“Ek dink dis ’n uitstekende plan, ta Trynie. Ons sal net moet wag totdat die mans ophou peuter aan hulle motorfietse en hoop ons gewaar die ou omie weer in die tuin. Wie weet, dalk behoort die huis aan hom. As die hippies en hulle seuns net huurders is, sal hulle na hom móét luister.” Kayla hoop sy sien haar blonde man en nie die ou omie met die blou-blou ogies nie as sy weer oor die muur loer.
“As jy en Trynie ons probleem nie kan oplos nie, bel ek my prokureur. Ek kan nie agter die munisipaliteit aandraf nie, ek het oorgenoeg werk om te doen,” sê Annelize en kom orent. “Ek het hope nasienwerk. Bring asseblief vir my ’n koppie koffie na my studeerkamer toe, Trynie, en ’n ligte aandete teen agtuur vanaand. As die spulletjie nie teen tienuur tot bedaring kom nie, bel ek die polisie.”
“Ek maak so, professortjie,” antwoord Trynie gedienstig, haar hande op haar maag saamgevat, en knipoog stadig vir Kayla toe Annelize die musiekkamer uitstap. “Annelize is so omgekrap, sy kom nie eens agter ek noem haar ‘professortjie’ nie. As ek jy is, liefie, bly ek tjoepstil oor Sunette se planne om hier by ons in te trek en om boonop van jou ’n hoenderboer te maak.” Sy glimlag ongesteurd toe Kayla haar verontwaardig aankyk en haastig die musiekkamer uitstap.
Sunette moenie dink sy gaan elke oggend voor vyf opstaan om eiers af te lewer nie, dink Kayla vies en gaap totdat haar oë traan. Sy blik sydelings na die twee dosyn kartonne met dertig hoendereiers elk wat op die sitplek langs haar opgestapel is en ry onwillekeurig stadiger. Dalk sou dit veiliger gewees het om die eiers in die kattebak van haar ou motortjie te vervoer, maar Sunette het hulle eers ná middernag afgelewer. Tipies van Sunette: gaan dans eers en lewer dan die eiers af.
Sy gewaar ’n trapfietsryer wat haar van agter injaag in haar truspieëltjie, beny hom sy energie, en besef dan hy ry veels te naby aan haar motortjie verby. Sy sien hom terugkyk oor sy skouer na haar, maar die volgende oomblik maak sy fiets kontak met die voorste buffer van haar motor.
Asof in vertraagde aksie kyk sy hoe die fietsryer deur die lug trek, op die enjinkap van ’n geparkeerde motor langs die sypaadjie val en dan agter die motor verdwyn.
“Nee!” krys sy, swaai haar motor voor die geparkeerde motor in en trap die rem weg. Haar motor ruk tot stilstand en die opgestapelde kartonne gly onder die paneelkissie in. Die eiers spat na alle kante.
Sy skakel die enjin af, ruk die motordeur oop en storm om die geparkeerde motor na waar die fietsryer bewegingloos op die sypaadjie lê. Sy sak op haar knieë langs hom neer, haar senuwees in ’n pynknoop van skok en vrees op haar maag saamgebondel, en adem angsbevange: “Asseblief … asseblief, moenie dood wees nie … Asseblief!”
As dit net nie so mistig was nie, as sy net duideliker kon sien, dink sy, vee met haar handrug oor haar oë en besef dat sy huil.
Trane gaan nie die situasie verbeter nie, redeneer sy met haarself. Sy het haar selfoon. Sy sal tannie Annelize bel … Nee, sy moet liewer ’n dokter of ’n ambulans ontbied. As die man net nie dood is nie … Gelukkig dra hy ’n valhelm, maar hy lê so stil … Leef hy nog?
Sy buig oor hom, laat sak haar wang op sy bors en luister of sy sy hartklop kan hoor.
“Wat doen jy?” vra ’n welluidende manstem vlak langs haar.
Sy ruk haar kop op, oortuig dat dit die fietsryer is wat gepraat het, en byt ontsteld op haar onderlip toe sy merk dat sy oë nog toe is.
Sy kyk haastig om haar rond, gewaar geen ander voetgangers nie en vra onseker: “Meneer, het jy met my gepraat?” Sy staar stip na sy bors, sien dit ritmies op en af beweeg en besef met dankbare verligting dat hy asemhaal. “Jy’s nie dood nie! Ek is bly, maar die ongeluk was jou eie skuld. Jy moes nie omgekyk …” Sy trek haar asem stadig in en sê verbysterd: “Maar jy’s dan hy!”
Die fietsryer maak sy oë oop en sê doodluiters: “En jy is sy – die swartkopmeisie wat my oor die muur afgeloer het. Gaan jy vir my ’n nuwe fiets koop?”
2
Kayla wil haar vererg, maar kommer oor die fietsryer se toestand laat haar vra: “Kan ek iemand bel om jou te kom help, meneer? Ek is eintlik baie haastig, want …” Haar oë rek verskrik. “Deksels! Die eiers! Seker almal fyn en flenters!” sê sy oorstelp en probeer opstaan, maar die man sit skielik orent en sy lang vingers sluit om haar pols en hou haar terug.
Sy is oombliklik intens bewus van sy aanraking, want dit vul haar met ’n gevoel van ongekende warmte en geluk wat haar hele liggaam laat gloei. Nee, dis alles haar verbeelding … Sy gaan gereeld uit saam met mans en nie een van hulle het haar ooit hierdie vreemde gevoel van betowering laat ervaar nie. Of dalk moet sy haar oorwerkte brein en gebrek aan slaap blameer, dink sy verward en dwing haarself om nie in die warmte van sy fassinerende oë te kyk nie. “Om liefdeswil, los my! As al die eiers gebreek het, is ek bankrot!”
“Dan raak my gebreekte been jou nie?” vra die man verwytend.
Kayla snak na haar asem en vra ontsteld: “Is jy seker? Moet ek ’n ambulans ontbied? Of sal ek my tannie Annelize vra om ons huisdokter te bel?”
“As jy my kan help om op te staan … Ek dink dis my enkel wat gebreek is. Ek is Briand Olivier. Bly te kenne, juffrou …?” sê-vra hy en kyk haar afwagtend aan.
“Kayla Joubert. Asseblief, meneer, ek –”
“Briand. Ons het mekaar lank genoeg afgeloer om vriende te wees,” val hy haar skertsend in die rede.
Briand se taankleurige oë is nog net so besonders soos gister, en van naderby is hy selfs aantrekliker as wat sy aanvanklik gedink het. Sy verkyk haar aan die wyse waarop sy effense glimlag ’n kuiltjie in sy linkerwang optower en wens sy kan vir die res van die dag met hom gesels, maar sy onthou die rede vir haar vroegoggendrit en vervolg paniekerig: “Ja, ja, goed, ons is vriende, maar ek moet die eiers dringend by meneer Baumann se restaurant gaan aflewer. Wil jy my selfoon leen om een van die motorfietsryers te bel?”
“As ek een van daardie manne dié tyd van die oggend wakker bel, dam hy my met ’n fietsketting by. Nee, daar is geen ander genade nie: jy sal my moet help, mooi Kayla … asseblief,” versoek hy, die sagte vonkeling van ’n glimlag in sy oë.
As Briand glimlag, verander die kleur van sy oë, dink Kayla en wonder verward waarom sy nie meer in beheer is van haar eie gedagtes nie. ’n Halfuur gelede was sy nog ’n entoesiastiese entrepreneur met die voorneme om oor ’n paar jaar ’n miljoenêr te wees, en nou sit sy op ’n sypaadjie, verkyk haar aan ’n man wat sy enkel gebreek het en wonder wat sy met ’n motor vol gebreekte eiers gaan doen. Briand Olivier is nie werklik haar vriend nie en beslis nie deel van haar toekoms nie, herinner sy haarself streng en versoek met ’n neutrale stemtoon: “Kom dan. Sit jou arm om my nek en ek sal jou probeer ophelp.”
“A, dis ’n uitnodiging wat ek nie kan weerstaan nie,” grinnik Briand, sit sy arm om haar skouers, druk met sy regterhand op die sypaadjie langs hom en kom gemaklik orent. “Ek dink ek sal soos ’n paashaas tot by jou motor kan hop,” spot hy en los haar skouers. Hy druk op die enjinkap van die geparkeerde motor langs die straat om vorentoe te beweeg en sak op sy hurke langs sy trapfiets neer. “Blikskottels! Die voorwiel is so gebuig dat ek ’n nuwe een sal moet koop – en ek het net gister hierdie fiets splinternuut gekoop,” sê hy en kom stadig orent, sy hande troetelend op die gebuigde voorwiel.
“Jy staan op albei jou voete, Briand. Wat het van jou gebreekte enkel geword?” vra Kayla verontwaardig.
Hy kyk na haar en sy glimlag tower songoud in sy oë en laat haar hart in haar bors klop met ’n ongekende geluk wat aan pyn grens.
“Dis jy,” antwoord hy met doodse erns. “Ek sal lieg en bedrieg om net ’n klein bietjie aandag te kry van ’n beeldskone meisie met sagte swart krulhare en oë wat een oomblik