As ’n mens van Kaapstad af Johannesburg toe vlieg, beweeg die vliegtuig noord-, oos-, wes- of suidwaarts?”
“Ek weet nie, Juffrou,” sê Galpil.
’n Paar kinders begin giggel, maar word dadelik tjoepstil toe hulle sien hoe kwaai Galpil na hulle kyk. Dit is mos sy meesterlike plan en hy het uitdruklik gesê niemand mag enigiets sê behalwe “Ek weet nie.” Hy het hulle ook ten strengste verbied om te lag of praat. Galpil is die sterkste ou in die klas en niemand soek skoor met hom nie. Die leerders is weer tjoepstil.
“Dis omdat jy nooit in die klas oplet nie, Lodewyk!” snou juffrou Nortjé hom toe. “Dis hoekom jy nie weet nie.” Sy gluur kwaai na hom oor die bril wat op haar neus se punt sit.
Galpil wil net sê dit is nie die rede hoekom hy nie weet nie – om die waarheid te sê, hy ken die antwoord op die vraag – toe hy homself bedink. Hulle het mos besluit om absoluut niks te sê nie, behalwe net: “Ek weet nie.”
“Sit!” beveel Ou Duifie vies.
Galpil maak so. Hy kyk rond en knipoog vir ’n paar van sy vriende.
Juffrou Nortjé besef nou daar is iets verkeerd. Dit lyk mos asof hierdie klas probeer om haar kwaad te maak en te tart. Die vraag wat sy vra, is tog heel eenvoudig en maklik.
“Beantwoord jy die vraag,” sê sy kwaai en wys na Anna wat langs