“Tannie kneus my sensitiewe velletjie!” protesteer Sunette luidkeels. “Los my arm, ta Trynie! Ek het van die werk in die restaurant vergeet, maar ek ry nou dadelik. Kayla kan my later van julle kriminele buurman vertel.”
Trynie bly in die eetkamerdeur staan, luister na Sunette se vinnige voetstappe en die toeklap van die voordeur, en draai dan met ’n ontstoke uitdrukking na Annelize. “Pleks dat jy Sunette se afstandbeheer terugeis sodat sy ons nie dag en nag kan pla nie, maak jy sinlose wette asof jy skielik ’n parlementslid geword het. Wat knaag aan jou siel, professortjie? Vir wat kies jy nou skielik my en Kayla se vriende vir ons?” vra sy omgekrap.
Annelize bly penregop langs die eetkamertafel staan, haar groen oë glimmend. “Trynie,” waarsku sy met ’n arktiese stemtoon, “ek is nie bereid om die situasie te bespreek nie. Ek het ’n opdrag gegee en solank as wat ek jou werkgeefster is, verwag ek dat jy my opdragte sonder teenspraak sal uitvoer.”
Trynie blik na Kayla wat nog roerloos aan die eetkamertafel sit en met ’n uitdrukking van hulpelose onbegrip na haar staar. Trynie draai haar kop sodat net Kayla haar vlugtige glimlaggie kan sien en sak op haar stoel aan die tafel neer. “Ek, professortjie,” sê sy ongesteurd, “het byna vyftig jaar gelede ’n kontrak by ’n prokureur onderteken waarin jou oorle ma in eenvoudige Afrikaans verklaar het dat ek tot aan die einde van my dae ’n blyplekkie in Huis Kanferfoelie sal hê. Is jy bewus van die kontrak, professortjie?”
Annelize slaag daarin om haar gelaat uitdrukkingloos te hou, maar die kille afkeer in haar oë verraai haar ware gevoelens. “Ek is volkome bewus van die kontrak, Trynie, maar ek hoop jy sal ter wille van –” begin sy beheers.
“Ter wille van rus en vrede, professortjie?” val Trynie haar in die rede. “Dis wat ek in gedagte gehad het toe ek ons gawe bure oorgenooi het om vanmiddag om vieruur hier by ons in Huis Kanferfoelie te kom koffie drink. Nou nie die rumoerige motorfietsryers nie, maar die aangename Sebastiaan van Oldenbarneveldt, die twee bejaarde blommekinders Sheilah en Ben, en die gawe jong man Briand Olivier. Ek sal Sheilah en Ben bearbei en hulle oorreed om so spoedig moontlik ander loseerders te kry – loseerders wat ek en Kaylatjie sal kies. As dit nie jou goedkeuring wegdra nie, professortjie, sal ek ons gaste in my eie woonstelletjie langs die kombuis onthaal, want daar is ék baas.”
“Ek is jammer, tannie Annelize, maar tannie se versoek is heeltemal onredelik,” sê Kayla reguit. “Waarom is tannie so gekant teen Briand? Hy is die fietsryer wat ek vanoggend per ongeluk omgery het en –”
“Dis jammer hy het nie in die hospitaal …” val Annelize haar in die rede, lees die skok in Kayla se oë en haal ’n paar maal diep asem. Sy gaan sit op die stoel langs Kayla en sê verskonend: “My poging om jou teen die man te beskerm, laat my dinge sê wat ek nie bedoel nie. Ek is jammer, Kayla. Ek wens die man geen kwaad toe nie, maar ek dring daarop aan dat jy niks verder met Briand Olivier te doen sal hê nie.” Sy neem Kayla se een hand pleitend in hare. “Ek besef my versoek klink onredelik, maar ek verseker jou, kindjie: hy sal jou lewe verwoes.”
“Hoe kan hy, tannie?” van Kayla opstandig. “Briand is nie een van die pa- en ma-hippies se loseerders nie. Hy besit ’n woonstel en kuier net soms by oom Sebastiaan; boonop werk hy meestal in Brasilië, en ons sal mekaar selde of nooit sien. Ek geniet sy geselskap, maar ons het nie ’n smeulende liefdesverhouding nie.”
Annelize huiwer en vra dan nadruklik: “Kayla, het ek jou al ooit in die verlede belet om iets te doen as ek nie ’n goeie rede gehad het nie?”
Trynie lag honend en antwoord doodluiters toe Annelize haar misnoeg aankyk: “’n Duisend maal, professortjie. Hoeveel maal het jy die arme Kayla belet om met Sunette vriende te wees of haar naweke hierheen te nooi? Hoeveel maal het jy jou vriendinne se hooghartige dogtertjies oorgenooi om kamtig nuwe maatjies vir Kaylatjie te wees – almal aanstellerige, onbeskofte klein klitse wat my gehiet en gebied het asof ek hulle persoonlike lyfbediende was? Sunette, professortjie, is ’n onmoontlike entjie mens, maar sy gee om vir Kayla. Of gaan jy haar die huis belet as Kaylatjie weier om aan jou onredelike versoek te voldoen?”
“Ek en Briand kan saam in ta Trynie se woonstel koffie drink, tannie Annelize. Ta Trynie sal ons chaperone wees en sorg dat Briand niks doen om my lewe te verwoes nie,” stel Kayla met oordrewe onderdanigheid voor.
Annelize huiwer, kyk beurtelings na Kayla en Trynie, en sê duidelik onwillig: “Ek glo elke mens het die reg op privaatheid, en om my vriende se privaat lewe te bespreek, gaan teen my grein. Maar aangesien julle nie die erns van die situasie wil insien nie … Kayla, jy was ’n bogkind toe hierdie dinge gebeur het, maar jy, Trynie, sal dit onthou. Professor Leendert Pelser en sy vrou, Elda, is my ouderdom en ons is sedert ons skooldae vriende. Hulle is gelukkig getroud met twee kinders, maar tien, elf jaar gelede …” Sy swyg, haar wange gloeiend van verleentheid.
“Haai, professortjie, het jy ’n skelm verhouding met prof Leendert gehad?” vra Trynie kamma geskok, haar oë vonkelend van onderdrukte lag.
“Soms, Trynie, is jy net so ’n irritasie soos Sunette,” antwoord Annelize bytend. Sy wend haar tot Kayla en vervolg: “Dit was die stomme Elda wat deur een van Leendert se studente …” Annelize bly stil, pers haar lippe hard saam en sê dan hees: “Die jong Briand Olivier het ’n verhouding met Elda Pelser gehad.”
Kayla staar haar oomblikke lank verbysterd aan en protesteer dan heftig: “Maar … tannie Elda is ’n stokou vrou soos tannie!” Sy sien Annelize se ergerlike frons, en sy bloos en vervolg verskonend: “Ek weet tannie is nie stokoud nie, maar elf jaar gelede was Briand net agttien. Dit kan nie waar wees nie!”
“Ek weet net wat Elda my in die strengste vertroue vertel het; ek weet ook dat sy en Leendert destyds byna geskei het, maar gelukkig het sy die dwaasheid van haar verhouding met ’n beginsellose jong pierewaaier betyds ingesien en haar huwelik gered,” vertel Annelize, haar woorde druipend van afkeer.
’n Laggie glip oor Trynie se lippe. Annelize kyk gesteurd na haar. Trynie probeer haastig om haar lag met haar hand te smoor, maar haar skouers begin te ruk en aardige snork- en piepgeluidjies word agter haar hand hoorbaar. “Agge help toggie!” sniklag sy, gooi haar kop agteroor en skaterlag totdat lagtrane oor haar wange loop. Sy dwing haarself met kort kuggies tot bedaring, vee met haar servet oor haar wange en kyk die verontwaardigde Annelize medelydend aan. “Professortjie, ek is dekades ouer as jy, maar met my oë skort daar niks nie. Elda Pelser het bene soos ’n kiewiet en stok-armpies wat by haar maer liggaam pas; en haar gesig… Sy het geen ken nie en ’n lang, spits neus soos ’n voëlsnawel. Ek glo prof Pelser het haar lief oor redes wat net aan hom bekend is, maar as jy dink ek sal glo dat ’n aantreklike knaap soos Briand jare gelede op haar verlief was, onderskat jy my intelligensie.”
“Dis presies hoe ek voel, tannie Annelize,” sê Kayla, oneindig dankbaar en verlig oor Trynie se woorde. “Ek is seker daar was hope studentemeisies wat maar te gretig was om in Briand se arms te val. Hoekom sou hy op … e … op ’n minder mooi, ouerige tannie verlief geraak het?”
“Ek kan nie aan ’n enkele rede dink waarom Elda oor so ’n intieme saak vir my sou gelieg het nie, Kayla,” antwoord Annelize bruusk.
“O, ek kan,” kom dit met sekerheid van Trynie. “Soos jy gesê het, professortjie, julle drietjies was saam-saam op skool, en aangesien ek heelwat ouer as julle is, onthou ek julle vriendskap dalk ’n bietjie beter as jy. Toe julle nog op skool was, het Leendert tydig en ontydig hier kom kuier om navraag oor jou te doen, want jy was ’n mooi skooldogter en jy is vandag ’n mooier vrou. Die arme Elda het graag by jou gekuier, selfs saam met jou gestudeer, net sodat sy met Leendert kon gesels. Foei, Annelize, het jy nooit agtergekom hoe jaloers die stomme Elda daardie jare op jou was nie?”
“Dit gaan nie oor ons kinderdae nie, Trynie. Elf jaar gelede was Elda getroud en die ma van twee kleuters. Sy het nie enige rede gehad om oor haar verhouding met Briand te lieg nie,” antwoord Annelize ergerlik en staan vinnig op.
“Behalwe