“Jy verkies háár bo mense van jou eie bloed en afkoms?”
Markus sug swaar.
“Ja, Hanna, so is dit. Daar was ’n tyd toe jy en jou gesin vir my vreugde gebring het, maar daardie dae is lankal verby. Ek sidder as ek net daaraan dink dat Samuel eendag die septer op Leydshoop sal swaai. Gelukkig sal ek dan al in my graf wees en sal dit my nie meer raak nie.”
“Jy haat Samuel,” beskuldig Hanna hom. “Jy kon hom nooit veel nie.”
“Ek haat hom nie … ek is net bitter teleurgesteld in hom.”
Hanna dink ’n oomblik na.
“Clara sal vroeg hierdie jaar verloof raak aan Renier de Koning. Dan sal daar een minder wees om jou oor te bekommer.”
Markus snork minagtend.
“Dink jy werklik dat Frank Julius de Koning met rus sal laat? Hy sal dáár ook sy streke probeer, maar ek verseker jou, hy sal hom vasloop met Julius. Ek is nog mak teen daardie De Koning.”
“Dit wil ek eers sien.”
Hanna kyk na hom.
“Frank sal vervoer nodig hê. Jy sal die karperd en twee perde vir hom moet gee dat hy ons kan besoek.”
“Oor my dooie liggaam. Hy het nie daarvoor gewerk nie. Hy kan vir Poon vat, en as hy die perd nie wil hê nie, kan hy voetslaan.”
Hanna se kop ruk op.
“Jy is ’n genadelose, hartelose mens, Markus! Ek wonder wat Sophia sou gesê het as sy nog geleef het.”
“Laat haar in vrede. Julle het nog nooit enige respek vir haar goeie naam gehad nie.”
Rosalie sit kop onderstebo en luister na die gesprek. Vir die eerste keer het haar verblyf op Leydshoop ’n wrang smaak gekry. Sy wonder of sy nog so gelukkig hier sal kan wees as vroeër. As Clara eers met Renier getroud is, sal daar vir haar niks meer buiten oom Markus oorbly nie. Sy weet egter dat sy die plaas eers sal kan verlaat ná die ou man se dood. Hy tree só dikwels vir haar in die bresse dat sy hom nie nóú al in die steek kan laat nie. Dis net dat sy die oorsaak van al die onenigheid is, en dit maak haar hartseer. Sou oom Markus nie baie gelukkiger gewees het as sy nooit Leydshoop toe gekom het nie? Hoekom het haar moeder nou juis vir oom Markus uitgekies as die een wat vir haar ’n tuiste moes gee? Oom Markus het dit nie verdien nie.
Teen Saterdagoggend het die stof oor die hele onaangenaamheid gaan lê. Frank Wepener is Harrismith toe op Poon nadat hy ’n groot kabaal opgeskop het. Markus het egter voet by stuk gehou, en Frank moes tevrede wees met wat hy gekry het. Vir oulaas het hy nog op Markus geskel en hom sleggesê totdat Rosalie met haar hande oor haar ore die huis in gevlug het. Toe eers het Frank gery en twee keer byna van die perd afgeval voordat hy die hek bereik het.
Hanna en Markus het die afgelope dae selde met mekaar gepraat, en Samuel het geswyg soos die graf. Die vyandige atmosfeer het byna tasbaar geword. Clara het van dié geleentheid gebruik gemaak om ’n paar keer Rusoord toe te stap omdat Poon nou nie meer beskikbaar is nie. Elke keer is sy deur Renier in die kapkar teruggebring en het die seer in Rosalie gegroei totdat dit een groot, ondraaglike pyn geword het.
Rosalie het gewonder of ’n eenvoudige blom soos ’n wit roos dan werklik geluk kon bring. Sedert Oujaarsdag toe sy die eerste keer die roos in haar hande gehad het, het alles vir haar begin skeefloop. Haar lewe het om haar in duie gestort en net die intense hartseer het gebly.
Charles Bennet kom met ’n splinternuwe kapkarretjie vir haar kuier. Dit is ’n geskenk van die gemeente omdat hy die beroep na Bethlehem aanvaar het, en hy is baie trots daarop, al is die twee perde wat dit trek, alreeds oud en verby hulle fleur.
“Met ’n dominee gaan dit altyd goed,” sê hy aan Rosalie. “Werp jou brood op die water en na vele dae kom dit na jou toe terug. As ’n mens alles vir jou Skepper doen, sal jy nooit armoede ken nie.”
“Ja, Charles,” antwoord Rosalie met haar gedagtes ver op Rusoord. Clara is weer vanoggend soontoe.
“Rosalie, ek moet ’n dringende versoek tot jou rig.”
Sy kyk agterdogtig na hom.
“En wat is dit?”
“Ek wil jou vra om jou nie weer mooi te maak vir spesiale geleenthede nie. Dis ’n sonde, weet jy? ’n Mens moet nederig wees en jouself nie aan die wêreld vertoon nie. Jy moet jou eenvoudig klee en jou nie optooi nie. Dit is die pad na die verderf!”
“Ag, Charles, bly tog stil!” Sy draai vinnig van hom af weg. Vanoggend sien sy nie kans vir sy vroom praatjies nie.
“Jy móét dit verstaan!” pleit hy. “Al jou ongelukkigheid is deur jou eie toedoen!”
Sy swaai vinnig om na hom en haar oë blits.
“Het ék enige skuld daaraan dat die mense my nie wil aanvaar nie? Hulle noem my ’n optelkind! Hulle maak asof ek iets uit die bose is!”
“Met nederigheid sal jy al hulle vooroordele oorwin.”
“Dit mag so wees, maar dis nie in my aard om vroom en dweepsiek te wees nie.”
Hy trippel agter haar aan toe sy van hom af wegstap.
“God het aan elkeen van ons ’n sondige natuur gegee wat ons moet baasraak. Ons mag nie dat ons sondige binneste ons lewe na buite vertroebel nie!”
Sy gaan staan reg voor hom.
“Sal jy nou end kry? Hoekom gaan soek jy nie iemand anders om te pla nie!” Dan draai sy vinnig om en hardloop na die stal. Sy het nog haar ryklere van vroeër die oggend aan, en dit neem dus net ’n paar minute om in Harmonie se saal te kom.
“Rosalie! Besin voor jy jou kosbare siel aan die duiwel gee! Jy leef op ’n pad wat na die verderf lei! Daar sal vuur en swael uit die hemel op jou neerdaal as jy so aangaan! Daar word nie net van liefde in die Bybel gepraat nie, maar ook van wraak!”
Sy kyk van bo van die perd op hom af.
“Genoeg mense het hulle al op my gewreek, dankie!”
“Ek praat nie van menslike wraak nie! Besin, Rosalie! Ek bid elke aand vir jou siel! Ek wil jou teruglei na die werklike léwe!”
“Los my uit!” gil sy skielik. “Los my in hemelsnaam uit!”
“Jy laster!” roep hy geskok uit.
Rosalie gee haar perd spore en jaag by ’n verskrikte Charles verby. Sy jaag of sewe duiwels agter haar losgelaat is. Charles se vroom praatjies het haar vanoggend hewig ontstel. Die ergste van alles is dat hy gelyk gehad het. Sy is nie so nederig as wat iemand in haar posisie behoort te wees nie. Maar die opstand in haar is teen die samelewing wat haar nie wil aanvaar nie. Charles ken nie die verwarring in haar binneste nie. Hy sien net die uiterlike raak. Hy weet nie dat sy elke aand op haar knieë gaan en vra om leiding nie. Hy weet nie hoe dit voel om tussen mense te lewe wat jou wegwens en jy kan daar niks aan doen nie.
Die trane vloei vrylik oor haar wange. Hy weet nie hoe hard sy probeer om ander se vooroordele te ignoreer nie. Hy weet nie hoeveel sy van ander verduur sonder om ’n woord terug te sê nie. Hy weet nie dat sy soms bid dat oom Markus moet sterf dat sy van alles verlos kan word nie. Hy weet niks! Hy leef in sy kokon van goed en kwaad en swart en wit en weet nie watter hel daar in die grys lewe tussenin is nie, daar waar niks goed óf kwaad is nie. Wat van al die Samuels en Claras en Franks van die wêreld? Hoekom word hulle nie bearbei nie?
By die spruit bring sy die perd tot stilstand en gly uit die saal. Sy laat Harmonie aan die gras staan en vreet terwyl sy na haar geliefkoosde klip toe stap en daarop gaan sit. Maar vanoggend wil die stil vloeiende water nie vir haar gemoedsrus bring nie. Die pyn en hartseer is te groot, en sy bly net snikkend in die skaduwee sit.
As sy kon, sou sy padgegee het van Leydshoop af, maar sy kan oom Markus nie sommerso in die steek laat nie. Hy het haar net so nodig as sy vir hom, en dis sulke dinge wat Charles nie verstaan