Emily Hobhouse: Geliefde verraaier. Elsabé Brits. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Elsabé Brits
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624075752
Скачать книгу
in die kondukteurswa, wat hy as slaapplek ingerig het, kan oornag. Hy sal elders gaan slaap. So verlig is sy oor dié goedhartigheid, dat sy op die bedjie neerval en begin huil.

      Toe sy rondkyk, sien sy hy het vir haar ’n bad voorberei en die bed opgemaak. O, dit was ’n wonderlike nag, skryf sy. Vir haar is hy, ene Pates, byna soos ’n heilige.

      Die volgende dag vertrek die trein uiteindelik na De Aar waar hulle ure lank oorstaan. Sy rus in die stasiewagkamer, maar die wag gooi haar daar uit. Die trein na Noupoort kom eers die volgende oggend om vieruur.

      Emily sien etlike treine wat op pad is na Kaapstad. Die versoeking is groot om in te klim en ’n einde te maak aan die eindelose gewag in die middel van nêrens. Sy dwing haarself om anderpad te kyk, want die versoeking is byna te groot om te weerstaan.

      Dit is ’n melankoliese reis vir Emily; sy voel siek en sy weet boonop dat hulle verby slagvelde moet ry: Belmont, Graspan, Modderrivier, Magersfontein … In die verte sien sy telkens loopgrawe en grafte.187

      Uiteindelik kom sy op 12 Maart in Kimberley aan waar sy in die Queens Hotel, 20 minute se stap van die kamp af, tuisgaan. Die kampkommandant is ene maj. Wright vir wie Emily vinnig opsom as grof, lui en “’n ongeërgde ou man”. Daar is geen verpleegster in die kamp nie en die tente is oorvol en vuil, terwyl talle van die inwoners masels en kinkhoes het.

      Een van die ongelukkige inwoners is ’n mev. Douw wat saam met haar kinders, onder wie ’n baba van 17 dae, deur genl. Paul Methuen en sy soldate op haar plaas gevange geneem is. Sy het Methuen gesmeek dat hulle hul donkie kon saamneem omdat dit al melk was wat die baba kon drink. Hy het ingestem, maar die donkie het in die Kimberley-kamp verdwyn. Hulle het die baba koeimelk probeer ingee, maar die kind het bly kwyn.188

      Toe Emily in die kamp kom, is ’n nuwe donkie in die hande gekry, maar die baba was reeds erg verswak. “Hy het nog gelewe toe ek die oggend daar was,” skryf Emily, “maar teen die middag was hy dood. Hulle het my nader gewink om te kom kyk hoe die klein dingetjie uitgelê is – met ’n wit blom in sy klein handjie. Onskuldig en vermoor.”189

      Om die smart te probeer verlig, het Emily vir mev. Douw swart materiaal gekoop vir ’n rok om in te rou; ’n gepaste geskenk van Engeland, het sy gemeen. Sy wonder hoe Methuen se vrou sou gevoel het as dit haar baba was.190

      Die vroue in Kimberley is bitter en antagonisties, meer as in enige van die ander kampe waar Emily al was; nie teenoor haar nie, maar oor wat met hulle gebeur het. Sy wens sy kon ses van die jong meisies Engeland toe stuur om vir die Britse kabinet te vertel wat hier in die naam van Engeland gedoen word, “want ’n mens kan nie ’n argument teen hulle wen nie”.

      Die vroue vertel vir haar dat van hulle na Vryburg se stasie gebring is deur groot groepe gewapende swart mans wat aan die Engelse kant veg. Die vroue het dit as “verskriklik” ervaar. Al meer hoor sy van plase wat afgebrand word deur swart mense terwyl daar soms geen Britse offisier teenwoordig is nie.

      In ’n lang brief aan haar broer Leonard skryf Emily: “Jy moenie dink dat ek net die slegte gevalle uitkies om van te vertel nie. Ek gaan die tente lukraak binne en teken aan wat hulle my vertel, en verlaat die kamp sonder om dié mense te sien wat die ergste dinge beleef het.”191

      Emily wil terugkeer Bloemfontein toe, maar sy het nie ’n permit daarvoor nie en Pretyman, wat nou in Kimberley gestasioneer is, maak dit nie vir haar maklik nie nadat sy hom met die kindersterftes in sy kamp gekonfronteer het. Hy is kwaad. Dit is onkundige ma’s wat met boererate hul eie kinders se dood veroorsaak, is sy verweer.

      Nee, besluit hy, sy kan ’n permit vir ’n reis na De Aar of Kaapstad kry, maar nie na Bloemfontein nie.

      Nou moet Emily besluit wat haar te doen staan. Dalk terug Kaap toe om nog ’n treintrok vol klere te kry? Maar intussen het sy gehoor daar is ’n kamp by Warrenton geopen en daar is ontsettende nood. Dalk moet sy soontoe én Mafeking toe gaan? Uiteindelik besluit sy op die Kaap; sonder voorrade kan sy nie werklik die nood help verlig nie.

      Intussen het die South African Conciliation Committee by lord en lady Hobhouse se huis in Mayfair, Londen vergader om Emily se briewe voor te lees, terwyl sy weer alleen op ’n trein vol siek Tommies op pad Kaap toe is. Sy versorg die siek soldate en kook vir hulle kos; stap saam met hulle in die veld wanneer die trein ure lank êrens staan.192 Onderweg sien sy treintrokke vol gewapende swart mans en sê vir haarself: Dis naïef om te dink hulle is nie deel van die oorlog nie.

      Op 24 Maart (1901) kom Emily in Kaapstad aan waar sy weer by Caroline Murray tuisgaan. Sy spreek ’n groot vergadering mense in die stad anderhalfuur lank toe oor presies wat in die kampe aangaan. Sy is waarskynlik die enigste mens wat soveel van die kampe self besoek het.193 Die pakkie briewe aan haar wat sy in die stad ontvang, is “erg gesensor, selfs twee maal”.194

      Emily ontmoet sir Walter Hely-Hutchinson, die nuwe goewerneur, wat haar die nodige permitte gee om Warrenton én Mafeking te besoek. Hy is ook baie behulpsaam om tonne klere, wat die Kaapse vroue help insamel het, per trein na die verskillende kampe te stuur. Dié keer laat lewer Emily dit regstreeks by die betrokke kampe af. Die rit van Kaapstad na Kimberley duur vyf dae, maar sy is vasbeslote om die mense in dié kamp weer in hul nood by te staan.

      Die treinreise is uitputtend en eensaam; daar is niemand met wie Emily kan praat oor wat sy werklik voel en dink nie. Telkens neem sy haar toevlug tot pen en papier en skryf uitvoerige briewe aan die familie in Engeland, al loop dit eers onder die sensors se skêr deur. Al koop sy ’n eersteklaskaartjie en is sy ure voor die tyd op die stasie, kry sy selde ’n sitplek in dié waens. Die Engelse offisiere druk haar eenvoudig uit die pad en sit net waar hulle wil. “Eersteklas hier is soos derdeklas by die huis, enigiets minder is vuil en dit stink.”195

      Vier dae later is sy weer onderweg na Mafeking toe die trein op Warrenton stilhou. Hier tref sy 310 vroue aan wat in die kerk en skoolgeboue ingedruk is omdat daar geen tente vir hulle is nie. Nóg honderde vroue en kinders is op pad nadat al die Boerekommando’s van Hoopstad ook gevange geneem is, deel ’n jong Britse kaptein haar op die trein mee.196

      Êrens buite Warrenton op pad na Mafeking sien Emily langs die treinspoor ’n toneel wat haar haar lewe lank bybly:

      ’n Malende massa mense, wit en swart.

      Gevange vroue en kinders.

      Soldate.

      Duisende diere van alle soorte. Perdekarre en waens. Die diere bulk dors na kos en water.

      Die vroue en kinders se gesigte is vertrek van die pyn weens blootstelling, honger en uitputting. Dit gee die wreedheid en verskrikking van oorlog op sy duidelikste weer.

      Emily is tot in haar siel geskok. Sy weet hulle is op pad na Warrenton en daar is nie eens ’n enkele tent nie, om van kos en medikasie nie te praat nie. Dinge gaan vir hulle almal net vererger. Sy weet, want sy was pas daar.

      Boonop is dit 9 April 1901, haar 41ste verjaardag.

      Die volgende dag kom sy die eerste keer in Mafeking aan: “… a lonely, lonely spot. Mafeking itself feels like the end of the world and the camp seems like driving six miles into space.”197

      Dit is die oudste kamp waar sy nog was. Dit bestaan reeds byna ’n jaar. Daar is 900 mense. Die kampinwoners is baie verbaas dat ’n Engelse vrou hier in die gramadoelas opdaag, klaarblyklik omdat sy vir hulle omgee. Drie dae lank is sy elke dag in die kamp waar sy die mense uitvra, opteken wat aangaan en probeer om die militêre owerhede te oortuig om die omstandighede te verbeter.198

      Ook hier is geen seep nie, en baie mense het nie komberse nie. Emily deel klere uit en kry sewe kampvroue om haar met alles te help. ’n Sekere mev. Coetzee (’n “interessante karakter”) begin skielik wroeg omdat die Engelse soveel omgee dat hulle ’n vrou gestuur het om die Boere se lyding te ondersoek.

      Die toneel langs die treinspoor buite Warrenton spook steeds by Emily. Op 13 April is sy terug op dié dorp. Van die meer as 300 mense van vroeër is daar nou net 150, maar op die stasie is nog twee treinvragte vol mense, op oop steenkooltrokke. Oral waar sy verneem, blyk dit dat niemand geweet het dat dié mense – sowat 240 van hulle – hier sou aankom nie. Niemand kan help nie en niemand