“Jy’s te bang!” skree Saartjie.
“Nonsens, man! Meisies baklei mos nie – nie as hulle maniere het nie.”
“Dink jy miskien jý het maniere, jou boef?!”
“Bring enigeen van Lynnekom se ouens,” sê Louis terwyl hy nog ’n treë terug gee. “Bring hulle. Ek skrik nie vir een van hulle nie. Ek sal dat hulle almal hul pette vir my lig! Ek sal hulle dik tik – met my een hand agter my rug!”
“Maar jy’s bang vir my, nè?”
“Ek het jou gesê – ek baklei nie met meisies nie.”
“Maar jy weet hoe om hulle te beledig!”
“Ek weier om verder met ’n geitjie soos jy te praat,” sê hy uit die hoogte, maar gee darem vinnig nog ’n treë agteruit.
Saartjie dink vinnig. Sy moet Galpil kry om hierdie vermetele vent goed op sy plek te sit.
“Sorg dat jy vanmiddag vieruur in die hoofstraat is,” sê sy. “Dan gaan jy ’n ou ontmoet wat maerder en jonger as jy is, maar nie sy pet vir jou sal lig nie!”
“Hy sal!”
“Ek sê jou, hy sal nie!”
“Ek sal hom dit máák doen!”
“Jy sal dit nie regkry nie – so wê!” Saartjie steek haar tong lank vir hom uit.
Louis dink ’n oomblik na. Sy het gesê die outjie is jonger en maerder as hy. Soos ’n regte boelie voel hy dat hy die ou sommer maklik sal kan vasvat.
“Ek sal vieruur in die hoofstraat wees,” sê hy smalend. “Sê vir daardie outjie om te kom. As hy nie sy pet vir my lig nie, sal ek vir hom maniere leer. En jy, poplap, sê vir daai boetie van jou hy moet uit my pad bly. Ek slag hom lewendig af as ek hom in die hande kry.”
Louis swaai om en stap weg. Toe hy ’n goeie entjie weg is – buite trefafstand van Saartjie se boeksak – draai hy om en skree: “En jy moet ook uit my pad bly. Volgende keer vergeet ek dalk jy’s ’n meisie en gee jou ’n paar harde klappe.”
“Toemaar, jou lafaard,” skree Saartjie hard terug, “vanmiddag sal jy ’n ding sien wat jy nie wil sien nie!”
“Kaa-kaa-kaa!” lag die boelie uit volle bors en stap grootmeneer met die straat af.
In die huis vertel Apie vir Saartjie hoe hy vir Louis weggehardloop het.
“Daai ou is miskien so sterk soos ’n leeu,” sê haar boetie, “maar hy kan nie so vinnig soos ek hardloop nie.” Dan voeg hy ernstig by: “Ek het nog nooit in my lewe so vinnig gehardloop nie – seker oor ek so bang was.”
“Toemaar, van vanmiddag af sal jy nie meer vir hom bang hoef te wees nie,” verseker Saartjie hom.
“Hoekom nie?” wil Apie weet.
“Ek kan jou nie nou sê nie, maar wees so vieruur se kant in die hoofstraat.”
Saartjie wil nie meer as dit sê nie, want sy weet mos nog nie of Galpil bereid gaan wees om Louis te takel nie.
Apie besluit om die middag in die hoofstraat te wees, maar hy gaan ligloop. Hy wil nie hê die boef van Kaapstad moet hom in die hande kry nie. Netnou kom hy wat arme Apie is dan sonder sy vel hier by die huis aan!
Nog nie een van die kleiner seuns wat deur Louis geboelie is, het by hul ouers gaan kla nie. Lynnekom se kinders dra nie graag stories aan nie. Hulle probeer altyd eers self ’n oplossing vir hul probleme kry.
Ná ete gaan Saartjie gou na Anna se huis toe. Haar vriendinne moet haar help om Galpil te oorreed om Louis vieruur aan te durf. Saartjie wonder net of Galpil sterk genoeg is om vir Louis ’n loesing te gee en hom ’n les te leer. Die Kapenaar lyk na ’n sterk ou – en miskien weet hy ook nog iets van boks af. Hoekom anders is hy dan so vol van homself?
Wanneer Saartjie by Anna kom, is Lina gelukkig reeds daar. Die Drie Muskiete sit en gesels nou in Anna se kamer. Anna en Lina is baie verontwaardig toe sy hulle van haar onderonsie met Louis vertel en is heeltemal bereid om saam met Saartjie na Galpil toe te gaan.
“Maar sal hy dit doen?” vra Anna huiwerig. “Sal Galpil bereid wees om die vent op te dons?”
Dit is natuurlik ’n belangrike vraag hierdie. Louis het mos nie met Galpil skoorgesoek nie.
“Maar soos ek vir Galpil ken,” sê Saartjie, “sal hy weier om sy pet vir die vent te lig – en dan gaan die poppe dans!”
Saartjie se oë vonkel eintlik van genot by hierdie gedagte.
“Jy’s darem ’n barbaar,” sê Anna laggend vir haar. “Dit lyk amper of jy daarna uitsien dat daai twee moet baklei.”
“Ek hou nie van ’n bakleiery nie,” sê Saartjie ewe vroom, “maar as dit moet, dan moet dit. Daai boelie moet ’n les geleer word. Hy moet ophou om my en my boetie en al Lynnekom se kinders so te beledig.”
Al sal hulle dit nie erken nie, sien Anna en Lina ook nogal uit na die geveg. Hulle hoop net Galpil trek nie kleinkoppie nie.
Die drie meisies besluit om vir hom alles te vertel – wat presies gebeur het en wat presies Louis gesê het. Hulle is seker Galpil sal net so vies soos hulle wees en saamstem dat daar definitief iets aan die saak gedoen moet word.
“En dan sal ek hom oortuig,” sê Saartjie selfvoldaan, “om Louis ordentlik op sy plek te sit.”
Die meisies behoort eintlik natuurwetenskappe vir môre se eksamen te leer, maar hulle probeer mekaar daarmee troos dat hulle nou al suf is en ’n bietjie vars lug moet skep. Ná vieruur, wanneer Louis de Jager die pak slae van sy lewe gekry het en so sag soos ’n lammetjie is, sal daar mos nog oorgenoeg tyd wees om te leer.
In die tuin by sy huis sit Galpil onder ’n boom en mondfluitjie speel. Sy twee vriende, Gert en Piet, sit op ’n bankie by hom.
Toe die Drie Muskiete daar aankom, gaan sit Gert en Piet op die gras by Galpil sodat die meisies hulle op die bankie gemaklik kan maak.
Galpil hou op speel en vra: “Hoekom leer julle nie?”
“Ons het kom asemskep,” sê Saartjie, “en toe ons julle hier in die koelte sien sit, het ons gedink dit sal lekker wees om ’n bietjie te gesels.”
“O,” brom Galpil, maar dan onthou hy skielik wat ’n gasheer se pligte is en sê vriendelik: “Maak julle tuis.”
Die meisies kan hulle nie juis tuiser maak as wat hulle alreeds is nie, maar hulle skuif nogtans effens op die bankie rond en glimlag soos dit ordentlike gaste betaam.
Galpil speel ’n paar opgewekte deuntjies en die meisies begin saamsing. Ná ’n ruk sê Galpil: “Ek’s nou moeg. Wil een van julle pêrre speel?”
Sy aanbod word beleefd van die hand gewys. Nie een van die “pêrre” is nou lus om te speel nie.
Anna en Lina kyk vinnig na Saartjie. Sy moet begin praat. Saartjie kyk na Galpil. Noudat sy vir Louis de Jager gesien het, lyk haar skoolmaat glad nie so groot en sterk gebou soos wat sy altyd gedink het nie. Maar hulle moet maar vir die beste hoop.
“Het jy vanoggend my briefie gekry, Galpil?” begin Saartjie.
“Ja, en ek het jou mos geantwoord. Jy’t gevra of ek sterk is en ek het ja gesê.”
“Maar is jy regtig sterk?”
“Natuurlik.” Galpil stoot sy bors effens uit. “Vra maar vir dié twee pêrre. Ek kan hulle voos foeter met my een hand agter my rug.”
Die twee “pêrre” knik bevestigend. Wie is hulle nou om te stry?
Saartjie dink daaraan dat Louis ook iets genoem het van sy een hand agter sy rug – hy het gesê hy sal al Lynnekom se ouens dik tik met sy een