“Arme ta Trynie,” sug Sunette simpatiek. “Geen wonder sy kon nooit ’n man kry nie: sy is so lank soos die pilare van ’n Griekse tempel.”
“Jy sê en doen die simpelste goed, Sunette: vergelyk my ta Trynie met ’n pilaar en bied bier aan vir ’n spul wildvreemde mansmense. Is daar nie genoeg mans in jou lewe nie?” vra Kayla en wonder met ’n hinderlike gevoel van jaloesie of Sunette reeds met Briand kennis gemaak het.
“Daar is altyd mans in ’n blondine se lewe, my preutse vriendin,” antwoord Sunette treiterend en betrag Kayla krities. “Ek wens dit was nie waar nie, maar jy is mooier as ek, en nogtans is dit om my dat die manne draai. Hulle vra my gereeld oor jou uit, maar jy is te passieloos, vriendin. Hartstog, Kayla, is die voedsel van die liefde.”
Kayla kreun asof sy dodelik gewond is. “Ek weier om na nog ’n lesing oor jou siening van die liefde te luister, Sunette. Hoeveel mans het jy oorgenooi?”
“Al die motorfietsryers. Daar is sewe van hulle en ek het hulle klaar beloof ek sal saam met hulle uitgaan: een vir elke aand van die week, die naweek ingesluit. Maar sal jy jou ouboet Marnus nou asseblief vertel ek is al tien jaar lank getrou aan hom, my liewe vriendin? Ek stuur gereeld vir hom e-pos en ek sorg dat hy hope foto’s van my kry, maar ek kon nog nie die moed bymekaarskraap om hom van my jare lange lojaliteit aan hom te vertel nie.”
“Sunette, doen jy dit opsetlik, of weet jy nie as jy twak praat nie? Hoe kan jy beweer jy is lojaal aan Marnus as jy elke aand van die week met ’n ander man uitgaan en kort-kort dolverlief is op die een of ander vent?” vra Kayla onthuts.
“Jy weet waarom: dis in my gene, wat ek van my flirt van ’n ma geërf het,” antwoord Sunette bitter. “Dis waarom ek met ’n man soos Marnus moet trou, want hy het jou ouers se lojale gene geërf en ons kinders sal almal na hulle aard. Ek beloof jou, Kayla: as jou broer met my trou, sal ek nooit ooit weer met ’n ander man flankeer nie.”
Trynie se harde, ongelowige gesnuif laat hulle vinnig na die deur toe draai. “Asof ons jou glo! Marnus het te veel gesonde verstand om met ’n klein flerrie soos jy te trou. En gee nou pad voor my aangesig, Sunette. Kayla het gisternag nie ’n oog toegemaak nie, sy moet gaan rus. Toe, weg is jy!” bulder Trynie bo die gedreun van die motorfietsenjins.
“Ek soek eintlik net ’n slaapplekkie totdat ek my pa kan –” begin Sunette met ’n patetiese stemmetjie, maar skarrel blitssnel by die deur uit toe Trynie die broodrooster oplig en dit roekeloos in haar rigting swaai.
Trynie sit die broodrooster neer en neem weer aan die tafel plaas, haar uitdrukking onstuimig. “Klein pestilensie! Ek het gehoop ons sal ná al die jare eindelik van haar ontslae wees, maar sy klou soos kougom in ’n kat se pels. Ja toe, ek weet jy lag agter jou hand, Kaylatjie, maar dit was mý arme kat wat maande lank met bles kolle op sy lyf moes rondloop nadat Sunette hom vol kougom geplak het.”
“Ek en Sunette was net sewe, ta Trynie. Ons het gedink ons help die kat toe ons al die stukkies kougom met ’n skêr afknip,” herinner Kayla haar en vra nuuskierig: “Is tannie bly tannie het oom Sebastiaan eindelik ontmoet?”
Trynie sug beswaard en jaag ’n krummeltjie roosterbrood met haar wysvinger op die tafeldoek rond. “Jy kan maar sê ek is bly, sussie, maar ek was gister blyer toe ek op die leer gestaan het en net in Sebastiaan se blou-blou ogies gekyk het.”
“Maar hy was so gaaf, ta Trynie. Of hou tannie nie van sy stem nie?” vra Kayla.
“Die man het ’n wonderlike mooie stem, my engel, maar … Dit was toe ek opstaan en soos ’n hemelbesem oor hom troon dat al die mooi gedagtes wat in my hart was tot in my groot geel tekkies gesak het. Ek weet hoe lank ek in die ou mates was, maar ek is te bang om my in die nuwe mates te meet, want dalk is ek twee meter. Ag, liewe hemel tog, wat moet die goeie man van my dink?” vra Trynie hartseer.
“Briand het my vertel oom Sebastiaan was ’n geskiedenisonderwyser. Hy is ’n ontwikkelde man, ta Trynie – hy sal nie so simpel wees om hom deur so iets te laat afsit nie,” probeer sy Trynie moed inpraat.
“’n Onderwyser? Ag, sussietjie, jy moes eerder gepraat het. As hy ’n doodgewone ambagsman was, kon ek nog gehoop het. Maar ’n man met ’n geleerdheid soos hy … Gaan slaap, Kaylatjie, jy’s moeg. Ek gaan myself in ’n koma in werk sodat ek nie die energie het om aan Sebastiaan te dink nie!”
Kayla wag totdat die laaste motorfietsenjin net ná eenuur die middag afgeskakel word, klim die leer op om oor die muur te loer, en kyk vas in Briand se goudbruin oë. Sy hand gryp haar aan die skouer vas toe sy outomaties terugdeins.
“Het jou!” terg hy. “Ek wou jou net verras het – nie die oorsaak wees dat jy afval en jou nek breek nie.”
’n Golf van opwinding spoel deur haar toe sy hande haar skouers aanraak en sy slaan haar oë haastig neer, bang dat sy haar onstuimige emosies aan hom sal verraai. “Noudat ek weet julle het ’n leer, sal ek en ta Trynie nie meer op ons leer klim om julle dop te hou nie,” antwoord sy en voel haar hartklop bedaar toe hy sy hande wegneem van haar skouers af.
“Dis die pret van twee lere weerskante van die muur: ons kan heerlik privaat gesels en betyds sien as iemand probeer om ons gesprekke af te luister. Beloof jy om gereeld tydens middagete by my te kom kuier, mooi Kayla?” versoek hy, sy oë laggend in hare.
“Gaan jy nie binnekort terug Brasilië toe nie?” vra sy ewe ongeërg, asof sy planne haar nie werklik raak nie.
“Ek sal jou betyds waarsku en haastig terugkom,” skerts hy en vra nuuskierig: “Maar vertel my eers van ta Trynie: is sy die tannie met die wit hare wat gister oor die muur geloer het?”
“Ja, tant Trynie Geyer, ons huishoudster. Sy is deel van Huis Kanferfoelie en deel van my, amper soos ’n ouma, maar terselfdertyd ’n vertroueling en ’n vriendin. Oom Sebastiaan het haar ontmoet toe hy vroegoggend kom kuier het. Het hy jou vertel van sy kuiertjie?”
“In detail,” glimlag Briand, “want dit was op my aandrang dat hy verhoed het dat die spul manne julle huis binnestorm en ’n bierpartytjie hou. Het julle rêrig bier in die yskas?”
“Nie ’n enkele bottel of blikkie nie. As my tannie se vriende oorkom vir ’n vleisbraai, bestel sy spesiaal bier en gee dan alles weg wat aan die einde van die aand oorbly. Tannie Annelize hou van wyn en ek verkies sjampanje, maar ek kan dit nie bekostig nie.”
“Ek sal onthou wanneer ons saam gaan eet. Maar wat nou van die vriendelike blondekop wat die manne vir ’n biertjie genooi het? Woon sy ook hier?” vra Briand belangstellend en soek met sy oë oor die werf agter Kayla, asof hy hoop om Sunette te gewaar.
Kayla kreun innerlik, weer eens bewus van ’n hinderlike stekie van jaloesie in haar binneste. Geseënd met al die regte rondinge en genoeg skoonheid om ander meisies jaloers te maak, is Sunette vir die meeste mans onweerstaanbaar. Sy weet hoe om hulle te betower met haar sagte, effense hees stem wat sy spesiaal aanwend wanneer sy met mans praat, en haar verleidelike glimlaggies het ’n bekoring wat hulle gevange hou. Sunette kan in ’n wildvreemde man se oë kyk en met soveel opregte bewondering en belangstelling na hom luister dat die arme man glo hy is die belangrikste man in haar lewe en in die heelal. En nou vra Briand haar oor Sunette uit …
Sy is nie verlief nie, herinner sy haarself; sy was nog nooit verlief nie – nie verlief genoeg om jaloers te wees op haar boesemvriendin nie, maak sy haarself wys en glimlag met gedwonge lighartigheid in Briand se oë.
“Sunette Durand is my boesemvriendin vandat ons saam in graad een was, sestien jaar gelede. Sy was in die koshuis, maar omdat sy my beste maat was, het my tannie Annelize toestemming gekry dat sy naweke en sommige vakansies saam met ons kon deurbring. Sy is die kruis in ta Trynie se lewe, want sy vang altyd onmoontlike goed aan – dikwels skreeusnaakse goed.”
Briand skud sy kop, die lig in sy oë nadenkend. “Soos om vreemde mans vir ’n biertjie oor te nooi terwyl sy goed weet hulle het geen bier nie? Nee, ek dink jou boesemvriendin