Rosalie trek haar skoene uit en laat haar voete in die koel rivierwater insak. Haar blik val op die bruin vlekkie bo-op die wit vel van haar voet. Dis ’n geboortemerk en net so groot soos haar duimnael. Dit hinder haar nie omdat haar voete tog die meeste van die tyd in haar skoene is. Dis maar net iets wat eie aan haar is … ’n soort uitkenningsmerk. Sy glimlag. Dit beteken nie veel nie, want niemand sal haar ooit kan of wil uitken nie. Sy is ’n naamlose meisie sonder ’n verlede.
Die geklap van perdepote trek haar aandag, en oomblikke later sien sy die De Konings se kapkar oor die bruggie laer af langs die rivier ry. Sy sien hulle net vlugtig, maar dit bring die magteloosheid terug in haar. Clara en Renier is op pad terug na Leydshoop. Hulle lag en klink gelukkig, en dis hoe dit moet wees as twee mense mekaar liefhet, dink Rosalie. As daar nie geluk is nie, het mens nie rede om te lag nie.
Later trek sy weer haar stewels aan en gaan soek Harmonie wat intussen afgedwaal het. Sy kry die perd naby die bruggie, besig om aan die sappige groen gras te vreet. Op dieselfde oomblik hoor sy egter weer die kapkar nader kom. Daar is geen kans om weg te kruip nie, en Renier hou die perde op die bruggie in.
“Goeiemôre!” groet hy glimlaggend. “Ek sien julle het al begin dors!”
Sy knik glimlaggend.
“Dit gaan ’n bietjie stadig vandat Poon weg is. Danser is nie baie gelukkig daaroor dat sy nou die trapwerk moet doen nie.”
“Is jy altyd so besorg oor hoe die perde voel?”
Sy aarsel.
“Hulle het tog ook gevoelens wat seergemaak kan word.”
Hy lag opgewek,
“Jy het voorwaar eienaardige idees, Rosalie, maar ek stem met jou saam. ’n Mens moenie die trots van ’n perd breek nie. Wat sê oom Markus daarvan?”
Sy haal haar skouers op.
“Hy aanvaar dit soos wat hy al die ander dinge aanvaar.”
Hy klim van die kapkar af en kom by haar staan.
“Wat is verkeerd? Jy lyk omgekrap vanoggend.”
“Ek moes maar net vanoggend op my nugter maag hoor dat ek op pad verderf toe is.”
Hy lig sy een wenkbrou.
“Al weer Charles?”
Sy haal diep asem.
“Soms kom hy met waarhede uit, maar ander kere is ek lus om hom te lyf te gaan. Ek moet nou ’n nederige kluisenaarsbestaan voer om te boet vir alles wat met my verkeerd is.”
“Daar is niks met jou verkeerd nie.”
“Ek het glad te veel lewenslus na sy smaak, en ek is hoegenaamd nie nederig nie.”
“As jy soveel gaan verander, wil ek niks meer met jou te doen hê nie.”
Sy glimlag wrang.
“Miskien is dit dan ’n goeie idee om te verander. Dit sal jou pa ten minste sielerus gee as jy niks meer met my te doen wil hê nie. Aan die ander kant, hy hoef hom mos nie meer te bekommer as jy en Clara eers verloof is nie.”
Daar is ’n onpeilbare uitdrukking in sy donkergroen oë.
“Wat hinder jou, Rosalie? Ek ken jou mos nie so verbitterd nie.”
“Ek wil weggaan van Leydshoop af, maar ek kan oom Markus nie in die steek laat nie. Hy leef alreeds swaar genoeg.”
“Weggaan? Waarvan praat jy! Waar wil jy heen gaan?”
Sy haal haar skouers op.
“Ek weet nie. Miskien moet ek met Charles trou en my lewe aan ’n edele saak wy. Dan sal daar genoeg wees om te doen sodat ek kan vergeet.”
Sy wit hemp blink in die son, en sy kan sy bruingebrande bors sien waar dit voor tussen die losgemaakte knope uitsteek. Sy sterk hande, wat tot ’n bronsbruin gebrand is, rus liggies op sy lenige heupe.
“Wat is dit wat jy so graag wil vergeet, Rosalie?”
Sy aarsel.
“Leydshoop … ek wil vergeet dat ek ooit gelukkig was op die plaas.”
Hy kyk onbegrypend na haar.
“Maar hoekom?”
Haar blou oë vertroebel.
“Omdat dit geleende geluk was. Ek wil weggaan voordat dit finaal van my af weggeneem word.”
“Oom Markus sal vir jou sorg, Rosalie. Hy sal toesien dat jy ’n inkomste ná sy dood het.”
Sy sluk hard.
“Maar ek sal nooit na Leydshoop kan terugkeer nie. Ek sal die plaas nooit weer mag sien nie. Jy verstaan nie, Renier, hulle haat my. Oom Frank is weg van die plaas af deur mý toedoen, en dis nie ’n maklike gedagte om mee saam te leef nie. Oom Markus het hom weggejaag.”
Hy sien die hartseer en verslaenheid diep in haar blou oë. Die lig het daaruit verdwyn en hulle leeg en koud soos ’n eensame wintersnag gelaat. Daar is geen warmte van geluk meer nie, geen lag en lewensvreugde nie.
“Ek is jammer, Rosalie. Ek weet dit klink lomp om dit te sê, maar daar is niks anders om te sê nie.”
“Nou weet jy hoekom ek moet weggaan.”
Hy aarsel.
“Ek wens daar was ’n manier waarop ek jou hier kan hou. Ek weet dat Leydshoop die enigste plek is waar jy óóit gelukkig sal wees. Jou geluk lê nie by Charles nie, Rosalie. Jy moenie oorhaastig wees nie.”
Sy kyk weg.
“Daar is geen ander uitweg nie, Renier.”
’n Lang ruk nadat hy weg is, klim sy eers op Harmonie se rug en keer huiswaarts.
Dis ’n vreemdeling wat die eerste nuus van Derek Leyds bring. Dis ’n man en sy vrou wat drinkplek vir hulle vee kom soek het op Leydshoop.
Markus is nie iemand wat sy hand toehou vir mense wat in nood verkeer nie, en hy nooi die egpaar om die aand op Leydshoop te oornag voordat hulle die volgende dag verder trek na ’n plaas in die Suid-Vrystaat.
Ouder gewoonte vra oom Markus die man uit oor sy seun. Hy het die gewoonte jare gelede aangekweek omdat hy nog altyd gehoop het om nuus van sy verlore seun te kry.
Hierdie keer kyk die man fronsend op na Markus.
“Derek Leyds? Ja, ek het van hom gehoor.”
Rosalie is die enigste ander persoon in die vertrek. Hanna en haar kinders is al weg kamer toe.
Markus leun dringend vooroor.
“Wat het u van hom gehoor?”
Die man dink ’n oomblik na en sê dan: “Ek weet net sy vrou is omtrent drie of vier jaar na hulle huwelik dood. Derek het te laat gekom vir haar begrafnis en mal van verdriet die wildernis ingevaar. Party mense sê dat hy van sy kop af geraak het, maar hy het elke dan en wan teruggekeer na die beskawing om voorrade te koop. Hy was baie stil, maar beslis nie mal nie.”
“Wanneer laas het u van hom gehoor?”
“Omtrent tien jaar gelede. Toe het hy olifante langs die Limpopo gejag.”
Markus sit terug in sy stoel.
“Hy mag dus dalk nog leef?”
“Dis baie moontlik.”
Mevrou Verdoorn maak verskoning sodat sy kan gaan slaap en laat haar man alleen by Rosalie en Markus.
“Het u hom persoonlik geken?” wil Markus weet.
Verdoorn skud sy kop stadig.