“Ja, tannie, maar mense vergeet van –”
“Sjoes, liefie, ek praat nou. Ander mense vergeet dalk van my lengte, maar ék kan nooit vergeet nie. Maar gister toe ek op die leer staan en in Sebastiaan se blou oë vaskyk en sy skaam glimlaggie sien … Dit was ’n onvergeetlike oomblik in my lewe, sussie, want ek was skielik so sielsgelukkig, so asof ek ’n wonderlike present gekry het. As ek vyftig jaar jonger was, sou ek gesê het ek is verlief, maar op my ouderdom is ek doodgewoon stuitig … Nee, ek sal maar liewerste uit Sebastiaan se pad bly en jou en jou tant Annelize toelaat om met ons bure te onderhandel,” antwoord Trynie en sug verwese.
“Dis nie sonde om …” begin Kayla paaiend en swyg verras. “Luister, tannie! Die motorfietse het ophou brul!”
Trynie luister saam met Kayla na die welkome stilte, en dan kyk hulle vraend na mekaar toe die voordeurklokkie lui.
“Haai, Kayla … ta Trynie! Ek het die manne met die motorfietse oorgenooi vir ’n drankie! Het tannie genoeg bier in die yskas?” roep Sunette en bly met ’n selfvoldane glimlag op haar gesig in die deur van die ontbytkamer staan.
3
Trynie word rooi van boosaardigheid, kom toornig orent en troon oor Sunette wat eers regs mik, dan skielik links swenk en by Trynie se rapende vingers verby na die verste punt van die vertrek hardloop, waar sy voor ’n antieke staanhorlosie vassteek asof dit haar beskerming sal bied.
“Jou goddelose klein sieletjie!” bulder Trynie verwoed. “Ek sukkel van jou eerste skooldag af om van jou ’n fatsoenlike kind te maak, maar daar is geen salf aan jou te smeer nie. Vandag prop ek jou onder my arm en dra jou na een van ons solderkamers toe. As ek jou by die venster uitsmyt en sorg dat jy op jou kop val, sal jy hopelik nooit weer die rus in Huis Kanferfoelie versteur nie.”
“As tannie net ’n sentimeter nader kom, klim ek in die staanhorlosie en hang my aan die ketting van die pendule op! Wil tannie my dood op tannie se gewete hê? Asseblief, ta Trynie, ek is te jonk om sag heen te gaan,” dreig en soebat Sunette beurtelings en pers twee groot trane uit haar oë, haar hande biddend voor haar bors saamgevat.
Trynie ruk in haar spore tot stilstand, draai stadig om na Kayla wat onbesorg bly sit het, en sê bitter: “Te jonk om sag heen te gaan, sê die stout kind.” Haar kop ruk om na Sunette, wat net betyds ’n glimlag van haar gesig afvee, en sy vervolg boos: “Jou soort, klein niksnuts, land met ’n harde slag op die ou duiwel se drietandvurk in die verderf!”
“Ta Trynie, hoekom hou tannie nie van my nie? Ek probeer so hard om tannie te help,” sê Sunette verwytend.
“Dis waar, tannie,” kom dit vinnig van Kayla. “Luister net hoe stil is dit: ek kan selfs tannie se boosaardige gesnork hoor. Moet ek nie vir tannie ’n bloeddrukpilletjie gaan haal nie?”
Trynie plof ergerlik op haar stoel neer en gluur Kayla aan. “Jy weet ek het nie hoë bloeddruk nie, kind, en ek drink net vitamienpille. Sukkel jy oor my bloeddruk omdat jy hoop ek sal vergeet van die klein klits en al daardie lawaaimakers wat in ons huis kom bier soek?” Haar oë rek verskrik en sy swaai vinnig na Sunette toe. “Jy het nie die spul mansmense binnegenooi nie, Sunette? As hulle op Annelize se Victoriaanse stoeltjies gaan sit, bly daar net houtskerwe oor. Ons gebruik nooit die Victoriaanse sitkamer nie want die meubels –”
“Klop-klop!” sê ’n aarselende tenoorstem uit die deur van die ontbytkamer.
“Hallo, oom! Het oom ook kom bier drink?” groet-vra Sunette met ’n stralende glimlag.
Trynie staar verslae na Sebastiaan, vryf haar hande senuweeagtig saam en soek met haar oë hulp by Kayla.
“Meneer Van Oldenbarneveldt … goeiemôre. Ek is Kayla Joubert. Bly te kenne, meneer, en welkom in Huis Kanferfoelie. Briand Olivier het my vertel wie meneer is,” sê Kayla met ’n innemende glimlag en staan op. “Dis juffrou Trynie Geyer, ons huishoudster. Sy is soos ’n eie ouma vir my enne … en my vriendin, Sunette Durand.”
“’n Liewe, eie ouma,” beaam Sunette met ’n heftige kopknik.
“Bly te kenne, Kayla … Sunette,” sê Sebastiaan, tree nader aan Trynie en steek sy hand met ’n galante buiginkie na haar uit. “Dis ’n voorreg om u te ontmoet, juffrou Geyer.”
Trynie skud Sebastiaan se hand en sê bedees: “Bly te kenne, meneer Van Oldenbarneveldt. Ek en Kayla wou oorkom om julle met ’n paar melkterte in ons buurt te verwelkom, maar dit was nog so vroeg … Ek bedoel, u is baie welkom, al is dit nog vroeg.”
“Dankie, juffrou Geyer. As …”
“Sommer net Trynie, meneer Van Oldenbarneveldt. Met ’n professor in die huis is ek altoos omring van professore en doktore. Al die titels is tog nie nodig tussen bure nie?” vra Trynie met ’n skugter glimlaggie. “Maar sit gerus.”
Sebastiaan glimlag ingenome en gaan sit. “Ek stem heelhartig saam met jou, Trynie. ‘Sebastiaan’ is klaar ’n mondvol, maar dis darem korter as my van. En julle dametjies kan my ‘oom’ noem, soos ons mense gewoond is. En nou, Trynie, wil ek jou om verskoning vra dat ek sommerso julle huis binnegekom het, maar die jong mans het op julle drumpel gestaan, gereed om die plek binne te vaar. Ek het hulle uitdruklik beveel om te bly waar hulle is en die voordeur in hulle gesigte toegemaak en die deur gesluit. Het ek te voortvarend opgetree?”
“Ek waardeer jou besliste optrede met my hele hart, Sebastiaan, want Huis Kanferfoelie is propvol kosbare antikwiteite en oorspronklike skilderye. Professor Joubert sou my nooit vergewe het as een van haar besittings deur die spul barbare … e … motorfietsryers beskadig is nie,” antwoord Trynie en kyk betigtigend na Sunette.
“Maar wat nou van die bier wat ek die manne beloof het, ta Trynie? As ons nie gou speel nie, pluk hulle hul fietskettings uit en slaan al die vensters fyn en flenters!” waarsku Sunette en rol haar oë dramaties.
Sebastiaan lag spontaan. “Jy het ’n vrugbare verbeelding, Sunette, maar al dra die jong mans almal leerbroeke en -baadjies, is hulle aangename jong mense en beslis nie ’n bende misdadigers nie.” Hy glimlag gerusstellend vir Trynie. “Jy en jou huismense kan met ’n geruste gemoed snags slaap, Trynie. Die jong klomp is nou wel ’n bietjie lawaaierig met hulle motorfietse, maar hulle sal julle drie dames geen leed aandoen nie.”
“Maar wat nou van die bier, ta Trynie?” wil Kayla ook weet. “Verwag tannie dat ek en Sunette ons eiergeld moet gebruik om vir die manne bier te koop? Sjies … dis sonde om so suinig te wees. Tannie weet self ek en Sunette is tans werkloos en minder bevoorreg.”
Sebastiaan hou sy hand gebiedend op. “Nee, Kayla, jy en Sunette spandeer nie ’n sent van julle swaar verdiende geldjies nie.” Hy glimlag goedkeurend en verduidelik: “Briand het my vertel van julle pogings om selfonderhoudend te wees, en ek dink julle optrede is bewonderenswaardig. Moenie jou bekommer oor die bier nie, Trynie, ek het reeds aan die jong mans verduidelik Sunette het net geterg toe –” Hy swyg toe die luide gebrul van motorfietsenjins skielik die vensters laat vibreer. “Genade, maar dit ís erg!”
“Dis nog erger as die vensters oop is,” sê Trynie hard. “Die stilste plekke in ons huis is die kombuis en die musiekkamer, maar ons kan nie daar boer nie.” Sy draai na Sunette en gee onwillig toe: “Miskien moet ek jou bedank vir jou leuentjie, Sunette, want ons kon mekaar darem leer ken sonder om te moet skree.”
“Ja, ek het nogal ’n liewe hartjie,” beaam Sunette met ’n vroom glimlaggie en tree haastig terug na die staanhorlosie toe Trynie haar vies aankyk.
“Kan ek jou enigiets te ete of te drinke aanbied, Sebastiaan?” vra Trynie hoflik.
“Nee, dankie, Trynie, maar dalk later vandag? Of enige ander dag. Nou, dan groet ek maar. Tot siens, Trynie. Dit was werklik aangenaam om jou – en die dogters, natuurlik – te ontmoet.” Hy staan op.
“Dit was gaaf om met jou kennis te maak,