Hy byt op sy tande. Dit was onmenslik wreed om die kind hier af te laai. Dit was onvergeeflik! So ’n moeder is nie werd om ’n moeder genoem te word nie. Hy onthou die dag toe Sophia gesterf het … hoe sy klein Derek in haar arms vasgeklou het … hoe die kind gehuil het en hoe Sophia sinnelose woordjies teen die sagte wangetjie gefluister het. Daardie finale afskeid het hom al die jare bygebly. Hy het soos ’n buitestander gevoel … Sophia se verlange was na Derek … en nou het Derek hom in die steek gelaat.
“Wat op aarde gaan hier aan?” vra Hanna skielik van die deur af.
“Ek het dié kind voor die deur gekry … iemand het hom hier gelaat.”
Hanna kom haastig nader. Sy kyk na die donkerkopmensie met die sagte rooi wange en rosige mondjie.
“Dis onmenslik,” sê sy sag, maar dan neem die moederinstink oor. “Die kind is nat en koud en honger. Gaan maak asseblief vir hom ’n bottel melk, Markus. Ek sal hom solank droogmaak.”
Markus verlaat die vertrek teësinnig. Toe hy minute later met ’n bottel louwarm melk terugkom, kyk Hanna na hom.
“Dis ’n dogtertjie, Markus. Haar naam is Rosalie.”
“Hoe weet jy dit?”
Hanna neem die bottel by hom en gee dan vir hom ’n briefie.
“Dit was onder die kombersies.”
Hy kyk na die netjiese handskrif op die papier. Dan was die kind se moeder nogal ’n geleerde vrou daarby. Die situasie raak vir hom al hoe meer raaiselagtig.
Geagte meneer Leyds
Ek smeek u om Rosalie onder u vlerk te neem. By u sal sy nooit so iets soos honger en koue ken nie, ook nie armoede of gebrek nie. Ek kan haar nie na ’n weeshuis toe neem nie. Sy verdien dit nie.
Ek weet dat ek nog net ’n kort tydjie het om te leef. Die dokters kan niks meer vir my doen nie en omdat ek sieklik is, kan ek nie werk om my kind te versorg nie. Wees asseblief goed vir haar. Vir u is sy miskien ’n wesie, maar vir my is sy kosbaar.
Die wit roos is al erfenis wat ek vir haar het. Dit het vir my geluk gebring; dit was nog altyd vir my die simbool van geluk. Dit het my moed gegee in swaar tye omdat die gewer daarvan dit so bedoel het … maar hy het nooit teruggekeer nie. Sorg asseblief vir Rosalie … dan sal ek in vrede kan gaan.
Die Moeder
Markus kyk fronsend op na Hanna wat die baba intussen weer gerieflik gemaak het.
Klein Rosalie drink met klein gorrelgeluidjies aan die melk, tevrede en gerusgestel.
“Wat sou dit alles beteken?” vra hy met ’n growwe stem.
Hanna tel die vars wit roosknop van die tafeltjie af op en beskou dit ingedagte.
“Ek sou nie kon sê nie. ’n Wit roosknop … dis verspotte sentiment. Dié vrou is ’n onverbeterlike romantikus. Ek dink nie jy behoort jou daaraan te steur nie, Markus. Daardie briefie is op ’n baie slinkse manier geskryf om op jou gevoel te speel.” Sy gooi die blom terug op die tafeltjie. “Die kind se erfenis! Verbeel jou!”
Iewers in die huis huil ’n kind, en Hanna haas haar na haar eie kinders toe.
Markus bly alleen in die ruim vertrek agter met die vreemde, slapende kind en die roosknop. Huiwerig tel hy die blom op. Hy kan dit nie minag soos Hanna dit gedoen het nie. Sophia was ook sentimenteel: sy het ook van blomme gehou.
Hy kyk af na Rosalie wat rustig slaap. Hy gaan vir hierdie hulpelose kind sorg. Vandag of môre nog gaan hy begin reël dat hy haar wettig aanneem. Hy sal vir haar ’n huis gee, haar grootmaak soos sy eie kind. Dit maak nie aan hom saak of hy óóit die geheim van haar herkoms ontrafel nie. Hy wil dit nie erken nie, maar die moeder se brief het hom ontroer. Hanna moet die roos bewaar en eendag, as Rosalie ’n groot meisie is, sal hy haar daarvan vertel.
Die De Konings van die buurplaas, Rusoord, trek vroeg in Desember in hulle nuutgeboude huis in. Hulle is nou welgesteld en vooruitstrewend.
Gedurende die volgende jaar sterf mevrou De Koning aan ’n onbekende siekte en laat haar man, Julius, en hulle seun, Renier, agter. Julius de Koning onttrek hom in sy smart aan die plaaswerk, en die jonge Renier moet oorneem.
Markus hou die verwikkelinge belangstellend dop. Renier is ’n seun na sy hart. Op vyftienjarige leeftyd is hy ’n kranige ruiter en ’n seun van onbesproke karakter. Hy is lenig gebou met swart hare en donkergroen oë. Dis ’n genot om hom op ’n perd te sien sit; dis ’n vreugde om te sien met watter ontsag die werkers hom behandel.
Ook Hanna is bewus van Renier, maar dit gaan meer om die erfporsie wat hy verteenwoordig. So af en toe het sy al vir Markus gesê dat Renier net die soort man sal wees wat sy vir haar dogter wil hê.
Clara is op sesjarige leeftyd ’n mooi kind met blonde krulhare en bruin oë. Sy is egter ietwat aan die mollige kant van al die soetigheid waarmee sy volgeprop word. Klein Rosalie het ontwikkel in ’n popagtige meisietjie met donker hare en blou oë. Sy is ’n vrolike, lewenslustige kind wat baie vroeg reeds leer hoe om op ’n perd te bly.
Dis net Samuel wat sorg wek. Hy is ’n onuithoudbare stout kind wat presies weet hoe om met die grootmense te werk om ’n pak slae vry te spring. Gewoonlik kom hy dus weg met al die onheilighede wat hy bedink, en dis net Markus wat hom oor die kind bekommer. Hy durf egter nie inmeng nie omdat Hanna dit nie kan verdra nie. Ter wille van die vrede bly hy dus stil, maar kners op sy tande wanneer Samuel sy ouers om sy fraai klein pinkie draai.
Na die einde van 1866 kan Markus Leyds terugsit en op vyf-en-vyftigjarige leeftyd die lewe begin geniet. Daar is niks wat hom werklik meer kwel nie en wanneer hy aan Derek dink, is hy alleen en sien niemand die hartseer op sy andersins streng gelaat nie. Hy het homself al daarmee vereenselwig dat hy nooit weer iets van sy verlore seun sal hoor nie …
1
Kersfees kom vinnig nader. Daar is weer vrede in die land na die laaste jaar van oorlog en onmin. Die vorige jaar is daar ’n eenvoudige feestyd op Leydshoop gevier uit respek vir die manne wat teen die Britse heerskappy geveg het. Nou is dit verby en kan almal ’n sug van verligting slaak.
Markus kan Samuel dit nie vergewe dat hy nie ook gaan veg het nie. Hanna en Frank het hulle voet neergesit en geweier dat die jong, twee-en-twintigjarige seun oorlog toe gaan. Hy is hul enigste seun en die erfgenaam van Leydshoop. Buitendien het die oorlog tussen Brittanje en die Transvaalse Republiek weinig met hulle hier in die Vrystaat uit te waai.
Markus het net op sy tande gebyt en buitetoe geloop.
Selfs toe Harrismith in die gedrang gekom het, het Samuel in die waenhuis gesit en rook. Hy het Markus nie eens geantwoord toe dié met hom daaroor praat nie. Dit was toe dat die verlange na Derek weer by Markus begin het, aan hom geknaag het totdat hy snags nie kon slaap nie. Op sy leeftyd kan hy die plaas nie meer alleen behartig nie. Frank word by die dag steekser om te werk en Hanna al hoe kwaaier.
Daar is nie juis enige vreugde by Markus by die vooruitsig aan Kersfees nie. Hy het grimmig besluit om hierdie jaar ’n verandering in Kersgeskenke te maak. Daar sal nie weer duur artikels wees waarna almal so gretig uitsien nie. Hy het ’n ernstige besluit geneem. Die Wepeners se ruim toelaag gaan hy skerp inkort. Twintig jaar lank al lewe hulle soos parasiete en wag net totdat hy sy kop neerlê, maar dit gaan verander.
Terwyl hy tandeknersend sommer ’n rigting inslaan, weet hy egter dat hy nooit sover sal kom nie. Hulle gee nie om vir hom nie, maar hy het hulle op sy oudag nodig. Hy wil nie in eensaamheid alleen op die plaas agterbly nie.
’n Meisie jaag op die rug van ’n perd deur die landerye wat nou geil in die aar staan. Haar donker hare waai in ’n vag agter haar. Haar houding is grasieus en sierlik.
Markus glimlag ingenome. Rosalie is al een wat hy nog liefhet. Sy is die enigste wat hom nog kan laat lag en dink dat die wêreld tog nie so ’n onaardige plek is nie. Hanna hou nie