Ghoef! gooi Santa haar een laai toe net toe Minnie by die deur inkom. “Kyk hoe mooi lyk Alie in die blou kamerjassie,” sê sy, “en Santa is ook al klaar uitgetrek. Onthou om te wens, want dis julle eerste nag in die kamer, hoor!”
“Ek wens ek is nie meer môre hier nie,” sê Santa. “Dis ’n ou nare plek vol nare mense.”
Katieng, katieng, katieng! lui die klok.
“Stiltyd,” sê Minnie en sy neem haar Bybel en kniel voor haar bed.
Alie neem die groen Bybeltjie met die vier Evangelies en die Psalms in Afrikaans en kniel op die matjie voor die bed. Sy maak dit oop om te lees, maar haar kop voel soos ’n vieruurtjiebos vol skoenlappers en sy maak maar liewer haar oë toe om te bid.
“Liewe Jesus,” bid sy, “dankie vir, dankie vir, vir …” Maar sy sien net Santa se dik, rooi oë en oop mond voor haar, en diep in haar keel brand ’n klein seer kolletjie. Miskien moet sy môre vir Santa een van haar nuwe sakdoeke gee. Nee, ’n mens gee nie sommer vir vreemde mense goed nie. Miskien kan sy vir haar sê sy kan haar mooiste potlood leen, want in die groot skool skryf ’n mens mos nie meer met ’n lei en griffel nie. Of sy kan Santa se bed help opmaak. Alie voel die rand van die groen Bybeltjie teen haar ken. “Liewe Jesus,” bid sy, “dankie vir Pa en Ma en Hennie en ou-Melitie en Lulu en almal op Rivierplaas. En dankie vir … vir …” Die seer kolletjie in haar keel skuif tot in haar mond en sy sluk ’n harde sluk. Môre is dit Maandag, dan kom die dorpskonstabel Rivierplaas toe om te kyk of daar nie bier by die strooise gebrou is nie. Dan maak hy sy perd aan die hoekpaal vas, en ou-Melitie skink vir hom koffie in die tweede beste koppies. En tant Lenie gee vir hom – Alie maak haar oë vinnig oop en knyp hulle weer toe. Maar tant Lenie en Hennie is mos hier naby, sommer hier anderkant die dorp op oom Koos se plaas. Die seer kolletjie in haar keel sak weer laag af en bly sit. Voordat dit weer Sondag is, sal sy tant Lenie mos sien, en vir Hennie. En môre, net môre as Santa weer met haar naar is, sal sy hard spoeg tot by Santa verby en sy sal omdraai en uitloop en die deur hard toeklap.
Katieng, katieng, katieng! lui die klok.
“Liewe Jesus,” bid Alie gou soos net Hennie nog bid, “ik ben ’n kindjie klein, maak tog nou my hartjie rein. Amen.” Toe spring sy op, trek haar kamerjas uit en klim in die bed.
“Ek sal die lig doodmaak,” sê Minnie, “my bed is die naaste aan die deur. Is julle in? Nag, Alie. Nag, Santa; moet nou nie weer huil nie, my bed is hier by joune. Net Alie lê alleen in die hoek.” Knips! druk sy die skakelaar, maak die houtblindings voor die groot venster oop en klim in die bed.
“Nag, Minnie, nag, Santa,” sê Alie.
“Nag,” sê Santa.
Êrens in die gang lag ’n meisie saggies, toe is dit ’n rukkie doodstil voordat die voetstappe in die gang afkom, pieks-paks, pieks-paks tot voor die deur. Die deur gaan oop en knips gaan die lig weer aan. Alie loer oor die rand van die kombers en sien ’n juffrou in ’n groen rok met groot, ligte oë wat saam met haar mond lag.
“Nag, meisies,” sê sy. “En julle nuwe outjies moet lekker droom vannag by ons, hoor!”
“Nag, juffrou,” sê Minnie, en Alie sê agterna: “Nag, juffrou,” maar Santa lê doodstil soos een wat slaap.
Knips! kraak die skakelaar weer, die deur gaan toe en pieks-paks gaan die voetstappe in die gang af en hou stil by nog ’n deur en nog ’n deur en nog ’n deur. Alie draai haar om en sien hoe die blare van die magnoliaboom naby die venster swart skaduwees teen die muur maak. Zoei-oei! sing ’n muskiet in die ander hoek van die kamer, en die nagwind laat die tafeltjie voor die venster saggies kraak. Toe is dit of die nagwind alles om haar wegblaas en sy staan ver weg en koud en alleen op ’n klipkoppie waar niemand haar kan sien of hoor nie en waar sy net kan sien hoe Rivierplaas se huis en die doringbome en die rantjies al hoe verder wegraak, wegraak. Sy sluk nie eers ’n sluk nie, sy voel net hoe die nat, warm strepies teen haar wange afloop en ’n klam kol onder haar oor op die kussing maak.
Zoei-oei! sing die muskiet, en die nagwind vroetel skelm in die blare voor die venster en lig Alie uit die bed uit en blaas haar soos ’n grasdonsie van die klipkoppie af en al met die wolke langs tot in haar bed op Rivierplaas waar sy haar in die lakens invroetel en suutjies aan die slaap raak.
Die meisies van die groot skool
ALIE STAAN langs ou-Melitie by die windpomp op Rivierplaas en luister hoe die waterstraal in die kombuisemmer stort. Op elke punt van die windpompwiel sit ’n rooi hoenderhen wat vir Alie met die onderdeur draai tong uitsteek, maar glad nie afval nie. Net toe Alie mik om die naaste ou hen van onder af raak te spoeg, storm die ou kwaai haan hulle en skop die emmer dat dit oor die werfklippe rol – katieng, katieng, katieng …
Alie knip haar oë en sien die blare van die magnoliaboom in die oggendlig voor die venster. In die gang gee die klok nog een lui en êrens loop water hard in ’n bad in. Doef-doef-doef draf iemand in die gang af. “Ek bad eerste!” skree ’n stem en ’n deur slaan toe.
“Môre, outjies!” sê Minnie en sy spring uit haar bed. “Ek hoop julle het goed geslaap en lekker gedroom. Nou het ons ’n driekwartier om aan te trek en die kamer skoon te maak. Ek dink Santa en ek kan vee, dan stof jy af, Alie. Jy kan solank gaan bad as jy wil – in die oggend is daar net koue water, hoor! Maar trek eers jou bed af om te lug, want juffrou Wagner kom nou daarna kyk.”
“Môre,” sê Alie en spring gou uit die bed om haar lakens af te trek. Santa bly op ’n stil hopie lê met die kombers tot teen haar oë.
“Die tweede badkamer is net links van die kort gangetjie,” sê Minnie toe Alie by die deur uitstap. Sy kry dit gou, sit die deur se skuifie op en draai die kraan oop. Alie trek uit en steek haar hand in die kraan se straaltjie. Yskoud. Bad beteken mos ’n bad vol warm water. Koue water is net in die gronddam of die rivier of in die waskom vir gesig was. Sy was gou haar gesig en ore en nek in die water, droog af, trek haar kamerjas aan en wag totdat al die water uitgeloop het voordat sy die deur oopmaak en uitstap. In die gang lag en stommel en raas dit deur die oop deure van die vee en afstof en bedopmaak wat in die kamers aangaan. Alie voel of sy stokalleen in die skemer gang is met niemand wat sal hoor as sy roep nie. Sy draf gou tot by nommer ses, draai die deur oop en gaan saggies in. Daar hang ’n fyn stofwolkie in die oggendlig voor die venster en Minnie is besig om bed op te maak. Santa sit met toe oë op die rand van haar afgetrekte bed en gaap.
“Aits,” sê Minnie, “jy’s lekker gou klaar! Ek het maar haastig uitgevee, want dis nog nie baie vuil nie; nou kan jy so hier en daar afstof as jy jou bed klaar opgemaak het, Alie. Toe, Santa, loop nou badkamer toe, man. En ek gaan nie elke oggend jou werk doen nie, hoor! Roer nou vir jou.”
Santa gee ’n snorkie, trek haar kamerjas aan en gooi die deur agter haar toe met die uitstap. Minnie kom effens orent bokant die bed wat sy opmaak en byt ’n slag haar onderlip vas. “Hoor hier, Alie,” sê sy, “jy moet jou maar nie te veel aan Santa se nukke steur nie, hoor! Sy’s baie bederf by ons huis, want sy was baie siek toe sy klein was. As sy dalk naar is met jou, moet jy maak of jy nie hoor nie. Ek gaan haar nog net vandag so help en dan moet sy haar eie potjie krap. My ma hoop sy sal hier ’n bietjie regkom.”
“Ja,” sê Alie, en sy trek haar bolaken glad. “Ja, toe maar.”
Alles lyk vaal in die