Split. Debbie Loots. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Debbie Loots
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795800993
Скачать книгу

      Hy fluister skielik iets in haar oor, maar sy kan nie mooi hoor nie, sy voel net die hoendervleis oor haar lyf kom van sy warm asem.

      “Ek’s Willem,” blaas hy saggies teen haar wang, “en jy’s mooier as mooi.”

      Sy sit regop, trek haar bene teen haar lyf vas, en kyk vir hom. “Jy’s nie van hier af nie, nè?”

      “Nee. Ek’s gestuur,” sê hy ernstig en leun weer nader. Sy gesig is ’n paar sentimeters van hare af. “Al die pad van die Noord-Transvaal af, om jou te kom haal en saam met my terug te vat Pietersburg toe.”

      Sy weet hy speel met haar, maar sy is nie goed met grappies nie en sy voel simpel toe sy dankie sê, maar sy weet nie wat anders om te sê nie, wat om te maak met haar hart wat skielik so in haar bors te kere gaan nie, hoe om haar stem terug te kry en weer normaal te wees nie.

      “Kom ons gaan swem,” sê hy en trek haar regop. “Jy laat dit so lekker lyk.”

      Sy weet sy’s in die moeilikheid toe hy haar later agter by die toilette begin soen. Hy het gesê sy moet hom wys waar dit is, hy weet nie, dis sy eerste keer hier, en toe vang hy haar onverwags net toe hulle om ’n hoek kom waar niemand hulle kan sien nie.

      Sy het nog nooit oopmond gesoen nie, Hendrik was altyd so ordentlik, hy het haar altyd gevra of hy mag en sy het meestal nee gesê. Willem het nie gevra nie, en sy het nie nee gesê nie. Al was sy nie seker dat dit die regte ding is om te doen nie, hom terug te soen asof sy weet hoe, en hom toe te laat om haar lyf met net die twee stukkies lap bo en onder al hoe stywer teen hom vas te trek.

      Sy skrik toe hy skielik sy hand in haar broek tussen haar bene druk en stoot hom hard weg. “Wat maak jy?”

      “Hei!” sê hy en hou sy hande op, so asof sy die een is om voor bang te wees. “Sorry, ek weet, ek weet. Ek kon myself nie help nie. Jy’s so mooi. Ek sê jou mos.”

      Sy hou haar arms oor haar bors vas en loop vinnig terug na haar handdoek toe, hy agterna.

      “Relax,” sê hy en probeer bybly, “ek weet jy’s nie daai soort meisie nie. Ek weet jy het nog nooit nie.”

      Haar gesig raak weer rooi. Sy trek vinnig haar rok oor haar costume aan en druk haar handdoek in haar sak. Sy kyk nie vir hom nie.

      Hy plant sy voete wydsbeen voor haar neer, in haar pad, toe sy hek toe wil loop, en vat haar skouers styf vas. “Kyk vir my,” sê hy. “Asseblief.”

      Hy’s lank, sy skaduwee val oor haar lyf. Sy kyk vir hom.

      “Ek is uit my hart uit jammer, regtig. Ek was net … Ek weet nie.” Hy skud sy kop en kyk weg. Dit lyk asof hy bedoel wat hy sê.

      “Dis oukei,” sê sy en probeer glimlag. “Ek’s laat, ek moet my lift gaan vang.”

      Hy dra haar sak tot by die bord langs die hoofpad. Toe tannie Martie in haar groen karretjie oor die bult kom en langs hulle aftrek, staar sy hom eers nors deur die oopgedraaide venster aan, maar sy glimlag toe hy met haar begin gesels en sy hoor sy pa-hulle boer met beeste in die Noord-Transvaal.

      “Nogaals, nè?”

      Toe hulle wegry, sê sy vir Vera: “Daar’s nou vir jou ’n catch. So ’n man kom nie aldag oor ’n meisie se pad nie.” Sy druk haar elmboog in Vera se sy. “Nou vir wat lyk jy so of jou tjank afgetrap is, kind? Jy kan darem jou sterre dank ek’s nie ’n paar jaar jonger nie.”

      Toe hy die volgende week by die hospitaal langs kom van die Klerksdorpse landbouskou af op pad terug Pietersburg toe, was sy so verras deur die mooi bos dahlias, die ander verpleegsters se geflikflooi met hom in sy netjiese broek en hemp, sy blonde kuif wat hy agtertoe gebrylcreem het, en sy blou oë wat vir niemand anders kyk nie, net vir haar, dat sy vergeet van haar gevoel die dag toe sy saam met tannie Martie van die oord af teruggery het huis toe. Die gevoel dat hy iets van haar probeer steel het.

      Hair-splitting (n.)

      To split hairs “make over-fine distinctions” is first recorded 1650s, as to cut the hair. Hair also being 18c. slang for “female pudendum”, hair-splitter was noted in 1811 as slang for “penis”.

      2

      Willem glimlag vir homself in die spieël. Marie wag in die parkeerarea oorkant die Griek se kafee. Hulle het gister die tyd afgespreek toe hy haar van die tiekieboks voor die biblioteek af gebel het.

      Hy trek sy vingers deur sy kuif en tik liggies met sy vingerpunte oor sy wange. So ’n titsel van sy nuwe aftershave sou nou net die ding gewees het, maar Vera sal snuf in die neus kry; dis Saterdagoggend en hy het gesê hy gaan net gou kafee toe.

      In die gang tel hy die karsleutels van die halfmaantafel af op en knipoog vir homself in die spieël.

      Lien kom in die gang af gehardloop, haar plakkies en trui in die hand.

      “Gaan ons kafee toe?” vra sy.

      Sy probeer sy hand vat, maar hy lig sy arm. Hy kyk oor sy skouer kombuis toe.

      “Jy kan nie vandag saam nie, ek’t ander goed in die dorp om te doen,” sê hy sag en hurk af. Hy kyk haar in die oë. “Ek sal vir jou ietsie saambring, ek belowe.”

      “Ek wil nie ietsie hê nie.” Sy praat hard. “Ek wil saamkom. Ek kom altyd saam.”

      “Wat nou?” Vera kyk om die kombuisdeur, voorskoot om haar lyf. Sy kou iets. “Huil jy, Lien?”

      “Pappa sê ek kan nie saam kafee toe gaan nie.” Sy snuif.

      Vera frons. “Willem?”

      “Oukei dan,” sê hy en staan op. Hy druk sy beursie in sy broeksak en vat die kind se hand.

      Toe hy wegtrek, staan Lien soos altyd op die passasiersitplek. Sy wikkel ’n los tand langs die rooi stukkie tandvleis waar haar voortande eers was, heen en weer. Haar mond is wyd oopgerek teen die truspieëltjie, en haar sweterige voete trap sy Volkswagen se wit leersitplek vuil. Hy moet homself inhou om haar nie aan die arm te gryp en plat te druk nie. Ná ’n rukkie leun sy teen die sitplek terug. Toe hulle by die stopstraat stilhou, kyk sy vir hom. Hy weet sy wil hê hy moet sy arm uitsteek en haar teen die leuning vasdruk wanneer hy links opdraai kafee toe, soos hy altyd doen. Sy gaan lank wag, dink hy, en verbeel hom hy trap die briek so hard dat sy deur die venster skiet, oor die kar se neus trek en onder die wiele beland.

      Hy trek stadig weg. Hy sal ’n plan moet maak, en gou.

      Die eerste keer dat hy met haar praat, is toe hulle voor die kafee stop. “Wag hier, Lien,” sê hy en rek om haar kant se venster bietjie oop te draai. Hy sluit die deur. “Ek sal nie lank wees nie. Moenie uitklim nie en moet met niemand praat nie, oukei? Los jou venster net so.”

      Voor sy iets kan sê, is hy uit en drafstap hy oor die pad. Hy kyk vinnig om en sien hoe klouter sy oor bestuurderskant toe. Met haar neus teen die venster kyk sy vir hom. Haar mond is oop en sy druk haar sweterige hande teen die ruit vas. Hy herken haar amper nie, die kind met die kort, wilde boskaas, platgedrukte neus en wye oë. Vera kyk nie behoorlik na haar nie, dink hy, sy lyk verwaarloos, haar hande en voete is alewig vuil. Vera moet haar hare bietjie laat groei sodat sy meer soos ’n meisie lyk. Sy praat met hom, so deur die toe venster. Hy sien haar mond oop en toe gaan, nes ’n vis s’n. Sy noem hom op sy naam, soos sy partykeer maak om sy aandag te kry, maar hy kan niks hoor nie. Hy kyk nie weer vir haar voor hy langs Marie ingeklim het en hulle verby haar ry nie.

      “Is daai nie jou kind in die kar nie?” vra Marie toe hulle ’n entjie verby is.

      “Moenie worry nie.” Hy stoot sy hand onder haar romp tussen haar bene in op. Haar sykouse is glad en hy sukkel om vatplek te kry. “Sy sal oukei wees. Ons het tyd.”

      “Sy lyk nie baie happy nie.” Marie druk sy hand met haar knie weg en haar hoëhakskoen trap die petrolpedaal dieper in. Hy bly stil.

      “Dis warm vandag,” sê sy.