“Uhm.” FG trek sy oë op skrefies. “Nee!”
Henk leun oor Riaan in FG se rigting, kyk om in die oog. “Jy’s ’n bietjie dronk, hè?”
FG raak aan die giggel. “Nie sodat jy dit sal agterkom nie.”
Henk sien net moeilikheid kom. “Luister, maybe moet ek sommer ry.”
FG hou die sleutel na hom uit. Henk probeer dit neem, maar FG ruk dit weg en spring giggelend agter die stuurwiel in. Hy sukkel om die motor aan die gang te kry.
Henk staan tru, begin wegstap. “Tjeers!” sê hy oor sy skouer.
Toe FG die motor aan die gang kry en die masjien laat brul, swaai Henk om. Hy’t ’n slegte voorgevoel. “Hei! Wow-wow wag!” Vyf treë, en hy is terug by die kar, por Riaan uit sy stoel en laat hom agter sit. Riaan sien dadelik dat daar omtrent nie plek vir ’n muis agter is nie en sit op die bakwerk, sy voete op die agterste sitplek.
“Kom, safety belts,” sê Henk, en hy en FG gordel hulle vas.
Riaan waai ’n laaste keer triomfantelik na die braaiers onder die bome terwyl hulle wegtrek dat hul stofwolk lank bly hang tussen die rook van die vuurtjies en die sonstrale wat lang skagte lig tussen bome en rook probeer deursteek.
Agterna moes hulle verduidelik. FG aan sy ouers, Henk aan syne. Die omstandighede was nie presies dieselfde nie. Sophia het langs FG op die bank gaan sit om hom te onderskraag. Andries het op sy gebruiklike stoel in die sitkamer gaan sit, en met ’n mengsel van woede en diepe onrus na sy seun op die stoel oorkant hom gestaar. Mariana en Izel het agter Andries gestaan en luister, skok op hul gesigte afgeëts.
FG het sy pa nog nooit só gesien nie. Sy oë yskoud, sy gesig strak en sonder kleur. Hy sluit sy oë, vryf hulle met sy vingers, asof hy hulle sal skoonmaak van al die wêreld se ellendes.
“Begin van voor,” sê Frik. Vir die hoeveelste keer, asof die vertel die donker kneusing om FG se regteroog sal laat verdwyn, die verbande van sy hande sal laat val. Hy kan sien dat FG gehuil het, maar dit is nie nou tyd om saggies te werk te gaan nie. As daar ’n ander waarheid agter hierdie aaklige dag is, is dit nóú dat FG dit sal moet verklap.
“Daar’s niks meer om te vertel nie, Pa.”
“Vertel my weer.”
“Die pad was oop. Min karre. En toe storm die koei oor die pad.”
FG begin weer huil. Sophia paai hom.
Wanneer hy tot bedaring kom, rig Frik hom weer tot FG. “Ma het die kar vir jou gegee, FG. Hoekom het Henk bestuur?”
“Ek het ’n paar biere gedrink, Pa … toe neem Henk oor.”
“Dis goed dat julle so verantwoordelik was,” sê Sophia, streel FG se skouer. Sy draai terug na Frik. “Kan jy dink as dit hy was wat bestuur het.”
“Strafbare manslag,” sê Frik, sy gesig ’n doodsmasker. “Tronk.” Hy kyk na Sophia. “Ons gaan almal vir Pieter en Sienie moet bystaan. Hulle’t hulle seun verloor.”
FG kyk met sy rooigehuilde oë na Frik. “Daar was niks wat ons kon doen nie. Dit het te vinnig gebeur.” Hy voel asof hy in ’n nagmerrie lewe. As hy dit genoeg herhaal, sal mense dalk ophou praat daaroor. “Daar was niks wat ons kon doen nie.”
FG se skouers begin ruk soos die trane in hom opstoot. Hy huil soos ’n baba teen Sophia se skouer. Hulle weet dit nog nie, maar dit sal die laaste keer wees dat FG op dié manier by sy ma troos vind.
In die Landmans se huis kyk Henk sy pa reguit in die oë. Hy is strak, maar daar is geen trane nie. Mariana en Andries ken egter hul kind. Hulle weet dat hy baie ontsteld is, maar dit onder bedwang probeer hou.
“Nie een van ons het hom gesien nie,” verduidelik Henk. “Hy’t net uit nêrens uit gekom. Ek het gebriek, maar dit het te vinnig gebeur. Riaan het agter in die middel gesit. Hy’t nie ’n gordel aangehad nie. Toe ons die koei tref, toe’s daar niks om Riaan terug te hou nie.”
Mariana maak haar oë toe. Andries laat sak sy kop. Izel huil saggies.
Andries het nog vrae, en vra hulle.
“Nee, Pa,” antwoord Henk. “Ek het nie gedrink nie.”
“Die bloedtoetse het dit mos bevestig,” sê Mariana.
“Ja,” sê Andries, “maar ek wou dit uit sý mond uit hoor.”
“Dit was ’n ongeluk,” kom Mariana tot Henk se hulp. “Dis niemand se skuld nie.”
Hulle raak stil.
“Hy sou my boyfriend gewees het,” sê Izel skielik. Sy swaai om en storm by die sitkamer uit.
Op Kersdag 1994 staan die uitgebreide gesin in ’n kring op die patio van die Van den Bergs se groot woning – Soois en Mart, Andries, Mariana, Izel en Henk, FG, Sophia en Frik, elk met ’n glasie sjampanje in die hand.
Frik voer die woord: “ ’n Heildronk op ons twee seuns wat albei matriek geslaag het – die een met ’n sak vol onderskeidings, die ander deur genade …”
Die groepie lag Mariana glimlag trots, maar Sophia vind dit nie so snaaks nie.
“En dan ook op die feit dat daar toe nie ’n burgeroorlog was nie …”
Andries aanvaar die gespot, maar glimlag ook beterweterig.
“… op ons nuwe president, Nelson Mandela, mag hy lank gespaar bly …”
Soois knik sy kop.
“… op die feit dat ons as Suid-Afrikaners weer in die wêreld welkom is … en laastens, ’n oomblik se stilte vir afwesige vriende …”
FG kyk ongemaklik af na sy voete. Almal raak stil, dink aan Riaan. Izel buig haar hoof en Sophia sit haar hand op FG se skouer.
Henk is alleen met sy gedagtes. Hy herleef ’n gesprek met FG, so ’n maand ná Riaan se begrafnis en die dag ná hulle hul laaste eksamenvraestel beantwoord het. Hy en FG het mekaar by Riaan se graf gekry. Daar was nog nie ’n grafsteen op nie en hulle was verbaas om te sien dat daar sedert die begrafnis nog verskeie ander mense langs hul maat ’n laaste rusplek gevind het. Hulle het ’n rukkie daar gestaan, woordeloos, en toe, asof dit so afgespreek is, begin stap na die kerk net om die draai. Ook hul slentergang het in stilte geskied. Hulle het geweet waarheen hulle op pad was, maar nie hoekom nie.
Uiteindelik stap hulle die koel kerkgebou binne, gaan staan voor die kansel op die plek waar Riaan se kis ’n maand tevore gestaan het.
“Dink jy dit sou ’n verskil gemaak het?” FG praat, skielik, ’n kwelling wat moet uit.
“Wat?”
“As jy bestuur het,” sê FG. “Dink jy jy sou betyds kon gestop het?”
“ ’n Koei in die pad is ’n koei in die pad. Dit was nie jou skuld nie. Daar was niks wat jy kon doen nie.”
“Dronkbestuur. Strafbare manslag. Ek sou tronk toe gegaan het. Sal nog steeds, as hulle ooit uitvind.”
Henk antwoord nie.
“Dan bly dit ons geheim?”
Henk knik stadig sy kop.
“Dankie.”
FG het nog ’n oomblik bly staan, toe omgedraai en weggestap, die kerk uit. Hy het Henk alleen voor die kansel agtergelaat.
Op die patio kyk die twee neefs onderlangs na mekaar terwyl FG se pa die heildronk lewer.
“ ’n Geseënde Kersfees en ’n voorspoedige nuwe jaar vir ons almal!” sê Frik. “Saluut!”
“Saluut!” antwoord almal hom.
Frik kry ’n ondeunde glimlag en staan nader aan Sophia. “En nou, my vrou,” sê hy, “is daar ’n tradisie