“Moenie vir jou stuitig hou nie, Willem.” Sy lag.
Toe sy voor die huis se garage stop, kyk hy vinnig op sy horlosie en toe agter om haar verby. Die plek se geute is afgedop en hy sien die tuin kort water. ’n Storie oor sy wat by haar ma bly en haar pa wat ’n ruk terug dood is, flits deur sy kop.
Hy kyk weer vir haar. Sy leun nou terug teen die venster. Haar boarms is tegelykertyd styf en sag, hy kan die halfmaan-sweetkolletjies op die bloes onder haar arms sien. Hy kyk van haar borste af op in haar blou oë, na die swart strepe wat oor haar ooglede getrek is, haar vol lippe. Hy leun nader.
“Nie in die kar nie, wag,” sê sy.
Hy druk sy hand agter haar rug in en maak die deur oop. Sy gil. Hulle tuimel op die gras uit, hy beland bo-op haar en druk sy ereksie hard tussen haar bene op. Hy hou sy hand oor haar mond. “Sjjj. Die bure.” Hy wens hy was nie so op sy bleddie senuwees nie.
Sy kyk rond. “Jy kan bly wees dis Saterdag, almal is dorp toe,” sê sy tussen sy vingers deur voor sy hulle saggies begin te byt. Hy maak sy oë toe en probeer ontspan.
Toe hy weer kyk, het sy die boonste knoop van haar bloes oop en haar bra is afgeskuif sodat die donkerpienk van haar tepels wys. Hy kreun en druk sy gesig in haar sagte borste in. Sy lag.
“Kom ons gaan in,” sê sy en wikkel onder hom uit.
Lien sukkel om regop te bly, haar knieë gly oor die sitplek terwyl sy deur die kar se venster kyk. Dis glibberig van haar voete se sweet en sy kan die korreltjies van die sandhoop waarop sy gespeel het teen haar vel voel skuur. Dis seer. Sy hou aan die briekhandvatsel vas, tussen die twee sitplekke, om nie om te val nie en skryf haar naam met spoeg teen die venster. Haar oupa het haar geleer om haar naam te skryf nog voor sy skool toe is. Hy sê sy is slim. Haar pa sê vir haar oupa hy moenie sy tyd mors met haar nie. Maar dan sê haar oupa sy moes haar ma se breins gekry het, want haar pa sê sulke simpel goed.
Sy sien haar nael is vuil van die sand en sy byt hom kort af en spoeg hom uit voor sy die sweet aan haar gesig teen haar mou afvee. Sy wens sy mag haar venster heeltemal oopmaak.
’n Meisie met vlegsels en groen strikke in haar hare loop by die kafee uit. Sy lek al om ’n roomys-cone. Dit lyk lekker. ’n Man hou haar hand vas. Lien is dors. Toe hulle ’n entjie verder is, kyk die meisie om en glimlag toe sy vir Lien sien. Lien steek vir haar tong uit en trek haar gesig op haar lelikste. Sy wil sien of sy die meisie kan laat huil soos sy en haar boetie Ben hulle klein boetie Dawid laat huil as hulle lelike gesigte trek. Hulle doen dit want dan kom haar ma in die kamer in en sy kan sien hoe hulle probeer om hom te troos. Lien maak dan sj-sj-sj en klap saggies aan sy doek met haar hand deur die kot se relings. Hy’s al meer as twee en hy’s ’n regte sissie. Hy dra nog doek en toe hy een aand van sy bed afval, toe sit haar ma hom weer terug in die ou kot. Haar ma sê sulke tye Lien en Ben is soet kinders en noem Lien haar regterhand. Partykeer gee sy haar ’n soentjie op haar voorkop voor sy weer uitloop. Maar toe eendag vang sy vir Lien en Ben net toe hulle haar boetie wakker maak en vir hom lelike gesigte trek, en toe gee sy hulle hard pak met haar plakkie. Nou moet hulle buite speel en roep haar ma hulle net in om te kom eet. Haar maatjie langsaan sê haar ma sê sy mag nie meer met Lien speel nie, ook nie by haar nuwe skool nie, want Lien speel te rof. Sy is in Lien se klas. Sy sê haar ma sê Lien lyk soos ’n weeskind wat ’n wind gesluk het met haar maer bruin bene en kort wit hare. By die skool speel niemand met haar nie. Die juffrou sê Lien moet vir haar ma sê om haar elmboë te skrop, sy soek nie vuil kinders in haar klas nie.
Die meisie met die groen strikke trek haar pa se hand en wys met haar roomys na Lien toe. Lien skrik en gly teen die sitplek af en gaan sit op die vloer met haar kop op haar arms. Sy kyk nie toe iemand teen die venster klop nie, maar sy kan deur die oop skrefie hoor wat die man sê toe hy wegloop. “Kom, Veronique,” sê hy, “aan sulke klas mense is daar nie salf te smeer nie.”
Lien wens haar naam was Veronique.
“Jirre, Lien, hoekom lê jy op die warm trui?” Willem maak die vensters oop en vee die kind se vuil handmerke aan die binnekant van die voorruit met sy mou af.
“Ek het ietsie vir jou!” sê hy toe sy nie antwoord nie. Hy haal ’n boksie Toff-o-Luxe uit die vol papiersak in sy arms. “Hoekom is jou gesig so rooi? Ek was nie só lank weg nie, jy’t seker maar aan die slaap geraak, nè?” Hy wink haar nader. “Kom, staan bietjie hier langs my.”
Sy klouter op die sitplek.
“Ek gaan een van die dae my eie besigheid begin,” sê hy terwyl hy in die truspieëltjie kyk en wegtrek. Hy vee oor sy hare. “’n Spares shop.”
Hy druk haar met sy arm teen die sitplek vas toe hulle opdraai in die straat huis toe.
Sy bly stil, sê niks. Sy doen dit partykeer, sommer net om moedswillig te wees. Hy weet nie of sy iets vir Vera gaan sê nie, en of hy dalk gou ’n storie moet uitdink nie. Nee wat, dink hy, wat weet ’n sewejarige kind tog nou? Hy sal die kans moet vat.
Toe hulle by die huis stop, hardloop Lien reguit kombuis toe. Willem loop vinnig met die papiersak melk en brood agterna.
Vera se wange is rooi van die oond se hitte en haar lang swart hare plak teen die kante van haar gesig vas. Sy kyk nie vir hom nie, sit die rak vol koekies wat sy uit die oond gehaal het op die ingeboude tafel neer, gooi die oondhandskoene op die vloer en stap die gang af kamer toe, hy agterna.
Hy probeer alles, maar niks help nie.
“Jy lieg, Willem!” snou sy hom toe. Hy kyk na die trane wat oor haar wange loop, haar opgeswelde oë. Haar neus is rooi. Sy het nog nooit vir hom so lelik gelyk nie.
* * *
Hulle bly nou in Suidstraat. Willem sê dis in een van Pietersburg se beste buurte. Hy sê om te trek is soos om oor te begin. Vera wens hulle kon liewer terug Randfontein toe, as hulle dan nou moet trek om oor te begin. Terug huis toe.
Daar’s ’n gevoel wat oor haar kom wanneer sy in die oggende in Randfontein wakker word wat sy weet sy nooit in Pietersburg sal kry nie. Die Nola- en Black Cat-grondboontjiebotterfabrieke se soetsout en stowwerige graanreuke, hulle veraf gedreun wat haar altyd so van vieruur af saam met die voëltjies wakker gemaak het, is iets waarmee sy grootgeword het. En Robin Alexander se stem wanneer haar ma die draadloos in die oggende sag in die kombuis aangesit het. Dit was gewoonlik nog donker dan en dit het beteken haar pa is uit myn toe.
Wanneer sy die radio hoor aankliek, het sy haar kamerjas en slippers aangetrek en by die kombuistafel onder die helder buislig gaan sit en tee drink saam met haar ma. Hulle het nie gepraat nie, net geluister na Robin Alexander. Net elke nou en dan vir mekaar gekyk en geglimlag as hy iets snaaks sê. Hy het ’n manier van praat wat Vera gelukkig laat voel het, maak nie saak hoe donker die nuwe dag deur die kombuisvenster vir haar gelyk het nie, dwarsdeur haar kinderjare.
Pietersburg, aan die ander kant, is warm, en die sonbesies in die doringbome skree al van vroeg af so skril dat dit voel asof sy gaan mal raak. Die mense dink die dorp se jakarandabome met hulle pers blomme wat al langs die breë strate van die bodorp skaduwees oor die pad gooi, is mooi. Meeste van hulle plant oranje, rooi of geel kannas in rye teen hulle garages af, of voor die draadheinings aan weerskante van hulle hekkies, dit lyk nes klein mielieplantasies, en hulle dink dis mooi. Sy dink nie so nie. Die lug hier is te helder vir haar, te skoon. Dit laat alles rondom uitspattig lyk. Sy vererg haar partykeer. Dis soos ’n swart gesig wat ewe skielik in die dorp voor jou opdoem, tussen al die wittes. Mens skrik jouself op die plek kwaad. Jy voel amper beledig. Dis die vreemdheid van goed, dink sy, wat haar die meeste ontsenu.
In