Saartjie eindig met die woorde: “En dis al, Meneer. Dis al wat gebeur het. Ek het net gevoel ek moet Meneer vertel. Maar op my woord van eer …”
“Ja, ja,” sê die onderwyser ongeduldig, “maar sê vir my – was die versoeking groot?”
“Hoe bedoel Meneer?”
“Die versoeking om na die vrae te kyk – was dit groot?”
Saartjie byt effens op haar onderlip en dan gooi sy haar kop agteroor. Hierdie vraag is vir haar ’n belediging.
“Nee, Meneer,” sê sy en haar stem is kil. “Dit was glad nie vir my ’n versoeking nie.”
“Ek weet, Saartjie.” Tot haar verbasing glimlag Ou Grompot nou baie vriendelik. “Ek maak maar net ’n grappie.”
Hy lag hartlik, en Saartjie lag maar saam.
“Ek waardeer dit dat jy my kom vertel het, maar dit was nie nodig nie. Jy sien, die vraestel wat jy in jou hande gehad het, was nie vanjaar s’n nie.”
“Nie, Meneer?” vra Saartjie verbaas.
“Nee, dit is een van twee jaar gelede. Die vraestel wat julle môre skryf, is in my studeerkamer by die huis. Dis hoekom ek aan die begin gesê het dis onmoontlik dat jy dit kon gesien het.”
Voor Saartjie hierop kan antwoord, sê Ou Grompot op sy gewone kortaf manier: “Nou toe, gaan speel. Ek wil my tweede koppie tee in vrede geniet,” en gaan by die personeelkamer in.
Saartjie stap glimlaggend na haar vriendinne toe en vertel hulle wat die onderwyser vir haar gesê het.
“Sien jy nou,” sê Lina, “ek het jou mos gesê jy’s verniet bekommerd.”
“Ek weet, maar ek voel baie beter. Kom ons vergeet nou van die hele gedoente.”
Die Drie Muskiete vergeet daarvan, min wetende dat daar iemand anders is wat nie van plan is om dit te vergeet nie – Amanda Gous!
Toe die klok lui en die kinders in die klaskamer kom, daag ’n lid van die leerderraad op en sê meneer Burger het opdrag gegee dat hulle solank moet sit en leer vir môre se natuurwetenskappe-vraestel. Die onderwyser sal eers so oor tien minute hier wees.
Amanda Gous sit op hete kole. Sy kan haar geheim nie langer stilhou nie. Die tyd het nou aangebreek om vir die ander kinders te vertel hoe skynheilig die wonderlike Saartjie Baumann is.
Amanda is opgewonde. Sy wag lankal vir so ’n kans. Sy is seker niemand sal hierna ooit weer met Saartjie wil praat nie. Dit is natuurlik te sê as die hoof haar nie sommer uit die skool skop nie, want hy moet natuurlik ook weet. Nadat sy die klas vertel het, gaan sy vir die hoof ook hiervan sê.
Voor Amanda opstaan, loer sy eers vinnig na Saartjie wat niksvermoedend met Anna sit en gesels. Dan gaan staan Amanda voor die klas, lig haar hand vir stilte en sê dramaties: “Ek het iets baie belangriks om vir julle te vertel.”
Die kinders word stil. Almal kyk belangstellend na Amanda en wonder wat die baie belangrike iets is.
“Ek wonder wat is dit met die geitjie?” fluister Saartjie vir Anna.
“Daar is iemand hier tussen ons wat so gemeen is dat ons hele klas ’n slegte naam gaan kry,” begin Amanda. “Sy is ’n skelm wat nie in ons klas hoort nie – en ook nie in ons skool nie!”
Daar is ’n triomfantelike kyk in Amanda se oë.
“Hierdie meisie het soos ’n dief in die nag by die personeelkamer ingesluip,” gaan sy dramaties voort, “en môre se vraestel vir natuurwetenskappe gesteel. Toe lees sy gou al die vrae en sit die ding weer op die tafel neer.”
Die klas snak na asem. Dit is ’n lae en gemene ding om te doen.
Saartjie is doodsbleek. Sy kyk fronsend na Amanda.
“Ek het besluit om julle te sê wie so gemeen was,” kondig Amanda aan. “Daar sit sy – Saartjie Baumann!”
Daar is ’n hele paar uitroepe van ongeloof. Dit kan nie wees nie. Saartjie sal mos nooit so iets doen nie!
“Ek het haar met my eie oë gesien,” sê Amanda. “Dit help nie sy ontken dit nie.”
“Ons glo jou nie!” skree ’n klomp kinders gelyk.
“So?” Amanda se oë skiet vonke. “Nou hoekom ontken sy dit dan nie? Hoekom sê sy nie iets nie? Sy’s bang, want sy weet sy’s skuldig!”
Almal kyk nou na Saartjie. Sy is wasbleek, maar daar speel ’n effense spotlaggie om haar mondhoeke. Sy staan stadig op en haar stem is byna onhoorbaar sag toe sy sê: “Jy weet, Amanda, ek kry jou jammer. Jy is ’n lae, gemene wurm.”
“Dit help nie jy skel my uit en noem my name nie!” sê Amanda skril vir Saartjie. “Ek het jou gesien en ek gaan die hoof ook daarvan vertel, want dis my plig. Ek hoop hy skop jou uit die skool!”
Saartjie glimlag nog steeds, al is haar hand in ’n vuis gebal. Sy draai na die klas en vra: “Glo julle ek het gedoen waarvan sy my beskuldig?”
“Nee!” sê almal dadelik.
“Ek het haar met my eie oë gesien!” skree Amanda.
“Laat ek julle sê wat gebeur het!” Saartjie begin kalm vir die klas vertel hoe sy die vraestel terug op die tafel gesit het sonder om na die vrae te kyk.
“Hoe weet ons jy praat die waarheid?” snou Amanda haar toe.
“Want my naam is Saartjie Baumann en nie Amanda Gous nie!”
Amanda is effens uit die veld geslaan en Lina skree: “Hoe weet jy dit alles? As jy vir Saartjie gesien het, hoe weet jy dit was die vraestel vir natuurwetenskappe?”
Almal skree nou sy moet sê hoe sy dit weet.
Amanda vertel hoe sy in die stoorkamer gewerk en toe vir Saartjie met die papiere in haar hand gesien het, en hoe sy ná Saartjie die goed neergesit het deur die venster geloer het en duidelik die opskrif gesien het wat sê dit is die natuurwetenskappe-vraestel vir graad nege.
“En toe het jy jou neus seker plat teen die ruit gedruk om te sien wat die vrae is!” sê Lina smalend.
“Ek het nie!” verdedig Amanda haarself. “Ek was geskok dat een van die mense in my klas so iets kon doen.”
“Jy hoef nie so geskok te gewees het nie,” sê Saartjie koel. “Ek en jy was nog nooit vriende nie en ons sal ook seker nooit wees nie.”
Skielik gaan die deur oop en meneer Burger kom in.
“Wat gaan hier aan?” vra hy en streel sy bokbaardjie met sy vingerpunte.
Voor iemand kan antwoord, sê Amanda gou haar sê: “Meneer, Saartjie het die vraestel wat ons môre skryf, gesien!”
“Dis ’n ernstige aantyging, Amanda,” sê die onderwyser.
“Ek weet, Meneer, maar ek het haar gesien. Ek het haar uitgevang!” Amanda begin haar hele storie weer van voor af vertel.
“Jy weet, Amanda,” sê Ou Grompot, “ek sal Saartjie nie kwalik neem as sy jou nooit vergewe vir hierdie kwaadstokery teen haar nie.”
Amanda is heeltemal uit die veld geslaan. “Maar Meneer …”
“Bly stil!”
Amanda is tjoepstil. Sy voel vreeslik gegrief. Niemand wil haar glo nie, selfs nie eens die onderwyser nie.
“Saartjie het my pouse kom spreek,” sê Ou Grompot vir die klas, “en my vertel wat gebeur het. Ek het haar verseker sy hoef glad nie bekommerd te wees nie. Ek glo haar dat sy die papiere net opgetel het en glad nie na die vrae gekyk het nie. Maar al het sy ook daarna gekyk, sou dit nie saak gemaak het nie, want dit is ’n ou vraestel en nie die een wat julle