Sy griewe teen Frank het hy diep weggebêre. Op hierdie afgesonderde plase kan niemand dit bekostig om in onmin te leef nie. Sedert die stigting van Bethlehem en Vrede teen die begin van die vorige dekade is dit egter nie meer so erg nie. Daar woon nou meer mense in die omgewing.
Clara en Rosalie het aanvanklik groot maats gebly totdat Hanna besluit het dat haar dogter nie met die “optelkind” behoort te verkeer nie. Markus onthou daardie dag nog baie goed. Dit was die eerste keer dat hy sy woede op Hanna uitgehaal het. Sy suster was sprakeloos geskok en het die kwessie van Rosalie se herkoms nie weer opgehaal nie. Daar het egter ’n geleidelike verwydering tussen die twee dogters gekom. Deesdae sien hy hulle nooit meer saam nie.
Renier de Koning het in ’n forse jong man verander. Op twee-en-dertig is hy nog steeds ongetroud en Hanna probeer haar bes om hom in Clara te laat belangstel. Markus frons liggies. Clara is tog ’n mooi kind. Wat is dan die probleem dat Renier nie kom ouers vra nie? Dis tog nie dat Clara ’n pennielose fortuinsoekster is nie.
Net voordat Markus terugkeer na die huis toe, sien hy Rosalie raak waar sy van die stal af terugkeer. Sy het ’n parmantige, veerkragtige stappie wat getuig van die lewenslus wat gedurig in haar opborrel. Sy is ’n bekoorlike meisie, maar sy laat nie toe dat ander vir haar voorskryf nie. Markus bejammer Charles Bennet, die seun van die dominee. Hy kuier gereeld by Rosalie, maar haar gebrek aan erns stem die arme Charles dikwels mismoedig.
Met ’n diep sug gaan Markus die huis binne. Hy kry die gevoel dat die gesag geleidelik uit sy hande gegly het en in dié van die kinders beland het. Dis nie ’n goeie toedrag van sake nie.
Samuel kom hom tegemoet in die portaal.
“Ek het ’n paar pond nodig, oom Markus,” sê hy ongeërg. “Ma wil nie vir my gee nie en my sakgeld is op.”
Markus byt op sy tande. Het dit al sóver gegaan dat hulle hóm beveel?
“Jou moeder is verantwoordelik vir jou sakgeld en as sy dit nie vir jou wil gee nie, het ek nie die reg om dit te doen nie.”
Samuel kyk skeef na sy bejaarde oom.
“Sy het gesê as oom dit gee, sal sy geen beswaar hê nie, maar sy het nie dertig pond nie.”
Markus se kop ruk op. Van sy ou vuur keer terug.
“Dis ’n ongehoorde bedrag vir ’n jong man van jou ouderdom om sommer net as geskenk te ontvang!” Sy oë blink. “Jy kry geen duit meer van my nie!”
Samuel se mondhoeke krul na onder.
“Pa het altyd gesê dat oom Markus suinig is, maar ek het dit nie regtig geglo nie.”
Markus bewe innerlik, maar uiterlik bly hy kalm.
“Wat jou pa oor my te sê het, skeel my geen duit nie, jong man!” Dis die eerste keer dat Markus sy sluimerende griewe lug. Miskien is dit Samuel se astrante houding of die uitspattige klere wat die seun dra wat hom in die harnas jaag; hy weet nie. Dis net dat hy skielik genoeg hiervan gehad het.
Samuel knipper sy oë verbaas.
“Ek het maar net gevra, oom Markus,” brom hy en stap weg.
Markus se grys baard tril van verontwaardiging. Samuel aard beslis na Frank Wepener, en dan het hy ook nog Hanna wat agter hom staan en alles goedkeur wat hy sê.
“Oom Markus?”
Hy draai vinnig om. Sy bui bedaar effens toe hy Rosalie in die voordeur sien staan. Dit doen sy hart goed om haar te sien. Haar donker hare met die glans van verouderde rooiwyn is teruggevat agter in haar slanke nek en met ’n roomkleurige strik vasgebind. Haar groot blou oë is vraend op hom gerig.
“Wat is dit, Rosalie?”
“Harmonie moet beslaan word, oom Markus. Sy het netnou een hoefyster verloor.”
Hy glimlag.
“Ek drink net gou ’n slukkie koffie, dan kom ek waenhuis toe. Sê vir Hlomo hy moet Harmonie soontoe bring.”
Sy glimlag en twee kuiltjies druk diep in haar wange.
“Dankie, oom Markus!”
Toe die ou man na die kombuis toe wegstap, kyk Rosalie hom half hartseer agterna. Sy is baie lief vir hierdie groot, waardige ou heer met sy spierwit baard en bruin oë wat nog steeds helder soos ’n jong man s’n is. Lank gelede reeds het hy haar vertel dat hy haar een oggend, vroeg in die herfs, op die stoeptrap gevind het. Hy was eensaam en het verlang na iemand wat sy eie kan wees en toe het hy haar aangeneem, maar hy het gevra dat sy hom as oom moet aanspreek omdat hy nie haar werklike vader is nie. Sy gee nie om nie; hy is vir haar meer as ’n vader, en wat maak dit nou saak as sy hom as oom Markus aanspreek?
Sy draai stadig om en stap terug na die stal om na haar lieflingsperd te gaan kyk. Die sierlike, vurige dier runnik saggies toe sy naby haar kom. Rosalie streel die glansende nek en druk haar gesig teen die sagte vel.
“Kom, ou grote, jy gaan nuwe hoefysters kry, en dan sal ons weer deur die veld kan jaag.”
Sy neem die perd self na die waenhuis en moet ’n paar minute wag voordat oom Markus sy verskyning maak.
Hy is besig om die tweede hoef te beslaan toe ’n perd voor die oop waenhuisdeur ingehou word en Renier de Koning uit die saal gly. Hy groet glimlaggend toe Rosalie opkyk en kom dan nader.
“Ons kan die koringsnyers volgende week hier kry, oom Markus,” sê hy nadat hulle gegroet het.
Markus kyk op.
“Hulle is baie laat hierdie jaar. Die koring moes al af gewees het.”
Renier knik.
“Ons was net gelukkig om geen haelstorms te kry nie. As die weer net hou, sal die koring af wees en in die skure voordat so iets gebeur.”
Rosalie se hart klop in haar keel. Vandat sy kan onthou, het sy só oor Renier de Koning gevoel. Dit het alles begin toe hy haar daardie dag, jare gelede, uit die rivier gehaal het. Die perd het haar afgegooi, en sy was maar skaars dertien. Hy was toe al ’n forsgeboude jong man van drie-en-twintig. Daardie dag het alles vir haar verander.
Asof Renier haar gedagtes kan lees, vra hy: “Het jy nog nie weer in die rivier beland nie?”
Sy lag opgewek.
“Geen perd sal my nóú meer uit die saal kan lig nie. Harmonie sal dit nooit aan my doen nie.”
Hy vryf met sy hand oor die perd se neus.
“Dis ’n pragtige dier, Rosalie. Het julle haar self geteel?”
“Ja. Sy is Danser se vul by Sahara. Ek ruil haar vir niks onder die son nie.”
Hy lag.
“Nie eens vir my sweetvos nie?”
“Jy sal Storm nooit verruil nie,” antwoord sy eenvoudig.
Markus klink die laaste spyker in die hoef en kom dan stram orent.
“Ek weet sowaar nie wie die perde gaan beslaan as ek die dag nie meer hier is nie.” sê hy. “Samuel en oom Frank stel nie belang in sulke werkies nie, en dis dinge wat gedoen moet word.” Hy sug diep. “Ja, so gaan dit maar.” Dan draai hy na Renier. “Gaan ons snyers deel of moet ons beurt vat?”
“Dis waaroor ek met Oom kom praat het. Dis al só laat dat ons miskien maar die snyers moet deel. Om ’n deel van die oes af te kry, is beter as niks.”
“Jy is baie groothartig, Renier,” sê die ou man aangedaan. “Dis tog jou beurt. Jy het die reg om