“Ek sal in ’n solderkamer op die derde verdieping intrek, ta Trynie, en die bediendetrap gebruik sodat ek en tannie se lewenspaaie nooit kruis nie. Of dalk kan ek die brandtrap gebruik … Toe tog, tannie, ek beloof om nooit weer op tannie se leer te klim nie.” Sunette leun oor die tafel na Trynie toe en vra nuuskierig: “Kry ou tannies ook hoendervleis van die lekkerte as hulle na manne op motorfietse kyk?”
Kayla laat val haar servet en duik agterna om haar geluidlose lagbui vir Trynie te verberg, terwyl Trynie haar eie regterpols met haar linkerhand vasgryp en dit vasklou asof sy vrees sy gaan haar hand verloor.
“Kayla, klim onder die tafel uit. Ek dink jou ta Trynie het ’n aanval van angina pectoris. Kyk, haar gesig is bloedrooi … amper pers. Snaaks, ek het gedink hartaanvalle maak ’n mens bleek,” kom dit van Sunette.
Kayla sit vinnig orent en pomp Sunette liggies in die sy. “Sit stil en bly stil as jy ongedeerd wil bly, Sunette. As ta Trynie haar regterpols los, gee sy jou ’n dwarsklap wat jou kakebeen sal breek.” Sy kyk pleitend na Trynie. “Sunette kan dit nie verhelp nie, ta Trynie. Haar ma was al die jare so besig met trou en skei en saam met mans rondjakker dat sy nie nog tyd gehad het om Sunette ordentlik groot te maak nie. Die enkele keer toe ek vir ’n langnaweek saam met Sunette huis toe is, het haar pa vir my gesê hy wens hy het ’n swartkopdogter gehad, want Sunette is ’n sedelose blondine soos haar ma.”
“Dis waar, ta Trynie,” beaam Sunette met ’n tragiese stemmetjie. “Voordat ek geweet het wat sedes is, het my pa my vertel ek het hulle almal verloor en my in koshuise geprop waar die onderwysers my moes grootmaak, en vakansietye het hy my by sy vriende afgelaai en hulle geldelik vergoed vir my verblyf.”
“En al jou pa se vriende kon jou nie leer om fatsoenlik op te tree nie, Sunette?” vra Trynie en los haar regterpols tydsaam.
“Ek glo nie hulle het te hard probeer nie, tannie, want my pa het heelwat betaal om vakansies van my ontslae te wees. Een van die tannies het altyd gesê ek is hulle vakansiebonus, en sy het my toegelaat om te doen net wat ek wil.”
“H’m,” kom dit nadenkend van Trynie, haar oë effens geskreef terwyl sy Sunette betrag. “Met ’n ma soos joune sal jy dit nie weet nie, jou arme verwaarloosde bloedjie, maar ouer mense se persoonlike gevoelens het niks met jou te make nie. Kyk ek na die spul motorfietsryers hier langsaan, kry ek gloede van ergernis, niks anders nie.”
“Dan mag ek maar hier intrek, ta Trynie?”
“Ek is net die huishoudster, nie die eienares van Huis Kanferfoelie nie, kind. Jy sal met die professortjie moet praat – en slaan ag op jou maniere as jy met haar praat, anders kry jy die dwarsklap wat ek jou wou gegee het,” maan Trynie haar.
Sunette draai benoud na Kayla. “Sal jy nie jou tannie namens my vra nie, beste vriendin? Sy is immers jóú tannie.”
“Sy is, daarom weet ek sy hou nie van lafaards nie … Hmm, ek dink dis haar motor wat voor die hek stilgehou het,” antwoord Kayla, kom orent en loop na die naaste venster.
“Ek skoert by die sydeur uit, Kayla. Tot siens, ta Trynie. Kayla, onthou ek bring die eiers vanaand. As jy hulle nie teen halfses môreoggend by die restaurant aflewer nie, sal ou Baumann jou nie betaal nie. Moenie verslaap nie!”
Trynie draai agterdogtig na Kayla toe Sunette die eetkamer uitdraf. “Wat is dit van eiers?”
“Een van Sunette se koshuismaats woon op ’n hoenderplaas, tannie. Sunette het met haar koshuismaat se pa oor eiers onderhandel: Sunette gaan haal die eiers en ek lewer hulle af en ons maak ’n bietjie wins op die transaksie. Moenie my so skeef aankyk nie, tannie. Werk is werk, en ’n paar rand is beter as niks nie.”
“Almiskie, my kind, maar jy het ’n trustfonds van jou ouma Joubert geërf. Ek weet jy kry nie ’n fortuin uit die fonds nie, maar dis oorgenoeg sakgeld, want jou tannie Annelize sal jou nooit losies laat betaal nie. Ek meen nou maar: wat sal jou ouers van ons dink as jy hoendereiers op jou nugter maag moet aflewer om ’n geldjie te verdien?”
“Hulle sal sê ek en Sunette is twee flukse entrepreneurs, tannie,” antwoord Kayla laggend en kom orent om haar koppie en piering en bordjie kombuis toe te dra.
Trynie en Kayla staan in die oop voordeur van Huis Kanferfoelie en kyk moedeloos na mekaar toe die gedreun van die motorfietsenjins soveel in volume toeneem dat hulle hul hande oor hul ore moet druk.
Sy het seker haar donker krulle en grys oë van haar ma geërf, dink Kayla, want haar tant Annelize is ’n vroulike weergawe van haar pa, met groen oë en dieselfde kastaiingbruin hare waarop die son koperrooi weerkaats. Sy kyk hoe Annelize vinnig die enkele wye, vlak treetjies opklim na die oopstaande voordeur, omdraai en die swaar houtdeur met opsigtelike selfbeheersing stadig toemaak, sluit en grendel.
“Dit help, ja, maar nie genoeg nie!” skree Trynie.
Annelize sit haar boektas op ’n monniksbank in die voorportaal neer en beduie met haar hand na die gang, voordat sy vooruit stap na die musiekkamer.
Hulle volg haar die vertrek binne en wag terwyl sy die dubbele vensters en die klankdigte staaldeur van die vertrek toemaak.
“Sjoe!” kom dit dankbaar van Kayla. “Stilte! Hoekom het ek en ta Trynie nie lankal aan die musiekkamer gedink nie? Hallo, tannie Annelize. Sedert middagete het die spul mans nog nie ’n oomblik hulle vervlakste motorfietsenjins afgeskakel nie. Wat gaan ons doen, tannie?”
“Hallo, Kayla … Trynie. Het jy die nuwe intrekkers reeds ontmoet, Trynie?” vra Annelize saaklik en gaan sit op die naaste stoel.
“Hoe, Annelize? Die spul sal hulle eie deurklokkie nie hoor lui nie. Maar ek het hulle dopgehou – ek het op die leer langs die muur gestaan: daar is ’n pa en ’n ma, altwee hippies met lang, slordige hare wat …”
“Ja, ja, ek het hulle gesien, ek het ook op die leer gestaan,” val Annelize haar saaklik in die rede. “Die vrou lyk onskadelik, ten spyte van haar stringe krale en daardie onooglike, persblou getatoeëerde arms van haar. Sy het in die tuin rondgeloop en kort-kort aan ’n stinkafrikaner geruik. Die man het agter die vrou aangedrentel en elke dan en wan oor die pype van sy matroosbroek gestruikel – sy vrou weet seker nie hoe om hulle korter te maak nie. Maar dis die spul jong mans met die motorfietse … Genade toggie, dit kan nie almal hulle kinders wees nie! Tien of twaalf, sou ek raai.”
“Sewe – hulle lyk net meer omdat hulle soveel lawaai maak. En hulle noem die ou hippies sommer ‘Oulady’ en ‘Outoppie’. Wat die mense in ons kontrei kom soek het en waar hulle die geld vandaan gekry het om dokter Jansen se huis te koop, sal niemand weet nie. Of meen jy dokter Jansen het sy huis aan dié rumoerige spul verhuur?”
“Die Jansens woon al die afgelope twee maande by hulle getroude seun in Nieu-Seeland, Trynie. Hulle huis was in die mark en dis blykbaar oornag verkoop. As ek nie so besig was nie, het ek moontlik meer notisie geneem van die huisagent wat die ou plek verkoop het. Kayla … Trynie, kan een van julle die naam van die agentskap onthou?”
Kayla en Trynie kyk vraend na mekaar en skud hulle koppe.
“Is daar nie munisipale wette teen lawaai nie, tannie?” vra Kayla geïrriteerd. Die dreunende motorfietse pla haar nie soveel nie, maar die blonde man met die taankleurige oë spook by haar. Sy het hom gesien; sy het hom definitief gesien. Toe die mans hulle motorfietse weer ná middagete laat brul het, het sy oor die muur geloer, maar sy het nie weer haar blonde man gewaar nie. Sy weet hy is nie een van die motorfietsbende nie, want hy het jeans en ’n wit T-hemp aangehad, nie ’n leerbroek en -baadjie nie. Is hy een van die ou hippies se seuns, of was hy net ’n kuiergas?
“Dit is mos soos ek sê, nè, liefie?” sê Trynie en pluk Kayla aan die skouer om seker te maak haar vraag word gehoor.
“Ekskuus, ta Trynie?” stamel Kayla, sien Annelize frons en sê verskonend: “Ek is dood van die vaak, tannie. Ek was te gespanne om gisternag te slaap.”
“As jy vannag wil slaap, moet jy na my voorstel luister,