Dis ek, Anna: die volle verhaal (filmuitgawe). Anchien Troskie as Elbie Lötter. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anchien Troskie as Elbie Lötter
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795707506
Скачать книгу
gelees. Alles wat ek kon. Haar gunsteling was die Huisgenoot. Ek moes sommige artikels vir haar oor en oor lees. Wanneer ons dan my ma-hulle hoor terugkom, het sy haar komberse gegryp en in die kombuis gaan wag.

      My pa het nog steeds gereeld kom kuier, maar nou het hy sy jeans aangehou.

      “Jo,” – hy het altyd vir haar Jo genoem as hy vir haar lief was – “kan ons nie maar weer probeer nie? Geen drank nie, ek belowe,” het hy een aand vir haar gesê.

      “Ek wens ek kon jou glo, Hendrik,” – sy het hom altyd Hendrik genoem, al was sy lief vir hom – “maar ek kan nie. Ek het ’n man ontmoet wat soos ek is. Hy drink nie, hy rook nie. Hy hou nie van rugby óf krieket óf visvang nie. Hy is welaf. Hy kan goed vir my en Anna sorg.”

      “Klink vir my meer na moffie as man,” het Pa gebrom. Ek kon nie help om te lag nie.

      “Anna! Hendrik!” het my ma gewaarsku. “Ek het hom lief, Hendrik.”

      “Wat van my? Wat van Anna?” het my pa gesmeek.

      “Anna is en bly my verantwoordelikheid. En wat tussen my en jou was, is lankal verby. Jy weet dit. As jy enige gevoel vir my oorhet, sal jy my hierdie geluk gun. Ek wil nie hê dat jy weer hierheen kom nie, jy maak net vir Anna deurmekaar. Skep verwagtinge wat daar nie is nie.”

      “Dink jy nie dis goed vir Anna om te sien dat haar ouers nog vriende is nie?”

      “Nee, ek dink die waarheid is beter: ons sal nooit vriende kan wees nie.”

      Hy het nie weer ingekom as hy my kom op- of aflaai nie.

      “Anna, ek weet jy sou graag wou hê dat ek en jou pa weer moet trou,” het my ma probeer verduidelik. “Maar dit kan nie. ’n Jakkals verander van hare, maar nie van streke nie.”

      “Wat beteken dit?”

      “Dit beteken dat hy ons kort voor lank weer sal los vir ’n ander vrou. Kyk na hom. Hy weet ek kan dit nie verdra as hy jeans of ’n baard dra nie, en tog doen hy dit.”

      “Hy het ’n brief van die dokter vir sy baard. Dis sy vel.”

      “Skelmstreke, dis wat dit is.”

      Oom Danie hét my ma gelukkig gemaak. Sy het meer en meer gelag. As toegif het ek haar einde van die jaar verras met ’n gemiddelde A+. Tien van die skool se toppresteerders is afgeneem vir die plaaslike koerant. Ek ook. My ma het die foto versigtig uitgeknip en laat raam. Toe hang sy die foto in my kamer.

      Vir my tiende verjaardag het my ma en oom Danie ons strand toe gevat. Dit was ’n wonderlike dag. Wolkloos. See potblou. Ek het die skokpienk bikini aangehad wat my ma net die vorige dag op my bed neergesit het. Die goue kettinkie met ’n hartjie waarop my naam gegraveer is, om my nek. Dit was my verjaardaggeskenk van my ma.

      “Wat wil jy graag vir jou verjaardag hê, Anna?” het sy die vorige week gevra.

      Ander jare sou ek net my skouers optrek, die opwinding van nié weet wat jou geskenk gaan wees nie, is soms beter as die geskenk self. Maar dié keer was ek reg met ’n antwoord. “Klere, asseblief, Mamma.”

      “Klere?” het sy verbaas geantwoord. “Maar, Anna, jy het ’n kas vol rokke.”

      “Ek wil nie meer rokke dra nie. Ek haat rokke! Ek wil shorts hê, en jeans en T-shirts.”

      “Anna.” My ma het haar hier-kom-’n-preek-gesig opgesit. “’n Vrou moet altyd soos ’n vrou lyk én voel. Jeans en kortbroeke werk vir die strand, maar andersins gaan dit jou nie soos een laat voel nie. ’n Vrou moet sag, toegewend wees. Broeke laat ’n meisie so mannetjiesagtig voorkom. En dít wil ons nie hê nie. Jy is ’n dogtertjie en jy moet soos een lyk. In elk geval het jy mos daardie mooi broeke vir die winter, en sweetpakke.”

      Dit was nie dieselfde nie, maar ek het stilgebly. Mens baklei nie met my ma nie. Jy wen tog nooit. Ek het die goue kettinkie gekry. Dit was baie mooi, maar ek sou die klere verkies het. Die bikini het sy as toegif gekoop. “Sien, dit is nou vir my mooi vroulik. Jy sal sien, as jy dit môre aantrek, gaan jy soos ’n regte prinses voel én lyk.”

      Oom Danie was dié dag so gaaf, hy het saam met my en Klein-Danie gespeel. Hy het my gekielie totdat dit gevoel het of die lag al die asem uit my longe druk. Hy het nie omgegee as ons hom vol sand gooi nie. Ons het so baie gelag, ek en Klein-Danie, roomys geëet wat taai aan ons hande geword het. Geswem. Toe my ma en oom Danie onder die sambreel inskuif om die ergste hitte te vermy, het Klein-Danie gesê ek moet saam met hom die hoogste duin uitklim. Die sand het ons voete gebrand sodat ons met elke tree ons voete diep in die fyn korrels gegrawe het, op soek na daardie koeligheid ónder die warm sand. Bo gekom, het hy sy T-hemp uitgetrek sodat ons daarop kon sit. Dat ons boude nie ook so moes brand soos ons voete nie. Terwyl hy nog uittrek, het ons op en af gespring om die ergste brand onder ons voete te probeer stil. Ons het op die hemp gaan sit, styf teen mekaar, voete in die sand begrawe. Uitasem het ons na my ma en sy pa tussen die menigte gesoek.

      “Jy weet dat hulle gaan trou, nè?” het Klein-Danie gevra.

      “Wie sê so?”

      “My pa sê so. Maar nie nou al nie. Later. Hy sê hulle moet mekaar eers goed leer ken. Hy wil nie dieselfde fout maak as wat hy met my ma gemaak het nie.”

      “My ma sê ook altyd dat my pa ’n fout was.”

      “Ek hou van jou ma.”

      “Ek hou van jou pa.”

      “Ek hou meer van my eie ma.”

      “Ek hou ook meer van my eie pa,” het ek hom getroef.

      “As hulle trou, sal ek vir jou ma Ma sê.”

      “Hoekom?”

      “Omdat ek van haar hou. Omdat my pa daarvan sal hou.”

      Ek het ’n rukkie doodstil gesit, dit oordink. Wat sou my pa daarvan sê as ek vir oom Danie ook Pa sê? Miskien, het ek gewonder, hoef hy nie te weet nie. “Dan sal ek ook vir jou pa Pa sê.” Ons het na mekaar gekyk, toe gelag.

      “Dan,” het Klein-Danie gesê, “hoef ons nie meer skaam te wees by die skool omdat ons pa’s en ma’s geskei is nie. Of omdat ek nie ’n boetie of sussie het nie.”

      “Ja.” Ek was nog nooit dáároor skaam nie, maar daardie dag vol son sou ek met alles wat Klein-Danie sê, saamstem.

      Ná aandete het oom Danie ons verras met ’n video wat hy gehuur het. “Vir die verjaardagnooi, omdat sy vandag so mooi in haar bikini gelyk het.”

      “Nou toe,” het my ma ons aangejaag, “trek julle nagklere aan, dan kan ons kyk.”

      Ek het gehardloop, al was dit streng teen die reëls, sodat ek die badkamer eerste kon gebruik. My ma het dié keer nie geraas nie.

      Die televisie was in my ma se kamer, en die twee grootmense het op die bed gelê en kyk. Ons twee kinders onder op die vloer, voor die bed.

      “Anna, kom lê hier by ons,” het oom Danie genooi. “Ons kan darem nie die verjaardagmeisie op die grond laat lê nie.”

      Hy het opgeskuif sodat hy in die middel lê, met ma en dogter weerskante van hom.

      Ek weet nie hoe dit gebeur het nie, eers het ek gedink ek droom, maar dit was te werklik. Toe ek regtig daarvan bewus word, was sy linkerhand, die hand naaste aan my, oral op my onderlyf. Hy het my gevryf, dáár. Ek was lam. Van skok. Kon nie beweeg nie. My ma het niks gesien nie. Of het sy? Hoekom doen sy niks? Is dit wat pa’s, of amperstiefpa’s dan, veronderstel was om aan kinders te doen? Hoekom doen my pa dit dan nie? Of sou hy dit nog doen?

      Hy het sy mond teen my oor gedruk, ek kon sy warm asem voel. Die soet geur van Old Spice ruik. “Sjuut,” het hy baie saggies gefluister. “Dis ons geheim. Omdat jy so mooi is.”

      Hy het eers sy hand uit my broekie gehaal toe ek begin ruk. Verskriklik ruk. Hoekom was my bene so lam? Hoekom kon ek nie praat nie? Toe die lewe terugkom in my bene, toe my lyf ophou ruk, het ek opgestaan. “Ek’s vaak, ek gaan slaap.”