Emily Hobhouse: Geliefde verraaier. Elsabé Brits. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Elsabé Brits
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624075752
Скачать книгу
Isabella Steyn (née Fraser)157 of “Tibbie” soos die Skotse benaming was. Emily het haar enkele dae tevore in Bloemfontein sien stap, met ’n soldaat wat agter haar loop, omdat die Engelse haar nie vertrou nie. “A handsome woman, dignified and self-controlled,” skryf Emily later. Die twee vroue gesels lank en innig en hou dadelik van mekaar.

      Van Emily sê Tibbie: “Sy was een beeld schoon vrou, uiters intelligent en werklike hart en siel om verbetering in die kampe te weeg te breng. Ons is verskrikilik veel aan haar verskuldig want was dit nie vir haar nie sou die sterfte syfer veel veel hoger onder die vroue en kinders gewees het.”158

      Emily het Pretyman onder geen wanindruk gelaat oor wat sy van sy kamp dink nie. Wat haar die meeste gegru het, is die toestand van die toilette. Die slopemmers is nie gereeld uitgegooi nie en die reuk by die tente wat wind-af gestaan het, was aaklig.159

      Pretyman laat nie op hom wag om haar verdag te maak nie. Emily het vooraf gesê haar sending is nie-polities, skryf hy aan Milner, maar hy hoor sedert haar aankoms “het die vlugtelinge in die kamp skielik uitgevind hulle word swak behandel en hulle behoort meer geriewe te kry. Ek kan sien sy het baie simpatie met ons vyande … Ek is bevrees dié soort fanatikus sal nie ons saak goed doen nie.”

      Nogtans doen Pretyman ook ’n verbasende erkenning: “But at the same time I could not help in my heart agreeing with her that this policy of bringing in the women and children to these camps, is a mistaken one.”160

      Op 2 Februarie 1901 vertrek Emily op haar eie in ’n goederetrein na Norvalspont, sowat 195 km suid van Bloemfontein. Sy is in ’n vreemde, snikhete, stowwerige wêreld. In haar briewe aan tante Mary is die adres: “The Land of Nod” – die plek oos van die Bybelse Eden waarheen Kain verban is nadat hy sy broer, Abel, doodgeslaan het.

      Ná wat sy by Bloemfontein aangetref het, vrees Emily wat by Norvalspont op haar wag waar daar 1 500 mense in die kamp is. Sy is egter beïndruk met die kamphoof, kapt. Du Plat Taylor, omdat die kampinwoners nie water uit die Oranjerivier hoef te gebruik nie, maar fonteinwater wat met ’n pyp aangelê is. Die kos is effens beter as by Bloemfontein en daar is nie ’n uitbraak van siektes nie, hoewel almal wat na die hospitaaltent toe gaan, daar sterf. Daar is ’n skool vir die kinders, maar klere word dringend benodig.

      Die meeste mense in die Norvalspontkamp is “oorlogsgevangenes”, soos Emily hulle noem, terwyl die minderheid “Vlugtelinge” is. Sy let oral in die kampe op dat hulle by verre die minderheid is en dat hulle in groot markiestente gehuisves word met meubels en ander luukshede. Die militêre owerhede hou egter steeds teenoor haar vol dat die meeste mense “vlugtelinge” is wat vrywillig na die kampe gekom het.

      Van hier haal Emily die trein na Aliwal-Noord, sowat 155 km oos van Norvalspont. Die dorp het net 800 inwoners, maar die konsentrasiekamp huisves reeds 2 000 mense. Ook hier is sy beïndruk met die kampkommandant, maj. Apthorp, wat die kamp netjies hou en sorg dat die inwoners twee keer per week gedroogde groente en aartappels kry.161

      Emily deel klere uit. Soos in al die ander kampe, is hier nie seep nie. “Mans dink nie aan sulke dinge nie … Hulle sê net: ‘Kyk hoe vuil is dié mense.’”162

      Terwyl Emily van die een kamp na die ander reis, neem die owerhede toenemend kennis van haar doen en late. Maj. Hamilton Goold-Adams, wat Pretyman intussen opgevolg het, laat weet vir Milner:

      “Miss Hobhouse has been playing the dickens with the women in the camps.” Sy, Tibbie Steyn, Maynie Fleck en Caroline Fichardt “veroorsaak ’n groot mate van onrus deur onder dié mense die swaarkry te benadruk wat hulle ervaar”.

      “Ek het betroubaar verneem dat mej. Hobhouse hier is namens die Liberale Party om inligting in te samel vir hul doeleindes. Sy het omsendbriewe rondgestuur aan verskeie individue om oor hul omstandighede uit te vra en of hul plase afgebrand is.”163

      Op haar beurt beskryf sy Goold-Adams as energiek, oop en minsaam, maar met beperkte verstand. Sy kon dit nie verduur dat sulke mans die lot van vroue en kinders bepaal nie. Sy het klaarblyklik ook nie veel agting vir hul militêre vermoëns gehad nie en het nie gedink hulle is in staat om genl. Christiaan de Wet aan te keer nie. Daar is “too much riding and shooting and picnicking and polo and golf playing for war to have much place. (…) All those Tommies asleep upon the line and all the badly kept offices. Oh dear it is dreadful … it is remarked as a surprise when an officer does behave like a gentleman.”164

      Die mense in die konsentrasiekampe lig haar in dat hulle nooit onder Britse gesag sal staan nie. Op hul beurt minag en haat die Engelse die “Dutch” en wys dit by elke moontlike geleentheid, terwyl die Boerevroue geskok is oor die barbaarse optrede jeens hulle deur mense wat hulle gemeen het ’n beskaafde nasie is.

      Op 21 Februarie (1901) is Emily terug in Bloemfontein – waar talle briewe van oorsee op haar wag. Haar tante, lady Hobhouse, vertel dat lord Hobhouse gehelp het om die nuwe koning, Edward VII, wyle Victoria se seun, te beëdig. Kate Courtney laat weet dat die South African Women and Children Distress Fund-komitee vergader het nadat hulle haar briewe ontvang het; hulle sal by ’n bank in Kaapstad nog £500 vir haar beskikbaar stel.165 Die geld kon nie gou genoeg kom nie, want die nood in die kampe is bitter groot.

      Onderwys het Emily altyd na aan die hart gelê. Sy kry die plan om ’n paar van die meisies met die meeste potensiaal uit die kampe te kry en hulle vir skoolopleiding te stuur. In Bloemfontein is daar ’n “Dames-instituut” (later herdoop tot die Eunice High School), wat volgens haar inligting een van die beste meisieskole in die land is. Sy kies vier meisies uit: Hettie en Lizzie Botha, Eunice Ferreira en Engela van Rooyen, almal tussen 14 en 18 jaar. (Die Botha-meisies is die kinders van mev. P. J. Botha (née Stegman) wat sy die eerste dag in die kamp ontmoet het en wat Emily ywerig bygestaan het.) Dit kos £100 om die meisies ’n jaar lank daar te hou; skoolgeld, klere en losies ingesluit.166

      Dit neem briewe tussen Suid-Afrika en Engeland tot ’n maand om hul bestemming te bereik. Die komitee is nog huiwerig om dit vir publikasie aan die koerante te stuur. Hulle weet nog nie sy was al in drie konsentrasiekampe nie; net dat sy daarheen op pad was en van die inligting wat sy in die Kaap ingesamel het.

      Daar is vermoedens in Engeland dat dit nie goed gaan in die kampe nie, maar inligting is baie skraps. Intussen bly die sterftesyfer in die kampe klim. Emily vergelyk dit met die plattelandse gemeente van haar kinderdae in St. Ive waar daar sowat 2 000 mense was. ’n Begrafnis was ’n yslike gebeurtenis, “maar hier word tussen 25 en 30 lyke per dag weggedra”.167

      “Hulle beskuldig my daarvan dat ek politiek praat, terwyl ons net van siekte en dood gepraat het. Hulle het beswaar gemaak teen my ‘simpatieke toon’, maar juis dit was nodig, met woord en daad. Die sterftes is baie stil gehou, en na ’n tyd is die lyke teen sonsopkoms weggedra. Pleks daarvan om deur die dorp te beweeg, het hulle die begraafplaas van die ander kant af benader. Baie is saam in een graf begrawe.”168 Die sterftesyfer is nou 200 tot 390 per 1 000 mense, berig Emily.169

      Sy gaan spreek die nuwe kampkommandant by Bloemfontein, kapt. Trollope, oor die hoë sterftesyfer. Hy wil sarkasties weet of sy nie maar almal in die Vrystaatse kampe van klere sal voorsien nie! En sal sy nie ook geld gee vir die oprigting van ’n kinderhospitaal nie?

      Emily laat hom goed verstaan dit is die Britse regering se verantwoordelikheid om ’n hospitaal te bou. Omdat sy nie toegelaat is om al die kampe te besoek nie, onderneem sy om in dié wat sy wel mag besoek, aan die vroue en kinders – nie die mans nie – klere te gee.170

      Intussen stuur van die Kaapse vroue, onder leiding van Caroline Murray, ook klere en kos na die kampe. Emily vra herhaaldelik dat die mense in die kampe wat familie het wat na hulle kan omsien, vrygelaat moet word, maar daar kom dadels van. Nadat sy aangedring het op meer verpleegsters, kom daar darem vier Engelse vroue uit die Kaap aan, maar een van hulle is pal dronk en nog een se kwalifikasie is vervals.

      Soggens neem Caroline (Fichardt) se kar en perde Emily na die kamp buite Bloemfontein, maar heeldag loop sy heen en weer in die hitte en stof, van een tent na die ander. Saans stap sy die twee myl terug na die Fichardts se woning. Dit is elke dag haar roetine, ook Saterdae en Sondae. Sy rus feitlik nooit. Stadig maar seker word die toestande effe beter in die kampe, maar Emily wens steeds die “jingo’s wil self hierheen kom