Alba Bouwer
Stories van Ruyswyck
Met die oorspronklike illustrasies deur Katrine Harries
Tafelberg
Vir juffrou Dreyer
Voorwoordjie
UIT DIE gewone moederaarde onder ons voete word gehaal die gekristalliseerde edelstene. Eg en skoon, is hulle tot voortdurende plesier vir die mense, een geslag ná die ander.
Uit die gewone daelikse lewe, uit die omgang onder mense – ouer met kind, maat met maat, vriend met vriend, huismense met diensmense – kom onse lafenisse, onse vreugdes, en onse voordeel. Daar is van ons wat sulke vreugdes en lafenisse weer kan ophaal uit die verlede, gekristalliseer, eg en skoon, vir almal tot voortdurende plesier.
So ’n plesier vind ek en baie ander in hierdie stories van onse eie mense se daelikse lewe, op Rivierplaas.
M. E. R.
Swellendam
Desember 1954
Die koshuiskamer
ALIE SIT penregop op die stoel, net soos ’n meerkatjie op ’n miershoop. ’n Bewerige meerkatjie op ’n vreemde miershoop.
“Volle naam, asseblief?” vra juffrou Naudé, en sy pik met die skerppuntpen in die ronde inkpotjie.
“Aletta Susanna,” sê tant Lenie, “maar ons noem haar nog al die jare Alie.” Sy kyk ’n slag na Alie. “Ek weet ook self nie hoekom nie,” sê sy.
Juffrou Naudé kyk nie op van die penpunt wat op en af, op en af oor die papier draf nie. “Hmm,” sê sy, “Aletta is so ’n mooi Boerenaam. Ouderdom?”
“Dertien jaar en een maand,” sê tant Lenie, en sy versit die swart handsakkie wat binne-in so na laventel ruik van die een knie na die ander en skuif ’n bietjie agtertoe op die stoel.
Juffrou Naudé kyk op en dit voel of haar oë Alie se gesig ’n rukkie styf vashou, soos twee groot hande, en toe vinnig laat los toe die pen weer oor die papier begin skuiwe.
“Hmm,” sê sy, “jonk vir graad nege. En u wil nou hê sy moet in die Engelse seksie kom, mevrou?”
Tant Lenie lyk soos ’n kind wat hoofrekene doen en nie heeltemal die regte antwoord weet nie, maar sy sê sommer gou: “Ons reken dis die beste vir haar om sommer nou goed Engels te leer, ten minste, ek reken so.” Die swart handsakkie skuif weer terug na die ander knie. “Sien, juffrou Naudé, op so ’n Vrystaatse plaas kry die kinders nie baie kans om Engels te praat nie. Terwyl sy nou hier in die Boland skoolgaan, moet sy maar goed Engels leer.”
Op so ’n Vrystaatse plaas. Dis vir Alie soos ’n hand wat ’n blinding voor ’n venster laat opskiet sodat dit lig word en ’n mens skielik ver kan sien nadat jy lank in die donker vasgekeer was. Die rivier en die doringbome; die blou rantjies met die pad wat oor hulle aankom; die waenhuis met die tuie teen die muur en die geslagte bees aan die haak; ou-Melitie se twee lang, swart hande om die stoofyster, en die kiewiete wat in die nag ver weg roep. Alie kap haar enkel saggies teen die stoel se poot om te kyk of sy regtig hier in die vreemde koshuis sit en of sy nie dalk op Rivierplaas ’n storie staan en droom nie.
“Sit mooi stil, ounooi,” sê tant Lenie hier na haar kant toe, en Alie skuif ’n slaggie heen en weer en sit haar voete in die nuwe skoene mooi langs mekaar neer sodat die veterstrikke saggies bewe.
“Goed, dankie dan, mevrou,” sê juffrou Naudé, en sy sit die skerppuntpen neer. “U is nog ’n rukkie hier by u broer en suster op die plaas, nè? Ek sal laat weet as daar nog iets is wat sy moet kry.”
Tant Lenie staan op. “Ek is nog twee weke hier, dan moet ek teruggaan Vrystaat toe; my man is alleen op die plaas,” sê sy. Toe word haar stem weer soos op die kombuisdrumpel of voor die rondawel op Rivierplaas. “Juffrou moet haar maar kortvat as sy dalk gruwelik is,” sê sy. “Ons wil nie klagtes hoor nie.”
Juffrou Naudé se oë word ’n bietjie kleiner sodat hulle nie Alie se gesig so baie styf vashou nie, toe sê sy: “Wag, ek roep gou een van die dogters om haar na haar kamer te neem.”
“Alie,” sê tant Lenie, en sy vat Alie om die skouers, “jy moet nou mooi leer, my kind, moenie hier staan en skandes maak nie, hoor!”
Alie kyk na die veterstrikke op haar skoene, maar voordat sy iets kan sê, kom juffrou Naudé terug met ’n meisie wat in die deur bly staan, ’n vettetjie met ’n ronde gesig en vaal hare.
“Hanna,” sê sy vir die meisie, “dis mevrou Neethling en dis Aletta van die Vrystaat. Sy is in kamer nommer ses in Aemstelhuis. Stap saam met haar en wys haar waar die plek is. Dis Hanna Louw, Aletta.”
Tant Lenie buk oor Alie. “Soet wees, my kind,” sê sy en sy soen haar op die wang en gee haar ’n drukkie om die lyf, en dit lyk of sy nog iets wil sê. “Nou ja,” sê sy, “dit sal wel goed gaan. Moenie koue water drink as jy warm gehardloop is nie, Alie, en maak skoon jou naels.” Sy gee ’n vinnige slukkie. “Soet wees, my kind,” sê sy soos een wat nog iets soek om te sê, maar niks kan kry nie. Alie maak haar mond oop, maar sy kry ook niks om te sê nie, toe soen sy tant Lenie maar nog ’n slag en stap agter Hanna Louw aan.
“Wag,” sê Hanna, “ek sal jou groot koffer dra, vat jy die kleintjie.”
“Het jy baie nuwe klere? In watter klas is jy? Ek is in graad nege, maar ek is al van graad ag af hier. Ek het net twee nuwe kerkrokke en nuwe skoene, al my goed is nog van verlede jaar. Ek wens ek groei hulle gou uit.”
Alie weet nou nie of sy moet sê van haar klere wat alles nuut is, alles soos daar op die wit papiertjie van die Ruyswyck-skool gestaan het, en dat sy in graad nege in die Engelse seksie is nie. Sy loop ’n entjie agter Hanna en kyk na haar bene wat so mooi rond en dik is en so bewe as sy haar voete neersit. Hanna skuif die koffer na haar ander hand.
“Dis nie regtig swaar nie,” sê sy, “net ongemaklik. Nee, toe maar, ek sal dit vir jou dra. Ek dink jy is in ’n kamer saam met Minnie Bosman en haar suster Santa. Minnie is in graad twaalf, sy is al lank hier, sy’s baie gaaf. Santa het nou net gekom, sy is in graad nege. Sy huil al van gister af aanmekaar oor haar ma. Minnie het ’n kêrel in die Noordskool. Ek hou baie meer van die seuns in die Suidskool, want my neef is daar en hulle baadjies is baie mooier.”
Alie sluk om iets te sê. “Ja,” sê sy.
Hulle stap by die Hoofgebou se trappies af en kom in ’n paadjie onder hoë bome met breë, blink blare. “Daar links is Delfthuis, by die groot magnoliaboom,” sê Hanna. “Dis die verste van die Hoofgebou af en al die soetste outjies is daar. Die meeste jong outjies is in Aemstelhuis, en al die stoutes is in die Hoofgebou met net ’n paar soetes tussenin, so onder ou Nottie se oë. Het jy gesien hoe groot is haar oë as sy vir jou kyk? Sy sien tot in jou harspan, dit moet jy weet.”
Hanna stap in die skemerdonker gang van Aemstelhuis in waar oral stemme agter toe deure zoem, klop aan ’n deur met ’n ses daarop en draai dit oop. “Haai, julle kêrels,” sê sy, “dis nou Aletta Neethling, sy kom van die Vrystaat af. Haai, Aletta, in watter klas is jy nou weer? Jy praat dan ook niks! Dis nou Minnie en dis Santa, en wat maak jy hier, Corrie? Ek dog jy is vanjaar in die Hoofgebou onder ou Nottie se kykers? Jy soek seker al weer iets te ete en die jaar het nog nie eers begin nie.”
Die lang meisie met die bruin krulhare kry sulke klein krakies om haar mond en oë. Sy stoot ’n kaslaai toe en steek haar hand uit. “Dag, Aletta,” sê sy. “Het jy nie langs die pad flou geval van al Hanna se praatjies nie? Hanna, draai toe jou kraan dat ’n ander mens ook ’n slag kan praat. Aletta, dis my suster Santa en hier sit Corrie Jansen. Jy is in graad nege, nè?”
Elke keer dat Minnie sê “Aletta”, voel dit vir Alie of haar ore toeslaan soos van die groot woorde in die Hollandse Bybel. “My naam is eintlik Alie,” sê sy, “en ek is in graad nege.”
“Dag, Alie,” sê Santa, en sy steek haar hand uit. Haar hare is net so krullerig soos Minnie s’n, maar sy het nie krakies om haar oë nie.
Corrie Jansen dop agteroor op die bed en skop met haar bene bokant