“Hy het, ja, en dis ’n sakie wat ek nog moet ondersoek – moontlik sal Hanco my ’n verduideliking kan gee.
“Wie is Hanco nou?” vra sy. Het Briand nie die vorige dag ook van hom gepraat nie?
“’n Ou vriend met briljante sakevernuf. Moontlik stel ek jou in die toekoms aan hom voor.”
Briand praat van ’n toekoms, besef sy, en ervaar weer ’n gevoel van opwinding wat haar hart vinniger laat klop, voordat die harde werklikheid haar huiwerende droom uitwis. “As Hanco ook in Brasilië sy besigheid bedryf, is die moontlikheid skraal – veral as my vliegkaartjie van eierverkope afhanklik is. Jy ken nie dalk iemand in die advertensiewêreld nie?”
“Nee, my werk is gewoonlik lankal afgehandel teen die tyd dat my kliënte van advertensieagentskappe gebruik maak.” Sy groot hand vou die hand toe waarmee sy aan die leer vashou en sy stem is deurvleg van erns en lag toe hy vervolg: “Dalk oorreed ek jou nog om my persoonlike assistent te word – of hou jy net van prentjies teken?”
“Moenie eens probeer nie, Briand – ek kan my niks verveliger voorstel as om ’n sekretaresse te wees nie. Om in Brasilië te woon, klink so aanloklik soos griep in die somer. As ek nie eens ter wille van my ouers in Brasilië wil gaan woon nie, waarom sal ek daar gaan werk?”
“Ek is ook lief vir ons land, maar ek gaan waar my inkomste die beste is. Ek besit ’n woonstel in São Paulo, maar ek het ’n pragtige strandhuis aan die Ooskus en ’n woonstel hier. Klink my aanbod aanlokliker, mooi Kayla?”
“Nie eens ’n bietjie nie. My ouers besit ’n strandhuis naby Durban en ek betaal nie losies om by tannie Annelize te woon nie,” antwoord sy met ’n tergende glimlaggie, onverklaarbaar verlig om te weet Briand het ’n woonstel in die stad en is oënskynlik nie gretig om hom permanent in Brasilië te vestig nie.
“Dan is sy vrygewig, al wil sy nie vir jou ’n nuwe motor koop nie,” gee hy halfhartig toe en vra met onverwagte erns: “Julle huis is selfs groter as die een hier agter my. Kos die elektrisiteit nie ’n fortuin nie? En wat van die onderhoud van die ou gebou? Julle is net drie mense in die yslike ou plek. Ek sou dink ’n meenthuis sou baie goedkoper wees.”
“Ek weet, maar dis die lekkerte daarvan om ’n slim tannie met ’n doktorsgraad in ekonomie te hê: ek hoef my nie oor haar finansies te kwel nie. Ons maak vanselfsprekend van sonverhitting gebruik en ons het ’n boorgat op ons werf. Sukkel jy om jou water- en kragrekeninge te betaal, jou arme man?”
“Snip! Ek is jammer ek het jou gevra om my sekretaresse te wees, maar aangesien oom Sebastiaan van jou ta Trynie se geklets hou, het hy gesê julle …”
“Nee, Briand, nee,” klink Sebastiaan se stem teregwysend aan die ander kant van die muur.
Kayla leun vorentoe om af te kyk na waar Sebastiaan aan die voet van Briand se leer staan, en sy voel haar asem in haar keel vassteek toe Briand sy arm beskermend om haar slaan.
“Ek sal nie val nie,” sê sy, vies oor die asemrige, effens hees klank van haar stem. Sy begin soos Sunette klink, maan sy haarself, weet ineens wat ta Trynie met ‘sielsgelukkig’ bedoel het, en sê haastig: “Hallo, oom Sebastiaan. Ek is bly oom het ta Trynie se geselskap geniet.”
“Goeiemiddag, Kayla. Dis wat ek aan Briand gesê het: dit was vir my ’n aangename verrassing om ’n dame van ongeveer my leeftyd te ontmoet en so lekker met haar te kan gesels. Dis waarom ek Briand gevra het om julle oor te nooi vir middagkoffie so teen vieruur. Sal jy my versoek oordra aan Trynie, dogter? Ek sou graag persoonlik met haar wou gepraat het, maar …”
“Ek sal so maak, oom Sebastiaan, maar met die motorfietse wat so raas … Of sal oom die manne kan oorreed om hulle motorfietse vir ’n halfuur af te skakel?” vra Kayla twyfelend.
“Ek kan probeer, Kayla, maar sê tog vir Trynie die lawaai is regtig nie erg in ons eetkamer nie. As ek nou net geweet het wie om aan te spreek oor die benarde situasie waarin ek my bevind …” sug Sebastiaan, groet met ’n vriendelike glimlaggie en stap weg.
“Dankie vir die uitnodiging, oom,” sê Kayla effens harder en gaan gedemp voort: “Jy kan my nou los, Briand. Ek hoef nie meer oor te leun om met oom Sebastiaan te praat nie.”
“Is dit die rede waarom jy so styf teen my skouer aangeleun het?” vra hy afgehaal, neem sy arm weg en kyk haar sonder ’n sweem van ’n glimlag in die oë. “Jy weet hoe om ’n man se selfbeeld te verpletter, Kayla. Ek dag jy voel veilig met my gespierde arm om jou.”
“Het jy spiere?” vra sy en lag onnutsig toe hy haar vies aankyk. “Ta Trynie sal verlig wees om oom Sebastiaan se uitnodiging te kry, want sy was bekommerd dat hy niks met haar te doen sal wil hê nie, omdat sy … e … nogal lank is.”
“A … dis waarom oom Sebastiaan haar as ’n uitstaande vrou beskryf het,” korswel hy. “Kom jy definitief saam met ta Trynie koffie drink by oom Sebastiaan?”
“Ek hoop so. Maar nou moet ek draf, want ta Trynie het gesê ons middagete is byna gereed. Dankie dat ek jou gespierde arm kon leen,” terg sy en glip vinnig by die leer af terwyl Briand onthuts maar vergeefs na haar gryp.
Trynie kyk beskuldigend na Kayla wat met ’n waarderende glimlag na die visgereg op haar bord kyk terwyl sy aan die eetkamertafel gaan sit.
“Lekker! Dankie, ta Trynie. Ek haat die vellose, bleek hoenderborsies wat tannie Annelize gaar stoom en afwurg net omdat sy nog die klere wat sy tien jaar gelede gekoop het, wil dra.”
“Die professortjie eet van jongs af omdat sy veronderstel is om te eet, nie omdat sy dit geniet nie. Sy sal nooit vet wees nie – net so min as wat ek of jy sal vet word of kan hoop om Sunette se verleidelike kurwes te hê,” antwoord Trynie. Sy klink byna bewoë en staar droewig voor haar uit. Dan is dit asof sy skielik iets onthou. “Wat gesels jy en Briand so lank? Hy lyk vir my soos ’n vatterige klong, toe ek deur die eetkamervenster kyk om jou vir middagete te roep –”
“Moenie jok nie, ta Trynie!” val Kayla haar in die rede. “Ek wed tannie het die hele tyd voor die eetkamervenster gestaan om te sien wat ek en Briand doen. Tannie weet, hy het op ’n leer gestaan en toe –”
“Ek het gedink hy staan dalk op ’n leer, maar nou weet ek vir seker, dankie, sussie. Lank, nes jy gesê het, en koringblonde hare. Maar dit was te ver om te sien wat die kleur van sy oë is.” Trynie sug bewerig. “Ek het nog altyd ’n sagte plekkie vir ’n man met blou oë gehad,” erken sy hartseer.
“Toe ek jonk was, het ek altyd oor lang, donker mans gedroom,” sê Kayla.
“Toe jy jonk was,” herhaal Trynie haar woorde verdwaas. “Kaylatjie, as ek nie so verdrietig gevoel het nie, het ek nou uitgebars van die lag. Jy ís jonk, my hartlam, en jy gaan nog vir baie jare jonk wees. Die dag as jy die ryp spierwit op jou kop sien lê, weet jy jou jeug lê agter jou.”
“Ek praat van toe ek ’n tiener was, ta Trynie. Ek is bly oom Sebastiaan het blou-blou oë, en nog blyer dat hy ons uitgenooi het vir middagkoffie.” Kayla kyk na Trynie, maar dié staar stip na haar bord kos en reageer nie op haar woorde nie. Sy raak liggies met haar hand aan Trynie se arm en vra besorg: “Wat makeer, tannie? Wil tannie nie by oom Sebastiaan en sy mense gaan koffie drink nie?”
“Koffie? Sebastiaan? Haai, liefietjie … wat praat jy alles?” vra Trynie verslae.
“Ek dra net oom Sebastiaan se uitnodiging oor, ta Trynie. Hy het ons genooi om vanmiddag om vieruur saam met hom hier langsaan koffie te drink. Tannie wil mos gaan?”
“Jy vra nog, sussie! Ek sal my nuwe groen rok …” begin Trynie opgewonde, maar blaas dan soos ’n geprikte ballon af. “Nee, waar is my verstand? Jou tannie Annelize is my werkgeefster en dis my plig om lojaal aan haar te bly. Nee, Kaylatjie, jy kan doen wat jy wil, maar ek durf nie my voete in die hippie-huis sit nie. Die professortjie sal sê ek steek haar in die rug.”
“Maar dis loutere