Emily Hobhouse: Geliefde verraaier. Elsabé Brits. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Elsabé Brits
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624075752
Скачать книгу
by step I prepared the way. Sternly I economised and saved. Greatly I felt the wrench and anxiety for my aged relatives. But never did the vision fade of those desolate women and children, nor the certainty that I must go to them.”108

      Om geld te spaar, reis sy tweedeklas op die Avondale Castle wat op 7 Desember na die Kaap vertrek.

      Die maand tevore is Horatio Herbert Kitchener tot bevelvoerder van die Britse magte in Suid-Afrika bevorder nadat hy tweede in bevel was onder lord Roberts. Kitchener, pas tot generaal bevorder, het kort tevore teruggekeer van die Soedan waar hy die goewerneur-generaal was; twee jaar vroeër het hy die bloedige veldslag van Omdurman in Kartoem gewen waarin sowat 10 800 Soedanese en 48 soldate aan Britse kant gesterf het.

      Kitchener is ’n 50-jarige alleenloper en bekend daarvoor dat hy vroue nie kan verdra nie. Hy laat glo ná die verlies van ’n jeugliefde net ongetroude mans naby hom toe en staan nooit onderhoude aan vroue toe nie.109

      Terwyl Emily ter see is, stuur Kitchener ’n memorandum aan sy offisiere. Die vroue en kinders wat na die konsentrasiekampe gestuur word, moet in twee kategorieë verdeel word: Die gesinne van wapenneerlêers en neutrale burgers; en dié wie se mans, seuns of pa’s nog veg. Die laaste groep moet as “Ongewensdes” (Undesirables) bekend staan. Voorkeur moet in alle opsigte aan die eerste kategorie gegee word, is sy opdrag.110

      Emily lees boeke oor Suid-Afrika en leer soveel as moontlik “Boer Dutch”, soos sy na die ontwikkelende Afrikaans verwys. Sy het reeds lesse in Londen ontvang, want sy hou reeds van “die Taal” omdat dit soveel humor, teerheid en poëtiese gevoel kan oordra.111

      Sy is alleen onderweg – ’n 40-jarige vrou op pad na ’n warm, stowwerige land op ’n kontinent en sy mense wat sy glad nie ken nie, in alle opsigte soveel anders as haar eie land.

      Én daar woed ’n oorlog.

      Twee dae ná Kersdag 1900 vaar die Avondale Castle die hawe van Tafelbaai binne. Die doelgerigte vrou wat in Suid-Afrika aankom, is intellektueel gevorm en het ’n sterk mening oor verskeie sake, veral wanneer morele waardes op die spel is. Sy skryf onvermoeid briewe en versoekskrifte in elegante, eietydse, dikwels dramatiese Engels wat getuig van ’n wye woordeskat waarmee sy gereeld skrywers en digters aanhaal.

      Sy het staalblou oë met ligte,112 golwende hare wat sy wegkam van haar voorkop en aan die agterkant van haar kop liggies saambondel. Haar hare maak groterige kartels, maar dit krul nie. Sy begin grys word; dit laat hier en daar strepe in haar hare.

      Emily – 1,72 m in haar sokkies – se houding is fier en regop; sy is lank en statig, goed geklee en bewus van haar stand. Sy is alles behalwe “dumpy”,113 maar “klein van bou” en met ’n kenmerkende effense arendsneus.114

      Emily is oorweldig deur Tafelberg se prag en die “pienk-goud van die sonsopkoms”. Die skip het al vieruur die oggend aangekom, maar die hawe is só vol dat sleepbote die passasiers aan wal moet bring. Emily is haastig en neem die eerste een wat sy in die hande kan kry.

      Weens die oorlog is daar ’n geharwar in die hawe waartydens Emily haar bagasie verloor, wat sy eers twee dae later terugkry. Sy gaan tuis by Caroline Murray en haar man, dr. Charles Murray, in Kenilworth waar etlike vriende en kennisse haar kom verwelkom, onder andere Mary Sauer (née Cloete), vrou van die Kaapse politikus Jacobus Wilhelmus Sauer.115

      Laatmiddag sit Emily op die stoep en eet vye en appelkose met ’n mak meerkat op haar skoot, “asof ek hom my lewe lank ken”. Die dae aan boord van die skip het sy meestal gebruik om “Boer Dutch” by ander passasiers te leer.116

      Nou is die volgende groot uitdaging: Hoe gaan sy in die noorde van die land kom? Verblyf sal nie ’n probleem wees nie, want sy kry talle uitnodigings om op plase oor te bly. Intussen verneem sy van 4 000 vroue en kinders “in ’n soort gevangeniskamp in Johannesburg”. Mense vertel haar dat nóg 600 plaashuise die afgelope week afgebrand is.117 Dit is die eerste woord wat Emily van die bestaan van konsentrasiekampe hoor (hoewel dié term toe nog nie algemeen gebruik is nie).

      In die eerste dae van Januarie 1901 begin sy ’n prentjie vorm van vroue en kinders wat in “vlugtelingkampe” geplaas word. “Daar is nie duidelikheid hieroor nie, maar erge bekommernis heers in die Kaap oor familielede in die Vrystaat en Transvaal … In Engeland het ons niks gehoor van die bestaan van sulke kampe nie. Meer as ooit tevore het ek gevoel ek moet daar uitkom.”118

      Orals waar sy kuier, ontmoet sy vroue wat na die Kaap gedeporteer is nadat hul huise afgebrand is en hulle alles verloor het. Wat aan haar vertel word, is “vernederend en hartverskeurend” en om ure lank simpatiek daarna te luister, is meer as wat sy gedink het menslik moontlik is, skryf sy op 6 Januarie (1901) vanaf Schoongezicht, die plaas van die politikus John X. Merriman. Wat nog meer onrusbarend is: Sy verneem van talle kampe waarin vroue en kinders aangehou word. “Daar is erge vrees oor die toestande in hierdie kampe.” Niemand weet hoeveel daar is nie, “maar hulle neem toe”.119

      Emily skryf aan sir Alfred Milner, goewerneur van die Kaapkolonie en Britse hoë kommissaris, en versoek om hom persoonlik te spreek. Haar eerste poging is onsuksesvol toe Milner se sekretaris laat blyk “die toestand van vroue en kinders” sal haar nie naby die belangrike sir bring nie en sy moet maar wag. Gouer as wat sy egter verwag het, word sy op 8 Januarie 1901 vir middagete genooi.120

      By haar het sy voorstellingsbriewe van haar tante, lady Hobhouse en haar neef Henry Hobhouse V,121 ’n lid van die Britse parlement. Henry en Milner is sedert hul studentedae aan Oxford vriende.122

      Maar ’n verlammende vrees (“I am in a blue funk”) pak Emily beet. Sy is bang sy kry nie haar boodskap oortuigend aan Milner oorgedra nie. Dié 48-jarige vrygesel is nou die goewerneur van Transvaal én die Vrystaat, asook van die Kaap, en steeds die Britse hoë kommissaris.

      “En soos gewoonlik in tye van geestelike of emosionele druk, het my hart so woes geklop, ek kon skaars asemhaal. Indien ek faal, sou alles waarvoor ek maande lank geswoeg het, tot niks kom nie en ’n ontelbare aantal lewens sal verlore wees.”123

      Sy is alleen op die trein onderweg van Kenilworth na die goewerneurswoning Government House (die latere Tuynhuys) in Kaapstad. In haar handsak soek sy na iets koesterends. Daarin is ’n brief van Kate Courtney, en onderaan het haar man ’n boodskappie geskryf: “I add two words, be prudent, be calm … ”

      Dit laat haar effens kalmeer, maar dit duur nie lank nie, want sy het gehoop om Milner alleen te spreek maar sy moet middagete saam met hom en agt ander mans nuttig. Sy ken nie een van hulle nie.

      Milner wil sommer oor ete al voor al die ander mans met Emily gesels, maar sy pleit: “Net 15 minute ná ete, asseblief.”

      Milner: Ek het te veel werk.

      Emily: Ek is juis hier om oor werk te praat.

      Milner gee toe.

      Ná die ete neem hulle op ’n sofa in sy woonkamer plaas en begin heftig menings lug. “We went at it hammer and tongs for an hour.” Sy sorg dat Milner onder geen illusies oor die gees van die Boerevroue verkeer nie, want sy het baie van hulle ontmoet: “How do you think will you govern thousands of Joans of Arc?” wil sy weet.

      Sy vra ook vir treintrokke om haar proviand en klere saam te neem na die binneland. ’n Afrikanervrou moet haar asseblief vergesel.

      Verbasend genoeg, erken Milner dat die verskroeide-aarde-beleid ’n fout was. Hy het self gesien hoe vroue in treintrokke vervoer word en dit het hom “ongemaklik” gelaat. “Uiteindelik stem hy in om my versoek aan te stuur dat ek die kampe as ’n verteenwoordiger van die Engelse beweging besoek, en dat ek ’n Hollandse meisie kan saamneem as verteenwoordiger van Suid-Afrika …” Daar is egter ’n voorwaarde: Lord Kitchener, opperbevelvoerder van die Britse magte, moet dit goedkeur.124

      Nou het Emily nie veel hoop nie. Die kanse dat hy, die “Slagter van Kartoem” en boonop ’n vrouehater, “twéé vroue sal verwelkom weens die moeilikheid wat hy vir homself op die hals gehaal het om duisende te hanteer” is skraal.125

      Toe Emily