Emily Hobhouse: Geliefde verraaier. Elsabé Brits. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Elsabé Brits
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624075752
Скачать книгу

      

      ELSABÉ BRITS

      Tafelberg

      Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van Emily Hobhouse: Geliefde verraaier verskil van dié van die gedrukte uitgawe omrede van bruikbaarheid. Die teks word in geheel weergegee, maar alle foto’s wat in die drukboek verskyn kon nie gebruik word nie.

      [no image in epub file]

      Skets: Ruan Huisamen.

      Aanloop

      In die winter van 2013 het ek Rykie van Reenen se jeugboek oor Emily Hobhouse, Heldin uit die vreemde, in ’n snuisterywinkel op Prins Albert in die Karoo raakgeloop. Soos baie ander mense het ek Emily se storie breedweg geken, maar daar was dinge in die boek wat my bygebly het. Een daarvan was die indruk dat Emily veel méér was as die vrou uit die Britse “upper class” wat haar tydens die Anglo-Boereoorlog die lot van die vroue en kinders in konsentrasiekampe in die verre Suid-Afrika aangetrek het.

      Ek het meer oor haar begin lees, ook boeke wat my vrou, Carol, vir my van oorsee bestel het. Die “laaste strooi” was toe ek lees van die vindingryke ploegplan wat Emily bedink het om die verslae burgers van Transvaal en die Vrystaat ná die oorlog weer op die been te kry.

      Dit het my ook gefassineer dat in Suid-Afrika so min bekend is oor Emily die liberale sosialis, pasifis en feminis.

      So bevind ek my veertien maande later in ’n motor saam met Will, ’n Kanadese moteleienaar, op ’n grondpaadjie op Vancouver-eiland. Die pad kronkel deur ’n laning bome verby ’n aspersieplaas en ’n skool tot by ’n houthuis. In die deur staan ’n klein, effens krom vroutjie met ylerige spierwit hare.

      Jennifer Hobhouse Balme. “A! Jy is hier,” sê sy. “Welkom!” Ons groet en ek vou albei my hande om hare.

      Uiteindelik, ná byna ’n jaar se e-posse, ’n ligte slenter om toegang tot die Britse Biblioteek in Londen te verkry, ’n byna onbetaamlike deursoeking op die lughawe van Vancouver en ’n reis van ’n paar duisend kilometer uit Suid-Afrika, is ek hier aan die Cowichan-baai in ’n klein vissersdorpie aan die Stille Oseaan.

      Jennifer se oupa, prof. Leonard Trelawny (“L.T.”) Hobhouse, was die jonger broer van Emily. Jennifer (geb. 1929) is waarskynlik die laaste lewende persoon wat staaltjies oor Emily kan vertel wat sy eerstehands by bloedverwante van haar groottante gehoor het. ’n Jaar tevore, in September 2013, het ek Jennifer opgespoor en ons het begin korrespondeer. Sy het laat weet dat haar pa, Oliver, ’n trommel en ’n paar bokse met van Emily se besittings aan haar nagelaat het, maar sy het nie veel uitgewei nie.

      Sy nooi my vriendelik binne. In die studeerkamer op die boonste verdieping begin sy die familie uit te lê. Haar oupa, “L.T.” Hobhouse, ’n bekende akademikus in sosiologie, was nie net Emily se jonger broer nie, maar ook onder die broers en susters die naaste aan haar. Sy seun, Oliver Hobhouse, was Emily se oogappel en uiteindelik ook haar erfgenaam. En Oliver was Jennifer se pa.

      As Oliver se enigste oorlewende kind het hy alles wat hy van Emily geërf het, aan haar nagelaat. En nadat Jennifer in 1966 met ’n Kanadees getroud is, het dit saam met haar hierheen gekom.

      In een hoek van die studeerkamer staan ’n naaldwerktafeltjie wat aan Emily behoort het. Twee van haar boeke – The Brunt of the War and Where it Fell en War Without Glamour – is op die rak.

      Op die koffietafel lê ’n stapel handgeskrewe papiere, toegevou in nou al verslete bruinpapier. “Hier is haar onvoltooide outobiografie nog net so,” vertel Jennifer, wat self twee boeke oor Emily — To Love One’s Enemies en Agent of Peace — geskryf het. Kopspelde wat byna ’n eeu oud is, hou die blaaie steeds bymekaar. Dit is een van net twee kopieë wat Emily met die hand geskryf het. Dele daarvan het sy getik, soms met die tikmasjien op haar skoot terwyl sy in haar laaste jare in die bed gelê het.

      Sy het in 1922 daarmee begin, maar kon dit nie voor haar dood voltooi nie. Dele is deur ander mense getik.* Die manuskrip is in die vorm van ’n lang brief aan waarskynlik haar beste vriendin, Rachel Isabella (“Tibbie”) Steyn, vrou van die Vrystaatse president, Marthinus Steyn.

      “In daai boks is haar goed oor die Anglo-Boereoorlog,” wys Jennifer, “in dáárdie een alles oor Duitsland en die Eerste Wêreld-oorlog... Jy weet van die kinders in Leipzig? En die Russiese babas?” en sy wys na bokse op die vloer. Daar’s ook ’n trommel.

      Binne-in die trommel met ou foto’s is ’n boks. Toe ek dit oplig, lê dit daar: drie plakboeke wat Emily gemaak het; twee daarvan oor haar ervarings in Suid-Afrika en een oor haar werk in Duitsland ná die Eerste Wêreldoorlog. Dan is daar nog ’n ouer plakboek met sketse wat Emily se ma gemaak het, en ’n paar foto’s!

      En — om alles te kroon — in die trommel lê ook vier A5-boekies in hardeband, almal netjies gemerk. Dagboeke. Nog nêrens het ek van die bestaan daarvan gelees of gehoor nie.

      Dit het die Tweede Wêreldoorlog in Oliver se prokureurskantoor in Londen oorleef te midde van honderde geboue wat tydens die bomaanvalle platgevee is. Ook in die trommel is daar honderde briewe, dokumente, foto’s en ’n afskrif van Emily se onvoltooide outobiografie.

      Dit is alles hier, in Kanada op ’n eiland. Wat ’n wonderlike vonds!

      Híér is Emily ... in dié dagboeke en plakboeke. ’n Ongekende, intieme blik op die ware Emily.

      Ek bewe behoorlik van opgewondenheid. Hier gaan ek — hopelik — antwoorde op baie van my vrae oor die enigmatiese en onverskrokke Emily kry: Wie was sy werklik, en wat het daartoe gelei dat haar land, baie van haar vriende en selfs van haar familie haar verstoot het? Sou dit anders gewees het as sy ’n man was?

      Hoe het sy dit reggekry om deur die verstikkende bande van die Victoriaanse tyd waarin sy gebore is, te breek en ’n wêreldburger te word? Wat het haar besiel om haar op ’n verre donker vasteland te gaan vereenselwig met mense met wie sy geen bande gehad het nie?

      Was sy ’n held of ’n skurk? Of dalk selfs ’n verraaier?

      1

      Van slaweskip tot vryheidsvlug

      “I envied the boys the special tutors they had, people whose brains they had the right to pick; of whom they might ask questions. I never had anyone to cut my mental teeth upon. School lessons always bored me ... They never taught me the things I wanted to know.”

      Emily Hobhouse, 15 jaar oud

      ’N egpaar van St. Ive in Cornwallis word voor die hof gedaag omdat hulle “wreed is teenoor hulle kinders”. Toe die owerhede by die huis opdaag, is die ma erg ontsteld, want sy kan nie behoorlik na die kinders omsien nie omdat hulle te arm is.

      Die polisieman wat die huis deursoek, kan nêrens kos vind nie. Die kinders is vuil, maer en verhonger. ’n Dokter wat die kinders ondersoek het, sê hulle is erg verhonger maar nie mishandel nie.1

      Die volgende getuie is die 31-jarige Emily Hobhouse. Sy besoek die familie gereeld, en het al voorheen vir hulle kos en melk geneem. Sy getuig hulle ís arm en verwaarloos. Die pa kan nie werk nie, want hy is te swak. Sy het die diepste simpatie met hulle. As hulle tronk toe gestuur word, getuig Emily, “sal hulle slegter daaraan toe wees om die stryd van die lewe te voer”.2

      Die magistraat besluit teen gevangenisstraf. Emily betaal die £10 waarborg vir hulle.

      Sy besoek gereeld die armes in haar pa, Reginald Hobhouse, die aartsdeken van Bodmin, se gemeente van St. Ive en die naburige Pensilva, vyf myl van Liskeard in Cornwallis in die suidweste van Engeland. St. Ive (in Engels uitgespreek “Eve”) is ’n mooi piepklein dorpie wat genoem is na Sanctus Yvo, ’n biskop wat in 1201 die Engelse van paganisme na die Christendom help bekeer het.3

      Emily hou ’n lys van armlastiges by wat sy gereeld besoek en probeer bystaan.4 Dit is ook sy wat ’n biblioteek in die omgewing begin en te voet die siekes in die gemeente besoek, omdat daar nie ’n dokter is nie.5 Dít is egter nie vir haar genoeg nie, in haar brand ’n vlammetjie om méér te doen, ’n groter verskil te maak.

      Emily Hobhouse