Alie knip net ’n slag haar oë en sonder om na Santa te kyk, stap sy aan en gaan staan by die pilaar waar Minnie gewys het. Voordat sy goed kan rondkyk, lui die klok en almal val doodstil in die rye in. Toe stap hulle in, en Alie probeer benoud onthou hoe die pad oor die stoep en deur die een gang en oor die ander stoep en deur nog ’n gang na die klaskamer loop, sodat sy weer daar kan uitkom, maar sy laat maar staan en stap aan agter die meisie voor haar. In die klaskamer gaan sy by die naaste bank staan en sit haar koffertjie neer. Almal staan totdat die juffrou inkom en op Engels sê hulle kan maar sit. Nou gaan hulle saal toe, sê die juffrou, en dan moet almal weer hierheen terugkom. Alie voel hoe die vaal kasteroliekol weer op haar maag kom sit en al hoe groter word. Toe moet hulle weer staan en saal toe stap. In ’n ander lang gang af stap hulle en van alle kante af kom nog meisies in rye aangestap.
Toe hulle naby die groot saaldeur kom, hoor Alie die vrolike musiek wat al hoe harder word, en toe blom die hele groot saal voor haar oop, so mooi soos ’n storieboekprentjie met die rye, rye meisies in die donkerblou en wit kleure en die strepiesgordels, en voor die klavier sit Minnie en sy knipoog vir Alie toe sy verbykom. Haar lang vingers spring oor die klawers soos die nuwe lammers in die vleiveld, en die hele saal word lig en vrolik daarvan. Alie voel hoe die vaal kasteroliekol kleiner word en heeltemal wegraak. Toe sy indraai en in een van die voorste rye tussen die ander meisies gaan staan, raak sy saggies aan die gordel met die blou en geel strepe wat om haar middel geknoop is. Nou is dit regtig haar gordel en sy is een van die baie meisies van die groot skool, net soos Minnie en Hanna en Leonora. Sy kyk vorentoe hoe die juffrouens en juffrou Naudé by die trappies opstap en op die verhoog gaan sit. In haar keel voel sy ’n ligte krieweltjie en sy lig haar kop op soos ’n ou plaasperd wat by ’n nuwe weikamp se hek eers die lug snuif voordat hy indraf en begin wei.
’n Middagwandeling
DIE SKOOLKLOK lui hard en vrolik buite, net soos ’n kind wat bly is oor iets en sommerso oopmond lag, nie so dikstem-dikstem soos dit heeldag lank kort-kort gelui het nie. Almal klap hul boeke toe en skuif rond. Dis die end van die laaste klas en die dag is om. Alie lig haar nuwe Geskiedenisboek so effentjies voor haar gesig op voordat sy dit in haar koffertjie pak, want dit ruik so lekker na nuwe papier en swart ink.
“Tyd om huis toe te gaan, meisies. Goeiemiddag,” sê juffrou Wagner op Engels, want haar Geskiedenisles was die laaste les van die dag. Almal sê goeiemiddag, sommerso een hier en een daar, en toe tel Alie haar koffertjie op en stap agter die ander meisies uit in die gang. Die koffertjie is vol nuwe boeke en nie so leeg soos vanoggend nie. Haar kop voel net so vol, maar deurmekaar vol, soos Rivierplaas se rondawel waar alles staan as hulle die dag die kombuis uitwit. Die hele dag was soos ’n lang les in Engelse diktee en grammatika, alles Engels, tot haar klasmaats ook. Die meisie links van haar het ’n halfmaanneusie net soos ou Yudelman op die dorp en haar naam is Bertha Yankelowitz; regs van haar sit Edith Dickson wie se hare soos heuning lyk en wat vir haar “O-lie” sê, en voor haar sit ’n meisie wat ’n dik bril dra en wat al die antwoorde van alles weet; haar naam is Catherine Lewis. Maar toe dit tyd word vir Wiskunde, moes die meisies van die Afrikaanse seksies ook na hulle toe kom, want almal moet Wiskunde op Engels leer. Toe was dit soos familie wat kom kuier, want Leonora en Hanna het ingekom. Bertha het uitgestap na die naaldwerkklas toe en Leonora het dadelik op haar plek kom sit en vir Alie ’n lekker snaakse skewemond getrek. Die Wiskunde-juffrou sê vir haar “Aletter” en haar oë is net so rond soos die kringetjies wat sy op die swartbord getrek het en waarvan Alie niks verstaan nie. Net Catherine het gelyk soos een wat al daardie kringetjies en snaakse strepe en syfers al baie male gesien het, en Leonora het gelyk of sy dwarsdeur al die strepe en kringe kyk. Miskien weet sy darem wat dit alles beteken en wat ’n mens alles doen met die blink gereedskappies wat in die blikkie lê om die hoeke en kringetjies mee te trek. Maar die Geskiedenis is lekker, want juffrou Wagner praat soos een wat stories vertel en sy …
“Alie!” skree iemand agter haar en sy ruk haar kop agtertoe en gaan staan. Dis Hanna wat uitasem aangehardloop kom en nie sien dat ’n ou juffrou met grys hare en ’n klein brilletjie om ’n hoek van die skool kom nie.
“Hanna Louw,” sê sy, “’n dame skree nooit so hard nie. Stap nou mooi en praat ordentlik.”
“Ekskuus, juffrou Mouton,” sê Hanna en stap kop onderstebo tot langs Alie; doodstil stap sy totdat die juffrou in Delfthuis verdwyn, toe sê sy: “Dis ’n wonder sy’t my nie sommer ’n stuk prosa gegee nie. Sy vang my altyd as ek raas.”
“Wat beteken prosa gee?” vra Alie.
“Ag, jy kry sommer so dertig of veertig reëls in ’n boek om uit jou kop te leer en dan vir haar te gaan opsê. Al die juffrouens straf ’n mens daarmee,” sê Hanna. “Hoe het hulle julle dan in julle skool gestraf?”
Alie trek haar voorkop op ’n plooi. “Gestraf?” sê sy, en dis soos ’n ver skaap wat sy moet soek en aankeer, hierdie straf van die grys skooltjie. “Ek weet nie eintlik nie … O ja, met ’n kweperlat het meneer Bronkhorst geklop as een kwaaddoen.”
Hanna gooi haar kop agteroor soos sy lag. “My jinne, Alie, met ’n kweperlat? Maar dis mos outyds, of hoe? In ons meisieskool mag hulle nie slaan nie, my pa sê so.”
Alie voel of die meisieskool niks van haar is nie en sy kyk na die wit muur met die ysterhek wat om die drie koshuise is. Miskien kan sy sommer by die hek uitloop en weer saam met tant Lenie en Hennie teruggaan Rivierplaas toe en na die grys skooltjie toe waar die kweperlat en die leie en griffels is. Maar daar is nie ’n graad nege nie.
“My jinne, Alie,” sê Hanna, “loop jy in jou slaap? Ek vra of jy vanmiddag my maat sal wees vir die rank walk!”
“Wat is die rank walk?” vra Alie.
“Dis wat ons elke Maandag en Woensdag en Vrydag ná koffietyd het, dan stap ons almal twee-twee in ’n lang ry, so vir ’n wandeling.”
“Maar waarheen stap ons?” vra Alie, want in ’n dorp stap ’n mens mos net winkels toe, daar is mos nie plek vir wandelinge nie.
“Ag, as Minnie Bosman voor loop, sal ons seker by die Noordskool verbyloop, want sy’t ’n kêrel daar. Maar as Corrie Jansen se maats dalk voor loop, sal ons by die Suidskool verbyloop, sy’s verlief op ’n outjie wat vanjaar daar in graad elf is. Kom ons gaan koffie drink, die klok sal nou-nou lui.”
Die hele dag is vir Alie soos ’n vel papier wat vol blokkies getrek is, en elke keer dat die klok lui, kom daar nog ’n blokkie by, en elke keer moet ’n mens sorg dat jy nie op een van die blokkies se lyne trap nie. Dalk kry jy prosa.
Daar is nie ’n juffrou by die eetkamer nie en niemand staan in rye nie, almal bondel sommer by die deur in vir die koffiedrink.
“Kom ons sit by die onderste tafel,” sê Hanna, “ons mag maar. Hallo, ou Tossie, kan ons maar hier by julle kom sit? Dis Alie Neethling, sy’s ook in graad nege en sy’s by Minnie Bosman in die kamer in Aemstelhuis. Alie, dis Tossie Smuts, ons twee het verlede jaar saam nuut hier gekom.”
Tossie het ’n kop so rooi soos die klei waarmee ou-Melitie die strooisdeure smeer en haar oë lyk soos die groen rivierwater.
“Hallo, Alie,” sê Tossie, “hoe hou jy dit by Hanna? Sy praat mos aanmekaar soos mieliepap, nè, ou Johanna? En verder leer sy prosa vir ou juffer Mouton. Hanna Louw, ’n dame maak nie so nie; Hanna Louw, ’n dame lag nie so hard nie.” Tossie trek haar neus op en praat net soos die ou juffrou.
“En wat van jou?” sê Hanna. “Jy lag altyd te hard, wat.”
“Lag is vry en prosa daarby!” sê Tossie en sy gooi haar kop agteroor en skater ’n harde lag uit.
“Haai, Tossie,” sê Minnie Bosman skielik agter Alie, “is jy nie bang jou keelgat skeur nie? En toe, Alie, ek het jou vanmiddag etenstyd nie gesien nie; hoe gaan dit?”
“Goed dankie,” sê Alie. “Ek het Santa nog nie weer vandag gesien nie.”
“O, Santa is in die kamer; sy wil nie koffie hê nie,”