Emily Hobhouse: Geliefde verraaier. Elsabé Brits. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Elsabé Brits
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624075752
Скачать книгу
nie vir alle ander mense saak nie “and that you can’t make a silk purse out of a sow’s ear”. Sy besef die gemeente is maar ’n klein wêreldjie en ver verwyderd van ’n groter werklikheid daarbuite.22

      Sy stem ook nie met haar pa saam dat godsdienstig andersdenkendes – diegene wat nie met alles van die Anglikaanse Kerk saamstem nie – verstoot moet word nie en besoek sulke mense gereeld.23

      Haar pa se preke, waarna sy al twintig jaar lank luister, staan haar later nie meer aan nie. Die probleem is “hy het so min om te sê – nie dat hy dit nie kon sê nie”. Hy het te verwyderd van gewone mense geleef om hulle goed te verstaan. “Alles wat modern was in die wetenskap en wat denkrigtings betref, het hy nie gelees nie.” Net een keer hoor sy hom uit sy hart preek en toe huil hy.24

      In 1880 word Emily se ma siek weens ’n breingewas en sterf binne maande. Emily is 20 jaar oud, haar broer Leonard studeer aan Oxford en Alfred is lankal uit die huis en land-uit na Nieu-Seeland. Net Maud is nog daar en hulle sien nou om na haar pa, wat ná sy vrou se dood ook siek geword het. Hy is nou nog meer in homself gekeer, afgesonder en weier dat Emily haar talente ontwikkel.

      Maud trou in 1889 sonder haar pa se seën met een van die kerk se hulppredikers, Ernest Hebblethwaite, waarskynlik om van die onderdrukkende atmosfeer tuis te ontsnap.25

      Emily gee Sondagskoolklasse, sy sing in die kerkkoor en speel die orrel. Haar lewe draai om haar pa en die groepie mense in St. Ive. Sy lees elke dag vir hom uit The Times en bly só op die hoogte van wat in die wêreld aangaan – dít prikkel haar belangstelling in die politiek. Soos haar broer en oom, lord Hobhouse, ontwikkel Emily liberale politieke oortuigings, nie konserwatief soos haar pa nie.26 Sy durf dit egter nie met hom bespreek nie.

      Leonard trou in 1891 met Nora Hadwed in Oxford, waar hy eers by Merton College en later by Corpus Christi College klasgee. Hul eersteling, Oliver, word ’n jaar later gebore en is een van die min vreugdes in Emily se lewe.27

      Emily se pa weier dat sy enige jong mans ontmoet. Sy moet na hom omsien en haar kanse om te trou en ’n gesin te hê raak skraal. Die eensaamheid en frustrasie dwing haar tot “morbiede introspeksie en histerie”, want al wat sy kan doen, is sing, klavierspeel en vioolspeel. “I was so low that I took to illumination …” (’n soort ligbehandeling teen depressie).

      Uiteindelik probeer sy om te skryf, maar dit kan sy nie doen voordat sy nie van die “kettings van St. Ive” verlos is nie. Dekades later skryf sy daaroor: “Ek kry geen aantekeninge van daardie jare nie. Dit is opgeteken in my gees en gelukkig sal dit saam met my sterf. Dit was ’n tydperk van marteling …”28

      Die omstandighede moet hel gewees het vir iemand met Emily se verstand en gees. Ses jaar lank bly sy (afgesien van die bediendes) alleen in die pastorie saam met haar pa.

      Op die bitter koue dag van 27 Januarie 1895 sterf hy. “Dit was die einde van ons lewe as ’n familie.”

      Al Hobhouse se besittings – van ’n perd, varke en hoenders tot meubels, skilderye en ’n tjello – word opgeveil. Emily erf £5 300 van haar pa.29

      Twee weke ná sy dood pak Emily haar tasse en verlaat St. Ive. Sy het nooit weer daarheen teruggekeer nie.

      Die motor se meter wys dit is net 2°C toe ek die 8 km van Liskeard na St. Ive aflê. Dis ’n piepklein plattelandse gehuggie waardeur ’n mens kan ry sonder om dit te besef.

      ’n Pragtige ou kerk, ongeveer in die middel van die paar huise, kan ’n mens nie miskyk nie. Ek herken dit aan foto’s daarvan wat ek gesien het. Dit is waar Reginald Hobhouse ’n halfeeu lank die predikant was.

      Hier is ek skielik in die hartjie van Emily se vroeë leefwêreld. ’n Honderd meter verderaan is die pastorie waar sy haar eerste lewensjare deurgebring het.

      Soos vooraf afgespreek, ontmoet ’n paar gemeentelede my hier. “Ons is groot aanhangers van Emily,” vertel Dennis en sy vrou, Doreen.

      Ons stap na die kerkhof wat die kerk omring. Emily se ma en pa lê langs mekaar begrawe. Aan die oorkant staan die kothuisie nog waar haar pa gebly het voordat hy getroud is en voordat die pastoriepaar hul nuwe blyplek betrek het.

      Ek loop om die kerk, op die paadjie langs na die deur waardeur Emily elke Sondag vir soveel jare geloop het, verby die doopvont van klip aan die agterkant van die kerk waar sy op 1 Mei 1860 gedoop is, af met die paadjie tot by die preekstoel van waar Reginald preke gelewer het wat sy begaafde dogter so verveel het.

      Teen die muur langs die preekstoel is daar afsonderlike brons-gedenkplaatjies: vir Reginald vir 50 jaar diens, vir Leonard, Emily, Alfred en Maud; en nog een vir Reginald, sy vrou en die ander kinders.

      ’n Gemeentelid, Paddy, vertel Emily het in die koor gesing en het ook die orrel gespeel. “Dáár is die koorbanke. Die mans het hiér gesit en die vroue aan die oorkant, dit was nog altyd so. Emily moes in dié bank gesit het,” beduie hy.

      Wanneer ’n mens in dié bank sit, is die preekstoel verhewe voor jou, met die kerkgangers links en die loodglasvensters regs. Die orrel wat Emily bespeel het, is reg agter my. Ek verbeel my Emily is ook hier, en sluit my oë om 125 jaar terug te reis en my in te dink in Emily se posisie.

      Met baie nou trappies waarop ’n mens jou voet skuins moet draai, kan ’n mens in die donker kerktoring opklim. Aan die een kant is daar vashouplek aan ’n blou tou. Aan die ander kant is daar niks.

      Bo van die toring af het ’n mens ’n mooi uitsig oor die omgewing. Skuins oorkant is die reghoekige ou klip-en-rooistandsteen-pastorie van die Hobhouse’e — ’n Britse Erfenisgebou wat uit 1852-1854 dateer. Daar is twee verdiepings, met ’n solder, kelder en buitegeboue op die erf van ’n paar akker. Die dak is van pragtige leiklip.30

      Dennis en Doreen verseker my dis feitlik onmoontlik om in die huis toegelaat te word. Talle joernaliste, TV-spanne en skrywers het al in die stof gebyt. Vier maande tevore het ek egter langs ’n omweg met die eienaar kontak gemaak wat voorlopig ingestem het tot ’n besoek. Maar sal hy dit nog onthou, en finaal instem?

      Sowaar! Hy onthou my lang storie oor die telefoon en nooi my vriendelik binne.

      Ek stap oor die drumpel Emily se wêreld binne. Bo die deur hang die oorspronklike klokkietou waarvan daar in elke belangrike vertrek een was — ’n soort naelstring tussen eienaars en bediendes. Wanneer iemand die toutjie getrek het, het daar op ’n bord in die bediende-area ’n klokkie by die naam van die vertrek gelui sodat die bediendes geweet het waarheen om hulle te haas.

      Hul kamers is naby die kelder, spens en kombuis met sy ruim kookarea en afsonderlike opwasarea. Dit word duidelik van die leefarea van die huismense deur ’n dik deur afgesper en die houtvloer verander hier na dienlike teëls. ’n Buitedeur lei na die stalle en buitegeboue waar voorrade geberg is.

      Daar is ’n ruim leefkamer, of “drawing room” waar die familie sou gesit en lees of gesels het. Die vuurherd is nog daar en word omvou deur swart marmer. En ook ’n studeerkamer waar al die boeke moes gewees het.

      Op met die trappe is die slaapkamers met dik, afgekante houtbalke in die dak. Daar is verskeie slaapkamers met aantrekkamers en badkamers met kaggels, maar dit is onmoontlik om te sê watter slaapkamer Emily s’n was. Die vensters is ruim en kyk uit op die groot erf waar die kinders heerlik sou baljaar het. Dis ook hier waar Emily en “Old Rodge” pluimbal gespeel en die kinders hul eie klein groentetuintjies gehad het.

      Die pastorie waarin Emily-hulle gebly het, is sedert 1965 in private besit.

      Ons stap agter om die huis en ek staan lank in die tuin en kyk na die mooi ou huis, die buitegeboue en die stalle. “Daar is ’n aangename tuin om die huis, met baie blomme en groente. Daar is vier veldjies en ons het twee koeie, twee varke en baie troeteldiere,” skryf Maud in 1873 toe Emily 13 was.31

      Ná hul pa, Reginald, se dood in Januarie 1895 was hier “twee vet varke, ’n perd, koeie en kalwers” te