Split. Debbie Loots. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Debbie Loots
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795800993
Скачать книгу
langs die brug gebly het, is baie erwe leeg, partykeer staan net ’n klompie vaalgroen bloekombome in ’n leë plot se hoek, agter teen ’n draad. Sy dink dit gee die huise rondom spasie om asem te haal.

      Sy mis Randfontein. Maar Willem wil niks weet nie.

      “Ons het mos al probeer, Vera,” het hy gesê toe sy hom nou die oggend weer por, ná sy die vorige week gedreig het om haar goed te pak en die kinders te vat oor die ding met die vrou haar nog steeds woedend maak, en hy haar soos altyd sag gemaak het met sy mooi praatjies. “Ek hoort nie bo op die Wesrand nie. Die sales-ouens daar ken my nie goed genoeg nie, dit vat lank vir hulle om mens te vertrou.”

      Hy’s hier gebore, het hy later die aand ná ’n paar biere gesê en begin aangaan soos hy altyd aangaan, of sy nou wil hoor of nie. Oor die plaas wat sy ouers verloor het, waarvan hulle verwilder is deur die volk wat heeltyd gemor het oor geld, altyd meer wou hê, nóg. Die beeste wat hulle afgeslag en partykeer nog half lewend aan die heinings rondom die huis vasgemaak het om sy ouers skrik op die lyf te jaag.

      “My ma het nou nog nagmerries van die gebulk, Vera. Hulle is later soos sleg kaffers van hulle plaas af, gedros,” het hy gesê. “Skaars klere aan hulle lywe gehad. En wat’s oor van die plaas? Boggerol. Als geplunder en afgebrand. Daar’s niks. En waar’s hulle nou? Waar’s my pa nou?” Sy weet. “In die dorp. Twee bleddie dorpsjapies. Jissis.” Hy het sy kop geskud, opgestaan en die laaste van sy bier afgesluk. “En hulle dink dis my skuld, hulle sê dit nooit nie, maar ek weet wat hulle dink. Ek kan sien in my pa se oë, as hy die dag vir my kyk.”

      Dié aand, die aand toe sy gedreig het om te loop, het hy bygesê, reguit in haar oë gekyk met sy bloues: “Ek kén dit hier, Vera, die Noord-Transvaal is in my bloed, Pietersburg is my dorp. My pa-hulle sal nie oorleef as ek hulle alleen hier los nie. Nie weer nie. Asseblief.”

      En al het sy geweet hy het te veel gedrink, dat dit voel asof sy teen haar sin iets van haarself vir hom gee, wat weet sy nie, maar iets, het sy ingestem. Want hy’t die aand vir haar gekyk met ’n soort sagtheid wat sy net op sy gesig gesien het as hy partykeer vir Ben of Dawid optel. Amper soos die eerste kere toe hulle net ontmoet het. Sy kon haarself nie help nie.

      Die huise in Suidstraat lyk altyd toe. Stil. Vera dink nie daar bly kinders in die straat nie. Niks roer wanneer sy op die stoep staan en maak asof sy nie oor die lae betonmuurtjies langsaan kyk nie, oor die bure se vaalgroen grasperke en rooi kannaplantasies wat twaalfuur die middag begin bewe in die hitte van die son.

      Willem is meestal naweke op die pad, hy lyk deesdae vir haar gelukkig. Sy is bly, dit maak dit makliker om nie aan die ander vrou te dink nie. Hulle het nog nie weer oor haar gepraat nie, maar Vera maak seker dat as sy dorp toe gaan, sy nie by die Griek se kafee langs ry nie, anders onthou sy weer die dag toe Lien die kombuis ingehardloop het. Sy kon die sweet ruik wat in die kind se hare droog geword het, al het sy toe net ’n doppie vanilla essence in die tweede baksel koekiedeeg gegooi. Die kind het gebabbel, oor haar skouer bly kyk, een stryk deur vertel van haar pa en die vrou met die blonde hare en hoe sy in die kar voor die Griek se kafee moes wag. Hoe warm sy gekry het, hoe bang sy was. Aanmekaar gepraat. Vera het haar later nie meer gehoor nie, net die kind se mond sien oop en toe gaan, haar haasbek, haar groot oë in haar rooi gesig, haar aanhoudende getrippel. Sy wou mal word.

      Vera skop die kombers af, trek die oranje gordyne oop en kyk deur die kantgordyne uit oor die grasperk. Haar onderklere voel los aan haar lyf. Willem hou van haar so sonder die hammetjies om haar heupe, soos hy dit noem.

      Sy onderbroek van vanoggend lê nog net waar hy dit uitgetrek het voor hy gestort het en die huis uit is. Sy voel oor haar borste en plat maag, af oor haar boude en bene en buk om haar voete te vryf. Daar is eelte aan haar kleintoontjies, die stanery in die saal keil haar bene op.

      ’n Draaisproeier kierts-kierts op die grasperk van die mense oorkant die straat, en in die verte hoor sy ’n klein vliegtuigie sy neus die lug in druk, op pad iewers heen. Sy tas agtertoe vir haar pakkie sigarette op die bedkassie en trek een uit. Dit lyk of die bure oorkant tóg bestaan. Sy leun vorentoe. Daar’s ’n blonde man op die grasperk. Hy trek die tuinslang met die sproeier oor na ’n ander deel van die tuin, kyk skielik in haar rigting op. Sy deins agter die gordyn in, nog op haar hurke. Hy kan haar nie deur die kantgordyne sien nie, sy weet, maar haar hart klop hard teen haar bors, so asof sy uitgevang is. Haar bene voel lam toe sy regop staan en agteruit badkamer toe begin loop, haar oë stip op die venster. Sy sit die platgedrukte sigaret op die bedkassie neer.

      Op ’n Saterdagoggend is daar nie veel op die dorp te doen behalwe window shopping nie. Die son se hitte is droog, amper skroeiend op haar vel wanneer sy nie in die skaduwee van die winkels se afdakke stap nie. Sy voel dit veral op die hoeke van die strate wat die hoofstraat kruis, wanneer sy wag vir die ligte om groen te word.

      Niemand ken haar nie. Sy het haar wyepypbroek aan, die een wat ’n week terug nog styf gesit het maar vandag nie meer haar maag só indruk dat sy ongemaklik voel en probeer om die rolletjie om haar middel met ’n los hempie weg te steek nie. Haar lang swart hare is gewas en hang vir die eerste keer vir haar mooi om haar gesig. Dit blink. Sy het lipstiffie aangesit, iets wat sy nooit doen wanneer Willem nie by die huis is nie.

      ’n Kar toet agter naby haar. Vera staan op die hoek van die laaste dorpstraat wat die hoofstraat kruis.

      “Hallo!” sê ’n man uit ’n wit bakkie by die verkeerslig. Hy leun oor na die passasierskant toe. Sy sien eers ’n harige arm met ’n goue polshorlosie wat die sitplek plat druk, en toe sy afbuk om te kyk: blou oë agter ’n blonde kuif.

      “Buurvrou!” Hy lag. “Ons bly oorkant julle, ek en my vrou, Maryna.” Hy kyk vinnig vorentoe en toe weer terug vir haar, sy ander arm hang los oor die stuurwiel. “Julle is maar skaars, nè? Hoe lank is dit nou, vyf maande?”

      “Ja … om en by,” sê sy.

      “Maryna dreig lankal om julle oor te nooi, hoor. Ek sal vir haar sê ek het jou raakgeloop.” Hy krap sy kop, “Nee, weet jy, ek loer sommer later daar by julle in, kom maak ordentlik kennis.”

      Die lig is groen en ’n kar toet agter hom.

      “Baai,” sê hy en knipoog voor sy iets kan sê. Sy sien hoe kyk hy vir haar in die truspieëltjie net voor hy om die draai ry.

      Hy klop lank voordat sy uiteindelik die deur oopmaak.

      “As ek jou nie vroeër jou karretjie in die garage sien trek het nie, sou ek gedink het jy’s nie hier nie,” sê hy.

      Hy staan met sy skouer teen die kosyn, die gleufies wat sy kam in sy kuif gemaak het is nog nat en sy vel tussenin blink in strepies agtertoe.

      “Ek was in die kombuis besig.”

      “Nooi jy nie jou buurman in nie? Dis mos nie goeie maniere om jou gaste op die drumpel te laat staan nie, jong.”

      “My man is nie hier nie.”

      “My vrou ook nie.” Hy lag.

      Sy ruik Old Spice en Colgate toe hy verby haar druk die sitkamer in.

      “Ek sal ’n vinnige koppie koffie drink, maar dan moet ek waai.” Hy vryf sy hande.

      Sy kyk hoe hy op die rooi bank gaan sit en sy bene met lang kouse en veldskoene aan soos ’n vrou s’n kruis.

      “Wat staan jy so daar?” vra hy toe sy buitekant toe loer. “Maryna is nog by haar ma in Potties, sy kom eers later vanaand huis toe.” Hy bly ’n oomblik stil. “Ons het nie kinders nie. Sy kan nie.”

      “O. Jammer.” Sy gaan sit oorkant hom op die punt van ’n stoel.

      Hy lyk skielik verbouereerd. “Nee, ék is jammer dat ek so met die deur in die huis val wat my persoonlike sake betref.”

      Sy glimlag. “Dis oukei.”

      “Julle het kinders, nè?”

      Sy oë lyk vir haar blouer as vroeër. Sy kyk af na haar hande. “Ja. Drie. Hulle is na hulle oupa-hulle toe vir die naweek.” Sy praat te vinnig.