“Nee, hoekom?” vra hy agterdogtig. Hy wonder hoekom Saartjie so liefies vir hom glimlag.
Saartjie vertel breedvoerig hoe Louis vir Apie en Bennie geboelie het en hoe hy haar en al Lynnekom se kinders beledig het.
Die drie seuns luister aandagtig. Galpil skuif kort-kort rond asof hy nie gemaklik sit nie.
Toe Saartjie klaar vertel het, sê Piet: “Dis nie net Apie en Bennie wat deurgeloop het nie. Daar is nog ’n hele klomp ander laerskooloutjies ook. Hy het hulle bygedam en aangehou tot hulle belowe het hulle sal altyd hul pette lig as hulle hom sien.”
Gert het ook gehoor van die De Jager-vent wat hier in Lynnekom is. Galpil vertel nou dat hy ook stories oor die boelie gehoor het, maar voeg vinnig by: “Mens kan natuurlik nie alles glo nie.”
“Ja, maar ek praat nie van stories nie,” sê Saartjie beslis. “Ek het gesien hoe Apie gehuil het. En ek het julle mos vertel hoe ongeskik hy met my was. En hy het ons een en almal beledig.”
Saartjie draai na Galpil en sê: “Ons moet iets aan die saak doen. Dink jy nie ook so nie?”
Almal se oë is nou op Galpil. Hy besef dit is ’n belangrike vraag hierdie. Hy frons om te wys hy dink ernstig daaroor na.
“Ja, ek stem saam,” sê hy en knik plegtig sy kop. “Ons moet iets aan die saak doen – die vraag is net wát?”
Die Drie Muskiete kyk vinnig na mekaar. Dan voer Saartjie haar aanval verder en sê: “Jy is mos sterk, Galpil.”
“Huh?”
“Ek sê jy is mos sterk.”
Galpil wil eers vra wat die feit dat hy sterk is met die hele saak te doen het, maar dan bedink hy hom. Dit sal ’n onnosel vraag wees. Hy weet mos wat Saartjie wil hê hy moet doen. Hy weet hoekom sy vra of hy sterk is.
Daarom vra hy liewer ’n ander belangrike vraag: “Hoe lyk die perd? Ek bedoel nie of hy soos ’n filmster lyk of so iets nie. Ek bedoel, is hy groot en sterk? En nog iets, weet een van julle of hy miskien ’n bokser of ’n ding is?”
Almal skud hul koppe. Niemand weet meer van die Kapenaar af as dat hy ’n boelie is nie.
Saartjie is die enigste een van hulle wat Louis al gesien het, so sy moet hierdie inligting verstrek.
“Ek dink nie hy is te groot nie,” sê sy peinsend vir Galpil, “en ek weet natuurlik nie of hy sterk is nie. Hy is miskien net so effens groter as jy.”
Hiermee moet Galpil maar tevrede wees. Toe hy te lank stil sit sonder om iets te sê, vra Saartjie: “So jy stem saam ons moet iets doen om die boelie op sy plek te sit?”
Galpil knik net sy kop. Hy stem saam, maar soos wat dinge nou ontwikkel, lyk dit vir hom of hy die een gaan wees wat dit moet doen.
“Ek is bly jy voel net soos ons, Galpil,” sê Saartjie, “want jy is mos sterk en jy kan goed baklei. Jy kan daai boelie ’n les leer wat hy nooit sal vergeet nie.”
Almal verseker Galpil hy sal Louis de Jager van Kaapstad deeglik op sy plek kan sit.
“Jy moet hom net nie heeltemal disnis slaan nie,” sê Lina om Galpil nog verder heuning om die mond te smeer.
Galpil verseker haar hy sal dit nie doen nie, maar al is hy gevlei dat hulle so baie van sy krag dink, voel hy nie gelukkig oor die saak nie. Hy het nog nie eens gesê hy sal teen Louis de Jager baklei nie en nou aanvaar almal sommer net hy sal dit doen. En die ergste van alles is dat hy nie nou kan kop uittrek nie, want dan sal almal sê hy is bang.
“Luister mooi, Galpil,” sê Saartjie, “dan vertel ek vir jou my plan.”
Galpil luister en Saartjie vertel. Dit is vir hom baie duidelik dat sy alles haarfyn uitgewerk het vóór sy hierheen gekom het. Galpil besef ook nou sy en haar vriendinne het met ’n doel hier uitgeslaan en nie, soos sy gesê het, net om ’n bietjie te kom asemskep nie.
Saartjie verduidelik dat sy feitlik seker is Louis sal so vieruur se kant in die hoofstraat wees. Hy sal dan seker weer pik op al die seuns wat nie hul pette vir hom wil lig nie. Saartjie stel voor dat Galpil verby Louis moet loop sonder om aan sy pet te raak. Dan sal Louis hom natuurlik invlieg en hulle sal begin rusie maak “en dan sit jy hom goed op sy plek.” Sy glimlag vriendelik vir Galpil toe sy dit sê.
Galpil steur hom egter nie aan die glimlag nie. Hy is bekommerd en mompel fronsend: “Ek het nie ’n pet nie.”
Maar hierdie beswaar help hom net mooi niks nie. Daar is mos baie pette hier in Lynnekom – sommer hier onder die koelteboom ook! Gert en Piet is albei meer as bereid om hulle s’n vir hom te leen.
“Dankie,” brom Galpil net en kyk hulle vies aan. Hulle bewys hom glad nie ’n guns nie.
Galpil verstaan heeltemal wat hy moet doen. Hy moet net rustig in die hoofstraat rondstap en nie sy vriend se pet lig as hy verby die Kapenaar loop nie. Dan moet hy maar wag en kyk wat Louis volgende doen.
Die Lynnekommer hoop van harte die Kaapse ou gaan hom nie vir hom vervies nie, want dan sal daar mos nie ’n bakleiery wees nie. Hy kan die vreemde ou darem nie bydam as die vent niks aan hom gedoen het nie.
Galpil besluit in die stilligheid hy gaan ’n wrede en woeste gesig trek wanneer hy verby Louis stap sodat die boelie so groot skrik dat hy sommer heeltemal van die pet vergeet.
Alles is afgespreek. Galpil sal teen vieruur se kant met Gert of Piet se pet op sy kop in die hoofstraat afstap en dan sal hulle maar moet sien wat verder gebeur.
“Julle moet my nou verskoon,” mompel Galpil en staan op. “Ek gaan oefen.”
“Wat gaan jy oefen?” vra Saartjie verbaas.
“Met gewigte en goed sodat ek vanmiddag sterk kan wees,” antwoord Galpil.
“Dis nou te laat daarvoor,” sê Gert. “Jy sal jou net moeg maak. Jy moet liewer rus.”
Galpil sug swaar. Dan moet hulle hom verskoon dat hy tog maar gaan rus.
Saartjie, Anna en Lina is bekommerd toe hulle daar wegstap. Galpil is nou wel sterk, maar hy is nie naastenby so selfversekerd soos Louis de Jager nie.
“Daar is niks wat ons nou daaraan kan doen nie,” sê Saartjie en praat namens haar twee vriendinne toe sy byvoeg: “Ons moet maar net hoop vir die beste.”
Die nuus dat daar so teen vieruur “iets” in die hoofstraat gaan gebeur, versprei soos ’n veldbrand onder Lynnekom se kinders. Almal weet die “iets” het iets met die boelie van Kaapstad te doen. Apie het vir Bennie daarvan vertel en hulle het die nuus vinnig versprei.
Halfvier is daar al baie kinders in die hoofstraat en teen tien voor vier lyk dit of al wat ’n kind in Lynnekom is daar op en af stap.
Die Drie Muskiete staan by die poskantoor se een hoek en Galpil, Gert en Piet staan by die ander een. Niemand kan in die hoofstraat afstap sonder om by die poskantoor verby te gaan nie.
Die kinders, wat oral in groepies ronddrentel, hou Galpil se hoek fyn dop. Hulle weet die “iets” gaan van daardie kant af kom.
Galpil se geleende pet is te klein vir hom en sit hoog op sy kop, maar dit is mos nie daar om die son af te keer nie. Dit is vir ’n ander doel en daarvoor is die pet perfek.
Ten spyte van die feit dat hy uitgerus is, is Galpil skrikkerig. Hy gaap groot gape, maar dis nie van vaak nie – eerder omdat hy verbouereerd is.
Soos die tyd verbygaan, kry Galpil egter meer selfvertroue en is hy nie meer so erg senuweeagtig nie. Dit lyk mos amper of die kêrel van die Kaap nie gaan opdaag nie.
Toe daar vieruur nog steeds nie ’n teken van Louis de Jager is nie, word Galpil baie spraaksaam. Hy vertel nou vir sy vriende en ander kinders wat binne hoorafstand ronddrentel hy is baie jammer die “perd” van die Kaap het nie opgedaag