Emily Hobhouse: Geliefde verraaier. Elsabé Brits. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Elsabé Brits
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624075752
Скачать книгу
Daar is niks in haar tent nie – net vlieë, hitte, haar vyf kinders en ’n swart meisie. Verskeie ander vroue kom in om ook hul stories te vertel. Saam lag en huil hulle “in swak Engels en swak Afrikaans”.143

      Terwyl hulle daar sit, seil ’n slang die tent binne en algar hardloop uit. Emily takel die slang met haar sambreel totdat ’n man opdaag en die ongedierte van kant maak.144

      Oor die volgende paar dae vertel die vroue een ná die ander hul verhale vir Emily: Hoe hul plaashuise en gesaaides afgebrand is, hul vee keelaf gesny of gewond gelaat is om te vrek; hoe hulle dae lank op waens en/of treine gery het en in die kamp ingedwing is … Dit is verhale van verlies, blootstelling, hongersnood, siekte, pyn en verlange. “Die vroue is wonderlik, hulle huil baie min en kla nooit … Net wanneer dit weer diep in hulle sny vanweë hul kinders se lyding, vlam hulle op.”145

      Binne vier dae kom Emily agter wat die aard en omvang van die ellende in die kamp is. Selfs die mees basiese lewensmiddele ontbreek. Daar is nie eens kerse nie. Dit word net gebruik indien iemand baie siek is. Daar is geen seep nie, en daar was nog nooit.

      Daar is nie ’n lykstent nie; die dooies lê in die hitte tussen die mense totdat hulle begrawe word. Oral sit vlieë dik en pikswart. Daar is gemiddeld ses mense in een klein tent, maar in baie gevalle is daar tussen nege en tien.146

      Daar is nie ’n skool vir die kinders nie. Daar is omtrent geen hout of kole om enige drinkwater of kos te kook nie en die Modderriver se water is vuil. Ingewandskoors kom oral voor. Water is beperk tot twee emmers vir agt mense – om te drink, te was en te kook. Die kos is nie naastenby genoeg nie.

      Dit is “moord om die kampe aan die gang te hou” wat seker al 50 000 mense huisves, besef Emily.

      Haar voorstel aan kapt. Albert Hume, wat aangewys is om haar aan te hoor, is om ’n warmwatertenk van die spoorweë te kry en almal se water daarin te kook. Die 50 koeie wat veronderstel is om melk aan die kampinwoners te lewer, is so maer en uitgeteer hulle lewer net vier emmers melk per dag. Sy is ook bekommerd oor die “native camp” met sowat 500 mense wat versorging nodig het.147

      Emily teken noukeurig die rantsoene aan soos dit op 16 Januarie 1901 in die Bloemfontein-kamp uitgemeet is:

      “Vlugtelinge”

      Meel of mieliemeel: 1 pond per dag

      Vleis: ¾ pond per dag

      Koffie: 1 ons per dag

      Suiker: 2 onse per dag

      Sout: ½ ons per dag

      “Ongewensdes”

      Mieliemeel (of “samp”, aartappels, meel, rys): ¾ pond per dag

      Vleis: 1 pond, twee keer per week

      Koffie: 1 ons per dag

      Suiker: 2 onse per dag

      Sout: ½ ons per dag

      Kinders onder 6 jaar (“Vlugtelinge”)

      Meel of mieliemeel: ½ pond per dag

      Vleis: ½ pond per dag

      Melk: ¼ blikkie per dag

      Suiker: 1 ons per dag

      Sout: ½ ons per dag

      Kinders onder 6 jaar (“Ongewensdes”)

      Mieliemeel: ½ pond per dag

      Vleis: ½ pond twee keer per week

      Melk: ¼ blikkie per dag

      Suiker: 1 ons per dag

      Sout: ½ ons per dag148

      Emily se plan is om aan die hand van ’n ooggetuieverslag die “ander kant van die oorlogstorie” te vertel, ’n alternatiewe narratief as die een wat die militêre owerhede en die Britse politici aan die wêreld voorhou. Sy begin om individuele vroue se verhale neer te pen (wat uiteindelik in haar boek The Brunt of the War and Where it Fell verskyn).149 Sy wil ook met die inligting wat sy inwin, ’n verslag vir die South African Conciliation Committee in Engeland opstel.

      Dag ná dag loop Emily van tent tot tent waar mense haar oral nader roep: “Kom kyk, suster.” (Baie van die vroue het Emily as ’n verpleegster beskou en vandaar die benaming.)

      ’n Baba van ses maande wat in sy ma se arms lê en snak na sy asem.

      Kinders wat uitgeteer weens masels niks anders kan doen as lê nie.

      ’n Jong vrou van 24 jaar wat op die grond lê, besig om te sterf.

      Emily vervies haar vir kapt. Hume wat meen sy is te simpatiek teenoor die kampinwoners en stuur hom om brandewyn vir die sterwende vrou te gaan haal.150

      ’n Man stap nader en vra dat sy na sy seun moet kom kyk wat al drie maande siek is. “It was a dear little chap of four and nothing left of him except his great brown eyes and white teeth from which the lips where drawn back, too thin to close. His body was emaciated.”

      Ontsteld roep Emily vir Hume nader. “‘You shall look,’ I said. And I made him come in and showed him the complete child skeleton. Then at last he did say it was awful to see the children suffering so …” Nogtans was daar geen melk vir die sterwende kind nie.

      “I can’t describe what it is to see these children lying about in a state of collapse – it is just exactly like faded flowers thrown away. And one hates to stand and look on at such misery and be able to do almost nothing.”151

      Die Britse soldate kyk haar aan asof sy tegelyk ’n dwaas, idioot én verraaier is. Sy glo die materiële verwoesting en die lyding van die liggaam is een ding, maar die ergste van ’n oorlog is die morele moeras wat daaruit ontaard en alles besmet, skryf Emily.

      Dit is in dié tyd dat sy Lizzie van Zyl152 in die hospitaaltent in die Bloemfonteinse konsentrasiekamp raakgesien het. Op die bekende foto van ’n uitgeteerde Lizzie lê die pop wat Emily vir haar gegee het, langs haar.

      Die Engelse verpleegster sê vir Emily dit is die 7-jarige Lizzie se ma se skuld dat haar kind so lyk omdat sy die kind uitgehonger het. Emily byt swaar aan dié storie en vra mense in die kamp daaroor uit. Sy hoor die uithonger-bewering het sy oorsprong by die Van Zyls se bure wat sogenaamde “Vlugtelinge” was terwyl Lizzie se ma as ’n “Ongewensde” geklassifiseer is omdat haar man steeds in die oorlog geveg het. As “Ongewensdes” het die Van Zyls minder kos as die “Vlugtelinge” gekry.

      Lizzie se ma het haar later uit die hospitaaltent verwyder omdat daar nie behoorlik na haar omgesien is nie. Emily het later berig hoedat sy Lizzie, “nie veel meer as ’n geraamte nie”, in die leë tent gaan sien het waar sy op ’n klein matrassie gelê en in die warm tent na asem gesnak het. Sy het vriende op die dorp gekry om vir Lizzie ’n moeselien-kappie te maak om die vlieë van haar kaal kop weg te hou. “Ek was besig om ’n karretjie vir haar te laat maak sodat sy na buite getrek kon word, maar voordat die hout in die hande gekry kon word, het die koue nagte gekom …”153

      Lizzie het vroeg in Mei 1901 gesterf, moontlik aan ingewandskoors. Ander algemene siektes was masels, kinkhoes, skarlakenkoors, bronchitis, diarree onder babas, witseerkeel en longontsteking. Min mense in die kampe was regtig gesond.154

      Die atmosfeer in Bloemfontein is so neerdrukkend dat Emily verlam en geïntimideerd voel “like being in continual disgrace or banishment or imprisonment. Some days I think I must cut and run ( … ) The feeling is intolerable. To watch all these Englishmen taking this horrible line and doing these awfull things …”155

      Sy is begaan oor die beeld van haar land, en die skade wat Engeland aanrig; nogtans bly sy patrioties. “As die Engelse mense maar net ’n bietjie verbeelding wil gebruik en die hele ellendige toneel kan sien en dan sê hoe lank sulke wreedheid nog verduur moet word …”

      Van haar tante Mary wil sy weet of dié nie ’n brief in dié trant in die Londense Times kan skryf nie, wat mense sal laat luister en glo en verstaan; iets wat hul gewete sal aanraak nie? “Is Engeland bang om haar prestige te verloor? Wel, in dié land is dit reeds verlore.”156

      Die