Emily Hobhouse: Geliefde verraaier. Elsabé Brits. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Elsabé Brits
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624075752
Скачать книгу
maar dat hulle nie saam sal vertrek nie. Hy bly eers agter om sy sake af te handel. Die dorpsmense is hartseer om in September (1896) van Emily afskeid te neem en tientalle mense sien haar af – met ’n orkes wat haar straataf tot by die stasie begelei.

      Die trein is onderweg na Cleveland, Ohio50 waar Emily ’n tyd lank by vriende van haar skoonsuster Nora (Leonard se vrou) kuier voordat sy verder na Mexiko reis – ’n rit wat vyf dae duur. Emily is die een wat nuwe moontlikhede vir haar en John moet ondersoek, terwyl hy sy sake in Virginia afhandel. Uiteindelik koop sy met haar erfgeld ’n plaas in Mexiko waarop reeds koffie, piesangs, pynappels en vanilla geplant is en laat teen £80 ’n huis daarop bou. Die plaas is so afgeleë dat Emily dit nooit sien nie.

      Dae, weke en maande gaan verby, maar John daag nie op nie.

      Danksy nuwe vriende wat Emily gemaak het, word sy ’n regeringskontrak aangebied waarvolgens John vars vleis aan Mexiko-stad kan lewer. Emily het net 12 uur om te besluit of sy die konsessie van £1 200 gaan koop. Met wat oor is van haar erfgeld, gaan sy dié waagstuk aan.51

      Die hele winter van 1896 wag Emily vir John in Mexiko, terwyl sy Spaans en geskiedenis leer, en soms skilder. Maande lank hoop sy …

      John was waarskynlik teen April 1897 bankrot, want sy winkel met al die voorraad daarin word verkoop en kort daarna verlaat hy Virginia “sonder om eers hand te skud”. Volgens ’n berig in The Virginian is hy onderweg na Chicago om Emily te ontmoet en daar met haar te trou; van daar gaan hy na Mexiko waar ’n nuwe hoë posisie glo op hom wag.

      Dit blyk egter dat alles nie só rooskleuring was nie: Die man wat sy winkel gekoop het, moet dit dadelik weens regsaksies sluit, want John is insolvent. Boonop is Virginia se beurs leeg nadat hy ’n jaar lank die burgemeester was.52

      Emily hoop steeds om met John herenig te word en reis na Chicago om hom daar te ontmoet. Onderweg daarheen ontplof die trein se enjin en sy sien hoe die drywer se liggaam deur die lug trek. Voor die deur van haar kompartement lê die verbrande lyk van die stoker.

      Was dit dalk ’n voorbode van wat sou volg? Emily glo steeds sy en John gaan in die huwelik tree, waarskynlik droom sy van haar eie kinders, maar uiteindelik kom daar niks van nie.53 Bevele word teen John uitgereik om weens slegte skuld in die hof te verskyn.54

      Vir ’n tyd lank in 1897 keer Emily terug na Engeland om haar familie te besoek. By haar het sy ’n trourok én in dié tyd kom kuier John by haar en die familie in Brittanje, maar min is oor dié besoek bekend.55

      Met die trourok in haar tas, reis Emily vroeg in 1898 weer na Mexiko soos sy en John afgespreek het. Intussen is ’n brief van hom op pad na haar om te sê sy moet haar vertrek uitstel, maar dit bereik haar nie betyds nie.56

      In Mexiko is daar geen spoor van John nie. Binne enkele weke is Emily op pad terug huis toe, na Londen en haar oom Arthur en tante Mary, lord en lady Hobhouse.

      Te midde van al dié onsekerheid en reise, verloor Emily ook die plaas in Mexiko. Wat verkeerd gegaan het, is nie duidelik nie, maar daar is ’n sterk vermoede dat John Emily finansieel misbruik het. Hy wou moontlik nooit regtig met haar getrou het nie. Emily was egter opreg verlief, wou graag met hom in die huwelik tree en het geglo dit sou gebeur. Oor dié seer het sy nooit geskryf in dokumente wat behoue gebly het nie.

      Tog is daar iets wat Emily haar hele lank bewaar het: Die bruidsluier wat sy nooit gedra het nie. Dit is van die fynste kant gemaak.

      3

      ’n Visie wat soos ’n saad groei

      “The constantly renewed picture of women and children homeless, desperate and distressed, formed and fixed itself in my mind and never once left me. (It) became a vision of vivid reality wherein I saw myself amongst the sufferers bearing relief. I never doubted then that I should go …”

      Emily Hobhouse in haar onvoltooide outobiografie, 1900

      “The case for intervention is overwhelming …” Volgens die oggendkoerant waaruit Emily daardie somersoggend in 1899 aan die ontbyttafel vir lord en lady Hobhouse voorlees, is dít die woorde van Alfred Milner, goewerneur van die Kaapkolonie en Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika, in ’n telegram aan Joseph Chamberlain, die Britse koloniale sekretaris.57

      “Dit beteken na my mening oorlog,” is lord Hobhouse se somber opmerking. Almal om die ontbyttafel is ontsteld oor die “donker wolk van oorlog” wat die hele somer lank in Brittanje in die nuus is.

      Vir Emily is die nuus van ’n komende oorlog “ongelooflik”, maar sy besef dit is duidelik onvermydelik. Tog is dit ’n tyd van kalmte en vrede in haar lewe waarin sy lang ente saam met haar oom en sy hondjie, Meg, gaan stap en sy en haar tante met die kar en perde op uitstappies gaan. Lord en lady Hobhouse het nie kinders nie en behandel Emily soos ’n eie kind, maar sy voel sy “kan nie baie vertroulik met hulle praat nie”.58

      Lord Hobhouse dien as regter in die regering se geheime raad (privy council), wat meebring dat hy ook nie openlik sy mening – onder meer sy teenkanting teen die dreigende oorlog in Suid-Afrika – kan lug nie.

      Die spanning in Suid-Afrika het ’n lang aanloop gehad. Ná die Eerste Vryheidsoorlog (16 Desember 1880-23 Maart 1881) tussen die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en Brittanje is die Transvaal aan die Boere, of burgers,59 teruggegee en het hulle ’n mate van selfregering gekry.60 Die Britse regering het steeds die mag behou rakende buitelandse beleid en wetgewing insake swart mense, maar in 1884 is groter binnelandse beheer aan die Transvaal toegestaan.61

      Die oomblik toe goud egter in 1886 aan die Witwatersrand ontdek is, het alles verander en sogenaamde Uitlanders, die meeste van hulle Britse onderdane, het die land binnegestroom. Kort voor lank wou hulle stemreg en seggenskap in die myne hê62 en het beweer hulle word “deur die Boere onderdruk”.63

      Cecil John Rhodes, wat gedroom het van ’n verenigde Suid-Afrika onder die Britse vlag, het in 1890 eerste minister van die Kaapkolonie geword. Die land was reeds omring deur Britse kolonies. Rhodes wou beheer oor die goudmyne hê en al manier was om die Transvaal in te val in die hoop dat dit die Uitlanders sou opstook.

      Rhodes se vriend Leander Starr Jameson en sy huursoldate, asook sommige Uitlanders, het die Transvaal oor Nuwejaar in 1895/’96 via die destydse Betsjoeanaland (Botswana) ingeval. Hulle is egter deur die Boere verslaan voordat hulle Johannesburg kon bereik, maar die “Jameson-inval” het die vertroue tussen Boer en Brit finaal geknak.64

      Rhodes het as eerste minister bedank, maar sy beeld het nie in Brittanje skade gely nie.65 Chamberlain, die Britse koloniale sekretaris en ’n geswore imperialis, het klaarblyklik die Jameson-inval gesteun.66 Om die Vrystaat en Transvaal te annekseer en met die Kaap en Natal te laat saamsmelt, sou die juweel in die imperiale kroon wees met die Britse vlag wat van die Kaap tot in Kaïro wapper.67

      In reaksie hierop het die Afrikaners al meer nasionalisties geraak en groter waarde aan hul identiteit begin heg. In die Kaapkolonie het al meer Afrikaners hul volksgenote in die noorde begin steun in hul anti-Britse sentiment. Die Uitlanders het al sterker uitdrukking gegee aan hul gegriefdheid: Hulle het daarop aanspraak gemaak dat hulle die meerderheid van die wit bevolking uitmaak en het hulle met ’n petisie op Brittanje beroep om hulle te help om gelyke regte – veral stemreg – te verkry.68

      Chamberlain stuur sir Alfred Milner, die nuwe goewerneur van die Kaapkolonie en Britse hoë kommissaris, om met Paul Kruger, president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), in Mei 1899 in Bloemfontein te vergader om dié probleme te bespreek. Pres. M.T. (Theunis) Steyn wil allesbehalwe oorlog hê en nooi hulle na Bloemfontein om daar gesprek te voer. Maar Milner is beslis, hy wil Kruger dwing om aan die Uitlanders ná vyf jaar se verblyf stemreg te gee.69 Kruger weier, hy dring aan op sewe jaar. Boonop verlang hy vergoeding vir die Jameson-inval en vra dat Swaziland by die Transvaal ingelyf word.

      Op 5 Junie 1899 verbreek Milner die onderhandelinge70 en stuur die later berugte en emosioneel gelade telegram aan Chamberlain waarin hy onder meer sê die Uitlanders is weinig meer as slawe: “The case for intervention is overwhelming … The spectacle of thousands of British subjects kept permanently in the position of helots, constantly chafing under undoubted grievances,