Dis ek, Anna: die volle verhaal (filmuitgawe). Anchien Troskie as Elbie Lötter. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anchien Troskie as Elbie Lötter
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795707506
Скачать книгу
is nie. Maar,” en sy het haar vinger voor my neus geswaai, “dit mag nooit ooit weer gebeur nie, hoor jy? Wat jy gedoen het, was vuil, ’n mens se hande val sommer af as mens daar vroetel. Verstaan jy?”

      “Ja, Mamma.” Bedees.

      “Nou goed.” Sy het opgestaan. “Dan verstaan ons mekaar. Dis ons kans dié, Anna, om ’n nuwe begin te maak.”

      Ons lewe het ’n rustige patroon aangeneem. My en my ma s’n. Ons het geleer om met mekaar se nukke saam te leef. Sy was minder streng. Meer verdraagsaam. Al het sy my nog steeds gedwing om rokke, wat ek gehaat het, te dra. My klasmaats het die somers in kortbroeke baljaar, ek moes in rokkies rondsit. By my pa het ek twee jeans en toppies gebêre. Hy het dit die vorige vakansie vir my gekoop. Dáár kon ek dit dra. My ma het jeans gehaat, dit as die klere van ducktails beskou. Wanneer my pa my kom oplaai het, het hy altyd netjiese langbroeke gedra, het ek opgemerk, maar by die huis het hy ook vinnig in sy jeans geklim. Al wat hy nie vir haar kon wegsteek nie, was sy baard. Dít het sy ook gehaat. Sy het afkeurend na hom gekyk, maar niks gesê nie.

      Naweke saam met my pa was waarna ek die meeste uitgesien het. Hy het vir my altyd ’n klein geskenkie gehad, maar dít was nie die lekkerste nie, die lekkerste was dat ons saam was, soos in die ou dae. Ons het weer gaan rugby kyk, gaan visvang. En daar was niemand by my pa se plek wat vir ons vangs neus optrek nie! Ons het saam die vis skoongemaak, in happies gesny en gebraai. My pa het nie lank saam met Alta gebly nie. Hy het wel nog by haar gekuier, maar op my naweke het hy haar laataand, wanneer ek al moes slaap, gebel. Ek het haar nooit gesien nie. Dit was net mý naweke.

      My ma het as verkoopsdame by ’n afdelingswinkel gewerk, iets wat sy gehaat het. “Ek moet ander werk probeer kry,” het sy menigmaal moedeloos gesê. “Ek voel dat ek daar in ’n doodloopstraat is, dit is dieselfde patroon oor en oor.”

      Soms het ek haar so jammer gekry. Sy was nie gelukkig nie, mens kon dit sien. Haar hart was seer oor my pa. Oor haar werk. Sy het baie gehuil, soms net die niet in gestaar. Nie veel aandag aan my gegee nie, nie dat ek haar ooit daarvoor kwalik geneem het nie. Maar in sekere opsigte was die eerste twee jaar dat ons alleen was, hel. Dit was soos om aan die buitekant in die koue te staan en deur ’n venster die gelukkige huisgesin daar binne om die kaggel dop te hou. Van my klasmaats se ouers was ook geskei, dit is waar, maar daar was ook baie ander wie se ouers nog bymekaar was. Die verskil tussen die twee groepe was vir my ooglopend. Kinders wat uit ’n gelukkige huisgesin kom, so het ek dit gesien, is net gelukkiger, minder buierig, én hulle kruip minder gat, by die onderwyseres en by maats.

      Ek was agt jaar oud, en in sub B, toe juffrou Lubbe ons eerste Engelse leesboekies uitdeel.

      “Lees net die eerste bladsy vir môre,” was haar opdrag.

      Ek kon nie. Ek het dieselfde middag die hele boekie deurgelees. Die naam van die boek kan ek glad nie herroep nie, dalk omdat die titel nie vir my belangrik was nie; die storie het gegaan oor ’n kameelperd, ’n olifant en ’n leeu. Die vreemde woorde het die eerste keer swaar oor my lippe gekom, die tweede keer makliker. Trots het ek die volgende dag vir juffrou Lubbe vertel dat ek klaar is met die boek. In haar oë kon ek sien sy glo my nie.

      “Moet ek vir Juffrou lees?” het ek aangebied.

      Sy was so beïndruk, sy het my die ganse oggend in die skool rondgesleep sodat ek vir al die onderwysers kon lees.

      My ma was so trots toe ek haar die aand vertel dat sy hardop gelag het. Ek het selfs roomys na ete gekry. My ma het so selde gelag dat ek my voorgeneem het om nog harder te leer sodat sy meer gereeld vrolik kon wees. Sy het my pa gemis, ek kon dit sien. Sy het dit nooit gesê nie, maar ek het geweet dis na hom wat sy verlang as sy saans in haar bed lê en huil. Sy het baie gehuil die laaste ruk. Veral as my pa my na ’n naweek kom aflaai het. Hy het altyd ingekom. Bietjie met my ma gesels. Soms koffie gedrink. Ek het altyd gesorg dat ek weer my rokkie aanhet as hy my aflaai. Die ander rokke opgefrommel in my tas gedruk sodat sy nie moet weet en vir hom kwaad wees nie. Want dis al wanneer haar oë geglimlag het. Wanneer my pa daar was.

      Toe bring Ma vir Danie du Toit huis toe.

      “Ek het mos vir jou vertel dat ek verlede week ’n nuwe werk gekry het,” het sy glimlaggend gesê, “dis nou my nuwe baas.”

      “Hallo, mooi ding,” groet hy en buk af om my kat te streel. Ek het dadelik van hom gehou, en hoekom nie? Hy was ’n mooi man, lank, donker met blou oë, hy het gedink ek is mooi en hy het van my kat gehou.

      “My naam is oom Danie, jou ma werk vir my, ek’s haar departementshoof.”

      “Hallo, oom,” groet ek bedees, soos deur my ma geleer. Ma het opgestaan om koffie te gaan maak, ek het met oom Danie gesels. Ek kan nie onthou oor wat alles nie, maar hy het my vertel dat hy ’n seun het wat so oud soos ek is, en dat die kind by sy ma bly, soos ek by myne. Hy sal hom volgende keer saambring, dan kan ons lekker speel.

      “Werk Ma nou lekker?” het ek gevra terwyl sy suiker en melk na oom Danie uithou.

      “Baie.” Sy het glimlaggend na hom gekyk.

      “Ek is bly, Mamma.” Na hulle koffie gedrink het, is ek kamer toe gestuur om te gaan speel, en kort daarna om te bad en toe bed toe.

      My pa het ook in dié tyd weer begin kuier; sy verhouding met Alta het tot ’n einde gekom toe hy haar in die middel van die dag met haar vriendin in die bed vang. My ma het haar kop geskud en triomfantlik geglimlag. “Ek het jou mos gesê!” Terwyl my pa kop onderstebo voor haar staan. Daar was ’n hartseer aan hom. Ek kon sien.

      My ma het daarna selfs een Saterdag saamgegaan na ’n krieketwedstryd waarin my pa gespeel het. Ek was so trots op hom, my pa. Hy was die paaltjiewagter. Ek en my ma het op die pawiljoen tussen die ander trotse kinders en vrouens gesit. Ek met ’n rok aan, lang wit kouse wat tot by my knieë kom, swart skoene. Soos vir kerk. Geen papgerolde lemoene nie, in plaas daarvan het sy nou en dan my plastiekglas gevat en van die aangemaakte Oros daarin geskink. Terwyl die ander kinders blikkies Coke en roomys vashou.

      Alles het so skielik gebeur, ek weet nou nog nie presies hoe dit gekom het nie. Die bouler het ingekom en geboul, my pa het agter die paaltjies gewag, en toe, skielik, sak hy vooroor op sy knieë, sy hande oor sy voorkop geslaan. Van waar ons sit, kon ek die bloed deur sy vingers sien sypel. Ons het met hom hospitaal toe gejaag. Daar was gelukkig nie ander skade nie, het die dokter ons verseker. Hy sou moes steke kry en die nag in die hospitaal deurbring. Die steke het soos ’n x-teken oor sy voorkop gelê. Sy linkeroog was besig om toe te swel.

      “Kom sit hier by my,” het hy genooi en met sy hand op die bed beduie. Ek het versigtig gaan sit sodat ek hom nie seermaak nie. “Moenie worry nie, Anna,” het hy getroos, “ek is piekfyn. Onkruid vergaan mos nie so maklik nie, nè?”

      My ma het aan die ander kant van die bed gaan sit. Ook sy het sy hand vasgehou.

      En ek het in die stilligheid gehoop.

      Maar toe kom oom Danie weer kuier en dié keer het hy sy seun saamgebring, en van hom het ek net mooi niks gehou nie. Ook ’n Danie. Klein-Danie, het sy pa hom genoem. Daar was niks kleins aan hom nie, het ek verwonderd gedink, hy was vét. En hy was ’n pyn, het ek later uitgevind, hy het altyd my vlegsel getrek, my kat geskop en stories by sy pa loop aandra. Oom Danie het nooit sy seun se kant gevat as ons baklei het nie, my ma het wel. Ek is ’n paar keer kamer toe gestuur om oor my sondes te gaan nadink, terwyl die vet klein Danie eintlik die sondebok was.

      “Anna, maak vir ons koffie,” het my ma die dag gevra.

      My hart het in my skoene gesink. Ek was bang ek laat die skinkbord val, dit het altyd te swaar gevoel. Maar ek het sonder om ’n woord te sê opgestaan.

      “Doen jy altyd wat jou ma jou sê om te doen?” het oom Danie gevra toe ek die skinkbord versigtig op die koffietafel neersit.

      “Ja, oom.”

      “Sy beter! Ons het ’n goeie verstandhouding, ek en Anna. Sy weet dat ek van beter weet, en daarom luister sy na my.”

      “Hoor jy, Klein-Danie? Ek hou van gehoorsame kinders,” het hy gesê met iets in sy oë wat ek nie geken