“Ma ook.”
Ek het toilet toe gestap. Lank gewag om te kan piepie. Die piepie wou net nie kom nie. Toe bed toe. Ek het so koud gekry onder die kombers en deken dat ek na die gangkas gesluip het om nog ’n kombers te gaan haal. Nog steeds was dit nie genoeg nie. Ek het gelê en bewe. My lyf was yskoud. Hoekom het hy dit gedoen? Hoekom? Ek het vir Spokie onder van my voete af opgetel, hom onder die komberse ingedwing, teen my maag, sodat ek ’n bietjie van sy warmte kon steel. Hy het hom lank uitgestrek, hard begin spin. “Ek is lief vir jou, Spook,” het ek vir hom gefluister.
Diep in die nag het ek wakker geskrik, die nattigheid tussen my bene gevoel. Spokie was lankal weg, die plek waar hy gelê het, was koud en nat. Handdoeke gaan haal, styf om my lyf gedraai sodat ek die nattigheid nie voel nie. Vroeg die volgende oggend die nat handdoeke tussen die ander in die kas weggepak. Ek sou later vir Paulina van die nat handdoeke vertel, saam sou ons ’n plan kon maak. Die ekstra kombers in die gangkas teruggesit. Self my bed opgemaak. Ma was so trots op my. Sy moes nie weet van die nattigheid in my bed nie. Ek wou my ma vertel, maar hoe? Wat sou haar reaksie wees? Ná wat by die skool gebeur het, kon ek nie. Ek het nie die moed gehad om met haar oor sulke dinge te praat nie. Tussen my en my ma was daar nog altyd ’n kloof waaroor nie een van ons ’n brug kon of wou bou nie. My ma sou nie verstaan dat dit nie my skuld was nie.
Die Maandagmiddag ná skool lê daar die mooiste pop op my bed. Met die fynste klere aan. “’n Porseleinpop. Is sy nie pragtig nie?”
“Sy is! Dankie, Mamma!”
“Dis nie van my nie, Anna. Dis van oom Danie. Hy bederf jou vreeslik.”
Die pop wás mooi, maar as jy goed gekyk het, sou jy die spot in haar oë gelees het.
Queenstown. Ek sal moet stop vir petrol. En ek is dors. Ek kyk weer op my horlosie, daar is genoeg tyd om in die Wimpy te gaan sit. Dis koud. Ek sal koffie drink, iets eet. Ek kry ’n plekkie naby die kombuis. Ek hou daarvan naby die kombuis, die stemme laat my altyd gerus voel, asof ek nie so alleen is nie. Vanaand het ek dit meer as gewoonlik nodig. Ek’s bang. Moenie! keer ek myself. Moenie. Konsentreer. Ek mag nie nou bang word nie. Ek moet deurdruk. Ek moet doen wat gedoen moet word. Wat ek lankal moes gedoen het. ’n Vakerige jong meisie kom neem my bestelling. Dis laat, ek wonder tot wanneer sy nog moet werk. Die plek is stil, dis net ek en ’n ouerige man wat kliphard aan sy koffie slurp. Wonder waarheen hy op pad is. Dis asof daar skielik lewe in die spul in die kombuis gekom het. Ek hoor die ge-tjie-tjie. Sien die onderlangse blikke na my kant toe. Ek behoort al daaraan gewoond te wees, maar ek is nie. Almal kyk, altyd. Omdat ek, ’n vrou, bid jou aan, vormlose klere dra en verkies om sonder grimering te loop. Van my lang hare het ek jare gelede afgesien. Afgeskeer. Met ’n knipper. Borselkop. Jeans, oorgroot hemde, tekkies, dis my uniform. Ek is die androgene wese waarteen my ma so hard baklei het. Een van my gereelde kliënte het eendag reguit vir my gevra hoekom ek, wat myself met soveel mooi goed omring, nie ook mooi aantrek nie, nie ligstrepies in my hare laat sit nie, nie grimering dra nie. Ek het net gelag. En die waarheid diep binne-in my gebêre: sodat geen man, jonk of oud, ooit weer na my sal kyk met lus in sy oë nie.
Dis ’n ander meisie, wakkerder, wat my toebroodjie en koppie koffie voor my neersit, terwyl sy onderlangs na my loer.
Ek het vroeg al geleer om die verlede in die verlede te los. Om vorentoe te kyk, vir vandag te lewe. Dís hoekom hierdie terugreis vir my so moeilik is. Hoekom ek die dood op elke telefoon- of kragpaal sóék. ’n Uil. My pa het geglo dat ’n uil die dood voorspel. Tot dusver het ek nog nie een gesien nie. Ek eet my toebroodjie klaar, sluk hard teen die bitterheid wat in my keel opstoot. Die laaste bietjie koffie is te soet. Ek roer nooit my koffie goed genoeg nie, daar bly altyd te veel soetigheid vir die laaste sluk oor. Sou hulle in die tronk vir ’n mens soet koffie gee? Lekker sterk, soet koffie? Moenie. Los dit.
“Sal Pappa weer trou?” vra ek terwyl ons besig is om sy nuwe bakkie te was.
“Trou? Ek? Nee, my skat, nie maklik nie.”
“Hoekom nie? Mamma gaan tog weer trou.”
Hy het stil gaan staan, die nat, skuimerige spons in sy hand. Ons het sy nuwe bakkie elke Saterdagoggend gewas. Hy was heilig daarop. “Ek wou nog altyd ’n bakkie gehad het, maar jou ma het ’n gesinsmotor verkies,” het hy trots gesê toe hy my die eerste keer daarmee kom oplaai. “’n Man moet ’n bakkie hê waarop hy sy visstokke kan laai.”
“Pappa?” het ek versigtig gevra. Hy het na my gekyk, toe stadig geglimlag asof hy van ver weg terugkom.
“Het sy gesê sy gaan trou?”
“Nee, maar ek weet mos. Nie nou al nie, sê Klein-Danie, eers wanneer hulle mekaar beter ken.”
“Kom ons spuit die bakkie af,” het hy gesê, skielik stroef.
Hoekom sê ek sulke goed vir hom, het ek gewonder, ek weet tog dit maak hom seer. Halfpad deur die afspuit het hy weer sy ou self geword, my skielik begin natspuit, terwyl ek gillend probeer wegkom. Ons was albei natter as die bakkie toe ons klaar is.
“Gaan trek gou iets anders aan, dan gaan haal ons jou geskenk.”
Hy het belowe dis iets moois. Ek het ’n jean en ’n bloedrooi toppie aangetrek omdat ek geweet het hy sou daarvan hou. Omdat ek hom graag wou troos. Rooi was nog altyd sy gunstelingkleur. My nat hare het ek so goed ek kon drooggevryf; hy het dit uitgekam, my kuif uit my oë gevee.
“Jy lyk pragtig. Kom ons ry.”
Ons is na my pa se vriend Willem toe. Ek het altyd daarvan gehou by oom Willem en tannie Marta. Hulle het nie kinders gehad nie, maar hulle het baie speelgoed gehad. En tannie Marta het nie omgegee as ek in die huis speel of koeldrank mors nie. “Is my geskenk hier? Wat is dit, Pappa?”
“Jy sal nou sien, ou agie.”
Ons is agterom die huis, saam met oom Willem.
“’n Hond!” het ek gegil toe die twee Alsatians op my afstorm.
My pa het gelag. “Ja, een is oom Willem s’n, die ander een is joune.”
“Dankie, Pappa!” Ek het my arms om hom gegooi voor ek afgebuk het na die wollerige hond wat my stertswaaiend dopgehou het. Ek het my arms ook om hom geslaan, en hy het my met ’n nat tong deur die gesig gegroet.
“Hy hou klaar van jou,” het oom Willem gesê.
My pa het langs my gehurk. “Jy moet vir hom ’n naam gee.”
“Wat van Vlooi?” het ek voorgestel.
“Dis ’n mooi naam,” het my pa gehuiwer, “maar onthou, hy is nou nog net ’n baba. Dink jy nie dit sal verspot wees as hy groot is en hy het so ’n poep naampie nie?”
“Dan noem ek hom Sersant, soos Pappa.”
“Liewer Kaptein, dan is hy jou pa se baas,” het oom Willem gelag.
“Ja!” het ek uitbundig saamgestem.
Op pad huis toe, met Kaptein styf langs my op die sitplek, het ek hom dít gevra wat my toe al heeltyd pla van ek die honde gesien het: “Pappa, dink jy Mamma sal my toelaat om ’n hond aan te hou?”
“Ek glo nie, en daarom het ek gedink dat Kaptein maar by my moet bly, dan het hierdie ou man ook darem geselskap.”
“Dis nie lekker om ’n hond te hê wat nie eers by jou bly nie,” het ek dikmond geprotesteer.
“Ek weet,” het hy gesug, “maar dis beter as niks.”
Ek het gedink hoe swaar dit elke Sondagaand gaan wees om Kaptein agter te laat.
Ek en my pa het nooit Sondae kerk toe gegaan nie, tot my ma se ergernis. Maar my pa het voet by stuk gehou, in ’n kerk sou hy nie weer kom nie, nie lewend of dood nie. Sondae het ons rondgery. Strand toe, of as dit koud en nat was, is ons na die ysskaatsbaan. My pa kon ure lank daar bly. Terwyl ek bibberend smeek om huis toe te gaan, sou hy sê: net nog ’n rukkie. Hy het nie geskaats nie. Hy het op die rand bly staan en hom slap gelag vir die ouens wat val. As ons dan eindelik