Saartjie besluit om haar boetie liewer nie nou oor die vingers te tik oor sy taalgebruik nie – hy is al klaar ontsteld genoeg. Apie gebruik die woord “kos” baie. Maar vir hom beteken dit nie “eetgoed” nie, dit beteken “omdat”. Apie vertaal die Engelse woord “because” met “kos why” in Afrikaans – en hy het dit verder tot “kos” verkort. Saartjie weet nie van enigiemand anders in die wêreld wat dit doen nie en kry baie keer nogal lag vir haar boetie wat so sy eie woorde opmaak.
“Soos jy weet,” gaan Apie voort, onbewus van hoe snaaks hy ’n storie vertel, “ek het nie ’n bang haar op my kop nie. Maar hierdie onbeskofte ou is ouer en baie groter en hy lyk so sterk soos ’n leeu. Toe besluit ek om hom nie te tekkel nie, kos dit kan miskien gevaarlik wees. So, toe vra ek hom mooi en baie vriendelik of hy miskien dink hy is snaaks. En toe vra hy hoekom, en toe sê ek omdat hy my sommer so oor niks uit die pad uit stamp. En weet jy wat doen hy toe?”
Saartjie skud haar kop. “Nee, wat?”
“Hy stamp my weer dat ek sommer so trek oor die grond!” Apie maak verontwaardig sisgeluide deur die opening voor in sy mond.
“En voor ek nog kon opstaan,” gaan hy vinnig voort, “om hom te gryp – groot ofte nie – pluk hy my toe aan my hemp op en skud my dat my tande op mekaar klap en my pet skoon van my kop af val. Hy het my so rondgeruk dat ek niks kon doen nie – heeltemal niks nie.”
Saartjie byt effens op haar onderlip en vee die krul op haar voorkop met die rugkant van haar hand weg. Sy is vies en haar oë skiet vonke. Sy wonder wie hierdie vent kan wees.
“En toe?” vra sy kil vir Apie.
“Toe pluk hy my met sy twee groot kloue aan my hare rond dat ek eintlik hik en sê as hy ooit weer by my verbystap, moet ek op aandag gaan staan, my pet hoog in die lug oplig en hom ordentlik groet. My kop was so seer van die rondrukkery aan my hare dat ek sommer net daar belowe het ek sal dit doen. Toe druk hy sy vinger onder my neus in en sê ek moet onthou hy trek my velle van my lyf af as ek nie my pet lig as ek hom sien nie. En toe loop hy en sê oor sy skouer hy’s Louis de Jager van Kaapstad en hy gaan vir Lynnekom se kinders maniere leer.”
Apie se storie is klaar. Hy sug mismoedig en staar hartseer voor hom op die vloer.
“Die lewe gaan moeilik wees met so ’n … so ’n dinges hier in Lynnekom.”
“Jy bedoel so ’n boelie.”
Apie knik sy kop. Dit is wat hy bedoel. Hy haat net die woord “boelie”, want dit laat hom so klein en simpel voel.
Saartjie se vuiste is gebal. Sy is woedend. Hoe durf die kastig wonderlike Louis de Jager haar boetie so afknou? Hy gaan boet hiervoor!
“Toemaar, Apie,” troos sy, “ons sal sien wat ons sal sien.”
Saartjie weet nog nie wat hulle sal sien nie, maar sy sal wel aan ’n plan dink. Die boelie van Kaapstad sal betaal vir wat hy aan Apie gedoen het en ook vir wat hy van Lynnekom se kinders gesê het. Boelies word nie hier toegelaat nie. Hy gaan nog bitter spyt wees – sy wat Saartjie Baumann is, gaan daarvoor sorg!
“Jy sê hy is sterk?” vra Saartjie.
“So sterk soos ’n leeu,” sê Apie weer ernstig.
Saartjie probeer dink. Sy self kan natuurlik niks doen nie. Sy kan darem nie teen ’n ou wat so sterk soos ’n leeu is, gaan staan en baklei nie! Meisies – of jong dames – baklei mos nie. Dit is ’n seun se werk.
Nou dink Saartjie aan die seuns hier in Lynnekom. Sy dink aan ouens wat sterk is en goed kan baklei. Haar gedagtes kom elke keer weer terug na een persoon toe – Galpil.
Galpil – sy regte naam is Lodewyk le Fras de Waal – woon ook al jare lank in Lynnekom. Hy was ’n jaar of wat gelede vir ’n paar dae Saartjie se kêrel. Hul verhouding het tot ’n einde gekom toe Saartjie hom nie sover kon kry om op te hou om ’n ieder en ’n elk as “ou perd” of “pêrre” aan te spreek nie. Albei was eintlik baie verlig toe die skielike romanse net so ’n skielike dood sterf.
Galpil se twee boesemvriende is Gert Bakker en Piet Heyns. Hierdie drie is altyd saam en hulle was al die jare hier in Lynnekom se laerskool. Hulle is nou ook saam met Saartjie, Anna en Lina in Johannesburg se bekende Hoërskool Saamwerk.
Saartjie glimlag terwyl sy aan Galpil dink. Sy weet nie veel van baklei af nie, maar hy is mos veronderstel om goed daarmee te wees – en hy is boonop nog sterk ook.
En wie sê in elk geval daar gaan ooit ’n bakleiery wees, dink sy by haarself. ’n Boelie is mos altyd ’n papbroek. As Galpil dreig om Louis bloedneus te slaan sal die Kapenaar sommer net so ophou met sy geboeliery.
Ja-nee, Galpil moet uitvind wat gebeur het. Die hele Lynnekom se eer is op die spel. Miskien sal dit nie eens nodig wees dat sy Galpil vertel nie, dink Saartjie. Lynnekom is ’n klein plekkie en hy en Louis de Jager sal mekaar mos die een of ander tyd raakloop – en dan sal hulle tien teen een vassit. Galpil hou niks van boelies nie.
“Toemaar, Apie,” troos sy weer, “iets sal gebeur en die boelie sal op sy plek gesit word. Moenie jou verder aan hom steur nie en moenie jou pet lig as jy hom weer sien nie. Wie dink hy miskien is hy?!”
Apie dink hieroor na en besluit dit is nie goeie raad wat Saartjie nou vir hom gee nie.
“Onthou net, die ou is so sterk soos ’n leeu en ek wil nie hê hy moet my velle van my lyf af trek nie!”
Dit is duidelik dat Apie baie groot geskrik het. Sy moed is skoon gebreek.
Saartjie wens sy kan die boelie sien. Sy wil baie graag met hom praat. Sy is nie bang vir hom nie.
“Ek sal hom nog ontmoet,” sê sy. “Hy is glo hier by sy pa en ma vir die vakansie. Vergeet nou van die storie, Apie,” sê sy en staan op. “Ek is baie besig met die eksamen, maar sodra dit verby is, sal die dag van afrekening kom. Dan sal ons vir Louis de Jager ’n les leer.”
Saartjie gaan terug na haar kamer toe en sit met haar handboek vir natuurwetenskappe voor haar. Sy kon al vóór sy van die voorval met Apie gehoor het nie lekker konsentreer nie, maar nou kan sy glad nie meer haar aandag by haar skoolwerk bepaal nie. Sy dink die hele tyd aan Louis de Jager. Dat daar sulke boelies op aarde kan wees – en boonop hier in Lynnekom!
Uiteindelik besluit Saartjie sy sit net en tyd mors. Sy sal gou na Anna toe gaan en vir haar vertel wat gebeur het, dan kan hulle twee na Lina toe gaan. Lina sal Boyle se Wet vir my verduidelik, dink Saartjie om haar gewete te sus. Lina kry mos altyd die hoogste punte in natuurwetenskappe.
Saartjie het ná skool ’n gemaklike toppie en kniebroek aangetrek om lekker te kan leer. Sy sit nou gou ’n bofbalpet skeef op haar kop en is vinnig by die huis uit.
Voor die Baumanns se huis is daar groot betonblokke op die sypaadjie. Toe die plaveisel vier jaar gelede daar gelê is, het Saartjie besluit sy gaan nooit daaroor loop nie, maar altyd van die een na die ander spring sonder om aan die gleuwe tussenin te raak. As sy aan ’n gleuf raak, moet sy van voor af begin. Nugter alleen weet hoekom sy so besluit het, maar sy doen dit sedertdien nog altyd.
Saartjie is deesdae vies as sy moet begin spring. Sy is darem al veertien en sy weet dit is ’n belaglike gewoonte, maar sy kan nie daarmee ophou nie. Sy is doodseker as sy die dag nie oor die blokke spring nie, sal daar iets vreesliks met haar gebeur.
Saartjie is nou by die hekkie. Sy druk die pet stywer op haar kop en begin spring. Ná al die jare van oefening spring sy vinnig en sekuur van die een blok na die ander. Sy hou ver van die gleuwe af.
Sy kom sonder om aan een gleuf te raak aan die ander kant van die plaveisel en hardloop by Anna se huis in.
Saartjie gaan na haar vriendin se kamer toe. Anna sit en leer sosiale wetenskappe.
“Haai,” groet Saartjie.
“Haai jouself,” groet Anna op die tipies Lynnekomse manier terug